’n Godsdiensherlewing of ’n geestelike krisis?
“Maatskaplike kruistogte is in menige kerk deur besprekings oor gebed, meditasie, aanbidding en Bybelstudie vervang. . . . Volgens waarnemers dui hierdie tendense op ’n nuwe vasbeslotenheid onder gelowiges om ‘te soek na wat heilig is’ in ’n samelewing wat al hoe verder wegbeweeg van sy godsdienstige fondamente.”—U.S. News & World Report.
“Daar is tekens van ’n godsdiensherlewing oor die hele Oos-Europa. . . . ln Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Oos-Duitsland en Pole berig geestelikes en geleerdes dat al hoe meer mense hulle na die kerke wend—of hulle daarheen terugwend. . . . Jongmense vra: ‘Waarom lewe ons?’”—The New York Times.
SIEN ons vandag ’n geestelike herontwaking, te oordeel na berigte soos hierdie? Hoewel groei in die kerke nie tred gehou het met die bevolkingsaanwas nie, was daar die afgelope paar jaar wel hier en daar klein toenames te bespeur. Sommige kerkamptenare sien hierin ’n aanduiding dat die agteruitgang van die kerke sedert die sestigerjare nou verby is en dat die vooruitsigte goed lyk. Maar of dit nou die geval is of nie, ons kan vra: Waarom wend hierdie mense hulle na die kerke?
Waarom die “herlewing”?
“Daar is ’n ware honger in mense, ’n gevoel dat daar iets in hulle geestelike dieptes ontbreek”, sê Amerikaanse Episkopaalse priester Tilden Edwards. Met ander woorde, dit lyk of meer mense ontnugter word deur die materialistiese en wêreldlike lewenswyse, en hulle soek na die betekenis en doel van die lewe. Ander is weer bang vir kernuitwissing of vir misdadigheid en geweld, of het die een of ander persoonlike tragedie deurgemaak, en wend hulle na godsdiens vir vertroosting.
’n Tasbare newe-effek van hierdie tendens is die vestiging en groei van Oosterse gelowe in die Weste. In Westerse lande verrys daar, in stede en op die platteland, tempels, heiligdomme, moskees, bepeinsingsentra, ensovoorts. Ook in die kollig is groepe wat dissiplines soos joga, transendentale meditasie, Zen en Hare Krishna beoefen. Sommige godsdienskenners meen dat hierdie “uitheemse” gelowe presies bied wat baie mense in die Westerse samelewing soek: ’n magsfiguur wat aan hulle voorskryf wat om te glo, ’n ideaal wat rigting gee aan hulle lewe, die gevoel dat hulle tot ’n intieme groep behoort en ’n toestand van gemoedsrus en selfbewustheid.
Herlewing of krisis?
Die feit dat mense hulle na godsdiens wend wanneer hulle hulle in swaar en gevaarlike tye bevind, of wanneer hulle verontrus is deur die sinloosheid van hulle lewenswyse, bevestig bloot die fundamentele waarheid wat deur Jesus Christus gemeld is: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). ’n Louter materialistiese lewenswyse verskaf eenvoudig nie die krag en volharding wat nodig is om baie van vandag se probleme die hoof te bied nie.
Trouens, sommige waarnemers glo dat hierdie geestelike leemte ten minste deels verantwoordelik is vir die baie euwels in die hedendaagse samelewing. “Die tekortkominge van die menslike bewussyn, verstoke van sy goddelike dimensie, was ’n bepalende faktor by al die groot misdade van hierdie eeu”, het die befaamde Russiese skrywer Alexander Solzhenitsyn geskryf.
In die lig van hierdie geestelike krisis moet ons vra: Is die kerke opgewasse teen die taak om in die geestelike behoeftes van die terugkerendes te voorsien? Kan hierdie mense die geestelike leiding en krag vind waarna hulle soek? Ja, kan godsdiens die hedendaagse krisis die hoof bied?