Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 3/15 bl. 24
  • Insig in die nuus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Insig in die nuus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • „Net vir die grap”?
  • „Bo die wetenskap”
  • Oopvlekgevaar
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
  • Die wetenskap en godsdiens word versoen
    Ontwaak!—2002
  • Hoe het die heelal en lewe ontstaan?
    Ontwaak!—2002
  • Wanneer die wetenskap praat—Hoe luister jy?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 3/15 bl. 24

Insig in die nuus

„Net vir die grap”?

„Skielik het ek ’n beweging gewaar, ’n vyandelike soldaat. Ek het agter ’n boom gehurk, met my Uzi-masjiengeweer korrel gevat en vir ’n mooi, oop skoot gewag. Die adrenalien het deur my are gebruis. My slape het geklop.” So beskryf hierdie soldaat die intense emosies wat hom beetgepak het. Toe, meteens, was daar ’n brandpyn in sy sy. „Ek het afgekyk en gesien hoe my kamoefleerpak rooi verkleur. Ek is getref. Dit was verby met my.”

Maar 20 minute later was hy terug op die slagveld. Hoe is dit moontlik? Eenvoudig omdat dit nie ’n regte koeël was wat hierdie soldaat getref het nie. Hy het deelgeneem aan ’n oorlogspeletjie op ’n skynslagveld​—een van baie dwarsdeur Noord-Amerika—​waar klante betaal om te veg, berig The Express van Pennsilvanië. Twee spanne gebruik gehuurde windbukse wat soos Israeliese Uzi-masjiengewere lyk en probeer mekaar „doodmaak”, of buite spel plaas, met koeëls wat wateroplosbare kleurstof vrystel. Die doel is om die vyand se vlag te buit. „Dis alles net vir die grap”, sê ’n advertensiebrosjure.

Maar Thomas Radecki, voorsitter van die Nasionale Koalisie oor Televisiegeweld, sê dat ’n stuk of twaalf navorsers oor die uitwerking van aggressie dit eens is dat „hierdie spel waarskynlik mense se geneigdheid tot toorn en aggressie in die algemeen sal verhoog”. Of dit waar is of nie, die vraag is of ware Christene daaraan kan deelneem. Die Skrif vermaan hulle om ,vriendelik teenoor almal’ te wees en nie ,onder mekaar wedywer aan te wakker nie’ (2 Timotheüs 2:24; Galasiërs 5: 26, NW). Bowendien geld die profetiese woorde van Jesaja 2:4, naamlik dat ,hulle nie meer sal leer om oorlog te voer nie’, vandag vir God se volk. Hulle vermy vermaak wat strydlustigheid aanblaas en ,jaag na wat tot vrede dien’.​—Romeine 14:19.

„Bo die wetenskap”

„Ons moet die opvatting van talle wetenskaplikes diskrediteer dat die wetenskap uiteindelik die finale waarheid oor alles sal oplewer”, sê Nobelpryswenner sir John Eccles, ’n baanbreker op die gebied van breinnavorsing. Hy meld byvoorbeeld dat baie wetenskaplikes en vertolkers van die wetenskap van mening is dat „die wetenskap eendag waardes, skoonheid, liefde, vriendskap, estetika en literêre vermoëns sal kan verklaar” deur meer omtrent die brein te leer. Maar, sê Eccles, „daardie beskouing is niks meer as bygeloof nie”. Die basiese vrae van die lewe (Wie is ek? Waarom is ek hier? ensovoorts) „is almal raaisels wat bo die wetenskap is”, voeg Eccles by. So herinner hy ons daaraan dat die sogenaamde wetenskap vandag dikwels op wankelrige, menslike denke berus.

Die psalmis het geskryf: „Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou” (Psalm 118:8). Waarom is dit so? Deels omdat die wetenskap nie verder as die materiële wêreld kan gaan nie. Maar Jehovah het oneindige kennis en bied bevredigende verklarings oor ons oorsprong, ons samestelling en die rede vir ons bestaan (Genesis 1:26-28; 2:4; Prediker 12:13). Die Bybel sê nietemin dat sommige dinge bo die mens se begrip is (Psalm 139: 1-6; Romeine 11:33). Laat ons dan verstandig wees en nie die wetenskap oorskat nie.

Oopvlekgevaar

’n ,Oopvlekker’ is ’n waaghalsige Staats- of maatskappy-amptenaar wat ongerymdhede of wanpraktyke op hoë vlak aan die kaak stel. Maar, sê psigiater Donald R. Soeken, wat ’n raadgewingsdiens vir sulke mense bedryf, „oopvlekkers sit op die ou end met allerhande emosionele en fisiese probleme”. Hy meld toestande soos depressie, paranoia en spanningskwale. Baie van sy kliënte, waarvan die meeste staatsamptenare is, „handel uit ’n gevoel van morele verontwaardiging”, sê The New York Times in ’n berig oor Soeken se beskouings, „en glo enigsins naïef dat die stelsel uiteindelik hulle saak sal ondersteun en hulle selfs sal beloon”. Wanneer „die stelsel” dit nie doen nie, of hulle selfs straf, „kan die sielkundige uitwerking verpletterend wees”, sê die berig.

Vandag wil baie mense sien dat gesaghebbers wat onwettig optree tot verantwoording geroep word. Maar dit gebeur selde dat „die stelsel”, of ’n wêreldlike organisasie, die onreg herstel. Waarom is dit te veel gevra? Die Bybel antwoord: „Wat krom is, kan nie reguit word nie” (Prediker 1:15; 1 Johannes 5:19). Maar wie kan verbeteringe teweegbring as regverdig gesinde mense dit nie kan doen nie? Net God kan, en hy gaan dit binnekort doen. Onder sy Koninkryksregering sal alle verdorwenheid tot die verlede behoort. Dit sal ’n verruklike uitwerking op al die bewoners van die aarde hê.​—Daniël 2:44; Psalm 37:37-40.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel