Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 7/1 bl. 4-6
  • Belê nou in n veilige toekoms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Belê nou in n veilige toekoms
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Takseer jou belegging
  • “Belê” nou!
  • Hoe sterk is jou vertroue in God?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
  • Waarom moet jy jou beloftes nakom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Jou hoop—God of rykdom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 7/1 bl. 4-6

Belê nou in n veilige toekoms

OM DIE waarheid te sê, is daar bitter min wat jy kan doen om jou materiële bates te beskerm. Dit kan weliswaar van die druk verlig as jy jou geld versigtiger bestee en krediet suinig gebruik. Maar die meeste van die faktore wat die ekonomie beïnvloed, is heeltemal buite jou beheer. Daar is egter iets wat jy kan doen om jou gemoedsrus en welsyn te beskerm. Die Bybel sê: “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.”—Prediker 7:12.

Hierdie wysheid is nie bloot sekulêre geleerdheid nie. “Die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:6). Jy kan hierdie wysheid verkry deur in ’n Bybelstudie te belê. Hoe dien dit as ’n “beskutting”? Bybelkennis gee jou onder meer ’n nuwe perspektief van vandag se ekonomiese krisis. Jy besef dat ons lewe in wat die Bybel “die laaste dae” noem (2 Timotheüs 3:1-4). Eindelik sal hierdie verwarrende en chaotiese stelsel weggevee word in die dag van God se oordeel (2 Petrus 3:12, 13). En Spreuke 11:4 waarsku: “Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie.”

Wanneer jy hierdie dinge leer ken en besef, word jy baie van die angs as gevolg van tevergeefse materialistiese strewes gespaar. Jy probeer nie wanhopig om jou materiële besittings te bewaar nie, want jy weet dat rykdom van verbygaande aard is. En jy is nie ontmoedig as jy nie die nuutste luukse kan bekostig nie. “Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”—1 Timotheüs 6:7, 8.

Selfs diegene wat nou finansieel “veilig” is, kan baat vind by goddelike wysheid. Die apostel Paulus het voorts in 1 Timotheüs 6:17, 18 gesê: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke.” Selfs in Bybeltye was materiële rykdom ‘onseker’. Ryk Christene moes dus besef dat enige veiligheid wat geld dan glo verskaf het bloot ’n illusie was. Hulle moes ‘hulle hoop stel’ op God.

Maar dit het nie beteken dat die lewe ’n passiewe waak, ’n ledige gewag vir die “einde” moes wees nie. Hulle moes ‘goed doen en ryk wees in goeie werke’. Dit sou klaarblyklik baie tyd en energie vereis. En vandag maak baie hulle uit die voete wanneer daar sprake van “werk” is. Maar wat van jou? Is jy bereid om die Bybel se weg te bewandel? ‘Ek is nie seker nie’, sal baie se antwoord wees. Jy sal waarskynlik eers wil weet hoe dit jou tot voordeel sal strek. Wat is daarby betrokke? Is dit werklik al die tyd en inspanning werd? Kom ons pas enkele basiese beleggingsbeginsels toe om jou te help om ’n paar duidelike antwoorde te kry.

Takseer jou belegging

Risikofaktore, kredietstande, toekomsvooruitsigte, geraamde winste asook by voordele is dinge waarop ’n skerpsinnige sakeman sal ingaan voordat hy sy middele in ’n projek steek. Hoe kan dit van toepassing wees wanneer jy dit oorweeg om jou ‘hoop op God te stel’?

Kyk eerstens wat ’n goeie kredietstand beteken. Dit toon basies dat ’n mens betroubaar is te oordeel na vorige optrede. Volgens hierdie logika sal die huidige ekonomiese stelsel ’n pateties lae stand hê. En hoeveel vertroue kan jy bowendien in godsdiens- en politieke leiers stel?

Hoe vaar God andersyds wat betroubaarheid betref? Rigter Josua het God sy hele lewe lank gedien. Jare van rondswerf in ’n dorre woestyn, veldslae en rigterskap in ’n hardnekkige nasie het nie sy vertroue in God laat afneem nie. Hy het vol vertroue gesê: “En kyk, ek gaan vandag die weg van die ganse aarde, maar julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Josua 23:14). Jehovah het vir hom ’n reputasie van betroubaarheid opgebou wat dié van enige mense-instelling verreweg oortref. Beleggings in ’n belofte wat deur Hom gerugsteun word, het ’n rotsvaste grondslag.

Wat van risikofaktore? Die algemene reël is: ‘Hoe groter die beloofde rendement van ’n belegging, des te groter die risiko.’ Een rede waarom jy soveel waag wanneer jy jou vertroue in ’n mense-in-stelling stel, is dat die mens self sulke beperkte mag, versiendheid en lewe het. Die Bybel vermaan gepas: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:3, 4). Maar diegene wat op God se beloftes vertrou, loop nie sulke risiko’s nie. As Soewerein van die heelal het Jehovah onbeperkte middele! Niemand kan sy voorneme verydel nie. Nie eens die dood kan verhoed dat ’n persoon “rendement” van sy “belegging” van getroue diens kry nie, want Jehovah beloof om getroue knegte op te wek, indien nodig.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

Wat van toekomsvooruitsigte en “rendement”, en byvoordele as ’n mens besluit om God te vertrou? Die Maker van hierdie planeet voorsien iets veel beters vir die aarde as wegholinflasie, algemene besoedeling, onbeteuelde geweld en ’n verergerende wapenwedloop. Hy het eerder beloof om “die verderwers van die aarde te verderf (Openbaring 11:18). Oorloë en wapens sal “ophou” (Psalm 46:10). Niemand sal die aarde se regverdige bewoners “verskrik” nie, want dreigemente van geweld en die dood sal tot die verlede behoort (Miga 4:4). Kan ’n mens ’n beter vooruitsig vir die toekoms hê?

“Belê” nou!

Onthou egter dat jy hard moet werk om hierdie seëninge te ontvang. Dit sal tyd en inspanning kos. Maar is ’n veilige toekoms dit nie werd nie? In een van sy gelykenisse het Jesus byvoorbeeld gepraat van ’n “koopman” wat in mooi pêrels wou belê. “Toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Mattheüs 13:45, 46). Iemand wat God se belofte van ’n regverdige Koninkryk waardeer, sal optree soos die man in hierdie gelykenis. Dit sal voorkeur in sy lewe geniet. Vir hom is dit die opoffering werd.—Mattheüs 6:33.

Waarin gaan jy dus belê? Gaan jy soos die eertydse Israeliete wees wat tevergeefs materiële dinge nagestreef het in plaas van die belange van God se aanbidding? Hulle het baie hard gewerk om hulle weelderig betimmerde huise te kry. Die profeet Haggai het hulle egter vergelyk met ’n man wat ‘sy huurloon in ’n stukkende beurs steek’ (Haggai 1:4-6). Stel jou voor hoe teleurgesteld jy sou wees as jy sou uitvind dat jou swaar verdiende geld deur ’n gat in jou beurs verdwyn het! Materiële dinge is vandag net so onseker en kortstondig.

Ons spoor ieder en elk dus aan om God se beloftes aan te gryp en om hom ten volle te vertrou. As jy voortgaan om die Bybel naarstig te bestudeer en die wyse raad daarvan toepas, kan jy die wonderlikste seëninge verkry, onder meer die ewige lewe in ’n paradys op aarde! Dit is die dividende wat betaal word as ’n mens nou belê in die veilige toekoms wat God in sy Woord beloof.—Efesiërs 3:20, 21.

[Prent op bladsy 5]

Na ’n lewe van betroubare diens kon Josua die volgende van Jehovah se beloftes sê: “Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie”

[Prent op bladsy 6]

As ’n mens materiële dinge najaag, is dit soos om ‘jou huurloon in ’n stukkende beurs te steek’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel