Lewe ons in die laaste dae?
Vanaf hierdie nommer gaan “Die Wagtoring” ’n reeks van agt dele oor die laaste dae publiseer
WIE se lewe word nie deur oorlog geraak nie? Wie word nie geraak deur die nadraai van hierdie eeu se twee wêreldoorloë nie—die tydvak van gewelddadigheid, onveiligheid en vrees waarmee die hele mensdom te kampe het? Wie het ontkom aan die ekonomiese ontberinge wat dit meegebring het of die toenemende finansiële laste om die koste van militêre veldtogte of oorlogsparaatheid te dek? Wie se lewe word nie nou in gevaar gestel deur die immer toenemende bedreiging van kernoorlog nie?
Of oorloë nou aanvallend of defensief is, om regverdige of onregverdige redes gevoer word, dit is die vloek van die beskawing. Die koste in die vorm van menselewens alleen is verstommend. Die Noorweegse Akademie vir Wetenskappe het in 1969 bereken dat die wêreld sedert 3600 v.G.J. slegs 292 jare van vrede geken het. Daar is egter 14 531 oorloë in daardie tydperk gevoer.
Veral sedert die Eerste Wêreldoorlog in 1914 word ons eeu die “eeu van gewelddadigheid” genoem. In The New York Times van 30 Mei 1982 het James Reston daaromtrent geskryf: “Dit is die bloedigste eeu in die geskiedenis van die mensdom. Dit het gely as gevolg van 59 internasionale oorloë met 29 miljoen gesneuweldes, en 64 burgeroorloë met nagenoeg sesmiljoen dooies—om nie van die tienmiljoene burgerlikes te praat wat aan albei kante afgemaai is nie. Dit is die betekenis van oorlog.”
Die moontlike gevolge van nog ’n wêreldoorlog is so onrusbarend dat wêreldleiers en wetenskaplikes al herhaalde male van Armageddon gepraat het (Openbaring 16:14, 16). Hulle beskou dit bloot as ’n mensgemaakte slagting, terwyl die Bybel Armageddon assosieer met “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Dit is sy oorlog om die aarde te verlos van goddeloosheid en ’n regverdige Nuwe Orde vir vredeliewende mense tot stand te bring.
Hierdie Godgegewe hoop op ’n regverdige Nuwe Orde onderskraag geloofshelde al van ouds af (Hebreërs, hoofstuk 11). Hulle het met afwagting uitgesien na die tyd wanneer God hulle sou onthou en tot die ewige lewe opwek (Job 14:13, 14; Psalm 37:29). Daardie regverdiges het vertrou op God se krag om hulle in ’n gereinigde aarde op te wek waar hy “die oorloë [sal] laat ophou tot by die einde van die aarde”.—Psalm 46:10.
Maar hulle het nie geweet wanneer hierdie dinge sou plaasvind nie. Die tyd wanneer God sou optree, is bloot “die tyd van die einde” of “die einde van die dae” genoem (Daniël 11:40; Jesaja 2:2). Dit is dus geen wonder nie dat Jesus se dissipels hom privaat genader het om te vra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”—Mattheüs 24:3.
Die eerste ding wat Jesus as ’n aanduiding van die naderende einde gemeld het, was: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë” (Mattheüs 24:6). Kan die feit dat ons in “die bloedigste eeu in die geskiedenis van die mensdom” lewe die vervulling wees van hierdie teken wat Jesus gegee het? Lewe ons werklik in die laaste dae?