Aanvaar die uitdaging van Christelike rypheid
„Laat ons egter, terwyl ons die waarheid spreek, deur liefde opgroei in alle dinge in hom wat die hoof is, Christus.”—EPHESIËRS 4:15.
1, 2. (a) In watter opsigte is „die vrug van die moederskoot” ’n beloning? (b) Wat word van pasgebore babas verwag?
’N FRIS en gesonde baba is waarlik ’n bondeltjie vreugde. Min mense kan sy manewales weerstaan. Hy is ’n bron van oneindige opwinding en genot, die middelpunt van belangstelling net waar hy gaan. Hy is begryplikerwys ,die trots en vreugde’ van sy ouers, ondanks al die moeite en beroering wat hy veroorsaak. Voorwaar, „die vrug van die moederskoot is ’n beloning”.—Psalm 127:3.
2 Maar al is ’n baba ook hoe dierbaar, wat gebeur as hy geen tekens van groei toon nie? As hy na maande of dalk selfs jare van liefdevolle sorg deur sy ouers in daardie toestand bly, skort daar beslis iets ernstigs. Ja, groei het sinoniem geword met die lewe; ons verwag dit van alle lewende dinge. Dit is ’n bewys van Jehovah se skeppingsvermoë en wysheid.—Lukas 2:52.
Geestelike groei noodsaaklik
3. Watter groei is deur Jesus voorspel, en watter vervulling sien ons vandag?
3 Soos Jesus voorspel het, vind daar vandag ’n ander soort groei plaas. ’n Geestelike „oes” is rondom die wêreld aan die gang (Mattheüs 9:37). Gedurende die 1984-diensjaar het ses lande byvoorbeeld gemiddeldes van oor die honderdduisend Koninkryksverkondigers gerapporteer. Slegs drie jaar tevore, in 1981, was daar net twee lande met soveel verkondigers. In die laaste ses jaar is 827 144 nuwe getuies van Jehovah gedoop en meer as 5 000 nuwe gemeentes gestig. Jehovah het sy werk bespoedig.—Jesaja 60:22, NW.
4. Wat was die gevolg van die wêreldwye groei onder Jehovah se volk?
4 Hierdie syfers toon dat nagenoeg een uit elke drie persone wat nou gereeld met Jehovah se volk omgaan en aan die predikingswerk deelneem, gedurende die afgelope ses jaar gedoop is. Is jy een van hulle? Indien wel, is jy ’n bron van groot vreugde vir diegene wat jou gehelp het om die waarheid te leer, vir al jou Christenmetgeselle en vir jou hemelse Vader, Jehovah God (Spreuke 27:11). Die stap wat jy gedoen het om jou aan Jehovah toe te wy, was, soos die eerste treetjie van ’n baba, ’n opwindende gebeurtenis. Dit was ’n voorwaartse beweging vir jou. Dit was ’n teken van groei.
5. Watter vrae moet iedereen homself afvra? Wat kan ons help om die antwoorde te kry?
5 Wat het sedertdien gebeur? Het jy, met die liefdevolle aandag van jou mede-Christene, aangehou om geestelik te groei? ,Hoe kan ek weet?’ vra jy dalk. Wel, dink aan wat die apostel Paulus oor groei gesê het: „Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind; maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge [„trekke”, NW] van ’n kind afgelê” (1 Korinthiërs 13:11). Dit was dus nie net die verloop van tyd nie, maar die aflegging van „die trekke van ’n kind” wat van hom ’n volwasse man gemaak het. Wat is daardie trekke, of eienskappe?
6, 7. (a) Beskryf een ,trek van ’n kind’ en die gevaar wat dit inhou. (b) Hoe word hierdie trek of eienskap geopenbaar? Wat kan die uitslag wees?
6 Een kenmerk van klein kindertjies is dat hulle aandag baie gou afgetrek word. Hoewel hulle baie nuuskierig is oor alles rondom hulle, is hulle ook onvoorspelbaar, wispelturig en rusteloos. Dit spreek vanself dat iemand wat in so ’n toestand bly in ernstige geestelike gevaar verkeer. Hy sal waarskynlik iemand wees „wat soos [’n golf] geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring”, soos die apostel Paulus dit in Efesiërs 4:14 beskryf het.
7 Golwe en wind kan so gou opkom as wat hulle verdwyn. Vandag word dinge opsetlik so gemaak dat hulle uitgedien sal raak, en grille, giere en modes kom en gaan. Dinge wat ’n kort rukkie gelede nog onontbeerlik geag is, is nou heeltemal verouderd en vergete. Hoe onverstandig—en kinderagtig—is dit tog om altyd die nuutste van alles te wil hê, hetsy op die gebied van vermaak, kleredrag en persoonsversorging of wat ook al, en dan gou oortref en teleurgestel te word. In geestelike sake kan sulke onbestendigheid rampspoedige gevolge hê.—Vergelyk Jakobus 1:6-8.
8. Wat is nog ’n eienskap van geestelike kinders, en watter gevaar hou dit in?
8 Nog ’n ,trek van kinders’ is dat hulle weinig benul het van goed en sleg, reg en verkeerd. Net so het geestelike suigelinge nog nie hulle „geestesvermoëns . . . deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” nie, en dit is waarom die apostel Paulus sy mede-Christene aangespoor het om ,voort te gaan na rypheid sonder om weer die fondament te lê’ (Hebreërs 5:14; 6:1, vgl. NW). Geestelike suigelinge het gedurig die versekering nodig dat wat hulle vir die waarheid aanvaar het inderdaad die waarheid is, en wat hulle geleer is om te doen inderdaad is wat hulle behoort te doen. Hulle het hulp met selfs die mees fundamentele dinge nodig. So nie raak hulle maklik verward, gefrustreerd en oorweldig deur twyfelgedagtes wat hulle geloof kan skaad.
9. Waarom moet ons die uitdaging van geestelike rypheid aanvaar?
9 Het jy al opgemerk dat kinders altyd gretig is om te doen wat hulle grootmense sien doen? Vir hulle is dit natuurlik net ’n speletjie. ’n Deel van die pret is ongetwyfeld dat hulle kan doen wat hulle wil sonder om die verantwoordelikheid te aanvaar wat daarmee gepaard gaan. ’n Kind is nou maar eenmaal so. (Kyk Mattheüs 11:16, 17.) Maar met groei en ontwikkeling kom plig en verantwoordelikheid. ’n Kind moet gehelp word om hierdie uitdaging te aanvaar. Sy toekomstige sukses al dan nie hang in groot mate af van sy reaksie daarop. Op geestelike gebied is dit selfs belangriker dat elkeen van ons die uitdaging van Christelike rypheid onder die oë sien. Is jy bereid, selfs gretig, om die verantwoordelikheid te aanvaar wat op ’n volwasse, ryp, geestelike persoon neerkom? Of dryf jy maar net saam terwyl ander jou verantwoordelikheid vir jou dra?—Galasiërs 6:4, 5.
Wat is Christelike rypheid?
10. Waarom het Paulus die Hebreeuse Christene aangespoor om ,voort te gaan tot rypheid’?
10 Wat het die apostel Paulus in gedagte gehad toe hy Christene aangespoor het om ,voort te gaan tot rypheid’? (Hebreërs 6:1, NW). Die verband toon dat Paulus oorspronklik veel aan die Hebreeuse Christene te sê gehad het oor die „hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”, Jesus Christus. Maar syns insiens was hulle nie gereed daarvoor nie, omdat die dinge wat hy in gedagte gehad het „swaar [was] om te verklaar” (Hebreërs 5:10, 11). Hy het hulle eerder vermaan: „Julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ’n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.”—Hebreërs 5:12-14; vergelyk Judas 3.
11. Wat beteken dit om ryp te wees?
11 Beteken dit dan dat rypheid bloot dui op kennis van die dieper dinge van die Bybel? Ofskoon Christelike rypheid kennis en begrip van die Bybel insluit, behels dit veel meer. Ons sal die saak beter verstaan as ons die woorde beskou wat deur die apostel Paulus gebruik is. Die Griekse woord wat met „rypheid” vertaal word, is te·lei·oʹtes, en die byvoeglike naamwoord „ryp” word vertaal van teʹlei·os. Hierdie woorde is verwant aan te’los, wat „einde” beteken. W. E. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words, verduidelik derhalwe dat die woord ryp (teʹlei·os) „aandui dat die einde (te’los) van ’n saak bereik is, voltooid, volledig, volmaak”. ’n Ryp Christen is dus een wat ’n bepaalde eindpunt of doel bereik het. Wat is daardie doel?
12. Wat behels rypheid volgens Efesiërs 4: 11-13?
12 Die apostel Paulus het in Efesiërs 4:11-13 verduidelik dat Christus Jesus, as die hoof van die Christengemeente, baie voorsienings gemaak het om die „heiliges” te help om daardie doel te bereik, naamlik, dat „ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus”. Hier word rypheid, of volwassenheid (Grieks, teʹlei·os), nie alleen in verband gebring met „kennis” nie, maar ook met „die eenheid van die geloof” en die strewe om die statuur van Christus te bereik.
13. Waarom kan daar geen Christelike rypheid bestaan sonder „die eenheid van die geloof” nie?
13 „Die eenheid van die geloof” dui op eendrag. Voordat iemand die „een geloof” sy eie maak, het hy moontlik sy eie opvattings en menings oor hoe dinge gedoen moet word, oor wat reg en wat verkeerd is, ensovoorts (Efesiërs 4:4, 5). As hy nie van sulke opvattings ontslae raak nie, sal hy dit baie moeilik vind om geestelik te groei. Paulus het eenmaal die Christene in die eertydse Korinthiese gemeente „klein kinders in Christus” en „vleeslik” genoem omdat hulle in kampe verdeel was deur „jaloersheid en twis”, met sommige wat beweer het dat hulle Paulus volg, ander Apollos (1 Korinthiërs 3:1-4). Dit is dus duidelik dat „die eenheid van die geloof” hand aan hand gaan met Christelike rypheid. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Daarom moet ons onsself afvra: Het ons ons wêreldse denkwyses van vroeër laat vaar? Besef ons die belangrikheid van eenheid in denke en optrede met Jehovah se volk? „Die eenheid van die geloof” is ’n onontbeerlike bestanddeel van Christelike rypheid.—Efesiërs 4:2, 3.
14. Waarmee hou rypheid nog verband?
14 Christelike rypheid hou ook verband met die vereiste dat ons „die mate van die volle grootte van Christus” bereik. Wat beteken dit? Paulus sê voorts dat diegene wat hierdie punt bereik nie meer kinders is „wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense” wat ander op sluwe wyse tot dwaling bring nie. Hulle het eerder ’n juiste kennis van die waarheid. Hulle het opgegroei in die liefde van die Christus, en hulle toon ander godvrugtige eienskappe, soos wysheid, geregtigheid en krag (Efesiërs 4:13, 14; Johannes 15:12, 13; 1 Korinthiërs 1:24, 30; 2:7, 8; Spreuke 8:1, 22-31). Hoewel ons, as onvolmaakte mense, miskien nie in staat is om „die volle grootte van Christus” te bereik nie, kan ons hom beslis ons Voorbeeld maak en ons dit ten doel stel om dieselfde soort godvrugtige persoonlikheid aan te kweek (Kolossense 3:9). Ons word ryp namate ons hierdie doel nastreef.
Groei op deur liefde
15. Wat is die eerste stap in die strewe na rypheid?
15 Noudat ons die betekenis van die uitdrukking „Christelike rypheid” bespreek het, wil ons weet hoe ons dit kan bereik. Soos ons gesien het, toon Hebreërs 6:1 dat daar ’n sekere fondament is waarop ons moet bou wanneer ons Christelike rypheid nastreef. As dit eers gedoen is, kan ons ons daarop toelê om tot rypheid voort te gaan. Die eerste van die talle elemente waaruit daardie fondament bestaan, is „die bekering uit dooie werke”.
16. Uit watter „dooie werke” moet ons ons bekeer?
16 „Dooie werke” sluit natuurlik werke van die gevalle vlees in, wat tot die dood kan lei as dit nie in bedwang gebring word nie. Ons besef gou dat flagrante oortredings soos hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery en towery sondig is, en ons vermy dit. Maar die werke van die vlees, „dooie werke”, sluit ook karaktertrekke soos vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap en afguns in (Galasiërs 5:19-21). Tensy sulke karaktertrekke afgelê en vervang word deur „die nuwe persoonlikheid wat na God se wil geskape is in ware geregtigheid en lojaliteit”, is dit hoogs onwaarskynlik dat ’n persoon vordering sal maak in die strewe na Christelike rypheid.—Efesiërs 4:22-24, NW.
17. Wat kan nog as „dooie werke” beskou word? Waarom?
17 Benewens die werke van die vlees behels die „dooie werke” wat ons moet aflê ook werke en strewes wat geestelik dood, tevergeefs en nutteloos is. Dit kan materialistiese word-gou-ryk-skemas wees. Dit kan ’n ambisieuse en tydrowende gejaag na geleerdheid wees, of dit kan wêreldlike bewegings wees wat hulle beywer vir maatskaplike hervorming, vrede, en so meer. Dit lyk miskien of hierdie dinge intrinsieke waarde het, maar hulle is nog „dooie werke” wat geestelike dood kan beteken vir diegene wat daarin verstrengel raak. Almal wat geestelike rypheid wil bereik, moet hulle ,bekeer uit’ sulke „dooie werke” deur dit nie meer na te jaag nie, en moet Jesus se raad volg om ,eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek’.—Mattheüs 6:33.
18, 19. (a) Wat word in Efesiërs 4:15 bedoel waar dit sê dat ons „die waarheid [moet] spreek”? (b) Hoe hou dit verband met Christelike rypheid?
18 Wat moet ons doen nadat ons op die fondament gebou het? Paulus raai ons aan: „Laat ons egter, terwyl ons die waarheid spreek, deur liefde opgroei in alle dinge in hom wat die hoof is, Christus” (Efesiërs 4: 15). Ons merk ten eerste op dat Paulus sê dat ons „die waarheid [moet] spreek”. Hierdie uitdrukking behels klaarblyklik meer as net ons spraak; dit beteken in werklikheid „die waarheid handhaaf” (Kingdom Interlinear). Ander vertalings vertaal dit met „by die waarheid bly”; „aan die waarheid vashou”.—Efesiërs 4:15, NAV; Die Lewende Bybel.
19 Die strewe na geestelike rypheid vereis dus dat ons die waarheid handhaaf, of hooghou, deur die manier waarop ons lewe, praat, optree en ander behandel. Dit beteken dat ons die Bybelkennis wat ons opgedoen het in ons daaglikse lewe moet toepas sodat ons onder diegene sal tel „wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Doen jy dit? Redeneer jy aan die hand van Bybelbeginsels elke keer wanneer jy ’n besluit moet neem? Aanvaar jy die uitdaging om ’n ryp Christen te word deur die waarheid in woord en daad te handhaaf, of wil jy liewer ’n geestelike kind bly, vry van verantwoordelikhede en vry om jou eie begeertes en wense na te jaag?
20, 21. (a) Watter rol speel liefde in die groei tot rypheid? (b) Watter vrae word in die volgende artikel bespreek?
20 Paulus sê: „Laat ons . . . deur liefde opgroei in alle dinge in hom wat die hoof is, Christus” (Efesiërs 4:15). Paulus wys hier op die kern van die saak—die motief. In 1 Korinthiërs 13:1-3 toon hy dat werke wat andersyds van nut kan wees geheel en al waardeloos word as dit sonder die regte motief gedoen word. Daarom moet ons, in alles wat ons doen, ons beweegredes ondersoek. Doen ons dit om deur ander gesien te word, om hulle te beïndruk sodat hulle sal dink dat ons ryp is? Of doen ons dit eerder uit liefde vir God en liefde vir ons naaste? Wanneer liefde ons beweegrede is, sal ons „opgroei in alle dinge” en gebalanseerde, betroubare, ryp Christene word, met volle erkenning van „hom wat die hoof is, Christus”.
21 Hoewel Christelike rypheid ’n verdienstelike doelwit is, is dit nie die einddoel nie. Is daar nog iets wat ’n mens kan doen as jy eers hierdie doelwit bereik het? Wat van diegene wat al ’n aantal jare in die waarheid is en wat die doelwit van Christelike rypheid bereik het? Ons bespreek hierdie saak in die volgende artikel.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is sommige „trekke van ’n kind”, en watter gevare hou dit in?
◻ Hoe hou „die eenheid van die geloof” en „die volle grootte van Christus” met rypheid verband?
◻ Watter „dooie werke” moet ons die rug toekeer as ons Christelike rypheid wil bereik?
◻ Hoe kan ’n mens „deur liefde opgroei”?
[Lokteks op bladsy 9]
DIE AFGELOPE SES JAAR
—is 827 144 nuwe Getuies gedoop
—is meer as 5 000 nuwe gemeentes gestig
—Een uit elke drie persone wat nou aan die predikingswerk deelneem, is gedurende hierdie tydperk gedoop
[Lokteks op bladsy 9]
Gedurende die 1984-diensjaar het ses lande gemiddeld meer as honderdduisend Koninkryksverkondigers gehad
[Prent op bladsy 11]
Talle kies vandag die bediening bo materialistiese strewes