Gee ag op profesie
“Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ’n donker plek skyn.”—2 PETRUS 1:19.
1. Watter verbasende dinge het Jesus volgens Mattheüs 16:21-28 gesê?
JESUS se aardse bediening was besig om ten einde te loop. Naby Cesarea-Filippi, noord van Galilea, het hierdie “Seun van die mens” sy dissipels ingelig oor sy naderende dood en sy wederkoms in die heerlikheid van sy Vader. Toe het hy vir hulle gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Mattheüs 16:21-28). Wat kon dit beteken?
2. (a) Hoe is Jesus se woorde vervul deur ’n gesig wat Petrus, Jakobus en Johannes gesien het? (b) Watter heerlike gebeurtenis is hierdeur afgeskadu?
2 Omtrent ses dae later het Jesus Petrus, Jakobus en Johannes opgeneem na ’n hoë berg, waarskynlik Hermon van die anti-Libanonreeks. Hier het iets merkwaardigs gebeur! Jesus het voor hulle oë van gedaante verander en ’n blink voorkoms gekry. In ’n gesig is daar gesien hoedat Moses en Elia met hom gesels. Waarom Moses en Elia? Wel, Jesus word duidelik in die Skrif geïdentifiseer as “dié Profeet” wat deur Moses afgeskadu is. En ’n werk soos dié van Elia hou ten nouste verband met God se Koninkryk waarin Jesus heers (Handelinge 3:22, 23; Deuteronomium 18:15-19; Maleagi 4:5). Dit was dus gepas dat hulle hier saam met Christus gesien word in hierdie gesig van sy koms in die luister van sy toekomstige Koninkryksheerlikheid.—Mattheüs 17:1-5.
3. Watter woorde van Jehovah het die belangrikheid van die gesig beklemtoon?
3 Dit was ook gepas dat hulle Jehovah se stem uit die hemele hoor sê het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” Hierby het God die volgende woorde gevoeg: “Luister na Hom!”
4. (a) Waarom behoort daardie gebeurtenis ons vandag te beïndruk? (b) Na watter “profetiese woord” verwys 2 Petrus 1:19?
4 Watter indruk het daardie ontsagwekkende gebeurtenis by daardie apostels gelaat? Hoe moet dit ons vandag beinvloed? Sowat 30 jaar later kon Petrus nog steeds daardie toneel in al sy glans onthou. “En ons het die profetiese woord wat baie vas is”, het hy gesê. Watter “profetiese woord”? Die profesieë, soos Daniël 7:13, 14, wat nou deur die gedaantewisseling bevestig is—profesieë oor die koms van die Seun van die mens in die heerlikheid van Koninkryksmag!—2 Petrus 1:16-19; kyk ook Jesaja 9:5, 6.
5. Watter belangrike dinge is by daardie “woord” bygevoeg?
5 Teen daardie tyd het “die profetiese woord” ook profesieë ingesluit wat deur Jesus Christus self geuiter is. Daar was onder meer sy Koninkryksprofesie oor “die voleinding van die wêreld”, wat vertel het hoedat “die Seun van die mens [sou] kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” in ’n tyd van ongeëwenaarde wêreldbenoudheid (Mattheüs 24:3-14, 30, 31). Later sou “die profetiese woord” die kragtige Koninkryksprofesieë insluit wat die verheerlikte Jesus Christus aan die bejaarde apostel Johannes geopenbaar het, soos die wat opgeteken staan in Openbaring 1:12-16; 5:5-10; 11:15-17 en 14:14, 15.
Gee ag!
6. Waarom behoort die profetiese woord vandag ’n groter uitwerking op ons te hê?
6 As Petrus en sy metgeselle so deur daardie profetiese gesig beweeg is, hoeveel groter moet die uitwerking daarvan dan nie vandag op ons wees nie! Noudat die Seun van die mens reeds in sy heerlikheid gekom het om op sy heerlike Koninkrykstroon in die hemele te sit, is dit beslis hoog tyd om ‘na Hom te luister’! Dit strek ons inderdaad tot voordeel om ag te gee op die profetiese woord “soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn” en dit toe te laat om ons harte te verlig.—2 Korinthiërs 4:6.
7. (a) Hoe beklemtoon Paulus die belangrikheid van profesie? (b) Veral waarom moet ons vandag daarop ag gee?
7 Die apostel Paulus het ook klem gelê op die nodigheid om die profetiese boodskap in ons harte in te neem. Hy het aan die Hebreeuse Christene geskryf dat God “baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot [hulle] vaders deur die profete”, maar dat hy ‘in die laaste dae (van die Joodse stelsel)’ deur ’n Seun tot hulle gespreek het. Daardie profetiese woord wat deur Jesus gespreek is, was van ontsaglike betekenis.
Indien mense daarop ag sou slaan, sou dit tot redding lei. “Daarom”, het Paulus gesê, “moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het” (Hebreërs 1:1-4; 2:1). Nou, aan “die voleinding van die [hele] wêreld”, het ons des te meer rede om na Jesus se woorde te luister.—Mattheüs 24:3, 35; vergelyk Jesaja 55:6-11.
8. Hoe moet die profetiese woord ons stimuleer, en met watter voordeel?
8 Daar moet beklemtoon word dat ons nie op die profetiese woord ag gee net om kennis te verkry nie. Hoegenaamd nie! Daardie woord moet ons aanspoor om ooreenkomstig daardie kennis op te tree en ons God se wil laat doen, veral nou, “aan die einde van die dae” (Jesaja 2:2, 3). Die psalmis het vir Jehovah God gesê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Daardie woord stel ons in staat om voort te gaan om in die lig van die waarheid en in kosbare intiemheid met ons God te wandel. Dit keer dat ons na Satan se wêreld terugdryf (Psalm 119:105; Job 29:3, 4, NW). Om blywend by die profetiese woord baat te vind, moet ons innige liefde vir die Bybel aankweek en die hele boodskap daarvan in ons harte inneem. Sodoende sal ons beweeg word om altyd God se wil te doen en om ons in sy liefde te bewaar.—Markus 12:29-31; 1 Johannes 4:16; Judas 20, 21.
Profetiese patrone
9. (a) Waarom sê ons dat die Bybelverslag nie dooie geskiedenis is nie? (b) Watter dag van wraak word daarin afgebeeld?
9 Die Bybel beskryf die eiesinnigheid van eertydse Israel breedvoerig. En waarom? “As ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” Dit moet ons met godvrugtige vrees vervul, sodat daar nooit “’n bose en ongelowige hart” in ons ontstaan ‘deur van die lewende God afvallig te word nie’ (1 Korinthiërs 10:11; Hebreërs 3:12; Job 28:28). Die Bybelverslag is nie dooie geskiedenis nie! Dit bevat profetiese patrone en godsprake wat toon dat Jehovah God weer wraak gaan uitoefen, maar hierdie keer op ’n veel groter skaal as in die dae van afvallige Israel. Die wyse waarop God daardie afvallige nasie in 607 v.G.J., en weer in 70 G.J., gestraf het, beeld af hoe hy binnekort sy vurige toorn gaan uitgiet op die valse Christendom in die besonder. Ons kan gerus op daardie profetiese woord ag gee!—Jeremia 7:28, 32-34; Mattheüs 24:3-22.
10, 11. (a) Watter vergelyking help ons om te besef dat ons inderdaad in “die laaste dae” lewe? (b) Veral hoe het die Christendom se sektes profesie vervul?
10 Ons het onteenseglik “die laaste dae” van Satan se stelsel van wereldheerskappy binnegegaan. ’n Mens hoef maar net die teenswoordige wêreld te vergelyk met die apostel Paulus se woorde in 2 Timotheüs 3:1-5, 13 om daardie feit te besef. En dit is veral onder die verwarde sektes van die Christendom se kerke dat ons ‘mense vind met ’n gedaante van godsaligheid, maar wat die krag daarvan verloën’. Hulle het geen ware boodskap van redding nie.—Vergelyk Mattheüs 7:21-23.
11 Die volgende beskrywing van Jehovah se profeet pas die talle sektes in die Christendom goed: “My volk het twee verkeerde dinge gedoen: My [Jehovah God], die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie” (Jeremia 2:13). Hoe waar is dit tog dat die Christendom se sektes die Soewereine Heer Jehovah en die regverdige beginsels in sy Woord verlaat het! Dit steek hulle dwars in die krop selfs om sy naam te meld. Hulle het eerder “gebarste reënbakke” uitgekap deur die filosofieë en teorieë van mense aan te neem en hulle met die politiek van die wêreld te bemoei. In baie lande is hulle kerke besig om te sterf weens ’n gebrek aan ondersteuning omdat die mense geen verkwikkende water van waarheid in hulle vind nie. Daar is daarenteen ’n orvloed geestelike verkwikking onder diegene wat Jehovah getrou dien.—Jesaja 55:1, 2; 65:13, 14.
Wat wêreldleiers sê
12. Waarom is dit nutteloos om op menseleiers vir oorlewing te vertrou?
12 Dit is nie net die Bybel wat waarskuwings oor wêreldvernietiging rig nie. Die huidige sekretarisgeneraal van die Verenigde Volke het gesê dat ons nou vir die eerste keer in die mensegeskiedehis “op die nou randjie tussen rampspoed en oorlewing staan”. In ’n memorandum wat reeds in 1958 geskryf is, het die voormalige Amerikaanse president, Harry Truman, gesê: “Algehele vernietiging staar ons nou in die gesig. . . . Daardie vernietiging is ophande tensy die groot leiers van die wêreld dit verhoed.” Maar het die “groot leiers” die afgelope 25 jaar iets gedoen om algehele vernietiging te voorkom? Hulle bestee nou eerder meer as ’n miljoen rand per minuut aan die allerverskriklikste vernietigingswapens. Dit is van sulke “groot leiers” dat die psalmis geskryf het: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”—Psalm 146:3.
13, 14. (a) Op watter valse hoop het godsdiensleiers die aandag gevestig? (b) Wat is volgens Jesaja die ware hoop?
13 Die nasies is nie by magte om hierdie tragiese situasie te ontlont nie. Selfs die sogenaamde Verenigde Volke is ’n forum vir partydige twis eerder as ’n agentskap om vrede en veiligheid te bevorder. Pouse Paulus VI en Johannes Paulus II het elk met groot vertoon voor die V.V.O. verskyn. Hulle het gesê dat daardie liggaam die mensdom se ‘laaste hoop op harmonie en vrede’ is. Maar is dit?
14 In sy profetiese woord praat Jehovah van die ware hoop. Hy het Jesaja die geboorte laat voorspel van ’n seun wat die “Vredevors” sou word. Dit is Christus Jesus, wat deur koning Dawid van die ou tyd afgeskadu is. Die profesie sê voorts van Jesus: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5, 6). Maar hoe sal Jehovah se ywer “vrede sonder einde” bring?
‘Die Koninkryk van God is naby’
15. Hoe het Jesus die Koninkrykshoop beklemtoon?
15 Die een wat groter as Dawid is, naamlik Jesus Christus, het oor die totale oorloë en gevolglike benoudhede van ons 20ste eeu geprofeteer. Hy het die verskriklike gebeure, die benoudheid van nasies en die verskriklike verwagting van dinge wat oor die wêreld kom, voorspel. Toe het hy gesê: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is, . . . . So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:10, 11, 25-31). Die Koninkryk van God! Daar is die oplossing vir die mensdom se probleme. Het ons nie deur die jare gebid dat daardie Koninkryk moet kom nie? Dit is wat Jesus ons beveel het om te doen toe hy gesê het: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.
16. In watter sin is die Koninkryk van God “naby”?
16 Die profetiese woord sê vir ons dat “die koninkryk van God” nou “naby is”. Maar in watter sin? God se profeet Daniël verduidelik. Nadat hy die koninkryke of regerings van die mensdom in “die tyd van die einde” beskryf het, sê hy: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 12:4; 2:44). Die aarde gaan dus nie verbrand word deur ’n kernslagting wat alle menselewe verwoes nie. God se Koninkryk sal ontslae raak van goddelose mense en nasies op ons aardbol ter voorbereiding van ’n permanente, aardwye regering op die skouers van die “Vredevors”.—Jesaja 9:5.
God se wraak
17. Waarvoor sal die uitroep “Vrede en veiligheid” die teken wees?
17 Die profesieë in die Bybel handel oor ons dag. Dit wys vir ons wat voor die deur is. “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Die profetiese woord beeld die mensdom se ‘laaste hoop op vrede’, die V.V.O., as ’n skarlakenrooi dier uit. O, hy kan die een of ander soort onbestendige vrede versin en saam “Vrede en veiligheid” uitroep—in ooreenstemming met sy handves en ter vervulling van die profesie in 1 Thessalonicense 5:3. Maar dan sal Jehovah dit so bestier dat die gemilitariseerde “horings” van die V.V.O. valse godsdiens, “Babilon die Grote”, waarvan die Christendom se sektes die laakbaarste deel is, verwoes. Wanneer daardie “horings” hulle dan gereed maak om teen die Lam, Jesus Christus, te veg deur die vredeliewende Getuies van Jehovah aan te val, sal God se teregstellingswaard op daardie nasies en hulle leërs afkom, en “hulle sal sekerlik nie ontvlug nie”.—Openbaring 17:3-6, 12-17.
18. (a) Wat sal volgens die profetiese woord gebeur met die nasies wat God se volk aanval? (b) Hoe sal God sake eindelik beskik?
18 In daardie “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, die slag van Armageddon, sal die nasies se kernwapens hulle geen beskerming bied nie (Openbaring 16:14, 16). Indien daardie afgryslike wapens vir massavernietiging wel gebruik word, sal dit die nasies slegs help om mekaar te vernietig. In die dae van goeie koning Josafat van Juda het vyandelike menigtes opgeruk om God se oënskynlik weerlose volk aan te val. Maar deur sy profeet het Jehovah vir hulle gesê: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.” Jehovah het ’n hinderlaag teen daardie vyande opgestel sodat hulle ‘mekaar te lyf gegaan het’ totdat hulle almal uitgewis was. (2 Kronieke 20:15-23, vgl. NW; vergelyk ook Rigters 7:22; Esegiël 38:21-23; Sagaria 14:13.) Die uitslag sal gerig word deur God se gekroonde “Koning van die konings” en sy engelemagte, wat tot op die laaste verdwaalde oorlewende van sy vyande ontslae sal raak. Selfs Satan en sy demone sal in die afgrond gewerp word.—Openbaring 19:11-16, 21; 20:1-3.
19. (a) Watter les moet ons uit Genesis 18:23-33 leer? (b) Slegs wie sal uit die “groot verdrukking” gered word?
19 Maar is dit nie skokkend dat Jehovah hierdie hele wêreldstelsel gaan vernietig sodat geen deel daarvan ooit weer herstel sal word nie? Sommige voel miskien soos Abraham oor Sodom en Gomorra gevoel het, naamlik dat as slegs 50, of 45, of 30, of 20, of selfs 10 regverdige persone daar buite in die wêreld gevind kon word, “die Regter van die ganse aarde” dit nie geheel en al moet vernietig nie (Genesis 18:23-33). Maar die profetiese woord toon duidelik dat Satan se wêreld deur en deur onregverdig is en dat dit heeltemal uitgewis gaan word! (Jeremia 25:31-33; Sefanja 3:8). Die enigste vlees wat uit daardie “groot verdrukking” gered gaan word, sal, soos Jesus self gesê het, die toegewyde “vlees” van sy uitverkore gesalfdes en van hulle sagmoedige metgeselle wees. Niemand anders is in Jehovah se oë regverdig nie.—Mattheüs 24:21, 22; 25:31-33, 46; Johannes 10:16; Habakuk 3:1, 2, 12, 13.
20. Wat moet ons, as Jehovah se Getuies, wakker wees om in hierdie laaste dae te doen?
20 Die profetiese woord van Jehovah “spoed” na sy finale vervulling. Ons moet ‘daarop wag’ (Habakuk 2:3). Laat ons dus, as Jehovah se Getuies, die “dag van die wraak van onse God” moedig verkondig en net soos Jesus se apostels die treurendes ‘vrymoedig’ met die goeie nuus van redding vertroos (Jesaja 61:1, 2; Handelinge 4:8-13, 18-20). Laat ons ook wakker wees om ag te gee op Jesus se woorde: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:34-36.
Hoe sou jy die volgende vrae beantwoord?
◻ Watter les leer ons uit 2 Petrus 1:16-19 en verwante tekste?
◻ Watter voordele hou dit vir ons in as ons ‘ag gee op die profetiese woord’?
◻ Wat is volgens die profesieë naby, en waarom moet ons nie bevrees wees nie?
◻ Wat moet ons besig wees om te doen terwyl God se ‘dag van wraak’ nader kom?
[Prent op bladsy 14]
“Die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God”