Reaksie op die ,Macedoniese oproep’ in Japan
VIR die meeste mense is die somer ’n tyd vir vakansie en die heerlike buitelewe. Baie van Jehovah se Getuies het egter ongeëwenaarde vreugde daaruit geput om die somermaande vir ’n unieke werk te gebruik—die werk om mense in afgeleë gebiede te besoek en die goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle te verkondig.
Die Wagtoringgenootskap se tak in Japan wend nou al etlike jare ’n kragtige poging aan om die viermiljoen mense te bereik wat in sulke afgeleë gebiede van daardie land woon. Vroeg verlede jaar is ’n oproep aan al die gemeentes van Jehovah se Getuies gestuur: „Kom oor na Macedonië en help ons!” (Handelinge 16:9). Kom ons vergesel sommige van die wat die uitnodiging aanvaar het sodat ons hulle uitdagings en vreugdes kan deel.
Waarom hulle gereageer het
Liefde vir God en hulle naaste was natuurlik die grootste dryfveer. Maar dit is interessant om die redes te hoor wat sommige vir hulle besluit aangegee het.
’n Egpaar wat aansoek gedoen het om ’n maand lank in ’n klein dorpie in die berge te dien, het gesê: „Hier is ons—middeljarig, sonder ernstige probleme, met goeie gesondheid. Ons twee kinders is groot en is sterk in die geloof. Albei is voltydse werkers—in die pionierdiens en by die takkantoor van die Genootskap. Ons wil vir Jehovah wys hoe ons ons baie seëninge waardeer. En ons wil ook uitgaan, net ons twee, om Jehovah se hulp en seën ver van al ons geriewe af te smaak.”
Die vader van ’n gesin van vier uit die Saitama-prefektuur het vertel: „Ek kon sien dat die kinders hulle tienderjare bereik en voor baie probleme by die skool te staan kom. Hulle moes al hoe meer van ons af weg wees, en ek is so besig met my sakeonderneming dat ek min tyd het om saam met hulle deur te bring. Ek wou tyd maak vir hulle en iets doen wat hulle in die waarheid sou aanmoedig en die pioniergees sou aanwakker.” Hy het sy werk vir Augustus tot September uitgestel sodat hy en sy gesin ’n maand in ontoegekende gebied kon deurbring.
’n Ongetroude vrou het van haar pogings gesê: „Ek het gedink dat dit ’n manier is waarop ek na aan Jehovah kon kom en my volkome vertroue op hom kon toon om my van die nodige te voorsien.” Sommige jong Getuies het dieselfde beskouing gehad. Twee meisies wat pas tevore klaargemaak het met die skool, het aansoek gedoen om drie maande in ’n afgesonderde gebied te werk. Hulle het geredeneer dat, deur vir hulleself te sorg met net Jehovah se hulp, hulle hulle kon voorberei vir voltydse diens op enige plek.
Was dit net gesinne of individue wat gereageer het? Glad nie. Baie gemeentes het ook aansoek gedoen. ’n Opsiener in een van hierdie gemeentes het gesê: „Ons het gemeen dat dit ’n uitstekende manier sou wees om die bande van liefde en broederskap in die gemeente te versterk, asook om aan die jonges en nuwelinge die geleentheid te gee om die belangrikheid van die predikingswerk te sien.” Van die 114 verkondigers het meer as 80 deelgeneem gedurende die ses weke dat die gemeente in ontoegekende gebied gewerk het.
Die uitdagings
Reg van die begin af het die oproep om ,oor te kom na Macedonië’ om te preek uitdagings gebied. Die eerste was gewoonlik: „Waar gaan ons bly?” Die manier waarop hierdie probleem die hoof gebied is, toon dat Jesus die waarheid gepraat het toe hy vermaan het: „Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:33.
Twee vroue uit Tokio het die toewysing gehad om ’n afgeleë dorp in die berge te dek. Hulle het voor die tyd na ’n geskikte blyplek gaan soek, maar sonder welslae. Toe besluit hulle maar om die saak in Jehovah se hande te laat en buitendien na hulle toewysing te gaan. Aan die einde van die eerste dag se predikingswerk het hulle nog nie verblyf gevind nie. Wat sou hulle doen?
„Op die tweede dag in die diens”, het een van hulle vertel, „het ek op ’n leë inry-restourant afgekom. Die eienaar was ’n bejaarde man wat ons baie gunstig gesind was. Toe ons hom vra of ons die plek kon huur, het hy ingestem en ons net 10 000 Jen [R85] vir die drie maande van ons dienstoewysing gevra. Dit het ons ’n plek gegee om te bly en om vergaderinge te hou. Die man se dogter en skoonseun het ’n stel boeke geneem. Later die dag het ons die man se seun en sy vrou ontmoet. Hulle het ook lektuur geneem en ingestem tot ’n Bybelstudie. Maar toe hulle hoor dat ons by hulle vader se restourant bly, was hulle verstom. Hulle vader het nog altyd ’n baie vyandige houding teenoor alle godsdienste geopenbaar. Ons was deeglik bewus van Jehovah se hand in die saak.”
Vooroordeel, agtergrond en diepgewortelde tradisies bied dikwels besondere uitdagings, maar Jehovah open die weg. Dit was die ondervinding van die middeljarige egpaar wat vroeër gemeld is. By hulle aankoms het die eienares van die huis hulle met agterdog ontvang en hulle soos ’n valk dopgehou. Dit het hulle ’n idee gegee van die reaksie wat hulle in die gebied kon verwag en wat hulle sou moes doen om die mense se vooroordeel af te breek.
„Ons het besluit om eers ’n volle dag te gebruik om die plek skoon te maak en die huishouding in orde te kry”, het die man vertel. Ons het al die skuifdeure aan die sye van die huis oopgemaak sodat die bure mooi kon sien wat aangaan. Hulle kon ons Bybels en Bybellektuur op die tafel sien. Hulle kon sien hoe ons alles rangskik. Hulle kon sien hoe ons lewe. Ons het as ’t ware vir hulle gesê; ,Kom in as julle wil. Besoek ons. Ons het niks om weg te steek nie. Ons vertrou julle.’
„Wanneer ons rondgegaan en gepreek het, het ons onsself voorgestel as mense uit die groot stad en dan gevra of hulle ons iets van die platteland en hulle gebruike kon leer. Ons het altyd almal gegroet, selfs die boere wat in die lande gewerk het. Ons het ons kruideniersware by die plaaslike boere-koöperasie gekoop. Dit alles het die mense gehelp om te sien dat ons opreg in hulle belanggestel het en nie net wou ,boeke verkoop’ nie. Hulle het gesien dat ons doodgewone mense soos hulle is, en hulle het vriendelik geword. Na ’n ruk was dit nie eers meer nodig dat ons ons voorstel nie. Dit was nie vreemd om by die deure gegroet te word met opmerkings soos: ,Dis warm buite. Hoekom kom julle nie in en drink ’n koeldrank nie?’ of ,Ons het nou net middagete voorberei. Kom eet asseblief saam met ons.’ Ons pogings het hulle verstande en harte vir die boodskap geopen.”
Waar die hele gemeente aan die werk deelgeneem het, was die uitdagings des te groter. In ooreenstemming met Jesus se raad om die ,koste te bereken’, was heelwat beplanning nodig in verband met huisvesting, skoonmaakwerk, vervoer, velddiens, en so meer (Lukas 14:28). Een gemeente het berig: „Hoewel ons beplan het om van die einde van Julie af tot die eerste week van September te dien, het ons al in Mei huisvesting gaan soek. Ons het na die stadskantoor gegaan en hulle van ons behoeftes vertel. Ons het verduidelik dat ons gesinne en jongmense was wat graag vir mense in die omgewing die Bybel wil leer. Hulle het goed saamgewerk en verskeie moontlikhede aan die hand gedoen.
„Toe ons uiteindelik ’n geskikte plek gekry het, het ons die skoonmaakspan ’n week voor die tyd gestuur om dit gereed te kry. Daar is kaarte vir die gebied voorberei, plakkate gemaak om ons vergaderinge te adverteer en strooibiljette gedruk. Aangesien ons toestemming verkry het om ’n nuwe ontspanningsentrum vir ons vergaderinge te gebruik, het ons goeie publisiteit gehad en ’n uitstekende indruk gelaat.
„Ons het geweet dat dit nie goed sou wees om net te werk en nie te ontspan terwyl daar so baie kinders saam met ons was nie. Daarom het ons elke dag nadat ons met die predikingswerk klaar was, of op die rusdag van die week nadat almal hulle takies afgehandel het, ’n ent gaan stap, gaan roei of gaan visvang, sodat ons deur die natuurskoon en gesonde berglug verkwik is.”
Was dit die moeite werd?
Die gesin van vier uit die Saitama-prefektuur antwoord so: „Gedurende die maand wat ons in die gebied was, het ons 920 tydskrifte en 240 boeke versprei, 13 belangstellendes na die openbare vergaderinge gebring wat ons gereël het en 4 Bybelstudies begin wat ná ons vertrek voortgesit is. Hierdie resultate alleen het dit die moeite werd gemaak, maar daar is veel meer. Ons kinders het die vreugde van die bediening gesmaak en het ’n ware pioniergees aangekweek. As gesin het ons weer verenig geraak namate ons saam gewerk en velddiensondervindinge geniet het. Ons is vas van plan om volgende jaar weer te gaan.”
Die middeljarige egpaar wat hard probeer het om aan die mense vriendskap te betoon, het hierdie verslag ingestuur: „Nadat ons die gebied een maal deurgewerk het, het ons die middae gebruik om herbesoeke te doen. Ons het vriende gemaak met die inwoners, en party het selfs trane gestort toe ons daar weg is. Hulle het ons en die goeie nuus aanvaar en ons met aangename herinneringe gelaat. Tensy ’n mens dit self ondervind, kan jy eenvoudig nie weet hoe wonderlik dit is nie. Ons het besef dat ons met Jehovah se hulp enigiets kon doen.”
Een Getuie wat al meer as 20 jaar bedrywig is, het in haar verslag gesê: „Ek en my 82-jarige metgesel het nog nooit nader aan Jehovah gevoel as wat ons nou na net twee weke in afgesonderde gebied voel nie. Ons harte loop oor.”
’n Unieke voorreg
Diegene wat gereageer het op die ,Macedoniese oproep’ in Japan is terdeë bewus van Jesus se woorde: „Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.”—Mattheüs 9:37, 38.
Die aangename ondervindinge van diegene wat op die oproep gereageer het, toon dat „die Here”, Jehovah God, daardie gebed verhoor. Jonk sowel as oud ag dit ’n unieke voorreg om aan die insameling deel te neem (Exodus 23:16). Doen jy jou uiterste bes in hierdie wonderlike werk?
[Prent op bladsy 30]
Koninkryksverkondigers dra vreugdevol die goeie nuus in Japan uit