Ware aanbidding—Mensgemaak of geopenbaar deur God?
DIE mens moes feitlik alles wat hy weet self ontdek. Die mees fundamentele brokkies kennis—hoe om voedsel te kweek en gaar te maak, hoe om ’n dak oor sy kop te bou—is slegs deur die pynlike proefmetode verkry. Maar gedurende die afgelope eeu het die mens vinnig sy horisonne verder as bloot huishoudelike behoeftes uitgebrei. Nou splyt hy die atoom, vlieg hy vinniger as die snelheid van klank—stuur hy selfs gereeld mense na die buitenste ruimte. Maar beteken dit dat die mens net so goed vir homself kan uitwerk hoe om God die beste te dien?
Nie volgens die skrywer van Psalm 143:10 wat gesê het nie: “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land.” Die psalmis het dus besef dat die mens ondanks sy vaardigheid en vernuf goddelike hulp nodig het om God se wil te leer ken. (Vergelyk Jeremia 10:23.) Dit sou egter beteken dat God homself op die een of ander manier aan die mens moet openbaar.
Het so iets gebeur? Die Bybel is vir miljoene die bewys dat so ’n goddelike openbaring reeds plaasgevind het. Ander stem egter nie saam nie. Hulle is so verblind deur die mens se vernuf dat hulle so ’n openbaring onnodig ag. Hulle beweer dalk dat godsdienskennis “inherent is aan elke mens”, of dat sulke kennis “opgedoen kan word deur die gebruik van die rede” eerder as “deur ’n openbaring of die onderrig van enige kerk”.
Maar as dit die geval was, sou dit in werklikheid by die mens berus om sy godsdiens uit te dink, om sy eie leerstellinge en sedelike standaarde te ontwikkel. Klink dit vir jou redelik? Watter nut sou ’n mensgemaakte godsdiens hê? Sou dit werklik die mens se geestelike behoeftes bevredig? (Mattheüs 5:3, NW). Sou dit werklik die vrae beantwoord wat waarheidsoekers omtrent God vra?
Kom ons ondersoek hierdie vrae deur kortliks te kyk na ’n godsdiens wat probeer het om God deur menslike redenering en filosofieë te vind—Hindoeïsme.