Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 4/15 bl. 22
  • Liefde red die situasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde red die situasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 4/15 bl. 22

Liefde red die situasie

VROEG verlede September het twee stormstelsels bokant Korea met mekaar gebots. Binne enkele ure het meer as 50 sentimeter reën oor sommige gebiede uitgesak. Dit het gelei tot die ergste oorstroming wat die land in 40 jaar getref het. Meer as 200 000 mense is dakloos gelaat, en 181 is as dood of vermis aangegee. Verlies aan eiendom het miljoene rande beloop, en oesskade was onberekenbaar.

Die stortreëns het Vrydagaand begin en die hele Saterdag voortgeduur. Ses damme in die Hanrivier is oorstroom, wat die river met meer as 0,5 meter bo sy veiligheidsvlak laat styg het. Vroeg Sondagoggend het ’n sluis sonder waarskuwing meegegee en die stygende rivier het die omliggende platteland oorstroom. Toe die water daardie aand begin sak, was sowat 60 000 mense in hierdie gebied dakloos.

Elke deel van die land is deur oorstromings getref. Die hoofstad, Seoel, waar daar 174 gemeentes van Jehovah se Getuies is, is egter die swaarste getref, veral die twee gebiede waar die Mangwondong- en Sungnaedong-gemeentes werksaam is. Altesaam 130 Getuiegesinne in hierdie gemeentes is dakloos gelaat. Jehovah se Getuies in Korea het dadelik en spontaan in die behoeftes van hulle mede-Christene voorsien.

Hoewel telefoondrade in baie gebiede stukkend was, het die takkantoor van die Wagtoringgenootskap berigte begin ontvang. Twee komitees is gou gevorm om noodleniging vir Getuies in die twee erg verwoeste gebiede te reël. Die reisende kringopsieners in Seoel is aangesê om met die broers in verbinding te tree om vas te stel wat hulle nodig het of wat gedoen kon word om diegene in die twee gebiede wat die swaarste getref is te help.

Getuies in ander gebiede het deur middel van TV-nuusberigte van die omvang van die skade gehoor. Hulle het die tak begin bel en gevra waarheen skenkings vir hulle nodlydende broers gestuur moes word. (Die Wagtoringtak in Japan het ook gebel en hulp aangebied.) Geldskenkings het uit alle dele van die land gekom. Rys, noedels en ander kos, asook klere en komberse, is beskikbaar gestel. Die komitees op die toneel het dit vinnig uitgedeel. Die broers het so milddadig bygedra dat die Seoel-kantoor weldra bekend moes maak dat geen geldskenkings meer nodig was nie.

Hierna het die ontsaglike opruimingswerk begin. Driehonderd Getuies het vrywillig aangebied om te help. Hulle is twee-twee na elke huis gestuur om met die opruiming te help en dinge so gou moontlik weer normaal te kry. Een vrywilliger het gesê: „Weens die opleiding wat ons by byeenkomste kry, weet ons hoe om saam te werk en dinge gedoen te kry.” Baie in die gemeenskap was ontsteld toe hulle sien hoe party mense die slagoffers uitbuit. Hulle was andersyds verbaas om die kalmte, opgeruimdheid en onbaatsugtige behulpsaamheid van die Getuies, selfs in sulke moeilike omstandighede, te sien.

„Dit bewys weer eens”, het een Getuie ter plaatse gesê, „dat ’n ramp ons materiële besittings vinnig kan wegneem, maar dit kan nie ons geloof wegneem nie.” ’n Getuievrou het met trane van vreugde in haar oë gesê: „Hoewel ons alles verloor het, is ons nie hulpeloos nie. Die hartlike liefde van ons broers het ons krag gegee.”

Dit was waarlik wonderlik om liefde in aksie te sien. Die inisiatief van die Getuies op die toneel en flinke optrede van die „huisgenote van die geloof” was iets besonders (Galasiërs 6:10). Die broers in Korea is grootliks aangemoedig deur hierdie ondervinding. Hulle was oortuig daarvan dat daar slegs een verklaring kan wees vir die goed georganiseerde bystand wat so liefdevol aangebied is​—liefde het die situasie gered!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel