Behou jou balans—Hoe?
NADAT Kenneth baie jare lank bestuurder van ’n groot boumaatskappy was, het hy skielik sy werk verloor. Nou probeer hy sy eie onderneming op die been bring en werk soms tot laat. “Dit is stremmend”, erken hy terwyl hy ’n balans probeer vind tussen sy gesinslewe en sakeaangeleenthede aan die een kant en sy gemeentelike verantwoordelikhede aan die ander kant.
David probeer tred hou met ’n nuwe leefwyse en ’n nuwe baba. Nadat hy jare lank kantoorwerk in die stad New York gedoen het, het hy en sy gesinnetjie na die platteland verhuis waar hy sukkel om ’n ambag te leer terwyl hy as ’n Christen-ouere man en pionierbedienaar (’n voltydse Koninkryksverkondiger) dien.
Bill probeer al etlike jare lank om sy onkoste te verminder sodat hy, net soos sy twee kinders, die pionierdiens kan betree. Die afgelope paar maande het hy egter die meeste van sy tyd gebruik om aan die plaaslike gemeente se nuwe Koninkryksaal te werk. Nou het sy rekeninge weer opgehoop. “Dit lyk of pionierdiens ’n ontwykende doelwit bly”, sê hy weemoedig. “Dis frustrerend.”
Hierdie mans en hulle gesinne voer, net soos Jehovah se Getuies oral oor ’n stryd om in hierdie “laaste dae” met sy “swaar tye” geestelike balans te bewaar (2 Timotheüs 3:1). Klink die probleme van hierdie Christene bekend?
Sakedruk
Die apostel Paulus het gewaarsku dat mense in hierdie “laaste dae” “geldgieriges, . . . onversoenlik, . . . verraaiers” sou wees (2 Timotheüs 3:1-4). Christene in die sakewêreld kan getuig dat hierdie woorde waar is. “Dit was nog nooit so erg nie”, het een Getuie gekla. “Mense is onredelik, jy kan hulle nie tevrede stel nie en hulle wil nie hul rekeninge vereffen nie.” Dit is moeilik om onder sulke omstandighede jou geestelike balans te behou.
Persoonlike dissipline is noodsaaklik as ons ons balans wil bewaar. “Elke keer as ek in die versoeking kom om iets te koop wat ek nie nodig het nie, of om werk te aanvaar wat ek nie nodig het nie”, het een Christensakeman gesê, “sê ek vir myself om eenvoud voor oë te hou. . . . Soms moet ek myself kortvat, maar ek kon nog altyd my bokoste laag hou, en ek het groot saketransaksies vermy wat aantreklik gelyk het maar my sou bind en my te afhanklik sou maak van ’n enkele klant.”
Sukses in die sakewêreld vereis vasberadenheid en dryfkrag. Maar wees versigtig! Geen toegewyde kneg van Jehovah kan dit bekostig om die reguit waarskuwing in 1 Timotheüs 6:9, 10 te veronagsaam nie: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Dit is so maklik om toe te laat dat die wêreld se materialistiese denke jou idee van “sukses” geleidelik verander totdat jy nie meer daarmee tevrede is om net vir jou gesin te sorg nie. Jy kan weldra begin dink dat sukses beteken dat jy jou hoofkonkurrent moet uitstof of hom selfs ’n nekslag moet gee. Jou goeie beweegredes kan op subtiele wyse ontaard en jy kan, miskien sonder dat jy dit besef, die begeerte verkry om ryk te word. Dan sal jy jou geestelike balans kwyt wees.
“Geldgierigheid” kan onbehoedsame Christene eweneens onverhoeds oorval. Die Bybel erken dat ‘geld beskerming bied’, maar dit waarsku ook teen “die verleidelikheid van rykdom” (Prediker 7:12, NAV; Mattheüs 13:22, NAV). ’n Christen in die sakewêreld kan maklik redeneer: ‘Ag, as ek net ’n bietjie meer geld gehad het, net om my te beskerm teen die onsekerhede van vandag se sakewêreld.’ Maar geld het ’n manier om ’n doel op sigself te word. ’n Groter kantoor moet gehuur word “om klante te lok” en nuwe toerusting moet aangekoop word “om ’n groot werk te kry”. Maar namate die rekeninge ophoop, vermeerder die druk op die onbehoedsame persoon om meer en meer te werk, sodat geestelike dinge verwaarloos word en Christelike balans verlore gaan.
Iets waarvoor Christene veral op hulle hoede moet wees, is sekere groot firmas wat op niksvermoedende mense aas deur vir hulle rykdom te beloof in ruil vir net ’n paar uur se werk per week. Party opregte persone is al onder die indruk gebring dat hulle eerlank goed sal kan lewe as hulle deeltyds werk en dat hulle “selfs die pionierdiens sal kan betree”, dit wil sê, as voltydse Koninkryksverkondiger sal kan dien. Sulke sakeondernemings kan ’n Christen beweeg om medegelowiges by die verkoopsorganisasie van die maatskappy te probeer betrek.
Die meeste van hierdie ondernemings behels verkoopsverdageringe en -seminare waar “geldgierigheid” aangekweek word terwyl verkoopsmanne met hulle diamantringe pronk en met hulle nuwe motors spog. Kan jy jou voorstel dat die apostel Paulus in die gehoor sou sit en so ’n vertoning sou goedkeur? Sou hy druk op mede-Christene uitoefen om vir hom produkte te verkoop of hulle miskien verkeerdelik aanmoedig om dit by die gemeente se vergaderplek te doen? (Filippense 3:7-9). Onderwyl materiële begeertes gevoed word, kan Christene wat by hierdie organisasies betrokke is heel moontlik vind dat gemeentelike bedrywighede uit hulle lewe verdring word. Weeklikse verkoopseminare vervang gemeentelike vergaderinge; groot aansporingskursusse en verkoopsbyeenkomste vervang byeenkomste van God se volk en wêreldse metgeselle vervang geestelik heilsame omgang. So ’n ingrypende verlies van geestelike balans het tragiese gevolge!
Bewaar jou balans
Dit is natuurlik nie net materialisme wat jou geestelike balans kan versteur nie. Daar kan baie gesê word oor die probleme wat veroorsaak word deur die ongebalanseerde aandag wat aan stokperdjies en vermaak geskenk word, asook die balansversteurende uitwerking wat die wêreld se beheptheid met seks op Christene kan hê. Hoe kan die Christen vandag, te midde van al die uitdagings wat die lewe bied, sy geestelike balans bewaar?
Dit is nuttig om geestelike en fisiese balans met mekaar te vergelyk. Babas kan hulleself nie balanseer nie, en duiseligheid gaan dikwels met siekte gepaard. Mense wat òf geestelik onvolwasse òf geestelik siek is, is eweneens nie geestelik gebalanseerd nie. Selfs ’n gesonde, volwasse persoon kan sy balans op gevaarlike, glyerige terrein verloor. Gevolglik moet ’n geestelik gesonde, ryp Christen “gevaarlike terrein” vermy en nie sy geestelike balans as vanselfsprekend aanvaar nie.
Daarbenewens besef diegene wat al probeer het om ’n stilstaande fiets te balanseer dat voorwaartse beweging belangrik is as ’n mens jou balans wil bewaar. Hierdie punt is baie belangrik omdat party mense in onlangse jare die uitdrukking “geestelike balans” verkeerd gebruik of verstaan het. “Moenie so baie tyd aan die veldbediening bestee nie”, het hulle gesê. “Bring meer tyd tuis saam met jou gesin deur. Wees gebalanseerd!” Omdat hulle sulke verkeerde raad gevolg het, is die vooruitgang van sommige vertraag en is hulle geestelik geskaad, wat veroorsaak het dat hulle hulle aan genotsug oorgegee het.—2 Petrus 2:3; 3:11, 12, vgl. NW.
Christelike balans beteken beslis nie dat die folterpaal van Jesus Christus neergelê moet word nie! (Lukas 9:23-25). So ’n ontroue weg sal in werklikheid beteken dat ons oor hom struikel, en dit is allesbehalwe gebalanseerd.—Mattheüs 11:6, NW.
Die soort balans wat knegte van Jehovah God nodig het, word in die boek Spreuke bespreek, waar ons lees: “Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. As jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.”—Spreuke 4:7, 12, 13.
Wysheid, insig en selfdissipline is belangrike faktore in die bewaring van geestelike balans. Dit word verkry wanneer ons God se Woord gereeld en noukeurig bestudeer en die dinge wat ons leer, toepas. “Die HERE gee wysheid”, sê ’n geïnspireerde spreuk. “Uit sy mond kom kennis en verstand, en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is ’n skild vir die wat regskape wandel.”—Spreuke 2:6, 7.
Wysheid behels die praktiese toepassing van kennis. Die meeste Christene wat hulle geestelike balans verloor, kan dit toeskryf aan die feit dat hulle nie die dinge toepas wat hulle omtrent die gevare van materialisme of genotsug, of selfs eiegeregtigheid, leer nie (Spreuke 3:5-7). Dit is veral verstandig om jou op jou eie swakhede toe te lê sodat jy geestelike probleme kan vermy. “Ek moet my veral toespits op balans”, erken ’n ouere man, “omdat ek weet dat ek my maklik op een ding blind staar en geneig is tot uiterstes. Dit is vir my baie maklik om heeltemal betrokke te raak, eers by een ding, dan by ’n ander, terwyl ek my ander verantwoordelikhede verwaarloos.”
Ons geestelike broers en susters het ’n onverbeterlike, balanserende invloed op alle Christene. Hulle kan dikwels sien wanneer ons geestelik die pad byster raak voordat ons dit self besef. Dit is tog so belangrik dat ons op sulke tye raad nederig aanvaar! Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek” (Spreuke 18:1). Moet jou dus nie van medegelowiges afskei nie, en reageer geredelik op goeie, Skriftuurlike raad.
Bewaar jou geestelike balans
Hier is ’n paar belangrike faktore wat jou sal help om jou geestelike balans te bewaar. (1) Bly geestelik gesond en kweek wysheid, insig en selfbeheersing aan. (2) Vermy gevaarlike terrein, soos die subtiele strik van materialisme. (3) Leer ken die terreine waarop jy swak of ongebalanseerd is en spits jou daarop toe. (4) Moenie in die veldbediening verslap nie, maar hou aan om vooruitgang in Jehovah se diens te maak. (5) Aanvaar nederig raad van God se organisasie en sy verteenwoordigers. (6) Moet jou nie van die Christengemeente afskei nie.
Dit lyk dalk moeilik om goeie geestelike balans in hierdie swaar tye te bewaar, maar moenie tou opgooi nie. As Jehovah se Getuies behoort ons navolgers te wees van ’n God wie se voortreflike en heilige eienskappe in volmaakte balans is (Efesiërs 5:1; Openbaring 4:8). Solank as wat opregte liefde vir Jehovah God ons beweeg om hom na te volg, en solank as wat ons die nodige hulp van medegelowiges en Jehovah se organisasie aanvaar, kan ons ons geestelike balans behou.
[Prent op bladsy 28]
Die Koninkryksaal is nie vir handelsbedrywighede bedoel nie
[Prent op bladsy 29]
Geestelike balans vereis ook voorwaartse beweging