Vrae van lesers
♦ Waarom het party Jode gedink dat Johannes die Doper Elia was, soos gemeld in Johannes 1:21?
Voordat Jesus gedoop is, het priesters en Leviete na Betanië oorkant die Jordaan gekom waar Johannes mense gedoop het en hom gevra of hy die Christus is. Toe Johannes gesê het dat hy nie is nie, het hulle gevra: “Wat dan? Is u Elia?”—Johannes 1:19-28.
Waarom het daardie Jode gedink dat Johannes dalk die Hebreeuse profeet Elia is wat sowat nege eeue tevore gesterf het? Dit was as gevolg van ’n profesie wat geuiter is omtrent halfpad tussen die tyd van Elia en die begin van Johannes se bediening. God se profeet Maleagi het voorspel: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek” (Maleagi 4:5). Party Jode het klaarblyklik gedink dat dit beteken het dat Elia fisies sou terugkeer, moontlik nadat God hom opgewek het. Toe het Johannes op die toneel verskyn, en net soos Elia het hy ook ’n harige mantel en ’n leer-gord gedra (Mattheüs 3:4; 2 Konings 1:8). En net soos Elia het Johannes reguit gepraat toe hy God se boodskap oor bekering verkondig het. Hulle het dus vir Johannes gevra of hy Elia is.
Johannes het geantwoord: “Ek is nie.” Nee, hy was nie werklik die Hebreeuse profeet Elia wat nog in die dood geslaap het nie. Trouens, ’n engel het vir Sagaria (wat Johannes se vader geword het) gesê dat Johannes in die “gees en die krag van Elia” sou dien om die Jode na Jehovah terug te bring (Lukas 1:17). Johannes sou nie Elia wees nie; maar hy sou ’n werk doen soortgelyk aan die werk wat die afgestorwe profeet Elia lank tevore gedoen het.
Dienooreenkomstig het Jesus later met Johannes in gedagte gesê dit “Elia al gekom het, en hulle het hom nie erken nie” (Mattheüs 17:12). Hy het bedoel dat Johannes die profesie; in Maleagi 4:5 vervul het. Hy het die weg vir die Messias berei. Maar die meeste Jode het Johannes nie in daardie rol aanvaar nie. Bowendien staan daar in Johannes 10:41 geskryf: “Johannes het wel geen teken gedoen nie”, terwyl die oorspronklike profeet Elia agt tekens of wonderwerke gedoen het.