Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 5/1 bl. 5-7
  • Die allerergste tyd, dog die allerbeste tyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die allerergste tyd, dog die allerbeste tyd
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons tyd—’n voorspelde geslag
  • Die betekenis hiervan
  • God se beloftes
  • Daar is selfs nou voordele
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Laaste dae
    Redenering uit die Skrif
  • Hoe ons weet dat Armageddon naby is
    Leer by die Groot Onderwyser
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 5/1 bl. 5-7

Die allerergste tyd, dog die allerbeste tyd

CHARLES DICKENS het sy geskiedkundige roman A Tale of Two Cities, wat handel oor die Franse Revolusie, geopen met die beskrywing: “Dit was die allerbeste tyd, dit was die allerergste tyd.” So het hy probeer om die onrus van die tydperk te beskryf, asook die optimisme dat ingrypende veranderinge in die geskiedenis besig was om plaas te vind.

Maar in die lig van wat ons in die vorige artikel gesê het, is dit in talle opsigte baie meer gepas om ons tyd “die allerergste tyd” te noem. Maar kan ’n tydperk van ernstige moeilikhede terselfdertyd ’n rede tot vreugde wees? Kan dit waarlik “die allerbeste tyd” wees? Ja, as ons die versekering het dat beter dae voor die deur is.

Soos ons gesien het, beleef die wêreld nou in baie opsigte kwellende tye. Maar ons het alle rede om te glo dat verlossing vir die mensdom naby is—verlossing van misdadigheid, oorlog, hongersnood, siekte. Die Bybel hou so ’n hoop voor. Om self daardie hoop te koester, moet ons egter die tydperk waarin ons lewe, identifiseer en uit die Heilige Skrif vasstel watter weg ons moet inslaan.

Ons tyd—’n voorspelde geslag

In die eerste eeu het Jesus se apostels aanvanklik verwag dat hy die mag in Israel as die beloofde Messias sou oorneem. Toe hulle besef het dat Jesus hulle binnekort sou verlaat en dat hulle verwagtinge nog nie vervul is nie, het hulle hom uitgevra oor sy wederkoms: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). Die profesie wat Jesus in antwoord op hulle vraag verstrek het, is nie ten volle in die eerste eeu vervul nie. En latere geïnspireerde Skrifte het op ’n groter vervulling later in die geskiedenis gedui (Openbaring 6:2-8). Kan dit in ons dag wees?

Jesus het getoon dat dit onderskeidingsvermoë sou verg om die voorspelde tydperk te herken, want hy het sy dissipels gewaarsku dat die oorgrote meerderheid nie die betekenis van die belangrike gebeure sou snap nie. Jesus het die globale Sondvloed van Noag se dag as ’n parallel gebruik en gesê: “Want net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. . . . Hulle het geen ag daarop geslaan nie totdat die vloed gekom en hulle almal weggevoer het.”—Mattheüs 24:37, 39, NW.

Hoe sou mense sy “teenwoordigheid” waarneem en dan stappe doen om nie soos die meerderheid in Noag se dag tot vernietiging weggevoer te word nie? Jesus het ’n veelvoudige profetiese “teken” gegee wat in die Evangelies opgeteken is. Kom ons kyk of hierdie “teken” vandag sigbaar is, en indien wel, wat dit voorspel.

INTERNASIONALE OORLOG—DIE VERMEERDERING VAN ONGEREGTIGHEID: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Lukas 21:10). “Die ongeregtigheid [sal] vermeerder.”—Mattheüs 24:12.

Daar was talle oorloë sedert 1914, onder meer twee wêreldoorloë. Volgens die New Zealand Herald is daar op die oomblik ongeveer ’n miljoen soldate en guerrillas aan die veg, en sneuwel meer as 100 jongmanne daagliks. Misdadigheid vier ook hoogty, iets waarvan jy terdeë bewus is. Joernalis Anthony Lewis het onlangs gesê: “Uit uiteenlopende lande soos Brittanje . . . en die Sowjet-Unie kom daar berigte van toenemende kriminele gewelddadigheid en van amptelike onvermoë om dit te bekamp.”

AARDBEWINGS: “Aardbewings op verskillende plekke.”—Mattheüs 24:7.

Hoewel daar deur die eeue heen nou en dan groot aardbewings was, is dit ’n besondere kenmerk van ons dag. Gedurende die afgelope dekades was daar talle aardbewings. Van 1970 tot 1979 het gemiddeld 80 000 mense elke jaar hulle lewens tydens aardbewings verloor. Hierdie syfer sluit nie eens die ramp in 1975 in China se Liaoning-streek in waartydens 800 000 mense, volgens sommige ramings, hulle lewens verloor het nie!

HONGERSNODE—SIEKTES: “Hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom.”—Lukas 21:11, NTP.

Volgens UNICEF het 12 miljoen kinders in 1979 oor die hele wêreld van honger doodgegaan. In Afrika kom ongeveer een uit drie kinders van die honger om. Siekte rig ook steeds oor die hele wêreld verwoesting aan. Vyfhonderdduisend kinders sterf jaarliks aan masels, en eenmiljard mense ly aan tropiese kwale. Selfs diegene in nywerheidslande kan nie veilig voel nie, want daar maai kanker, hartkwale en veneriese siekte miljoene af.

’N WÊRELDWYE GETUIENIS: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies.”—Mattheüs 24:14.

In die 12 maande van September 1981 tot Augustus 1982 het Jehovah se Getuies meer as 384 miljoen uur lank die goeie nuus verkondig en mense Bybelwaarhede geleer. Meer as tweemiljoen bedienaars het in 205 lande en eilande gepreek.

Die betekenis hiervan

Nadat Christus hierdie verskillende gebeure voorspel het, het hy getoon wat die betekenis daarvan sou wees:

“Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.”—Lukas 21:29-32.

Al die dinge wat Jesus beskrywe het, sou ’n samegestelde “teken” uitmaak wat die nabyheid van die koninkryk van God net so onfeilbaar sou aandui as wat bome wat “bot” die koms van somer aankondig. Maar wanneer het hierdie dinge begin gebeur?

Waar Franse ekonoom Alfred Fabre-Luce kommentaar gelewer het oor ’n gebeurtenis wat die wêreld verander het, het hy gesê: “Die oorlog van 1914 was die eerste skudding wat gelei het tot trillings wat ons vandag nog skud.” Talle ander geskiedkundiges en staatsmanne het erken dat ’n heeltemal ander tydvak in 1914 begin het toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. Dit is interessant dat Pius XI, wat van 1922 tot 1939 pous was, die gebeure sedert 1914 herken het as “die tekens van die laaste dae, soos dit deur Onse Here aangekondig is”. Soos ons gesien het, duur die verskillende dinge wat in hierdie profesie voorspel is, vandag voort. Ons het dus goeie rede om te glo dat die geslag wat die aanvanklike skok in 1914 aanskou het en waarvan daar vandag nog mense lewe, die geslag moet wees wat die finale vervulling van die profesie sal aanskou.

Wat moet dan ons gesindheid wees namate hierdie “geslag” ouer word? Ons moet nie mismoedig of onverskillig raak nie. Ons moet eerder ag slaan op die raad wat Jesus gegee het nadat hy die verskillende dele van die “teken” gemeld het. Hy het gesê: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Ons kan so ’n gesindheid verkry wanneer ons weet wat die nabye toekoms vir ons onder God se Koninkryksheerskappy inhou.

God se beloftes

Baie meen dat hulle huidige bekommernisse sal afneem as hulle in aangenamer omgewings en veiligheid kon werk. Die Skrif stoot nie so ’n gedagte opsy nie. Profete soos Jesaja het beter toestande voorspel wat die mens in staat sal stel om die lewe te geniet: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie.”—Jesaja 65:21, 23.

Maar die Skrif vestig veral die aandag op die feit dat seëninge van Jehovah af ook dié van ’n geestelike aard sal insluit. Mense het meer nodig as net materiële welsyn. Ons moet die beginsels van liefde en geregtigheid respekteer en saam met ander lewe wat daardie beginsels respekteer. God se koninkryk sal so ’n gunstige milieu op die aarde skep wat regskape persone in staat sal stel om ten volle te ontluik. Die gemelde profeet het bygevoeg: “As u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.”—Jesaja 26:7-9.

God se koninkryk gaan iets doen wat geen ander regering kan doen nie, dit gaan naamlik die mensdom verlos van sonde en die gevolge daarvan: weë, siekte en die dood. Wanneer God dit deur Jesus Christus doen, sal almal wat geregtigheid liefhet en beoefen die ewige lewe verkry.—Johannes 3:16.

Daar is selfs nou voordele

Ons moet nie die feit oor die hoof sien dat ’n groot mate van geluk nóú beskikbaar is as ons in ooreenstemming met God se voornemens lewe nie. Die slegte dinge wat op die aarde gebeur, is vir almal duidelik en verskaf op sigself geen vreugde nie. As ons egter die betekenis daarvan snap en gevolglik die “teken” herken, kan ons begryp waarom ons tyd in ’n sekere sin ’n voorsmakie van die allerbeste tyd is, want ons sal sien hoedat God ingryp en die mens se probleme eens en vir altyd oplos.

Al lewe Jehovah se Getuies in hierdie veelbewoë wêreld, maai hulle voordele wat jy ook kan geniet. Hulle kennis van God se wette bied morele beskerming en stel hulle in staat om gebalanseerde lewens te lei. Hulle het die gemoedsrus wat voortspruit uit ’n hoop wat gebaseer is op goddelike beloftes en godvrugtige gedrag (Psalm 119:165; 1 Timotheüs 4:8). Daarbenewens wag daar ’n verlossing wanneer Christus God se vyande in die nabye toekoms vernietig en mense die geleentheid bied om God se permanente seëninge te ontvang.—Sefanja 2:2, 3; Psalm 29:11.

[Prent op bladsy 6]

Jesus het gesê dat ons ’n les by die vyeboom kan leer in verband met ons tyd

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel