Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 6/15 bl. 22-25
  • “Maak langer die tentlyne” in Japan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Maak langer die tentlyne” in Japan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Uitbreiding deur die jare
  • Die voltydse predikers
  • Die dringende behoefte aan vergaderplekke
  • Uitbreiding by die tak
  • Vooruitsigte
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 6/15 bl. 22-25

“Maak langer die tentlyne” in Japan

“MAAK groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in.”​—JESAJA 54:2, NAV.

Met daardie woorde het die profeet Jesaja die tyd voorspel wanneer die ware aanbidding van Jehovah God vinnige uitbreiding sou ondergaan. Vandag sien ons in een land na die ander rondom die wêreld sulke wonderlike, teokratiese uitbreiding. Dit is miskien nêrens duideliker te sien as in Japan nie, waar daar meer as 97 000 aanbidders van die ware God is.

Uitbreiding deur die jare

Dit was vroeg in die tweede dekade van hierdie eeu dat die goeie nuus van God se Koninkryk Japan bereik het. Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, het ’n reis van 1 100 kilometer deur die Japannese eilande onderneem en die nodigheid gesien om die ware Christelike geloof te verkondig. In 1926 is ’n Amerikaanse Japannees na Japan gestuur as die eerste sendeling van die Wagtoringgenootskap.

Nagenoeg 20 jaar lank is baie saadjies van waarheid gesaai, en tientalle mense het van Jehovah se Koninkryk geleer. Baie van hulle is gedurende die tydperk 1933 tot 1945 deur die militêre regering aan swaar geloofstoetse onderwerp.a

In 1949 het die predikingswerk in Japan ’n nuwe begin gekry. Sendelinge wat aan die Gileadskool opgelei is, het in Japan begin aankom. Teen Augustus was daar sewe sendelinge in Tokio, en gemiddeld nege persone het elke maand aan die evangelisasiewerk deelgeneem. Nog ses sendelinge het in Oktober gekom, en vyf van hulle het met die predikingswerk in Kobe begin. Hoe sou hierdie prediking ontvang word in ’n land van Boeddhiste en Sjintoïste, ’n land wat nog besig was om te herstel van die skok van die Tweede Wêreldoorlog?

In minder as tien jaar het die getal Koninkryksverkondigers tot 1 000 aangegroei. Maar ‘die plek vir die tent sou nog groter gemaak word’. Teen November 1970 het die Getuies tienvoudig vermeerder, en drie jaar later het die getal op 20 000 gestaan. Na nog drie en ’n half jaar het daardie getal weer verdubbel​—’n hoogtepunt van oor die 40 000 Koninkryksverkondigers! Maar daar was nog baie sagmoedige mense wat gevind moes word, en Jehovah het aangehou om sy seën uit te stort op die ywerige werk van sy volk in Japan. In net meer as ses jaar, teen Junie 1983, het die 40 000 nog eens verdubbel tot oor die 80 000, en met hierdie skrywe het die getal Koninkryksverkondigers in Japan 97 305 bereik!

Die voltydse predikers

Jehovah God verdien ongetwyfeld die eer vir hierdie uitbreiding. Maar die ywerige sendelinge en ander voltydse predikers het ’n belangrike rol gespeel.

Teen 1952 het die groep sendelinge tot nagenoeg 50 vermeerder, en verskeie nuwe Japannese Getuies het tot die pionierdiens begin toetree. Die voorbeeld van die ywerige sendelinge het al hoe meer van hulle pasgedoopte metgeselle beweeg om hulle voltyds aan die diens van Jehovah te wy. Vandag, 37 jaar nadat die eerste sendelinge in die land aangekom het, is byna 40 persent van alle Getuies in Japan elke maand in die voltydse of pionierdiens, met 36 118 wat selfs in die kort wintermaand Februarie 1985 as pioniers gerapporteer het. Baie van die sendelinge wat van die begin af aan hierdie uitbreiding meegehelp het, dien vandag nog hier, maar die huidige groepie van 76 sendelinge is nou soos ‘’n druppel in die emmer’ vergeleke met tienduisende plaaslike pioniers.

Wil jy graag ’n paar van hierdie ywerige werkers ontmoet? Ons kan ten minste ’n paar van hulle leer ken​—verteenwoordigers van die spektrum van hierdie pioniers.

Ontmoet eers ’n paar van die ‘veterane’. Iwako Kono is ons oudste spesiale pionier. Sy is 70 en geniet al ongeveer 28 jaar lank hierdie diensvoorreg. En sy het al byna 50 mense tot op die punt van toewyding en doop gehelp. Dan is daar Sadakichi Shimada. Op die ouderdom van 87 is hy die oudste gewone pionier in Japan. Toyoko Umemoto was 26 jaar oud toe sy ’n spesiale pionier geword het. Nou, na meer as 29 jaar van getroue diens, is sy langer in die diens as enige ander Japannese spesiale pionier.

Aan die ander kant is daar baie kinders en jongmense wat hulle jeug gebruik om Jehovah te dien. Meri Aida was 14 jaar oud toe sy as ’n gewone pionier aangestel is. Voor daardie tyd het sy 41 maande lank, sedert sy op die ouderdom van 11 gedoop is, as ’n hulppionier gedien. Dit het sy gedoen terwyl sy op skool was.

Akiko Goto was sewe jaar oud toe haar moeder die gewone pionierdiens betree het, hoewel sy vir twee babas moes sorg. Akiko het haar moeder se goeie voorbeeld gevolg en ’n gewone pionier geword toe sy 18 was, en twee jaar later het sy die jongste spesiale pionier in Japan geword. Hisako Wakui was 21 toe sy as ’n spesiale pionier aangestel is. Nou, na sowat 28 jaar, het sy die voorreg gehad om minstens 37 mense te help om aanbidders van Jehovah te word.

Party het die groot stede verlaat en na die klein dorpies gegaan om die “evangelie van die koninkryk” aan al die verdienstelikes te verkondig. Dit is interessant dat ongeveer 60 persent van alle gewone pioniers huisvroue is, en die meeste van hulle het nie gelowige mans nie. Hierdie wonderlike pioniergees was ’n belangrike faktor by die uitbreiding van Koninkryksbelange in Japan.

Die dringende behoefte aan vergaderplekke

Die Japannese Getuies is terdeë bewus van die Bybelse gebod om nie hulle ‘onderlinge byeenkoms te versuim nie, en dit des te meer namate ons die dag sien nader kom’ (Hebreërs 10:25). In die vroeë jare het die meeste gemeentes hulle vergaderinge in klein vertrekkies in sale of stadsouditoriums gehou. Baie van hierdie vergaderplekke is van week tot week gehuur. Dit het dikwels gebeur dat die broers by hulle vergaderinge gekom het en dan moes uitvind dat die vertrek nie daardie dag beskikbaar was nie. Dit het beteken dat ’n ander vergaderplek inderhaas gevind en in minder as ’n uur vir die vergaderinge ingerig moes word!

Gelukkig is daardie dae nou merendeels verby. Die meeste gemeentes het nou hulle eie vergaderplekke. Party huur ’n plek vir ’n jaar op ’n slag, terwyl ander weer leë geboue of pakhuise opgeknap het. Maar in Japan is grond so duur​—enigiets van R750 tot R1 000 per vierkante meter—​dat min gemeentes die grond kan besit waarop hulle Koninkryksale staan. Party broers wat grond besit, het hulle huise gesloop en herbou met ’n Koninkryksaal onder en hulle woonplek bo. In verskeie buitengewone gevalle het mense wat nie getuies van Jehovah is of nie eens in die Christelike geloof belangstel nie, aangebied om Koninkryksale op hulle grond te bou en dit dan aan Jehovah se Getuies te verhuur. Party vra die Getuies selfs om ’n plan vir hulle saal voor te lê. Dit het ’n aantal waarlik buitengewone Koninkryksale tot gevolg gehad.

In Jokohama het die eienaar van ’n parkeerterrein byvoorbeeld ingestem om ’n Koninkryksaal op pilare bo-oor sy parkeerterrein te bou en aan die Getuies te verhuur. ’n Saal in Tokio is op die eerste verdieping van ’n gebou wat tussen die stutpilare van ’n lugspoorweg staan. Volgens die jongste berig is die broers nou al gewoond aan die raserige treine bokant die saal.

Soos die gemeentes groter geword het, so het die kringbyeenkomste groter geword. Waar die opkoms by ’n kringbyeenkoms 20 jaar gelede net 300 tot 400 was, kan daar nou 1 500 tot 2 000 of meer wees. Geskikte fasiliteite vir sulke groot byeenkomste is skaars. In 1975 is ’n bankrot kegelbaan buite Tokio gehuur en omgebou tot Japan se eerste Byeenkomssaal, met sitplek vir 1 200. Die tweede, ’n sterk betongebou, het in 1982 gevolg. Dit is in die sentrale deel van Japan en is geheel en al deur Getuievrywilligers​—mans, vroue en kinders—​gebou. Dit bied sitplek vir 1800. Die derde Byeenkomssaal is deur vrywilligerwerkers op die eiendom van die Wagtoringgenootskap se takhoofkwartier in Ebina gebou. Dit sal sitplek hê vir 3 000.

Die laaste keer dat al die verkondigers in Japan saam by een byeenkoms was, was by die internasionale byeenkoms in Osaka in 1973, wat deur 31 263 bygewoon is. Weens die gebrek aan geskikte fasiliteite word kleiner byeenkomste sedertdien gehou, en so kan ’n Koninkryksgetuienis in meer plekke gegee word. Vier-en-twintig sulke byeenkomste is in 1984 gehou. Dit is deur 179 439 bygewoon, en 3 236 is gedoop.

Uitbreiding by die tak

Die Genootskap se takkantoor is deur die jare baie vergroot om tred te hou met die vinnige groei in die veld. Van 1949 tot 1962 was die kantoor in ’n tipies Japannese dubbelverdiepinghuis in Tokio se Minato-wyk gelee. Dit is later vervang deur ’n gebou van sewe verdiepings wat tot 1972 as die hoofkwartier gedien het. Maar toe het die Genootskap die behoefte gevoel om sy eie drukwerk te doen. Gevolglik is ’n nuwe drukkery en ’n Bethelhuis op 0,4 hektaar grond in die stad Noemazoe, 120 kilometer suidwes van Tokio, gebou.

Maar binne vyf jaar was die kompleks by Noemazoe te klein. Sewe hektaar grond is toe in Ebina gekoop, en ’n drukkery en Bethelhuis drie keer so groot soos die in Noemazoe is gebou. Hierdie kompleks, wat geheel en al deur die Getuies self gebou is, is op 15 Mei 1982 toegewy.

Terwyl die bouwerk nog aan die gang was, is daar begin om tydskrifte met ’n nuwe vlakdruk-rotasiepers te druk. Toe die bouwerk klaar was, is nog ’n vierkleur-rotasiepers bygevoeg. Broers was veral opgewonde toe tienduisende eksemplare van die Japannese New World Translation of the Holy Scriptures in 1982 van die Genootskap se drukpers begin afkom het. In Januarie 1984 is ’n vlakdruk-rotasiepers met vyf eenhede geïnstalleer om tred te hou met die toenemende vraag na tydskrifte en ander lektuur. Hierdie drukpers kan duisend tydskrifte per uur lewer en kan Die Wagtoring en Ontwaak! gelyktydig druk.

Om al hierdie drukwerk en versending te doen en in die behoeftes van die werkers te voorsien, het die Bethelgesin tot 345 lede aangegroei. ’n Verdere 165 het aan die nuwe bouprojek gewerk. Interessant genoeg is daar 19 pare vleeslike broers in hierdie gesin.

Hoewel die Ebina-kompleks pas drie jaar gelede toegewy is, word daar alreeds weer aangebou. ’n Nuwe Bethelhuis van agt verdiepings, wat huisvesting aan 250 mense sal verskaf, is tans in aanbou. So ook ’n nuwe fabrieksgebou van ses verdiepings. Die “tentlyne” word inderdaad langer gemaak as wat ooit verwag is.

Vooruitsigte

In hierdie land van Boeddhistiese en Sjintoiïstiese opvattings is daar baie mense wat na iets soek waarin hulle kan glo. Die toekoms sal leer hoeveel nog na Jehovah se “tent” sal kom. ’n Aanduiding van verdere vooruitgang is die feit dat 224 696 mense op 15 April 1984 byeengekom het om Jesus se dood te herdenk. En ’n ywerige poging word aangewend om die belangstellendes te help. Daar word elke maand nagenoeg 142 000 tuisbybelstudies gehou.

Wie sou in 1949, toe die eerste sendelinge in die land aangekom het, kon dink dat daar 37 jaar later oor die 97 000 aktiewe lowers van Jehovah in Japan sou wees? Tog het Jehovah dit laat gebeur. Getrou aan sy belofte het hy inderdaad ‘die tentdoeke breër gemaak’ en ‘die tentlyne langer gemaak’ vir sy volk. Sy Getuies sal aanhou om hard te werk en op hom te vertrou om die oes in te samel voor die einde van hierdie stelsel aanbreek.

[Voetnote]

a Kyk die 1973 Yearbook of Jehovah’’s Witnesses, bladsye 214-222, vir ’n volledige verslag.

[Grafiek op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die vermeerdering in Koninkryksverkondigers in Japan die afgelope 37 jaar

(Feb.)

1949 9

1958 1 000

1970 10 000

1973 20 000

1976 40 000

1983 80 000

1985 97 305

[Prent op bladsy 24]

Toyoko Umemoto is die langste in die spesiale pionierdiens

[Prent op bladsy 25]

Sadakichi Shimada is die oudste gewone pionier in Japan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel