Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 3/15 bl. 18-22
  • Hou aan om eenstemmig en vreugdevol uit te roep

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om eenstemmig en vreugdevol uit te roep
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tydskrifte op die voorgrond!
  • Tuisbybelstudies aan die toeneem!
  • “Vertrek, vertrek”
  • ‘Roep eenstemmig met vreugde uit’!
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Help ander om te leer wat God se vereistes is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Verenig in die publisering van die Woord van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • “Verkondig goeie nuus van iets beters”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 3/15 bl. 18-22

Hou aan om eenstemmig en vreugdevol uit te roep

“Word vrolik, hef eenstemmig ’n vreugdegeroep aan.”—JESAJA 52:9, NW.

1. Waarom roep Jehovah se Getuies nou “eenstemmig” uit?

EENSTEMMIG! Die woordeboek omskryf hierdie woord as “in volkome harmonie”. Jehovah se Getuies dien eenstemmig omdat hulle die sin van Christus het en eendragtig Jehovah se naam verheerlik. Omdat Jehovah se seën op hulle rus, is selfs die simboliese land waarin hulle woon vrolik, en elke deel daarvan roep vreugdevol uit. Dit alles strook met die apostel Paulus se gebedsvolle woorde: “Mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.”—Romeine 15:5, 6; Johannes 17:4, 6, 20, 21.

2. (a) Waarom sien die wagte “van aangesig tot aangesig”, volgens 1 Korinthiërs 1:10 en Efesiërs 4:4-6? (b) Wie hef ook die vreugdegeroep aan, en hoe?

2 ‘Verheerlik God!’ Dit is wat Jehovah se eensgesinde “wagte” vandag doen. Sodoende vervul hulle die profesie: “Eenstemmig bly hulle vreugdevol uitroep; want van aangesig tot aangesig sal hulle sien wanneer Jehovah Sion terugbring” (Jesaja 52:8, NW). Hulle sien “van aangesig tot aangesig”, omdat hulle “verenig [is] in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”. (1 Korinthiërs 1:10; kyk ook Efesiërs 4:4-6.) En nou, met die “groot menigte” wat ook die “vreugdegeroep” aanhef, het die aardwye uitroep ’n crescendo bereik.—Openbaring 7:9, 10, 15.

3. Hoe het Jehovah se organisasie op aarde die vreugde van die hemelse leërskare weerspieël?

3 God se hemelse organisasie, insluitende “tienduisende van tienduisende” heilige engele, verhef sy “stem” om lof te gee aan Jehovah as die groot Skepper, en aan “die Lam”, Jesus Christus (Openbaring 5:11, 12; 4:11). Vandag is God se volk op aarde eweneens georganiseer vir vreugdevolle heilige diens. Selfs die simboliese land waarin hulle woon, is “vrolik”. Die profeet sê: “Word vrolik, hef eenstemmig ’n vreugdegeroep aan, julle verwoeste plekke van Jerusalem, want Jehovah het sy volk getroos; hy het Jerusalem verlos” (Jesaja 52:9, NW). Jehovah het “sy volk”, die aardse verteenwoordigers van “Jerusalem daarbo”, sy hemelse organisasie, teruggebring uit die verwoesting wat hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog ondervind het, en hulle eenstemmige “vreugdegeroep” het wêreldwye uitbreiding tot gevolg gehad wat tot vandag toe voortduur!—Galasiërs 4:26, 27; Jesaja 52:8, 9, NW.

4. Hoe het Jehovah alreeds “sy heilige arm ontbloot”, en watter vertroue gee dit ons vir die toekoms?

4 Die profesie sê vervolgens: “Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.” Gedurende die vroeë deel van daardie “laaste dae” het Jehovah voorwaar opgetree ten behoewe van sy volk, en hy sal binnekort, by Armageddon, weer “sy heilige arm ontbloot” deur sy georganiseerde volk te red. Dan ‘sal baie nasies moet weet dat hy Jehovah is’.—Jesaja 52:10; 12:2; Esegiel 38:23, NW.

5, 6. (a) Waarom is dit dringend dat ons God se werk volbring? (b) Wat het die organisasie gedoen met die doel om ’n omvattender getuienis te gee?

5 Jehovah se teregstellingsdag is ophande. “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig” (Sefanja 1:14). Intussen moet die “goeie nuus van iets beters” oor die hele aarde verkondig word (Jesaja 52:7, NW). Om hierdie werk te volbring, gebruik Jehovah se organisasie ’n aantal wetlike korporasies, soos die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, en hulle hou toesig oor die werk van die gemeentes van Jehovah se Getuies in sowat 94 takke dwarsoor die aarde. Die afgelope vyf jaar was daar groot uitbreiding van die druk- en ander fasiliteite by hierdie takke, sodat die Genootskap beter as ooit tevore in staat is om ‘vrede en verlossing uit te roep’.

6 Gedurende die afgelope jaar is ’n groot aanbousel aan die Genootskap se drukkery by Watchtower Farms in die staat New York voltooi. Die Bethelhuis aldaar word ook vergroot. ’n Yslike rubberdruk-tydskrifpers met die vermoë om minstens 400 000 tydskrifte per dag te druk, is geïnstalleer. Baie van die Genootskap se ouer M.A.N.-boekdrukperse is uitmekaar gehaal en tot rubberdrukperse met twee eenhede omgebou. Hierdie druk-perse word nou in Wagtoringtakke rondom die wêreld, sowel as by Brooklyn en Watchtower Farms, gebruik. Uitbreiding vind in alle dele van die aarde plaas. Die tak in Duitsland het byvoorbeeld reeds sy tweede snelrotasiepers in gebruik geneem, en die Japanse tak sal eersdaags sy derde rubberdruk-rotasiepers, wat 60 000 tydskrifte per uur kan lewer, in bedryf stel.

Tydskrifte op die voorgrond!

7. Watter vooruitgang was daar gedurende 1983 in die verkryging van intekeninge?

7 Waarom al hierdie uitbreiding op die gebied van teokratiese drukwerk? Dit is weens die ywerige werk van julle almal daar in die veld. Gedurende die afgelope jaar het julle altesaam 1 765 153 nuwe intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! gekry, ’n uitmuntende vermeerdering van 28 persent oor die vorige jaar.

8. Watter resultate word behaal wanneer ons die waarde van ons tydskrifte besef?

8 ’n Kringopsiener in die Verenigde State skryf dat die spesiale vierbladsy-bylae oor tydskrifwerk, wat in Ons Koninkryksbediening vir Mei 1983 gepubliseer is, “’n treffende uitwerking op ons almal gehad het”. Hy sê dat dit nie ongewoon was vir ’n motorgroep om met vier of vyf nuwe intekeninge van die diens af terug te kom nie. Een Getuie, ’n pionier, het haar vroeëre negatiwiteit te bowe gekom en in een week nege intekeninge gekry. Die Japanse tak het gedurende Mei en Junie altesaam 70 115 nuwe intekeninge ontvang—vergeleke met 49 016 gedurende die vorige kampanje van twee maande—en dit ondanks die feit dat ’n jaarintekening 1 800 yen (R9.20) kos! Maar die geestelike waarde van ons tydskrifte kan nie in terme van geld, selfs nie in terme van silwer of goud, gemeet word nie (Spreuke 8:10, 11). Mag ons gedurende 1984 ywerig aanhou om intekeninge aan te bied!

9. Hoe kan ons ons tydskrifverspreiding verhoog?

9 Maar wat van ons algemene tydskif-verspreiding gedurende 1983? Dit was goed, maar dit is die een aspek van ons diens waar daar nie ’n vermeerdering was nie. Wat kan ons hieromtrent doen? Innige waardering vir die inhoud van ons tydskrifte behoort ons te beweeg om hulle saam te dra en by elke geleentheid aan te bied, veral op ons weeklikse Tydskrifdag. Ons sê “weeklikse” Tydskrifdag, want so baie van ons broers rondom die aarde geniet sulke gereelde deelname. Takke so ver uitmekaar soos Kenia en Hongkong het versoek dat die verwysing na tydskrifwerk op die tweede en vierde Saterdag van die Genootskap se kalender geskrap word, aangesien dit die tydskrifverspreiding in hulle gebied kan halveer. Ons moedig almal beslis aan om op die tweede en vierde Saterdag aan hierdie vreugdevolle diens deel te neem, maar laat ons gerus nou die verdere doel nastreef om elke Saterdag tydskrifwerk te doen—van huis tot huis, op die strate en markte en op tydskrifroetes!—Prediker 11:1.

10. Hoe het ’n leser van Ontwaak! by een tydskrif baat gevind?

10 So dikwels is dit net een tydskrif wat iemand se belangstelling wek, met die eindresultaat dat nog ’n ‘skaap’ by die “stal” van die “goeie herder” gevoeg word (Johannes 10:14, 16). Die volgende ondervinding lig dit toe:

Op ’n dag het ’n Koninkryksverkondiger by dle huis van ’n verstokte dronkaard verbygeloop toe die man hom nader roep. “Monsieur, ek het opgehou drink”, het hy met blydskap gesê. Aangesien baie mense in Reunion hospitaal toe gaan om ontgif te word, het die Getuie hom gevra: “Na watter hospitaal het jy gegaan?” Die man het geantwoord: “Ek het nie hospitaal toe gegaan nie; ek het die Ontwaak! [8 November 1982, oor alkoholisme] gelees en opgehou drink.” Ten tye van hierdie skrywe het die Getuie reeds twee maande lank ’n Bybelstudie met hierdie gesin gehou in die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Een tydskrif kon dit alles doen!

Dit bring ons by ’n ander onderwerp:

Tuisbybelstudies aan die toeneem!

11. Watter uitwerking het die Paradys op aarde-boek op die wêreldveld gehad?

11 In Junie 1982 het die Wagtoringgenootskap die geïllustreerde studieboek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe vrygestel. Teen die middel van September 1983 is daar reeds 14 663 229 eksemplare van hierdie boek in die Genootskap se drukkerye rondom die aarde gedruk. Dit is nou in 55 tale beskikbaar. En watter uitwerking het hierdie boek op die wêreldveld gehad? ’n Kragtige uitwerking! Die Wagtoringtak in Porto Rico skryf aangaande die Spaanse veld aldaar:

‘Ons het in Augustus 30 000 Paradys op aarde-boeke ontvang, maar hulle was gou klaar, en toe kry ons in Oktober nog 30 000. In Februarie 1983 was ons voorraad weer op, maar in Maart en Junie het ons nog 40 000 ontvang. Nou het ons weer net sowat 10 000 oor, maar ons verwag om binnekort nog 35 000 boeke te kry.’

12. (a) Hoe is waardering vir hierdie boek getoon? (b) Kyk of jy in die tabel op bladsye 14 tot 17 lande kan sien waar daar meer Bybelstudies as verkondigers is.

12 In Lapland het ’n bejaarde man, wat self nie ’n Getuie is nie, aan die Wagtoringtak in Finland geskryf:

“Ek het al heelparty godsdiensboeke gelees. Maar ek dink dat julle boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe een van die heel bestes is. Ek wil graag hê julle moet vir my 11 eksemplare aanstuur sodat ek dit vir my vriende kan gee.”

Hierdie boek het ongetwyfeld bygedra tot die groot vermeerdering in tuisbybelstudies gedurende die 1983-diensjaar. Rondom die aarde word daar elke maand 1 797 112 studies met belangstellendes gehou—’n vermeerdering van 13,3 persent in vergelyking met die 1 586 293 studies in 1982.

13. Hoe kan die Paradys op aarde-boek persone help wat nie bedrywige Getuies is nie?

13 Wil jy graag weet hoe om die probleme van die lewe die hoof te bied? Nader Jehovah se Getuies dan by een van hulle Koninkryksale en vra vir ’n Bybelstudie uit hierdie Paradys op aarde-boek. Stel jy al geruime tyd belang in Bybelprofesie soos dit deur Jehovah se Getuies verduidelik word, hoewel jy nie tans ’n bedrywige Getuie is nie? Jy behoort ook hierdie boek saam met een van die Getuies te bestudeer.

14. Hoe kan alle bedrywige Getuies die Paradys op aarde-boek met vrug gebruik?

14 Is jy ’n Getuie wat nog nie ’n Bybelstudie met ’n nuwe belangstellende hou nie? Probeer dan gerus om iemand se belangstelling in hierdie boek te wek—deur besoeke van huis tot huis of informele getuienis—en stel voor dat julle die boek saam lees. Dit is so maklik om dit te doen deur bloot die paragrawe te lees en dit dan met behulp van die vrae en prente te bespreek. Dit is soos Jesus self gesê het: Wanneer ons die juk van Christendissipelskap aanvaar, ‘vind ons rus vir ons siele’, en ons vreugde word groter wanneer ons persoonlik ’n aandeel daaraan het om dissipels van ander te maak (Mattheüs 11:29, 30; 28:19). En sulke studies sal die weg vir ons baan om later die geloofversterkende studiemateriaal in ons nuwe sakformaatboek, Verenig in die aanbidding van die enigste ware God, te gebruik.

15. Watter diepgaande uitwerking het die prentebrosjure gehad?

15 Gedurende die afgelope jaar was die prentebrosjure met 32 bladsye, Jy kan vir ewig op die aarde lewe!, nog ’n kragtige instrument in die wêreldwye onderrigtingsprogram van Jehovah se Getuies. Die groot Afrikaland Zaïre, waar die jongste hoogtepunt van 28 126 verkondigers ’n vermeerdering van 14 persent oor die gemiddelde vir 1982 verteenwoordig, berig die volgende:

Die brosjure Jy kan vir ewig op dle aarde lewe! in ons onderskeie plaaslike tale het ’n diepgaande uitwerking op die predikingswerk gehad. Baie het gesê dat dit die ware Jakob is vir hulle gebied waar mense ongeletterd is of swak lees. Gemeentes het gou hulle voorraad versprei, ’n Protestantse kerk in Isiro het ’n voorraad van die plaaslike gemeente bestel vir gebruik in sy Sondagskool, ’n Katolieke priester in Medje het baie kilometers ver in sy Land-Rover gery om ’n voorraad vir ’n plaaslike skool in die hande te kry. Dit is nie vreemd om reisigers met hulle eksemplaar van hierdie brosjure in die hand te sien nie.

16. (a) Hoe wyd is die brosjure reeds versprei? (b) Hoe kan kinders die brosjure gebruik, in ooreenstemming met Prediker 11:6?

16 Die Wagtoring-drukkerye waar hierdie publikasie voorberei word, het tot op hede reeds meer as 17 000 000 in 111 tale gedruk, en die vraag dwarsdeur die wêreld is groter as ooit. Baie kinders het gevind dat hierdie brosjure ’n uitstekende middel is om saadjies van waarheid by skoolmaats te plant, iets wat baiemaal tot Bybelstudies lei.—Prediker 11:6.

17. Watter ondervindinge lig die onderrigtingswaarde van hierdie brosjure en sy prente toe?

17 ’n Land waar ons werk verbied is, het hierdie verslag ingestuur:

’n Getuie-suster wat die prentebrosjure gebruik om drie jong kinders te leer, het pas ’n bespreking oor afgode voltooi. Na die studie het die kinders gou in ’n ander vertrek verdwyn. Hulle het eerlank weer te voorskyn gekom met arms vol houtsneewerk, kruise en allerhande ander voorwerpe. Al die goed is voor die Getuie op die tafel neergesit. Sy was verbaas en het gevra waarvoor dit was. Die oudste dogtertjie het geantwoord: “Ons het nou net uit die Bybel geleer dat ons van afgode en beelde ontslae moet raak.”

Uit die Ivoorkus kom hierdie inligting:

’n Kringopsiener se vrou berig dat sy die brosjure gebruik om verskillende onderwerpe te behandel, soos veelwywery, vrye liefde, spiritisme en gebed. Sy verwys bloot na ’n paar van die raak en goed getekende prente. Ja, soos sy sê: “’n Prent spreek ’n duisend woorde.”

“Vertrek, vertrek”

18. Waarvan moet Jehovah se volk veral “vertrek” of hulle afkeer?

18 Nie alleen in Afrika nie, maar dwarsoor die aarde moet almal wat graag die ware God, Jehovah, wil aanbid hulle afkeer van Babiloniese valse godsdiens en die onsedelikheid wat in sulke godsdiens uitbroei of toegelaat word. God se profeet sê: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!”—Jesaja 52:11.

19. Hoe moet ons reageer as afvalliges ons van ons heilige diens probeer afrokkel?

19 Sedert 1919 is Jehovah se volk van die Christendom se godsdiensdwalinge gereinig. En tog keer sommige van tyd tot tyd na afgodery terug en moet hulle uit die gemeente gesit word. Hulle probeer om diegene af te Tokkel wat “die heilige voorwerpe van die HERE” dra—die kosbare voorsieninge wat God maak vir heilige diens deur huis-tot-huiswerk, tydskrifwerk, Bybelstudies en ander Christelike bedrywighede. Maar lojale Getuies sorg dat hulle nie eers sulke afvalligheid ‘aanraak’ nie.—2 Korinthiërs 6:17; 2 Johannes 9-11.

20. Wat sê God se Woord oor sedelike onreinheid, en hoe kan ons dit vermy?

20 Daar is egter ander onreinheid wat vandag baie meer slagoffers eis as afvalligheid—sedelike onreinheid. Ons moet op ons hoede wees vir druk deur die wêreld om onsedelik te wees! Die apostel Paulus waarsku dat “geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . die koninkryk van God [sal] beërwe nie”, en by die lys euwels voeg hy ook “onreinheid, ongebondenheid” (1 Korinthiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21). Daar is geen plek vir onsedelike persone in die geestelike paradys wat Jehovah vandag onder sy volk opgerig het nie, en daar sal ook nie plek vir sulke persone wees in die Koninkryk of op die Paradysaarde wat nou so naby is nie. Laat elke lid van Jehovah se rein volk sy plek in die geestelike paradys bewaar deur ag te slaan op Paulus se reguit raad: “Vlug vir die hoerery”, “vlug vir die afgodediens”.—1 Korinthiërs 6:18; 10:14.

21. (a) Watter vertroue moet ons nou hê, in ooreenstemming met Jesaja 52:12? (b) Hoe kan ons toon dat ons ‘lieflike voete’ het?

21 Toe Jehovah se gesalfde volk uit slawerny aan Babiloniese godsdiens verlos is, het hulle die waarheid van die woorde van God se profeet ondervind: “Julle sal nie bale haastig weggaan en soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede” (Jesaja 52:12). Vandag verheug die “groot menigte” van die Here se “ander skape” hulle ook oor hierdie verlossing. Al 2 501 722 lojale verkondigers van die Koninkryk het die volste vertroue dat Jehovah sal aanhou om voor hulle uit te trek, en dat hy hulle agterhoede sal wees, tot by en reg deur die beslissende slag by Armageddon (Openbaring 16:13-16). Ja, “word vrolik, hef eenstemmig ’n vreugdegeroep aan”, julle getuies van die ware God, Jehovah! Laat julle ‘lieflike voete’ julle vinnig dra om goeie nuus van iets beters te verkondig, want julle God is Koning!’—Jesaja 52:7-9, vgl. NW.

Hoe sou jy die volgende vrae beantwoord?

◻ Hoe het Jehovah sy volk toegerus om ‘eenstemmig uit te roep’?

◻ Op watter positiewe maniere kan ons waardering vir ons tydskrifte toon?

◻ Hoe kan ons almal die jongste studiepublikasies met goeie gevolg gebruik?

◻ Hoe moet ons reageer op die raad en bemoediging van Jesaja 52:11, 12?

[Venster op bladsy 19]

ln Junie het Korea ’n hoogtepunt van 6 656 intekeninge gehad, 110 persent meer as die vorige Junie. Koninkryksverkondigers in Groenland het gedurende die jaar 510 nuwe intekeninge verkry, ’n vermeerdering van 71 persent oor 1982.

[Venster op bladsy 20]

“Ontwaak!” word nou in bykomende tale as ’n kwartaallikse tydskrif uitgegee—Arabies, Bicol, Fidjiaans, Hebreeus, Hiri Motu, Kikamba, Kikuyu, Kroaties, Oerdoe, Russies, Singalees, Sjona, Turks en Yslands, sowel as in sommige ander Oosterse tale. Hoewel intekeninge nie beskikbaar is nie, kan individuele eksemplare deur die gemeente bestel word. Hierdie spesiale uitgawes is baie geesdriftig ontvang.

[Venster op bladsy 21]

’n Gesin het van Frankryk na die eiland Mooreá in Frans-Polinesië verhuis om die gemeentetjie aldaar te help. Na ’n paar maande het die gemeente nou 4 pioniers, 5 verkondigers en 51 tuisbybelstudies. Daar word gesê dat op die nabygeleë eiland Raiatéa, elke gesin met Jehovah se Getuies gestudeer het. Oral in die wêreld is ‘die oes groot’.—Mattheüs 9:37.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel