Vrae van lesers
▪ Is daar dinge wat ons nie in gebed tot Jehovah moet sê nie?
Ja, daar is. Ons moet nie dinge in ons gebede sê wat te familiêr klink en ander (in openbare gebede) laat dink dat ons oneerbiedig is nie. Dit is nie gepas om uitdrukkings soos “Goeie middag, Jehovah” en “Dra ons liefde aan Jesus oor” te gebruik nie, of om snaakse kommentare of selfs grappe in ons gebede te maak nie. Waarom nie?
Eerstens, wanneer sulke uitdrukkings in openbare gebed gebruik word, sal hulle luisteraars waarskynlik skok of aanstoot gee (Romeine 14:21). Maar daar is ’n diepliggende rede waarom sulke uitdrukkings selfs in ons persoonlike gebede vermy moet word. Hierdie is uitdrukings wat ons in ons gesprekke met ons portuurs gebruik. Wanneer hulle in gebed gebruik word, dui dit op ’n gebrek aan ontsag en eerbied, en hulle skep die indruk dat die een wat so bid sy algehele nietigheid in vergelyking met Jehovah vergeet het.—Genesis 18:27; vergelyk Lukas 18:9-14.
Christene word inderdaad aangespoor om ’n intieme verhouding met Jehovah aan te kweek. Ons het hom lief, en hy is ons hemelse Vader (Mattheüs 6:9; 22:37). Trouens, party mense kan sy vriende genoem word (Jakobus 2:23). Daarbenewens word ons genooi om met vrymoedigheid tot Jehovah te spreek en ons diepste gedagtes en intiemste probleme met hom te bespreek.—Psalm 55:2,3; Filippense 4:6; Hebreërs 4:16; 1 Johannes3:21, 22.
Jehovah vereis nietemin ’n goeie gesindheid van diegene wat hom nader. Hy het gesê: “Op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). Opregtheid van hart is ook ’n vereiste. “Bekeer julle tot My met julle hele hart”, het Jehovah vir sy volk gesê (Joel 2:12, 13). Ons het geen aanspraak op verdienstelikheid voor hom, geen rede om aanmatigend te wees, geen reg om te eis nie.
Die Bybel bied verdere raad vir diegene wat tot Jehovah bid: “Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.” “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.” (Job 37:24; Psalm 145:19; kyk ook Psalm 39:6, 13.) Hoewel Jehovah altyd bereid is om na ons gebede te luister, moet die manier waarop ons hom aanspreek dus bewys lewer van ons besef van ons eie onwaardigheid, sowel as van ons groot respek vir hom. Enige ander benadering sou dui op vermetelheid, ’n gebrek aan nederigheid of ’n gebrek aan erns.
Kinders gebruik soms baie familiêre uitdrukkings in hulle gebede wat selfs hulle ouers laat glimlag. Sulke uitdrukkings is ’n innemende blyk van kinderlike onskuld en toon hoe werklik Jehovah vir hulle is. Maar volwassenes met hulle groter besef van wat daarby betrokke is, moet sulke ligsinnigheid vermy. Hulle moet Jehovah met opregtheid, eerbied, nederigheid, waardigheid en erns nader.—1 Korinthiërs 13:11.