Verenigde aanbidders van die enigste ware God
“[Jehovah] . . . U alleen is God.”—PSALM 86:9, 10.
1. (a) Wat het Jehovah in die lewe geroep om eenheid in aanbidding te bewerkstellig? (b) Wat het daardie “bestuur” gou tot gevolg gehad?
EENHEID in aanbidding—hoe aantreklik is dit tog! Maar die meeste mense het dit nog nooit ondervind nie. En tog is eenheid in aanbidding nie net ’n droom nie. Dit is God se voorneme. Negentien eeue gelede het Jehovah ’n “bestuur” in die lewe geroep waarvan die doel eenheid is—eenheid soos wat ’n mens in ’n hegte, liefdevolle huisgesin sal aantref. Die eenheid wat hierdie “bestuur” voortgebring het, het gou daartoe gelei dat gekerstende Jode in liefdevolle omgang met Samaritane aanbid het; daarna is onbesnede nie-Jode in die gemeente verwelkom. Nog belangriker, hulle is almal met Jehovah God verenig op grond van hulle geloof in die versoeningswaarde van Jesus se offer. Hulle het die verhouding van seuns tot ’n liefdevolle Vader met hom begin geniet.
2. (a) Wat is die “bestuur”, en wanneer het dit in werking getree? (b) Wat word bedoel met die vergadering van “die dinge in die hemele”?
2 Efesiërs 1:9, 10 (NW) vestig die aandag op hierdie “bestuur” deur te sê: “Dit is ooreenkomstig sy welbehae, wat hy hom voorgeneem het, om aan die volle grens van die bestemde tye [vanaf Pinkster van 33 G.J.] ’n bestuur [of, ’n prosedure om die sake van die huisgesin te reël] te hê, naamlik, om alle dinge weer byeen te vergader in die Christus, die dinge in die hemele en [later] die dinge op die aarde.” Die “dinge in die hemele”, dit wil sê, diegene wat saam met Christus in sy hemelse Koninkryk sal wees, is eers uit die Jode, toe uit die Samaritane en eindelik uit die nie-Jode vergader.
3. Wat het die vergadering van “die dinge op die aarde” tot gevolg gehad?
3 In ons dag, veral sedert 1935, sien ons hoe “die dinge op die aarde”, dit wil sê, mense wat lewe op ’n paradysaarde sal ontvang, vergader word. Miljoene persone het reeds gereageer op hierdie tweede fase van God se liefdevolle “bestuur”. Hulle kom uit alle nasies en tale. Die eenheid wat hulle vind, is nie bloot ’n fisiese vergadering van mense wat aan hulle ou opvattings en gebruike bly vashou nie. Hulle leer eerder Jehovah se weë, soos in Jesaja 2:3 voorspel is, sodat hulle “in sy paaie kan wandel”.
4. (a) In watter mate sal eenheid in aanbidding bereik word, en hoe beskryf die Bybel dit? (b) Watter verhouding met Jehovah sal volmaakte mense ná die finale toets geniet?
4 Maar wat ons vandag sien, is nie die volle mate waarin eenheid bereik sal word nie. God se voorneme verseker dat alle intelligente skepsele in ware aanbidding verenig gaan word. Die apostel Johannes het ’n voorskouing ontvang van die wonderlike situasie wat aan die einde van Christus se Duisendjarige Bewind sal bestaan, en hy beskryf dit in Openbaring 5:13 met die woorde: “Elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit [dit wil sê, Jehovah], en aan die Lam [Jesus Christus] kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” Daar het Johannes gesien dat almal onder Jesus Christus in die aanbidding van Jehovah verenig is. Daarna, wanneer die finale toets verby is en alle opstandelinge vernietig is, sal Jehovah liefdevol deur Christus al die volmaakte mense wat lojaal gebly het as sy seuns aanneem. Hulle sal deel word van God se verenigde, universele gesin vir wie Jehovah vir ewig die enigste God, die Universele Soewerein en hulle liefdevolle Vader sal wees. Watter verblydende vooruitsig is dit tog! Is dit jou opregte begeerte om deel van daardie gelukkige gesin aanbidders te wees?—Romeine 8:20, 21.
“U alleen is God”
5, 6. Wat het Dawid in Psalm 86 geskryf aangaande die Een wat ons aanbid?
5 ’n Ondersoek van Psalm 86 kan ons help om te onderskei wat ons moet doen om daardie seën te ontvang. Dawid, die skrywer van hierdie geïnspireerde psalm, het reeds ’n reputasie van toegewydheid in sake rakende ware aanbidding gehad. Maar hy het besef dat hy persoonlik moes aanhou om geestelik vordering te maak, en dit word weerspieël deur wat hy geskryf het.
6 In verse 8-10 vestig hy die aandag op die Een wat hy aanbid het deur te sê: “Daar is niemand soos U onder die gode. Here, en daar is niks soos u werke nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer; want U is groot en doen wonders, U alleen is God.”
7. Waarom is dit so belangrik om te erken dat Jehovah alleen God is?
7 Net soos vandag het die nasies in Dawid se dag baie gode gehad. Maar met opregte waardering het Dawid aan Jehovah gesê: “U alleen is God.” Jesus Christus het dieselfde waarheid beklemtoon. Op die laaste nag voor sy dood het hy tot sy Vader gebid en hom aangespreek as “die enigste ware God” (Johannes 17:3, NAV). Die Christendom aanbid egter ’n Drie-eenheid, miljoene buig voor afgode neer en ander verafgood prominente mense, geld, hulself en seks. Wat van jou? Is jy persoonlik daarvan oortuig dat ‘daar niemand soos Jehovah is nie’ en dat hy “die enigste ware God” is?
8. Wat word vereis van almal wat Jehovah wil aanbid, soos Psalm 86:11 aandui?
8 Dawid het in die toekoms ingekyk en ’n gesig gehad van ’n volk uit alle nasies wat kom om Jehovah te dien. Dawid het ongetwyfeld besef dat wanneer sulke mense gekom het om Jehovah te aanbid, hulle baie sou moes leer. Hulle sou veranderinge in hulle lewe moes aanbring. Maar Dawid het ook realisties erken dat hy self onderrig nodig gehad het en dat hy verdere aanpassings sou moes maak. In Psalm 86:11 het hy gesê: “Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.” Is dit ook jou begeerte?
9. Waarom is ons ’n verenigde volk, en watter verantwoordelikheid het ons in hierdie opsig?
9 Die eenheid wat reeds onder Jehovah se Getuies bestaan, is waarlik iets besonders. Dit is omdat ons, as ’n groep, opreg voel soos Dawid gevoel het—ons soek Jehovah se leiding en tree daarvolgens op. Dit moet ook ons verlange wees om deur ons gesindheid en gedrag persoonlik tot daardie eenheid by te dra. Daarbenewens kan ons ons eenheid bewaar en ander help om dit ook te geniet deur by belangstellendes waardering op te bou vir die verskillende faktore wat ons verenig.
Kragtige faktore wat ons verenig
10. Wat is die eerste van die faktore wat ons verenig?
10 Die eerste is die feit dat ons almal Jehovah aanbid en erken dat hy die reg het om te bepaal wat goed en wat kwaad is (Openbaring 14:6, 7; Genesis 2:16, 17). Watter wonderlike uitwerking het dit tog wêreldwyd op Jehovah se volk gehad! Jehovah is, soos die Bybel sê, “die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon. Heilig is sy Naam” (Jesaja 57:15). Wanneer ons hom aanbid en ons na sy standaarde skik, het dit ’n verheffende uitwerking op ons. En aangesien daardie standaarde in alle dele van die aarde geld, het ons gehoorsaamheid daaraan ons nader aan mekaar gebring as een volk.
11. Hoe kan ons nuwelinge help om ook hierdie eenheid te geniet?
11 Maar soms maak persone wat met ons omgaan hulle aan ernstige vergrype skuldig. Waarom? Wanneer hulle uitgevra is na hulle verhouding met God, het sommige gesê: ‘God was nie vir my werklik nie.’ Daarom het hulle ook nie sy vereistes ernstig opgeneem nie. Kan ons diegene saam met wie ons studeer, help sodat Jehovah vir hulle werklik sal wees? Ons moet hulle goed laat verstaan dat ware aanbidding nie bloot die aanvaarding van sekere leerstellings, die bywoning van vergaderinge in die Koninkryksaal en miskien ’n paar uur se velddiens van tyd tot tyd is nie. Diegene wat Jehovah wil dien, moet ’n intieme, persoonlike verhouding met hom hê. Hulle moet leer om gereeld en persoonlik tot hom te bid en sy leiding te vra in alles wat hulle doen (Filippense 4:6; Spreuke 3:5, 6). Dan sal hulle begin om deel te hê aan die wonderlike eenheid wat ons geniet.
12, 13. (a) Hoe word ons saamgebind deur die tweede faktor wat hier gemeld word? (b) Wat moet ’n mens doen om ten volle hierby baat te vind?
12 Die tweede faktor is dit: Ons is verenig omdat ons, ongeag waar ons in die wêreld is, God se Woord, die Bybel, het om ons te lei. Ons erken dat die Bybel geïnspireer is, en een van die dinge wat baie van ons na Jehovah se Getuies getrek het, is die feit dat die Getuies waarlik by die Bybel bly.—2 Timotheüs 3:16, 17.
13 Diegene saam met wie ons studeer, stem dalk met ons saam wanneer ons sê dat die Bybel God se Woord is. Maar hoeveel van die Bybel het hulle al gelees? Dit sal goed wees om elkeen aan te spoor om dit van voor tot agter te lees, en dan te sien watter invloed die Bybel moet hê op besluite wat hulle in die daaglikse lewe neem. Jesus het sy Vader se wil so goed geken en dit was so diep op sy verstand en hart ingeprent dat hy kon sê: “Ek [doen] altyd . . . wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:29). Watter goeie doelwit is dit tog vir ons almal!
14. Waarom is die derde faktor wat hier gemeld word so belangrik, en hoe kan ons waardering hiervoor by nuwelinge inskerp?
14 ’n Derde faktor wat ons verenig, is die feit dat ons almal baat vind by dieselfde geestelike voedingsprogram. Ons erken “die getroue en verstandige dienskneg” as die middel wat Jehovah gebruik om geestelike voedsel op tyd te voorsien (Mattheüs 24:45-47). Daar is by ons geen twyfel dat hierdie “dienskneg” uit geesgesalfde erfgename van die hemelse Koninkryk bestaan wat vandag slegs onder Jehovah se Getuies aangetref word nie. Ons waardeer wat daardie “dienskneg” en sy Bestuursliggaam doen om in ons geestelike behoeftes te voorsien. En ons dank God vir die oorvloed goeie geestelike voorsienings wat ons het (Jesaja 65:13, 14). Staan ons ook genoeg tyd daaraan af om waardering vir hierdie reëling in te skerp by persone wat pas met die gemeente begin omgaan het?
15, 16. (a) Wie erken ons as ons Leier? (b) Hoe raak die erkenning van Jesus se rol in ons aanbidding ons gesindheid teenoor mekaar?
15 ’n Vierde verenigende faktor, inderdaad ’n noodsaaklike, is dat Jesus Christus, en geen mens nie, ons Leier is en die een deur wie ons almal Jehovah in aanbidding nader. Gedurende die laaste week van sy lewe as ’n mens het Jesus die belangrikheid hiervan beklemtoon. In Mattheüs 23:8, 10 (NAV) het hy gesê: “Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.” Dit maak nie saak waar ’n persoon in die wêreld is nie, indien hy vandag vir een van Jehovah se Getuies sou vra: ‘Wie is julle leier?’ sal hy dieselfde antwoord kry: ‘Dit is die Here Jesus Christus.’
16 Dit is slegs deur Jesus dat ons Jehovah op aanneemlike wyse in aanbidding kan nader. Waarom? Omdat ons almal in sonde gebore en ter dood veroordeel is. Nie een van ons verskil in hierdie opsig van ander nie. Die enigste manier waarop enige van ons as knegte van God aangeneem is, was op grond van ons geloof in die offer van Jesus Christus, en dit is slegs deur hom dat enige van ons Jehovah nou in gebed kan nader. Hartgrondige waardering hiervoor is ’n noodsaaklike faktor in ware aanbidding.—Romeine 3:23; Johannes 14:6.
17. Hoe het ons gesindheid teenoor God se Koninkryk ons van die Christendom afgeskei maar as Jehovah se Getuies saamgebind?
17 Die vyfde faktor wat ons saambind, is dat ons, ongeag waar ons woon, op God se Koninkryk vertrou as die enigste hoop vir die mensdom (Matteüs 6:9, 10; Daniël 2:44). Die geestelikes van die Christendom het nie hierdie vertroue nie. Hulle is gevolglik betrokke by die politieke aangeleenthede van die wêreld en sy oorloë. In skerp teenstelling hiermee het Jehovah se Getuies in alle lande die feit ter harte geneem dat Jesus Christus gesê het dat sy dissipels “nie van die wêreld [is] nie” (Johannes 17:15, 16). In ooreenstemming met God se Woord het ons van ons swaarde pikke gesmee en van ons spiese snoeimesse. Ons hef nie vleeslike wapens teen ons medemens op nie en ons leer ook nie meer om oorlog te voer nie (Miga 4:3). Ons is vas oortuig daarvan dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mensdom se probleme is. Die gevolg is dat ons met mede-Getuies dwarsoor die wêreld verenig is in ’n ware internasionale broederskap.
18. Hoe word ons deur die vrug van God se gees verenig? Gee voorbeelde.
18 As ’n sesde faktor in ons eenheid wys ons op die vrug wat die heilige gees in die lewens van Jehovah se aanbidders voortbring. En watter aantreklike vrug is dit tog—die soort wat dit vir ons aangenaam maak om bymekaar te wees! Ongeag die terreine waarop ons persoonlik nog moet verbeter, is dit waar wat Jesus gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35; Galasiërs 5:22.
19. Met wie word ons verenig wanneer ons aan die Christelike bediening deelneem?
19 By al die voorgaande kom nog hierdie sewende punt: As Jehovah se Getuies het ons almal die verantwoordelikheid om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Dit is ’n verantwoordelikheid, maar dit is ook ’n voorreg. Soos die apostel Paulus verduidelik het, word ons medewerkers van God wanneer ons aan die Christelike bediening deelneem. Hoewel een van ons plant en ’n ander natmaak, is Jehovah die Een wat verantwoordelik is vir die groei wat nuwe dissipels voortbring.—Mattheüs 24:14; 1 Korinthiërs 3:6-9.
Staan vas aan die kant van ware aanbidding
20. (a) Waarom geniet party wat na die Koninkryksaal kom nie werklik die seëninge van sulke verenigde aanbidding nie? (b) Waarom is dit dringend dat hulle hulle nou positief aan Jehovah se kant skaar?
20 Namate persone wat onlangs met Jehovah se Getuies begin omgaan het persoonlik hierdie verenigende waarhede aanneem en daarvolgens handel, kan hulle ook die vreugde van deelname aan die verenigde aanbidding van die enigste ware God smaak. Party is egter tevrede met ’n oppervlakkige kennis van die waarheid. Hulle leer iets omtrent die seëninge van God se Koninkryk, maar hulle laat nie die waarheid in hulle hart wortelskiet nie. Hulle geniet dit om by ons te wees, maar hulle wil nie sê dat hulle altyd dinge op Jehovah se manier gaan doen nie. In sekere opsigte is hulle soos sommige mense in die dae van die profeet Elia, vir wie Elia reguit gesê het: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As [Jehovah] God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” (1 Koning 18:21, vgl. NW). Wanneer Jehovah se vasgestelde tyd aanbreek om die teenswoordige goddelose stelsel te vernietig, gaan hy nie talm nie. Hy gaan nie daardie tyd uitstel of sy standaarde verander om diegene te pas wat steeds probeer om aan die wêreld vas te hou, diegene wat God se wil net halfhartig leer en doen nie. Hoe belangrik is dit dus dat almal wat in die waarheid belangstel nou positief optree om ’n werklike en blywende verhouding met Jehovah op te bou!
21. Watter geestelike vordering moet ons ons Bybelstudente help om te maak?
21 Ons wil nie bloot elementêre waarhede bestudeer met diegene wat vordering maak en gedoop wil word nie. Ons wil hulle eerder help om tot Christelike rypheid te groei. Dit beteken dat hulle ’n aptyt na vaste geestelike spys moet aankweek. Hulle moet leer om dit te geniet, krag daaruit te put en te sien hoe dit hulle kan help om goeie persoonlike besluite te neem.—Hebreërs 5:12-14.
22. Waarom is ons bediening voorwaar ’n wonderlike voorreg?
22 Watter wonderlike voorreg het ons tog om baat te vind by en op te tree in harmonie met Jehovah se reëling om, deur Jesus Christus, mense van alle nasies met homself te verenig! Die enigste ware God het ons die onuitspreeklike voorreg gegee om getuies vir sy heilige naam Jehovah te wees. Sy dierbare Seun, wat nou as Koning heers, was en is ons voorbeeld waar dit kom by aanbidding wat ons in staat stel om ’n hartlike, intieme verhouding met Jehovah en eenheid onder mekaar te geniet. Laat ons dus doen wat ons kan om Jehovah se naam te verheerlik en om vir ander te wys hoe hulle ook die seëninge kan smaak wat uitsluitlik die deel is van persone wat verenig is in die aanbidding van die enigste ware God.
Ter hersiening
◻ ln watter mate sal eenheid van aanbidding bereik word, en wat kan dit vir jou beteken?
◻ Hoe kan ons toon dat ons dit eens is met die gedagtes in Psalm 86:11?
◻ Wat is sommige van die kragtige faktore wat ons verenig?
◻ Watter verdere vordering moet ons ons studente help om te maak nadat hulle basiese Bybelwaarhede geleer het?
[Prent op bladsy 9]
‘Jehovah, U alleen is God’