Vrae van lesers
♦ Is dit in orde om God se wet te verbreek om ’n lewe te red, soos al aangevoer is op grond van Mattheüs 12:1-8?
Hoewel party persone met daardie beskouing hulle al op Mattheüs 12:1-8 vir steun beroep het, toon ’n noukeurige ondersoek van die Skrif dat dit ’n verkeerde gevolgtrekking is.
Toe hulle deur gesaaides geloop het, het Jesus se dissipels ’n bietjie koring gepluk en geëet, iets wat deur die Wet toegelaat word (Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 24:19-21). Die Fariseërs het hulle gekritiseer omdat hulle dit op die sabbat gedoen het. Hierdie godsdiensleiers het baie vertolkings by die Wet gevoeg, veral oor wat onwettige “werk” op die sabbat was. Volgens hierdie mensereëls, en die wettiese mentaliteit daaragter, het die dissipels hulle deur hulle optrede skuldig gemaak aan twee vorme van werk, oeswerk (“pluk”) en dorswerk (“uitgevrywe”) (Mattheüs 12:1; Lukas 6:1). Maar Jesus het gesê:
“Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het—hoe hy . . . die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.”—Mattheüs 12:3-8.
Christus het verwys na die voorval toe Dawid en sy manne, wat vir moorddadige koning Saul gevlug het, na hoëpriester Ahimeleg in Nob gegaan het. Dawid het voorgegee dat hy op ’n geheime sending van die koning was en het om brood gevra. “Hier is geen gewone brood by my nie” het Ahimeleg hom meegedeel, “hier is net heilige brood. As die dienaars hulle maar net vir vroue in ag geneem het.” Hy het die toonbrode bedoel wat bestaan het uit twaalf ongesuurde brode wat elke week op ’n tafel in die Heilige van die tabernakel gesit is. Wanneer vars koeke elke sabbat aangebied is, is die ou koeke weggeneem en het dit ‘Aäron en sy seuns s’n geword, wat hulle dan in ’n heilige plek moes eet’. Dawid het verduidelik dat sy manskappe seremonieel rein was, en hy het te kenne gegee dat hulle in ’n sekere sin heilig was daar hulle op ’n sending van Jehovah se gesalfde koning was. Toe het Ahimeleg “hom die heilige brood” gegee, “die toonbrode wat voor die aangesig van die HERE weggeneem” is.—1 Samuel 21:1-6; Levitikus 24:5-9.
Wat kan in die lig hiervan gesê word van die beskouing dat God se bevele geïgnoreer kan word ‘indien lewe op die spel is’? Persone het al geredeneer: ‘Toe Dawid ’n ernstige gebod oortree het toe sy lewe in gevaar verkeer het, het God dit oorgesien; en Jesus het die skending van die sabbat goedgekeur en gesê dat ’n mens op die sabbat goed kon doen en ’n lewe kon red’ (Lukas 6:9; Mattheüs 12:11, 12). Maar sulke denke is bedrieglik en in stryd met die Bybel.
Hierdie redenasie berus byvoorbeeld op die veronderstelling dat jy aanvaar dat dit ’n saak van ‘lewe of dood’ vir Dawid en Jesus se dissipels was. Maar was dit? Die Bybel sê nie dat Dawid en sy manskappe op die punt gestaan het om van die honger dood te gaan omdat hulle geen ander kos kon vind nie. Trouens, volgens deskundiges op die gebied van die geografie, was Nob net noord van die Olyfberg, sodat hulle net ’n paar kilometer van Jerusalem en talle ander dorpe af was. As jy die verslag lees, sal jy sien dat dit die gevolgtrekking regverdig dat Dawid en sy manskappe honger was en kos gesoek het by iemand wat hulle vertrou het. Die Bybel deel ons eweneens mee dat toe Jesus se dissipels op die sabbat “honger geword” het, hulle graan gepluk en geëet het. Hulle moes die vorige dag geëet het, en die dag na die sabbat kon hulle kos in die omliggende dorpe koop (Johannes 4:8; Mattheüs 14:15). As ’n persoon hierdie voorvalle wil gebruik om te toon dat God se wette verbreek kan word, kan hy net sowel sê dat dit in orde is om Jehovah se verbooie te verbreek waar en wanneer mense ook al ‘honger word’. Dit is duidelik nie korrek nie.
Wat beteken Mattheüs 12:1-8 dan? Jesus het die Fariseërs se eng, wettiese beskouing blootgelê. Ons kan dit beter begryp as ons kyk na die doel van die sabbat, en as ons noukeurig ag slaan op Jesus se verduideliking.
Waarom moes Israeliete nie op die sabbat werk nie? Was die doel bloot om werk te verbied? Nee. Dit was sodat sekulêre strewes, soos om vir voedsel en klere te werk, nie al die mense se tyd en aandag in beslag sou neem nie. Die sabbatreëling het ware aanbidding bevorder deur te verseker dat die mense tyd vir aanbidding sou hê sonder dat hulle aandag deur hulle normale werk afgelei word (Exodus 20:8-11; Jesaja 58:13). Jesus het hierdie begrip voorgestaan, eerder as die eng beskouing van die Fariseërs.
Hy het gesê dat selfs priesters wat by die tempel dien daarvan beskuldig kon word dat hulle ‘die sabbat ontheilig’ en aldus die wet verbreek. Hoe? Wel, op die sabbat het die priesters hard gewerk om offerdiere te slag. Was hulle wetsoortreders? Christus het gesê dat daardie priesters “onskuldig” was. Hulle arbeid by die tempel het aanbidding nie verhinder nie, maar dit bevorder. Terwyl Jesus (“wat groter is as die tempel” en die finale offer sou bring) saam met sy dissipels rondgegaan het, het hulle God se Woord verkondig en aldus ware aanbidding bevorder. Hulle het gevolglik nie die sabbat ontheilig deur ’n bietjie graan te pluk om te eet nie. En soos Jesus verduidelik het, sou dit ook nie in stryd met die gees van die sabbatwet wees om ‘’n lewe te red’ deur ’n skaap uit ’n sloot te haal nie, selfs al was dit ’n dag vir aanbidding.—Mattheüs 12:5, 11; Lukas 6:9.
Dit was tegnies ook nie ‘vir Dawid geoorloof om die toonbrood te eet’ nie, want die Wet het gesê dat dit die priesters toegekom het. Jehovah se hoëpriester het dit nogtans aan Dawid gegee. Op watter grondslag? Die brode wat van die toonbroodtafel verwyder was, was “heilig” en moes nie as alledaags bejeën word nie. Dit moes byvoorbeeld nie aan ’n gewone arbeider gegee word of tydens ’n uitstappie geëet word nie. Dit moes dien as voedsel vir die priesters, manne in God se diens. Toe Dawid daar aangedoen het, oënskynlik op ’n spesiale sending van God se gesalfde koning, en die hoëpriester vasgestel het dat die manskappe seremonieel rein was, was dit dus nie verkeerd om die toonbrood aan hulle te gee nie. Dit het gestrook met die basiese gebruik wat God daarvoor bepaal het.
Vergelyk dit met die voorval toe Israelitiese soldate in Saul se leër God se wet oor bloed oortree het, soos verhaal in 1 Samuel 14:32-35. Hulle het pas tevore die Filistyne, vyande van Jehovah se volk, verslaan. Moeg en honger na die stryd het party Israeliete diere geslag en die vleis “met bloed en al geëet”. Ongeag of daar beweer word dat dit gedoen is om ’n groot honger te stil of dat dit ’n noodsituasie was, die verbreking van die wet oor bloed kon nie verskoon word nie. Dit was ‘sonde teen Jehovah’ en dit het spesiale offerandes geverg ten behoewe van diegene wat ‘hulle teen Jehovah besondig het deur met bloed en al te eet’.
Dit was sonde, want toe God die wet oor bloed gegee het, het hy gesê dat hoewel mense dierevleis kon eet om aan die lewe te bly, hulle nie hulle lewens moes onderhou deur bloed in te neem nie (Genesis 9:3, 4). Hy het nie gesê dat daardie wet maar verbreek kon word indien dit gelyk het of ‘lewe op die spel was’ nie. Die Skepper het bepaal dat bloed heilig is. Lewens moes nie met bloed gered word deur dit op enige manier in die liggaam in te neem nie. Maar omdat Christus sy bloed as offerande gebring het, is die ewige lewe moontlik gemaak.—Efesiërs 1:7.
Die verslag oor die vroeë Christene wat deur Romeinse owerhede op die proef gestel is, strook hiermee en lig toe dat ons nie moet dink dat God se wet in gevalle van ‘lewe of dood’ verbreek kan word nie. Die toets was soms: eet bloedwors of sterf in die arena. Sou die Christene God se wet oor bloed oortree en hulle naam by hom loën? Of sou hulle God se gebod teen afgodediens verbreek wanneer daar druk op hulle uitgeoefen is om ’n knippie wierook tot eer van die godheid van die keiser te brand? Die geskiedenis toon dat getroue Christene geweier het om God se gebooie te verbreek selfs wanneer hulle huidige lewe op die spel was. Al het hulle hulle lewens verloor omdat hulle Jehovah se wet gehoorsaam het, was hulle verseker van die ewige lewe.—Mattheüs 16:25, 26.
Die Skrif onderskryf gevolglik nie die beskouing dat God se gebooie in ’n moeilike situasie verbreek kan word nie. Ons word eerder meegedeel: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.”—1 Johannes 5:2.
♦ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees”?
Party beweer dat hierdie woorde in Mattheüs 6:22 ’n gesondheids- of mediese betekenis het, asof die oog die vernaamste manier is om die teenwoordigheid van kwale of swakhede in die liggaam vas te stel. Maar dit strook nie met die verband nie. Jesus het mense pas tevore gewaarsku om nie ‘skatte op die aarde bymekaar te maak’ nie. En na hierdie woorde oor die “oog” het hy mense aangespoor om eerder God as rykdom te dien.—Mattheüs 6:19-24.
Jesus se gedagte was klaarblyklik dat sy dissipels hulle oog “reg” moet hou, dit wil sê, opreg op net een ding gevestig hou en nie moet toelaat dat iets anders, soos rykdom, hulle aandag aftrek nie. ’n Christen wat hom daarop toespits om God se wil te doen, is “verlig” want hy weerkaats lig na ander, en dit strek tot God se eer.