Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 11/15 bl. 10-14
  • Waardeer jy jou erfenis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waardeer jy jou erfenis?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die erfenis?
  • ’n Eersgeboortereg wat verag en waardeer is
  • Sal jy jou erfenis verruil?
  • Waarom val sommige?
  • Hoe kan ons ons waardering vergroot?
  • Bewaar jou erfenis deur wyse keuses te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Jakob het die erfenis gekry
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • ’n Tweeling wat verskil het
    My boek met Bybelverhale
  • Ons kosbare erfenis—Wat beteken dit vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 11/15 bl. 10-14

Waardeer jy jou erfenis?

“Streef na vrede . . . terwyl julle sorgvuldig toesien . . . dat daar geen hoereerder is of iemand wat geen waardering het vir heilige dinge nie, soos Esau, wat in ruil vir één maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het.”—HEBREËRS 12:14-16, NW.

1, 2. (a) Wat is ’n erfenis? (b) Watter vrae ontstaan in verband met ’n beter erfenis?

MENSE het al gemoor daarvoor. Ander het gesterf sonder dat hulle dit ooit gekry het. Baie wat dit gekry het, het dit verkwis. Wat is dit? Dit is ’n erfenis. En dit is dikwels wat gebeur wanneer daar eiendom is om te erf.

2 Die Bybel praat 229 keer van erfenis of erfdeel, en in die meeste gevalle het dit betrekking op ’n erflating van grond of eiendom. Maar God se Woord praat ook van ’n erfenis wat baie beter is as enige erfenis wat in ’n testament nagelaat kan word. En so ’n voortreflike erfenis is binne jou bereik, mits jy dit nie versmaai nie. Wat is hierdie erfenis? Wie is die erflater? Waarom verloor sommige dit? Hoe kan ons waardering daarvoor toon?

Wat is die erfenis?

3. Wat is die Christelike erfenis, en wie is die weldoener?

3 Toe die Jode in Antiochië die apostel Paulus se boodskap van redding verwerp het, het hy hom tot die nie-Jode, die lede van “die nasies”, gewend. “Hulle [het] hulle verheug en die woord van Jehovah verheerlik, en almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowiges geword” (Handelinge 13:45-48, NW). Ja, die erfenis is die ewige lewe. Vir ’n paar beteken dit “’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis . . . in die hemele”. Wie is die weldoener? “Die God en Vader van onse Here Jesus Christus”, het Petrus gesê.—1 Petrus 1:3, 4.

4. Watter erfenis is vir die meerderheid van die mensdom beskikbaar?

4 Maar wat van die oorgrote meerderheid van die mensdom wat nie ’n hemelse hoop koester nie? Hulle erfenis kan volmaakte lewe wees as deel van die “nuwe aarde”, ’n nuwe gemeenskap van mense wat deur Jesus Christus se offer losgekoop is. Dit hou die moontlikheid in van ewige lewe op ’n nuutgemaakte, besoedelingvrye planeet (Openbaring 11:18; 21:3, 4; Johannes 17:3). Sal jy daarvan hou om na so ’n erfenis uit te sien? En waardeer jy werklik daardie hoop, as jy dit reeds koester?

’n Eersgeboortereg wat verag en waardeer is

5, 6. (a) Wie was Esau en Jakob? (b) Wat was uitsonderlik omtrent hulle erfenis, en wie sou veral daaruit voordeel trek?

5 Om hierdie kwessie van waardering vir ’n erfenis beter te verstaan, kan ons vlugtig na die voorbeeld van twee broers kyk. Die een het groot waardering vir geestelike waardes gehad terwyl die ander sy waardering vir sulke waardes verloor en gevolglik ’n baie waardevolle erfenis ingeboet het. Hulle was Jakob en Esau, die tweelingseuns van die Hebreeuse aartsvader Isak.

6 Hulle oupa, Abraham, het gesterf toe hulle 15 jaar oud was. Die stoflike erfenis wat hy aan sy seun Isak nagelaat het, het groot kuddes vee en ’n stuk grond met die familiegraf daarop ingesluit (Genesis 25:5-10). Die belangriker aspek van die erfenis was egter nie eiendom of iets tasbaars nie. Dit was die belofte wat Jehovah aan Abraham gemaak en later aan Isak herhaal het: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Genesis 22:18; 25:24-26; 26:2-5). Dit het geopenbaar dat die Messias, in werklikheid die beloofde “saad” van Genesis 3:15, op ’n latere tydstip deur die afstammingslyn van Abraham sou kom. Aangesien Esau die eersgeborene van die tweeling was, sou hy by die dood van sy vader Isak die wetlike reg op hierdie belofte, sowel as op ’n dubbele deel van die eiendom, ontvang. Die vraag is nou: Het hy sy erfenis waardeer?

7. Hoe het Esau en Jakob van mekaar verskil wat waardering en persoonlikheid betref? (Genesis 26:34, 35; 28:6-9).

7 Namate die tweeling ouer geword het, het hulle verskillende persoonlikhede kenbaar geword. Esau was ’n rustelose jagter, “’n man van die veld”, terwyl Jakob, “’n onberispelike man” was wat ’n “rustige” lewe gelei het (Genesis 25:27, vgl. NW, NAV). Terwyl Jakob op ’n dag besig was om lensiesop te maak, het Esau uitgeput en honger uit die veld gekom. Esau sê toe vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!” —Genesis 25:30, NAV.

8. Watter verbasende voorstel het Jakob aan sy broer gedoen, en hoe het Esau gereageer?

8 Dit was toe dat Jakob ’n verbasende voorstel aan sy tweelingbroer gedoen het deur te sê: “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my” (Genesis 25:31). Hy wou Esau se erfenis in ruil vir ’n bord sop hê! Dink jy dat Jakob veel hoop op sukses sou hê in so ’n ruiltransaksie? Hy het blykbaar so gedink. Waarom? Omdat hy bewus was van sy broer se neigings en waardebegrip. Het hy hom misgis? Esau, wat ongetwyfeld sy fisiese toestand oordryf het, het geantwoord: “Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?”—Genesis 25:32.

9. Hoe het Esau die erfenis beskou, in teenstelling met sy broer se beskouing?

9 Die transaksie is deur ’n eed beklink en Jakob het vir sy broer brood en lensiesop gegee. Esau het geëet en toe weggegaan. Dan maak die geïnspireerde verslag die raak kommentaar: “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene” (Genesis 25:33, 34, NAV). Hoeveel waarde het Jakob andersyds aan die eersgeboortereg geheg! Hy was nie agter die eiendom—’n begraafplaas en ’n klomp diere—nie. Hy wou hê dat die beloofde Messiaanse saad deur sy geslag moet kom. Hy wou die geestelike erfenis hê.—Vergelyk Mattheüs 6:31-33.

Sal jy jou erfenis verruil?

10. (a) Watter interessante kommentaar het Paulus oor Esau gemaak? (b) Watter verband is daar tussen hoerery en Esau se verruiling van sy eersgeboortereg?

10 Sowat 19 eeue later het die apostel Paulus die voorbeeld van Esau gebruik om vroeë Christene te waarsku. Hy het gesê: “Streef na vrede met alle mense . . . terwyl julle sorgvuldig toesien dat niemand van die onverdiende goedheid van God beroof word nie, . . . dat daar geen hoereerder is of iemand wat geen waardering het vir heilige dinge nie, soos Esau, wat in ruil vir één maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het.” Waarom bring Paulus hier ’n hoereerder met Esau se optrede in verband? Omdat ’n beskouing soos dié van Esau kan lei tot versuim om geestelike dinge te waardeer en dan tot ernstiger sondes, soos hoerery.—Hebreërs 12:14-16, NW.

11. Wat het in hedendaagse tye met sommige Christene gebeur?

11 Kom jy soms in die versoeking om jou Christelike erfenis, die ewige lewe, vir iets so verganklik soos ’n ‘bord lensiesop’ te verruil? Verag jy “heilige dinge”, miskien sonder dat jy dit besef? In onlangse tye het sommige Christene byvoorbeeld slagoffers geword van die hedendaagse sedelike permissiwiteit. Dit lyk of hulle, net soos Esau, ’n ongeduldige begeerte het om ’n vleeslike drang te bevredig. Net soos hy vir Jakob gesê het: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk”, het hulle as ’t ware gesê: ‘Gou! Waarom wag vir ’n eerbare huwelik?’—Genesis 25:30; vergelyk Genesis 34:1-4.

12. (a) Hoe het sommige getoon dat hulle nie heilige dinge waardeer nie? (b) Wat het party egter gedoen?

12 Wat het gevolglik gebeur? ’n Begeerte na seksuele bevrediging tot elke prys het hulle ‘bord lensiesop’ geword. Dit het daartoe gelei dat hulle heilige dinge verag, waaronder hulle verhouding met Jehovah God en Jesus Christus. Hulle het onkreukbaarheid, getrouheid en kuisheid versmaai. Hulle het hulle erfenis in gevaar gestel. Maar sommige van hulle het later tot ware berou gekom en skynbaar hulle goeie verhouding met God herwin.—Vergelyk Psalm 51.

Waarom val sommige?

13. Watter faktore kan ons geestelike waardes ondermyn?

13 Wat gee aanleiding tot hierdie onsedelike neigings? Kan dit wees dat hierdie persone toegelaat het dat hulle geestelike waardes ondermyn word? Baie faktore kan ’n sluipende invloed op ons denkwyse hê—vriende en familielede wat nie ons beginsels deel nie, selfs geestelik swak persone in die gemeente, ’n losbandige atmosfeer by die werk, twyfelagtige vermaak en leesstof, ’n misplaaste drang na die liefde en geneentheid van ongelowiges. Al hierdie dinge kan tot onsedelikheid lei. Is enige van hierdie dinge op die oomblik besig om jou waardebegrip te ondermyn?—2 Korinthiërs 6:14; 2 Thessalonicense 3:6.

14. Watter gevaar hou sekere hedendaagse vermaak in?

14 Vind jy byvoorbeeld dat jy na televisieprogramme of rolprente kyk wat onsedelikheid verskoon of selfs aanmoedig? Daar moet erken word dat sulke films die gevalle vlees kan bekoor—soos ’n draaikolk wat die onbehoedsames insuig. Hulle kan ’n subtiele invloed op jou denke hê. Dit blyk duidelik uit die kragtige invloed wat homoseksuele in die vermaaklikheidswêreld uitoefen. Hulle propageer rolprente en verhoogstukke wat homoseksualiteit regverdig. Gevolglik word iets wat voorheen as ’n geslagsafwyking beskou is nou sagkens “’n alternatiewe lewenswyse” genoem! Ons het nou die toestand bereik wat deur die apostel Paulus beskryf is: “Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.”—Efesiërs 4:19, NAV; 1 Korinthiërs 6:9-11.

15. Hoe kan ons die valstrikke van onsedelikheid vermy?

15 Wat is die oplossing? Bly weg van hierdie “uitgieting van losbandigheid”! Die Bybel vermaan: “Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie . . . Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is.” A, daar is die eintlike toets—om daadwerklik te haat wat sleg is.—1 Petrus 4:4; Amos 5:14, 15.

16. Watter standaard het Paulus vir Christene gestel?

16 Behoort ons nie, indien ons die sin van Christus het, gewetensbesware te hê teen die nodelose geweld, siek sadisme en growwe onsedelikheid wat vandag in die meeste vermaak aangebied word nie? Wat behoort immers ons standaard te wees? Paulus antwoord: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig.”—Filippense 4:8, NAV.

17. (a) Wat is pornografie? (b) Hoe het sommige hulle verstande besoedel? (c) Wat is die verstandige weg?

17 Dit is sekerlik beter en veiliger om die apostel se opdrag te gehoorsaam. Ongelukkig het party aangehou om hulle gedagtes te rig op pornografiese TV, rolprente en lektuur.a Die gevolg is dat hulle hulle verstande en harte met onsedelikheid en seksuele verdorwenheid besoedel het. Hoeveel beter sou dit nie gewees het om die apostel se raad toe te pas nie: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand [geestelike sake] nie, maar wees kinders in die boosheid”!—1 Korinthiërs 14:20.

Hoe kan ons ons waardering vergroot?

18. Wat kan ons beskerm en ons help om heilige dinge te waardeer?

18 ’n Intieme verhouding met jou ouers kan jou baie bewus maak van hulle liefde en beginsels, sodat dit onwaarskynlik is dat jy ooit die gesin sal teleurstel. Dit geld ook vir ons verhouding met Jehovah. Maar hoe kan ons daardie verhouding versterk? Deur God intiem te leer ken. Ons diep, persoonlike studie van God se Woord sal ons help om hom so goed te ken en so lief te hê dat ons enige versoeking sal weerstaan. Soos Dawid in Psalm 23 gesê het, sal ons altyd voel dat ons Herder, Jehovah, met ons is. Hoe dwaas sou dit tog nie wees om ’n growwe fout te begaan terwyl die Herder so naby is nie!—Hebreërs 4:13.

19, 20. (a) Watter twee probleme bestaan daar in verband met persoonlike studie? (b) Waarom is daar skynbaar nou minder tyd vir persoonlike studie?

19 Daar is egter twee basiese probleme. Die eerste is dat persoonlike studie vir baie ’n las is. Weens ontoereikende onderwysstelsel het baie mense vandag ’n ernstige leesprobleem. Vir hulle kos studie groot inspanning. Maar enigiets in die lewe wat van blywende waarde is, verg inspanning. Is dit nie die inspanning werd om Jehovah, die Soewereine Heer van die heelal, ons Vader en die God van onverdiende goedheid, te leer ken nie?—Mattheüs 6:9; Jakobus 4:8.

20 Die tweede probleem is ’n skynbare tekort aan tyd vir persoonlike studie. En tog het mense 30 of 40 jaar gelede nog tyd gehad—tyd om te gesels, te lees, briewe te skryf, as ’n gesin te gaan stap, te peins. Waarom het dinge verander? ’n Vorm van inflasie het ons tyd nadelig geraak. In werklikheid is ’n dag dikwels nie meer 24 uur werd nie. Waarom nie? Omdat ’n “dief” baie huise binnegedring en baie van ons waardevolle tyd gesteel het. Herken jy daardie “dief”? Ja, dit is televisie, met sy verlammende invloed. Een studie het aangedui dat “die gemiddelde Amerikaanse gesin 7 uur en 20 minute per dag televisie kyk”. Dit is byna ’n derde van die dag! Hoeveel tyd bring jy gemiddeld elke dag voor die TV deur? Rondom die wêreld gaan daar daagliks duisendmiljoene kosbare lewensure verlore terwyl mense voor ’n TV-stel vegeteer. Sommige programme is weliswaar skoon, vermaaklik of opvoedkundig. Maar selfs sulke programme kan tydrowend wees. Die bekoring van TV is baie verleidelik.

21. (a) Watter probleem het sommige dalk? (b) Wat dink jy is die oplossing?

21 Hoe kan Christene voorkom dat hierdie “dief” hulle beroof? Slegs deur streng beheer van hulle tyd. Besnoei die tyd wat jy voor die TV deurbring. Kry jou prioriteite agtermekaar—mense en verhoudinge is belangriker as TV. Is jy byvoorbeeld omgekrap wanneer besoekers gedurende jou geliefkoosde TV-program inloer? En vind jy dit moeilik om die TV af te skakel selfs wanneer die program vervelig of swak is? Dan het jy ’n probleem.—1 Korinthiërs 9:24-27.

22. Hoe kan ons TV-kyktyd terugkoop vir ander bedrywighede?

22 Watter praktiese stappe kan jy doen om daardie kosbare ure vir persoonlike studie en verhoudinge terug te koop? Kies die programme waarna ’n Christen kan kyk en kyk slegs daarna indien daar niks belangriker is om te doen nie. Sommige het selfs verder gegaan—glad geen TV in die huis nie! Dit is ’n persoonlike saak. Maar hulle is beslis nie geestelik verarm omdat hulle nie ’n televisiestel het nie.—Efesiërs 5:15, 16.

23, 24. Wat kan ons doen om opregte waardering vir ons erfenis te toon? (Hebreërs 11:26).

23 Wat kan ons dan doen as ons ons kosbare erfenis wil bewaar en dit nie vir ’n ‘bord lensiesop’ wil verkoop nie? Maak seker van die belangriker dinge in die Christelike lewe. Kry jou prioriteite agtermekaar en bly daarby. Beywer jou om die gawe van die ewige lewe te verkry, net soos die apostel Paulus ‘die doel nagejaag het om die prys van die hoë roeping te verkry’. Toon, soos Jakob, opregte waardering vir die erfenis. Hou, soos Moses, jou oë ‘stip gerig op die beloning’.—Filippense 1:9, 10, vgl.  NW; 3:13, 14; Hebreërs 11:24-26, NW.

24 Hoe kan ons onsself aanvuur om dit alles te doen? Deur ’n ywerige studie van die Bybel. Pas dit daagliks in jou lewe toe. Woon gereeld Christelike vergaderinge by en luister aandagtig terwyl jy daar is. Toon dat jy liefhet wat reg is en haat wat sleg is. Nee, moenie jou erfenis verag om die een of ander dringende vleeslike begeerte te bevredig nie. Jou erfenis, die ewige lewe, is veel meer werd as enige ‘bord lensiesop’, watter hedendaagse vorm dit ook al aanneem!—Hebreërs 10:24, 25; 12:12-16.

[Voetnoot]

a Pornografie word omskryf as “skriftelike, grafiese of ander vorms van kommunikasie wat bedoel is om wellustige gevoelens te wek. [Uit Grieks pornographos, die skrywe oor prostitute . . .].”—The American Heritage Dictionary of the English Language.

Onthou jy?

◻ Wat is die Christelike erfenis?

◻ Hoe het Esau sy eersgeboortereg versmaai?

◻ Watter gevaar bestaan daar vandag vir Christene met betrekking tot hulle erfenis?

◻ Op watter verskillende maniere kan ons ons waardering vergroot?

[Prent op bladsy 11]

Sal jy jou erfenis vir ’n ‘bord lensiesop’ verruil?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel