Bybelwaarheid triomfeer te midde van tradisie
EENHONDERD jaar gelede het die Bybel ’n vername plek in die meeste Britse huise gehad. Groot liefde en eerbied is vir die King James Version van 1611, ’n gevestigde deel van die nasie se Protestantse tradisie, getoon. Charles T. Russell, die eerste President van die Wagtoringgenootskap, was derhalwe beïndruk deur die mense se „godsdiensywer” toe hy die Britse Eilande in 1891 vir die eerste keer besoek het. Hy het die land beskryf as „landerye wat ryp is en wag om geoes te word”, en het die dringende behoefte besef om hierdie belangstellendes byeen te bring en meer Bybellektuur in die land te versprei.
Russell het ’n boekwinkel in Londen geopen om in hierdie behoefte te voorsien, en teen 1898 was daar nege gemeentes van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies toe bekendgestaan het) in Brittanje. Twee jaar later, in 1900, is die eerste takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Londen geopen en in 1911 was die kantoor te Craven Terrace 34 geleë. Talle geskiedkundige byeenkomste is in die nabygeleë Londense Tabernakel gehou. Die evangelisasiewerk het landwyd gefloreer.
Maar ’n verandering is ingelui toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het. Tradisionele godsdiens het sy aanhangers begin verloor, en die tendens duur tot vandag toe voort. Wie sou toe kon gedink het dat die Anglikaanse Kerk, so deurtrokke van tradisie met sy antieke kerke en katedrale, gebruike en vieringe, 70 jaar later 75 persent van sy gemeentelede sou verloor voordat hulle 20 is? Of dat die ledetal van die Kerk van Skotland tot minder as ’n miljoen, of ongeveer 18 persent van die bevolking, sou daal? Of dat baie Walliese kapelle op die ou end motorhawens, selfdienwinkels of ontspanningsentrums sou word? Maar dit is hoe sake vandag staan.
Wie sou andersyds ooit kon droom dat daar in 1984 meer as 95 000 bedrywige verkondigers van Jehovah se Getuies in Brittanje sou wees? Of dat hulle 1 170 gemeentes besig sou wees met ’n ongeëwenaarde program om Koninkryksale te bou? Die feite is nietemin daar vir almal om te sien. Hoe kan ons hierdie skynbaar teenstrydige ontwikkeling verklaar? Waarom floreer Jehovah se Getuies in Brittanje? En voor watter uitdagings kom hulle vandag te staan?
Die krag van Bybelwaarheid
Tradisies is hardnekkig. Maar ’n liefde vir Bybelwaarheid het baie wat reeds lank getroue kerkgangers was in staat gestel om met sulke tradisie s te breek. Ander het ook toegelaat dat die krag van Bybelwaarheid hulle lewens verander. Die volgende ondervindinge toon duidelik hoe Bybelwaarheid te midde van tradisie in Brittanje triomfeer.
Een bejaarde vrou wat haar lewe lank ’n getroue lid van die Anglikaanse Kerk was, was bekend vir haar liefde vir die Bybel. Hoewel sy ’n paar Getuies in haar gemeenskap geken en bewonder het, wou sy nooit werklik betrokke raak by ’n bespreking oor godsdiens nie. Maar toe die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by ’n Bybelstudiegroep daar naby bespreek sou word, het sy ingestem om die bespreking by te woon. Sy was baie beïndruk. Van daardie eerste vergadering af het sy die vergaderinge daar en by die gemeente se Koninkryksaal gereeld bygewoon. Toe die predikant navraag kom doen het oor haar afwesigheid by die kerk, het sy hom onomwonde vertel dat sy nooit weer sou teruggaan nie, aangesien sy in die vorige paar weke meer omtrent die Bybel geleer het as in die 86 jaar wat sy ’n lidmaat van sy kerk was.
„Bekentenis ná gesprek met Getuies” was die opskrif van hierdie berig in The West Wales Guardian. ’n Dertigjarige man is vir diefstal gearresteer. Hy het vir sy prokureur gesê dat hy ’n pleit van „Onskuldig” moet aanteken. Maar hy het die Bybel voor die verhoor saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Die gevolg? ’n Verklaring voor die hof, en die pleit is ter elfder ure na „Skuldig” verander! In sy opsomming van die saak het die voorsitter van die magistrate gesê: „Ons is verheug dat jy besluit het om die landswet te gehoorsaam.” Die man se vrou het uit waardering vir die ingrypende veranderinge wat die man reeds in sy lewe aangebring het, uitgeroep: „Dit is werklik die beste lewenswyse!”
Bybelwaarheid strek kinders tot voordeel
’n Twisappel in huisgesinne waar slegs een ouer ’n Getuie is, is reeds jare lank dat die kinders van pret verstoke is, veral wanneer dit kom by tradisionele godsdiensvieringe. ’n Onlangse beslissing van die Hooggeregshof bring hierdie emosionele onderwerp in die regte perspektief deur ten dele te sê:
„Daar is niks immoreels of sosiaal aanstootliks in die oortuiginge en gebruike van [Jehovahsgetuies] nie. Daar bestaan ’n groot gevaar dat ons die bedreiging vir hierdie kinders se welsyn indien hulle hul moeder sou volg en Jehovahsgetuies sou word, kan oordryf omdat ons met ’n ongewilde sekte te doen het.”
In plaas daarvan dat kinders van Jehovah se Getuies van dinge verstoke is, word hulle dikwels vir hulle Christelike opleiding en opvoeding geprys. Een onderwyser in Glasgow, Skotland, het byvoorbeeld gesê dat hulle „goed vaar op skool, nie omdat hulle intelligenter is nie, maar omdat hulle van kleins af geleer word hoe om te sit en luister en hoe om toe te pas wat hulle leer”. Hy het ook gesê dat Getuie-tieners oor die algemeen meer gebalanseerd is en derhalwe, na sy mening, meer opgewasse is teen die probleme eie aan adolessensie.
„Soek eers die koninkryk”
Wat gebeur wanneer die kinders groot is? Strek die opleiding wanneer hulle jonk is hulle later tot voordeel? Met drie-en-’n-halfmiljoen werkloses tans in Brittanje kan dit waarlik ’n toets wees om geestelike belange eerste te stel. Maar soos Jesus belowe het, word ’n mens ryklik beloon as jy ,eers die koninkryk soek’, soos die volgende ondervinding bewys.—Mattheüs 6:33.
Terwyl ’n jong Getuie probeer kies het tussen die voltydse bediening en sekulêre werk, is hy ’n belowende betrekking by ’n ingenieursfirma aangebied op voorwaarde dat hy hom vir spesiale studiekursusse op Dinsdag- en Donderdagaande laat inskryf. Maar die jong man het besluit om dit duidelik te stel dat hy as een van Jehovah se Getuies op daardie twee aande gemeentevergaderinge bywoon. „Wat gaan jy eerste stel?” wou die bestuurder weet. Die jong man wou nie ’n kompromis aangaan nie. Hy het die aanbod van die hand gewys, deeltyds begin werk om homself te onderhou, en die voltydse bediening betree.
Na vier jaar van vreugde volle, vrugbare bedrywigheid het die jong man, wat nou buitelandse sendingwerk beoog, gesien hoe baie van sy tydgenote wat universiteit toe gegaan het nog steeds werkloos is. Ander het mislukkings in die gemeenskap geword. Wat van die maatskappy wat die aanbod gedoen het? Dit het kort daarna bankrot gegaan en bestaan nie meer nie.
Die voltydse bediening, of pionierdiens, is nie net vir jongmense nie. Een Getuie, ’n gesinsman in die noorde van Engeland, het sy welvarende onderneming verkoop en deeltyds begin werk sodat hy gereeld pionierdiens kon doen. Drie van sy vier kinders het sy goeie voorbeeld gevolg en direk na matriek pionierdiens begin doen, en die oorblywende dogter wil graag by hulle aansluit wanneer haar beurt kom. Die moeder stel ook ’n goeie voorbeeld deur hulppionierdiens te doen, dit wil sê, deur 60 uur of meer per maand aan die predikingswerk te wy wanneer sy kan.
Hulppionierdiens maak opgang in Brittanje. In Mei 1984 het ’n hoogtepunt van 12 108 Getuies hulle vrywillig vir hierdie diensvoorreg aangebied. Stel jou die entoesiasme in een Skotse gemeente voor toe ’n drie-en-twintigjarige broer wat ’n slagoffer van talidomied was en sonder arms en met net een been gebore is die leiding gegee en aansoek gedoen het. Met die liefdevolle hulp van die gemeente kan hy van huis tot huis getuig.
Die uitdaging van ’n gemengde gemeenskap
Hoewel Brittanje ’n klein land is, is daar wel uitdagings met betrekking tot verskillende tradisies, tale en dialekte. Hoewel die mense in Wallis Engelssprekend is, kan die meeste byvoorbeeld nog hulle moedertaal, Wallies, praat. ’n Paar wat in afgeleë dele van die Prinsdom woon, kan net Wallies praat. Die Genootskap het onlangs ’n paar Bybelstudiehulpe in Wallies gedruk om hulle te help, en die eerste verslae dui aan dat dit baie byval vind.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog stroom Britse burgers uit voormalige kolonies die land binne. Verslae dui aan dat meer as eenmiljoen Asiate uit Indië, Pakistan en Bangladesj, asook talle Wes-Indiërs, nou in Brittanje woon. Hulle tale is vir Jehovah se Getuies ’n baie interessante uitdaging. Hoewel Bybellektuur in Goedjarati sowel as Pandjabi—die twee vernaamste tale—beskikbaar is, is dit moeilik om aanvanklik tot hulle deur te dring. Getuies wat hulle daarop toelê om die tale te leer en die maatskaplike en godsdienstradisies van hierdie mense te verstaan, word hartlik deur die gemeenskappe verwelkom.
Die Londense koerant Garavi Gujarat berig gevolglik: „Talle Goedjarati’s het uit die tradisionele Hindoe-kastestelsel losgebreek en het nou Jehovahsgetuies geword.” ’n Soortgelyke opskrif in die Wembley Midweek sê: „Die Bybel breek kasteskeidsmure af.” Diegene wat losbreek, kom egter voor kwaai druk van hulle gesin te staan, veral met betrekking tot die tradisie van gereelde huwelike. Een Indiërmeisie wat met hierdie situasie te kampe gehad het, het lank getuig vir die mans wat as moontlike eggenote aan haar voorgestel is. As gevolg van haar sterk godsdiensoortuiging wou nie een van hulle met haar trou nie. Met haar ouers se toestemming het sy op die ou end met ’n Indiër-Getuie getrou. Hulle is nou ’n verenigde gesin in Jehovah se diens. Daar is vandag meer as 500 Asiatiese Getuies in die land bedrywig, onder meer 35 voltydse verkondigers!
Daar word vir die toekoms gebou
In die maande net voor die Tweede Wêreldoorlog is die eerste Koninkryksale in Londen gebou, in die woonbuurte Harrow en Ilford. Nou is daar in Londen alleen 140 gemeentes, onder meer 4 Griekse, 2 Italiaanse en een Spaanse gemeente, asook groepe Chinese, Goedjarati’s, Japannese, Portugese en Pandjabi’s. Die uitdaging om ondanks die vinnig stygende eiendomspryse nuwe Koninkryksale te bekom, is groter as ooit.
Maar die werk word bespoedig deur die nuwe program om Koninkryksale in twee dae te bou. Die eerste van hierdie sale in Europa is in 1983 in Northampton, ’n dorp in Midde-Engeland, opgerig. Getuies wat ondervinding van hierdie unieke bouwerk het, het uit die Verenigde State en Kanada gekom om oor die projek toesig te hou. Die hoof van ’n nabygeleë skool het die leerlinge toestemming gegee om die bouperseel gereeld te besoek sodat hulle self „’n uitdagende kyk op ’n groot gemeenskapsonderneming” kon kry. Maar dit was veel meer. Dit was ’n internasionale projek, met ongeveer 500 vrywilligers uit plekke so ver soos Japan, Indië, Frankryk en Duitsland.
Hierdie gees van eenheid is nou ’n bron van baie kommentaar in Brittanje. Jehovah se Getuies word nie meer as ’n onbeduidende minderheid beskou nie. Hulle word beskou as mense met ’n doel, mense wat vir die toekoms bou met, soos een Anglikaanse geestelike dit gestel het, „’n doeltreffende organisasie en vurige entoesiasme”. Hy het voorts gesê: „Hulle het ’n uitvoerige kennis van die Bybel. Hulle kan daaruit aanhaal en is goed daarmee vertroud. Hulle gewone lidmate is besonder goed opgelei.” Dit is die rede vir hulle eenheid en krag: Jehovah se Getuies gebruik die Bybel as die enigste gesag vir alles wat hulle glo en verkondig, ’n feit wat vandag geredelik erken word.
In die tagtigerjare is die Bybel steeds ’n blitsverkoper in Brittanje, en dit word steeds eerbiedig. Die „godsdiensywer” wat honderd jaar gelede so onmiskenbaar was, bestaan weliswaar nie meer nie. Maar deur die waarheid van die Bybel hoog te hou, samel Jehovah se Getuies aldaar ’n oorvloedige oes in. Altesaam 187 709 mense het saam met hulle vir die jaarlikse herdenking van die dood van die Here Jesus Christus vergader—’n hoogtepunt! Hulle is dus met goeie rede vol vertroue dat nog duisende in hierdie tradisievaste land Bybelwaarheid sal aanneem en aanbidders van Jehovah,die God van waarheid, sal word namate hierdie stelsel ten einde loop.—Mattheüs 24:3, 14.
[Kaart/Prent op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BRITTANJE
SCOTLAND
Glasgow
ENGELAND
Northampton
Londen
WALLIS
[Prent op bladsy 29]
Vinnig geboude Koninkryksaal in Northampton, Engeland