Drie gevangenes van bygelowigheid word bevry
HULLE het hom M. Tout-Blanc genoem, wat “mnr. Heeltemal-Wit” beteken. As inwoner van die dorp Dimbokro in die Ivoorkus het Edmond die afgelope 16 jaar net wit klere gedra! En as jy vir Edmond gevra het waarom hy slegs wit dra, het hy bloot vir jou gesê dat dit is omdat hy gehoorsaam is. Maar aan wie—of aan wat—het hy nie gesê nie.
Adama se kosbaarste besitting was sy geweefde “tarentaal”-hemp. Dit is so genoem omdat die swart en wit daarvan jou aan die tarentaal laat dink het. Die ontwerp was kenmerkend van die werk van die Tagbanastam in die noordelike Ivoorkus. Adama het die hemp as kind gekry, maar selfs as volwassene het hy dit versigtig in ’n veilige plek gebere. Hy het gevoel dat hy dit moes doen.
Athanase het eweneens iets gehad wat hy soos ’n skat bewaar het—’n parfuum-bottel met ’n mengsel van kaolienstof (wit klei), sand en water van alle dinge. En tog was hy bang om dit weg te gooi!
Al drie mans was gevangenes van bygelowige godsdiensvrese—vrese wat hulle lewens oorheers het! Miljoene ander verkeer in soortgelyke gevangenskap. Talle in Afrika glo dat artikels soos amulette, ringe, beelde en halssnoere bonatuurlike krag het om bose geeste af te weer. Voorstanders van bygelowigheid, soos toordokters, maak ’n bestaan uit sulke vrese. En Afrika is nie uniek in hierdie opsig nie. Talle aanhangers van die Westerse kultuur het soortgelyke opvattinge wanneer dit kom by “gelukkige” voorwerpe, soos die haaspoot en die hoefyster. Soos Edmond, Adama en Athanase geleer het, is daar nietemin ’n weg uit hierdie gevangenskap.
Edmond en die “gees van die stroom”
Van Edmond se vroegste herinneringe is hoe hy sy ouers na ’n “heilige” berg buite hulle stat vergesel het. Daar naby was ’n stroom waar beeste en skape geoffer is om die gees van die stroom te behaag. Mense het hierdie gees kom raadpleeg oor oplossings vir hulle probleme. Almal het ’n stem uit die stroom gehoor wat hulle dikwels raad gegee het.
Sekere kinders in elke gesin het glo ’n spesiale verhouding met hierdie gees. Volgens die toordokter was Edmond een van hulle. Hy kon dus op die gees staatmaak om hom te lei. Toe Edmond oud genoeg was om te werk, het hy die gees geraadpleeg wanneer dit gelyk het of ander werkers ’n bevordering sou kry wat hy wou hê. Die gees het vir hom gesê om ’n hoender of ’n skaap te offer. Deur die gees so te paai, was hy seker dat die “ongeluk” sy kollegas sou tref. Edmond het vinnig vooruitgang gemaak en het ’n verantwoordelike posisie by sy werk beklee. Selfs sy ouers, wat bewus was van sy “spesiale verhouding”, het na Edmond toe gekom as hulle met die gees in aanraking moes kom.
Eienaardig genoeg het Edmond geen teenstrydigheid daarin gesien om spiritisme en Katolisisme te beoefen nie. By die Katolieke Kerk wat hy gereeld bygewoon het, is heidense ritusse, soos die speel van heilige tam-tams (tromme), sy aan sy met “Christelike” rituele uitgevoer.
Edmond se werk het hom uiteindelik na die hoofstad, Abidjan, geneem. Daar het hy belangstelling begin toon in nog ’n gees—een wat sy swaer gereeld geraadpleeg het. Hierdie gees is egter geassosieer met die lagunes en die oseaan. Hulle het dit Mami-Wata genoem. Naby een van die lagunes was ’n afgesonderde plek wat Edmond dikwels besoek het om hierdie gees te raadpleeg.
Maar eendag was die gees skynbaar verontrus. “Wat is verkeerd?” het Edmond gevra. Die gees het gekla dat Edmond se swaer hom nie meer kom raadpleeg nie. “Waarom nie?” het Edmond gevra. Daar is vir hom gesê dat dit weens sy swaer se nuwe godsdiens is. Dit het Edmond nuuskierig gemaak, want hy was ’n Katoliek en die gees het nooit daaroor gekla nie. Daar moes iets anders omtrent hierdie nuwe godsdiens wees. Edmond sou binnekort deur ’n lid van hierdie godsdiens besoek word en sy dae om Mami-Wata te raadpleeg, sou ook tot ’n einde kom.
Adama se soeke na sukses
Adama se ambisie was om sukses in die lewe te behaal. Sy ouers was animiste en het geglo dat elke stoflike voorwerp ’n siel het. Hulle het hom dus ’n fetisj—die “tarentaal”-hemp—gegee vir geluk sodat hy goed sou vaar op skool. Toe hy egter sy skooleksamen gedruip het, het hy tot die slotsom gekom dat ander leerlinge doeltreffender fetisje as hy gehad het.
Hy het met sy ouers hieroor gepraat, en hulle het hom toe ’n bokhoring gegee. Hy moes dit met ’n baie dun garing aan ’n spyker in die plafon van sy kamer vasmaak. Hy kon die fetisj soggens raadpleeg en hom alles vertel wat hy wou hê. Dan het die dun garingdraad gebreek! Nou kon hy besluit of hy met sy planne vir die dag sou voortgaan of nie, afhangende van hoe die bokhoring geval het. Hierdie nuwe fetisj was ook ondoeltreffend.
Toe Adama sy skoolopleiding voltooi het, het hy na die dorp Agboville gegaan. Daar het een van sy vriende hom na ’n toordokter gestuur wat gesê het dat hy kon waarborg dat Adama ’n werk sou vind. Adama het in opdrag van die toordokter ’n hangslotjie gekoop. Hy is aangesê om in die opening van die hangslotjie te praat en al die dinge te noem wat hy in die lewe wou hê. “Ek wil werk vind”, het hy in die hangslot gesê, dit toegemaak en gewag op sukses. Maar dit het nie gekom nie.
Adama het nietemin nie gewanhoop nie. Hy was seker dat hy steeds beskerm word deur die towerkrag van sy kosbare “tarentaal”-hemp.
Adama het uiteindelik in die dorp San Pedro werk gevind. Dit was nie die soort werk wat hy wou hê nie, maar dit was werk. Adama het saans by ’n vriend gekuier. Een aand het hy ’n besoeker by sy vriend aangetref—’n onderrigter van die Bybel. As ’n ywerige Katoliek het Adama betwis wat hierdie besoeker gesê het. En tog het die gedagte om die Bybel te bestudeer om van die Skepper te leer sy belangstelling geprikkel. Een aand was die onderwerp vir bespreking “Is daar bose geeste?” Adama kon dit nie weerstaan om aan die bespreking deel te neem nie. Sy dae as ’n fetisjaanbidder was ook getel.
Athanase en sy gelukbringer
Athanase is grootgemaak as ’n “Harris”—’n sogenaamd Christelike sekte wat deur William Wade Harris gestig is. Hy was ’n Liberiër wat beweer het dat hy deur die engel Gabriël as ’n profeet aangestel is. Omstreeks 1913 het Harris Liberië verlaat en in die Ivoorkus begin preek. Een boek sê: “Wanneer hy gespreek het, het die fetisje tot poeier verkrummel, diegene wat afgode gedien het hulle valse gode laat staan, hele statte sy godsdiens aangeneem. . . . Hy het deur die land getrek, in sy hand ’n kierie waarop daar ’n houtkruis was, gevolg deur ses vroue wat soos hy in wit geklee was en wat hy sy ‘dissipels’ genoem het.”
Athanase se vader het vir hom gesê dat hy ’n Harristepriester moes word wanneer hy groot is. Hoewel die Harriste veronderstel is om fetisje te veroordeel, het hulle beweer dat die Bybel towerkrag het! Soos hulle stigter het Harristepriesters die Bybel gebruik om mense te seën en te genees. Athanase het egter opgemerk dat min die Bybel lees, wat nog te sê dit volg.
Toe hy klaar was met skool het hy besluit om twee weke saam met ’n hoogaangeskrewe beampte van die Harristegodsdiens deur te bring, in die hoop dat dit hom sou help om ’n werk te kry. Tot sy groot verbasing het die godsdiensleier vir hom ’n gelukbringer gegee—’n parfuumbottel vol kaolienstof, sand en water—en vir hom gesê dat dit hom beslis sou help om werk te vind. “Maar”, het die beampte gesê, “as jy dit weggooi, sal jy mal word en uiteindelik sterf!”
Athanase was verward. Hy kon geen verskil sien tussen hierdie parfuumbottel en die fetisje wat deur lidmate van ander godsdienste gebruik is nie. Maar uit vrees vir sy ouers en die godsdiensleier het hy die gelukbringer gehou. Dit het hom nie die beloofde geluk gebring nie. Hy het ’n jaar lank sonder sukses werk gesoek. Athanase het egter ook in aanraking gekom met iemand wat hom bevry het van die vrees vir die gelukbringer.
Die waarheid omtrent fetisje
Al drie mans het in aanraking gekom met Jehovah se Getuies. Deur die Bybel saam met die Getuies se studeer, het hulle geleer wat die oorsprong van die geeste is. Die Bybel toon dat engele voor die Vloed in Noag se dag teen God in opstand gekom en verstoflik het om geslagsomgang met vroue te geniet. Die Vloed het die geeste gedwing om hulle stoflike liggame af te lê, en hulle is sedertdien tot die geesteryk beperk. Geen wonder dan dat hierdie demone soveel nadruk lê op materiëe voorwerpe soos fetisje nie!—Genesis 6:1-5; 2 Petrus 2:4.
Al drie hierdie mans het mettertyd liefde vir Jehovah God en ’n afkeer van spiritistiese gebruike aangekweek. Die Bybel veroordeel uitdruklik pogings om met bose geeste in aanraking te kom en sê in Deuteronomium 18:10-12: “Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarseëry, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.” Omdat hulle hulle nie Jehovah se misnoeë op die hals wil haal nie, volg al drie nou die raad van die Christendissipel Jakobus: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”—Jakobus 4:7.
Dit was egter nie maklik om van godsdiensgevangenskap los te breek nie. Edmond moes byvoorbeeld amulette verbrand wat hom blykbaar met Mami-Wata verbind het. Maar hy het daarna goeie vordering gemaak en selfs sy lewe aan God toegewy en hom laat doop om dit te simboliseer. Toe het die geeste hom net ’n week na sy doop begin pla. Stemme het vir hom gesê om hierdie nuutgevonde geloof te laat staan. Maar Edmond het gebid en die naam van Jehovah aangeroep. Uiteindelik het die bose geeste opgehou om hom lastig te val.—Spreuke 18:10.
Adama het ook probleme ondervind. Hy wou ander help om los te breek van Sataniese invloed en het ’n voltydse prediker geword. Maar hy het ’n ruk lank mismoedig gevoel. Hy het gevoel dat hy nie goeie vooruitgang maak nie en dat sy geestelikheid ondanks baie Christenbedrywighede laag was. Wat kon sulke negatiewe gedagtes veroorsaak het? Adama het skielik besef dat hy nog daardie “tarentaal”-hemp gehad het wat sy ouers vir hom gegee het. Hy het sy huis deurgesoek en daardie laaste skakel met die geestewêreld gevind en vernietig. “Ek het baie verlig gevoel”, het hy gesê.
Athanase moes ook iets weggooi—daardie gelukbringer wat vir hom gegee is. Nadat hy dit gedoen het, het hy baie siek geword. ‘Is dit omdat ek die bevel om dit nie weg te gooi nie verbreek het?’ het hy gewonder. Maar hy het hom ook in gebed tot Jehovah gewend. In plaas daarvan om te swig voor druk van sy familie om weer sy toevlug tot spiritisme te neem, het hy mediese hulp verkry. Sy gesondheid het mettertyd fisies sowel as geestelik verbeter. Athanase bestee nou sy naweke daaraan om ander te help om Bybelwaarhede te leer.—Johannes 8:44.
Die ondervindinge van hierdie drie voormalige gevangenes van bygelowigheid bevestig dat die Woord van God kragtig kan inwerk op diegene wat daarin glo (1 Thessalonicense 2:13; Handelinge 19:18-20). Meer as 2 000 ander in die Ivoorkus werk saam met hierdie jong mans om mense te help om van godsdiensgevangenskap bevry te word. Jehovah se Getuies in jou gebied sal jou ook graag help om sulke vryheid te verkry.