Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 7/15 bl. 10-15
  • Georganiseer om Jehovah te dien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Georganiseer om Jehovah te dien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gee God vir ons om?
  • Jehovah—’n God van organisasie
  • Wat van die Christelike godsdiens?
  • Waarom vandag goed georganiseer wees?
  • Het God ’n organisasie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Jehovah is ’n God van organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Hoekom het God ’n organisasie?
    Goeie nuus wat van God kom!
  • Het jy georganiseerde godsdiens nodig?
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 7/15 bl. 10-15

Georganiseer om Jehovah te dien

“Die rede waarom ek jou in Kreta agtergelaat het, was sodat jy alles daar kan organiseer.”—TITUS 1:5, The Jerusalem Bible.

1. Wat het die eerste president van die Verenigde State oor ’n verskil in godsdiensmening gesê?

IN ’n persoonlike brief gedateer 20 Oktober 1792 het die eerste president van die Verenigde State, George Washington, geskryf: “Van al die vyandighede wat onder die mensdom bestaan, is dié wat deur ’n verskil in godsdiensmening veroorsaak word, skynbaar die diepste gewortel en die angswekkendste, en dit behoort ten sterkste afgekeur te word. Ek het gehoop dat die verligte en liberale beleid wat die huidige eeu kenmerk, ten minste Christene van elke denominasie in so ’n mate met mekaar sou versoen het dat ons nooit weer sou sien dat hulle godsdiensgeskille so ver gevoer word dat dit die vrede van die gemeenskap in gevaar stel nie.”

2. Hoe het sommige op die mag der menigte gelowe gereageer?

2 Baie word vandag net soveel ontstel deur die mag der menigte gelowe en wil by geen godsdiens aansluit nie. Ander is kerklidmate, maar praat van hul ‘persoonlike verhouding met God’. Wat is dan die feite? Handel God bloot op individuele grondslag met mense? Wat toon die Bybel?

Gee God vir ons om?

3. Hoe sal jy die vraag: ‘Gee God vir ons as individue om?’ met behulp van tekste beantwoord?

3 Die Skrif toon dat Jehovah wel vir mense as individue omgee. Wat menseverhoudinge betref, maak God se Woord verklarings soos die volgende: “Hy wat die arme bespot, versmaad sy Maker.” “Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom”, dit wil sê, Jehovah God (Spreuke 17:5; 14:31). Trouens, “so lief het God die wêreld [van die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16, 36). Die apostel Petrus het daarbenewens gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34, 35). Jehovah gee dus wel vir individue om en keur diegene goed wat hom vrees en geregtigheid doen.

4. Watter vrae word vir bespreking geopper?

4 Die Bybel sê ook: “Die Here ken die wat syne is” (2 Timotheüs 2:19). Maar beteken dit dat daar hier en daar in die baie godsdiensorganisasies van die wêreld individue is wat vir God aanneemlik is? Of sou ons verwag dat sulke persone met mekaar sou assosieer en georganiseer sou wees om Jehovah te dien?

Jehovah—’n God van organisasie

5. Hoe funksioneer die heilige engele ten opsigte van Jehovah?

5 God se geïnspireerde Woord gee ons insig in die manier waarop hy dinge doen. Beskou byvoorbeeld die onsigbare hemele. Is dinge daar chaoties? Inderdaad nie! Die miriades geesskepsele funksioneer nie lukraak en onafhanklik van Jehovah nie. Ons lees eerder: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!” (Psalm 103:20, 21). Die heilige engele is klaarblyklik goed georganiseer om Jehovah te dien.

6. As wat het Noag se gesin na die Vloed begin?

6 Maar wat van die menseryk? Wel, die Sondvloed van Noag se dag het ’n einde gemaak aan al die antediluviaanse organisasies wat op aarde bestaan het—behalwe een. Noag en die sewe ander Vloedoorlewendes het as ’n gesinsorganisasie uit die ark gekom. Dit was vir hulle ’n saak van die allergrootste belang om God verenig te aanbid, want ons lees: “Noag het vir die Here ’n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.” Die Vloedoorlewendes het nie dadelik hulle onderskeie godsdiensweë ingeslaan nie, maar hulle was almal bymekaar vir hierdie betekenisvolle gebeurtenis wat daartoe gelei het dat God hulle geseën en onderrig het en ’n verbond met hulle gesluit het (Genesis 8:18-9:17). Ja, na die Sondvloed was Noag se gesin aanvanklik ’n organisasie wat Jehovah gedien het.

7. Wat leer ons uit die boek Exodus ten opsigte van organisasie?

7 Abraham se afstammelinge is ryklik deur Jehovah begunstig, en niemand kan redelikerwys ontken dat hulle eindelik ’n nasionale organisasie geword het nie. Al net die Bybelboek Exodus toon hoe hulle uit slawerny in Egipte verlos is en as ’n teokrasie georganiseer is! Die boek identifiseer Jehovah as die God van teokratiese organisasie. Wanneer die Israeliete God se Wet gehoorsaam het, kon hulle hom as ’n ordelike, veilige en vreugdevolle organisasie aanbid. Hulle was onteenseglik georganiseer om Jehovah te dien.a

8. Watter bewys van goeie organisasie was te sien in verband met diens by Jehovah se aardse heiligdom?

8 Bewys van goeie organisasie was te sien in verband met die diens by Jehovah se aardse heiligdom. Aangaande die Leviete lees ons byvoorbeeld: “Dawid het hulle verdeel [georganiseer, Revised Standard Version] in afdelings volgens die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.” Ook “die seuns van Aäron het hulle afdelings gehad”. Met die hulp van Sadok en Ahimeleg het Dawid “hulle volgens hulle amp in hul diens ingedeel [georganiseer, RSV] . . .

En hulle het hul deur die lot verdeel [georganiseer, RSV].” Van ’n latere tydperk lees ons: “Verder het Jojada wagte aangestel in die huis van die HERE onder leiding van die Levitiese priesters wat Dawid ingedeel [georganiseer, RSV] het vir die huis van die HERE om die brandoffers van die HERE te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses, met blydskap en gesang volgens die instelling van Dawid” (1 Kronieke 23:2-6; 24:1-6; 2 Kronieke 23:18). Ja, afdelings priesters en Leviete is georganiseer om Jehovah te dien.

Wat van die Christelike godsdiens?

9. Watter getuienis is daar dat Jesus Christus sy volgelinge georganiseer het om Jehovah te dien?

9 Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy nie vir almal wat in hom geglo het, gesê om heen te gaan en slegs op ’n ‘persoonlike verhouding met God’ te konsentreer nie. Die dissipels het hulle eerder by Jesus geskaar, en uit hulle het hy 12 manne as apostels gekies. Hy het die keuse gedoen nadat hy ’n nag in gebed deurgebring het, en dit was dus met die hulp en goedkeuring van Jehovah (Lukas 6:12-16). Dit getuig van organisasie met goddelike ondersteuning. Jesus het daarbenewens sy volgelinge tot ’n goed onderrigte groep Koninkryksverkondigers georganiseer. Hy het byvoorbeeld die nodige onderrig gegee aan die 70 dissipels wat hy op ’n georganiseerde wyse uitgestuur het.—Lukas 10:1-24.

10. Hoe toon die Skrif dat Jesus se vroeë volgelinge goed georganiseer was?

10 Die Christelike Griekse Skrifte toon duidelik dat Jesus se vroeë volgelinge goed georganiseer was. Hulle het hulle nie slegs op persoonlike Skriflesing verlaat nie. Gemeentes is eerder gestig en het gereeld vergader om God se Woord te bestudeer. Hierdie gemeentes was nie onafhanklike, selfstandige eenhede nie, maar hulle het in liefde saamgewerk. Gemeentes het byvoorbeeld opregte groete aan mekaar gestuur, en georganiseerde groepe in Macedonië het ‘bly smeek om die voorreg om iets te gee’ om die behoeftige “heiliges” elders te help (1 Korinthiërs 16:19, 20; 2 Korinthiërs 8:1-7, NW; Kolossense 4:14-16). Ja, die vroeë Christengemeentes het met mekaar saamgewerk onder die leiding van ’n bestuursliggaam wat bestaan het uit die apostels en ouere manne in Jerusalem.—Handelinge 15:1-16:5.

11. Waarom kan ons verwag dat “die gemeente van God” goed georganiseer moet wees?

11 Die apostel Paulus het gehelp om sommige van die goed georganiseerde gemeentes te stig wat in aansyn gekom het as gevolg van God se seën op die predikingswerk. Paulus het daarbenewens gesê: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.” Die apostel het ook daarop gewys dat “God die liggaam” van Jesus Christus se gesalfde volgelinge “georganiseer” het soos dit Hom behaag. Ons kan gevolglik verwag dat “die gemeente van God” goed georganiseer sal wees en vreedsaam en harmonies sal funksioneer.— 1 Korinthiërs 14:33; 12:24, The Riverside New Testament; 1 Timotheüs 3:5.

12, 13. (a) Wat is al gesê oor die gemeentes wat deur Jesus se apostels georganiseer is? (b) Wie sien volgens die eerste-eeuse patroon om na gemeentelike sake onder Jehovah se Getuies?

12 Aangaande die organisasie van Jesus se volgelinge het geskiedskrywer J. L. von Mosheim geskryf: “Aangesien geen Christen daaraan kan twyfel dat die apostels van Jesus Christus op ’n goddelike bevel en leiding opgetree het nie, moet daardie vorm van die primitiewe kerke wat ontleen is aan die kerk van Jerusalem, en wat deur die apostels self gestig en georganiseer is, as goddelik beskou word.”—Institutes of Ecclesiastical History, Ancient and Modern, Deel 1, bladsye 67, 68.

13 Jehovah se Getuies is daarvan oortuig dat die eerste-eeuse gemeentes van Jesus se volgelinge volgens die goddelike wil georganiseer is. Ooreenkomstig daardie patroon word opsieners en bedieningsknegte gevolglik vandag deur die heilige gees onder die Getuies aangestel om na gemeentelike sake om te sien.—Handelinge 20:28; Filippense 1:1, vgl. NW.

14. (a) Wie het toesig gehou oor die eerste-eeuse Christengemeentes? (b) Waarom het die apostel Paulus Titus in Kreta agtergelaat?

14 Gedurende die eerste eeu het die apostels en ouere manne in Jerusalem algemene toesig oor die gemeentes gehou, hoewel sekere manne in bepaalde gebiede toesig gehou het en gesag aan ander kon oordra (Handelinge 14:21-23; 15:1, 2). Die apostel Paulus het gevolglik die Christenopsiener Titus aangestel om na sekere sake op die Mediterreense eiland Kreta om te sien. In hierdie verband het Paulus vir Titus gesê: “Die rede waarom ek jou in Kreta agtergelaat het, was sodat jy alles daar kan organiseer en ouderlinge in elke dorp kan aanstel soos ek vir jou gesê het” (Titus 1:5, JB). Ons kan daarvan seker wees dat die instruksies wat in die brief aan Titus gegee is hom gehelp het om daardie opdrag uit te voer sodat Christene aldaar goed georganiseer kon wees om Jehovah te dien.

Waarom vandag goed georganiseer wees?

15, 16. Om watter redes wat hier verstrek word, kan ons sê dat diegene wat vir Jehovah aanneemlik is nie bloot ‘’n persoonlike verhouding met God’ kan hê en oral in die wêreld se godsdiensliggame versprei kan wees nie?

15 Tot dusver is daar Skriftuurlik getoon dat goeie organisasie in die verlede ’n kenmerk van Jehovah se knegte was. Daarom is omstandighede vandag dieselfde. En daar is uitstekende redes waarom Jehovah se hedendaagse getuies goed georganiseer moet wees.

16 Diegene wat vir Jehovah aanneemlik is, kan nie elkeen net ’n ‘persoonlike verhouding met God’ hê en oral in die wêreld se godsdiensliggame versprei wees nie. Jehovah dring aan op ware aanbidding en gaan binnekort ’n einde maak aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Johannes 4:24; Jakobus 1:27; Openbaring 18:1-8). Daarbenewens word eenheid van ware Christene vereis. Hulle moet veral vandag in een organisasie verenig wees om ten volle gevolg te gee aan Paulus se raad: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”—1 Korinthiërs 1:10.

17. Hoe toon die woorde van Hebreërs 10:24, 25 dat knegte van Jehovah God en Jesus Christus almal aan een organisasie moet behoort?

17 Bowendien moet ware Christene nie versuim om vir gereelde vergaderinge bymekaar te kom nie. Dit is veral vandag die geval, namate die einde van hierdie stelsel nader kom (Hebreërs 10:24, 25). Dit spreek vanself dat ware knegte van Jehovah God en Jesus Christus almal aan een organisasie moet behoort om daardie geïnspireerde raad te volg.

18. (a) Hoe toon 1 Johannes 1:3 dat alle gesalfde Christene saam aan een organisasie moet behoort? (b) Wie het in hierdie “tyd van die einde” by Jesus se geesgesalfde volgelinge aangesluit, en wat is die feite omtrent samewerking onder al Jehovah se Getuies?

18 Die Skrif vereis gemeenskap onder Jesus se gesalfde volgelinge. In hierdie verband het die apostel Johannes geskryf: “Wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap [solidariteit, Byington] met ons kan hê; en ons gemeenskap [solidariteit, By] is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus” (1 Johannes 1:3). Hoe sou Jesus se gesalfde volgelinge hierdie solidariteit of gemeenskap kon geniet as elk net ’n ‘persoonlike verhouding met God’ gehad het en nie in ’n enkele organisasie saamgesnoer was nie? Hulle kan slegs aan hierdie vereiste voldoen deur georganiseer te wees. Vandag het ’n “groot menigte” “ander skape” by Jesus se geesverwekte volgelinge aangesluit. Volgens Jesus se beskrywing van die “skape” kan ons verwag dat hierdie “ander skape” so nou met sy gesalfde volgelinge sal saamwerk dat hulle saam “een kudde” onder hom as die “een herder” uitmaak (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). En dit is presies wat ons in hierdie “tyd van die einde” onder Jehovah se knegte vind (Daniël 12:4). As een aardomvattende broederskap is al Jehovah se Getuies goed georganiseer om God te dien.—Vergelyk 1 Petrus 2:17.

19. Waarom vereis die uitvoering van die opdrag om te preek samewerking in een geesgerigte organisasie?

19 Die uitvoering van die opdrag om te preek en dissipels te maak, verg ook samewerking in een verenigde organisasie (Mattheüs 28:19, 20; Handelinge 1:6-8). Hoe kon die opdrag om te getuig, uitgevoer word as elkeen wat bely dat hy ’n Christen is slegs ’n ‘persoonlike verhouding met God’ gehad het en sommer aan enige godsdiensgroep behoort het? Sommige sou in werklikheid “Sjibbolet” sê terwyl ander “Sibbolet” sê! (Rigters 12:4-6). Hoe sou die hoorders van sulke uiteenlopende boodskappe weet wat om te glo? Gesalfde Christene moet “ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”, en onder hulle moet daar “een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal” wees (Efesiërs 4:1-6). Daar moet ooreenstemming onder alle ware Christene bestaan en hulle moet ’n gelykvormige boodskap verkondig indien mense moet hoor wat reg is, egte geloof in die ware God moet stel en Jehovah se naam moet aanroep met die vooruitsig om gered te word. Daarbenewens moet een geesgerigte organisasie gebruik word om daardie waarheidliewende verkondiger van die “evangelie” uit te stuur.—Romeine 10:11-15.

20. Watter enkele organisasie vervul nou Mattheüs 24:14, en watter bewys is daar dat God sulke goed georganiseerde bedrywigheid seën?

20 En in ooreenstemming met Jesus se profesie oor sy “teenwoordigheid” en “die voleinding van die wêreld” moet daar een verenigde organisasie wees wat ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies voordat die einde kom’ (Mattheüs 24:3, 14). Dit is vandag net Jehovah se Getuies wat die goeie nuus verkondig dat die Koninkryk sedert 1914 in die hemele aan die bewind is met Jesus Christus as Koning. Daar is meer as 2 650 000 van hierdie goed georganiseerde Koninkryksverkondigers, en hulle geledere neem vinnig toe as gevolg van God se seën.—Jesaja 43:10-12, NW; 60:22.

21. Wat gaan ons vervolgens in verband met Jehovah se organisasie bespreek?

21 Watter voorreg is dit tog om in hierdie moeilike “laaste dae” deel te wees van die menigtes wat so goed georganiseer is om Jehovah te dien! (2 Timotheüs 3:1). Daar is ’n gesonde Skriftuurlike grondslag waarom almal wat van ganser harte aan God toegewy is, moet voortgaan om lojaal saam met sy georganiseerde volk te dien. En soos ons sal sien, bestaan daar goeie redes om ’n veilige en gelukkige toekoms saam met Jehovah se organisasie te bou.

[Voetnoot]

a Kyk asseblief Die Wagtoring van 1 Desember 1983, bladsye 27-31.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe funksioneer die heilige engele ten opsigte van Jehovah?

◻ Watter bewys van goeie organisasie was daar in eertydse Israel?

◻ Hoe sou jy aan die hand van die Skrif bewys dat Jesus Christus se vroeë volgelinge goed georganiseer was?

◻ Waarom verg die verkondiging van die Koninkryksboodskap samewerking in een organisasie?

[Prent op bladsy 11]

ln Dawid se dag is afdelings priesters en Leviete georganiseer om Jehovah te dien

[Prent op bladsy 12]

Die bestuursliggaam het leiding gegee aan die goed georganiseerde gemeentes van die eerste eeu

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel