Vrae van lesers
♦ Genesis 19:24 sê dat ‘die Here’ swael en vuur ‘van die Here’ op Sodom laat neerreën het. Dui dit aan dat God ’n drie-eenheid is?
Voorstanders van die Drie-eenheidsleer het probeer om steun vir hulle leerstelling te vind in die verhaal van Abraham en Lot. Maar ’n noukeurige, eerlike ondersoek toon dat dit, net soos die res van die Bybel, nie die Drie-eenheid leer nie.
Abraham het ’n besoek van “drie manne” ontvang wat klaarblyklik van God gekom het. Toe Abraham hulle groet, het hy gesê: “[Jehovah], as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie” (Genesis 18:1-3, NW). Jehovah God self het natuurlik nie in die vlees aan Abraham verskyn nie, want ‘geen mens kan Hom sien en bly lewe nie’ (Exodus 33:20; Johannes 1:18). Abraham moes dus daardie woorde gebruik het omdat hy besef het dat hierdie “manne” en moontlik een van hulle in die besonder, Jehovah verteenwoordig het. Dit stem ooreen met ander gevalle waar engele van God aan mense verskyn het en as “Jehovah” aangespreek is omdat hulle hemelse verteenwoordigers van die Allerhoogste was.—Vergelyk Genesis 16:7-13; Rigters 6:12-16, vgl. NW.
Nadat die “drie manne” daardie belangrike boodskap oor die voorspelde “saad” oorgedra het, is die aandag op Sodom en Gomorra gevestig. As ons Genesis 18:22 met 19:1 vergelyk, sien ons dat die “manne” wat Abraham besoek het, engele was. Terwyl die een wat Jehovah verteenwoordig het by Abraham gebly het, is die ander twee hemelse boodskappers na Sodom. Daar, uit die mond van twee getuies, het hulle Lot en sy gesin verseker dat die stede vernietig sou word en dat hulle moes vlug. Toe Lot en sy twee dogters veilig was, is die goddelose stede vernietig. Ons lees: “En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel.”—Genesis 19:24.
Party kommentators wat aan die Drie-eenheid glo, het beweer dat dit beteken dat die Here Jesus, die Seun van God, vernietiging van die Here God, die Vader, af laat neerreën het. Maar die Hebreeuse teks toon dat albei gevalle betrekking het op “Jehovah” (’n naam wat in die Afrikaanse Bybel deur die titel “HERE” vervang is). Jehovah is die God van Abraham, Isak en Jakob en verskil van Jesus.—Exodus 6:2, 3, NW; Handelinge 3:13.
Dit strook met die Hebreeuse idioom om te sê dat ’n persoon iets ten opsigte van homself doen. Ons lees: “Daarna het Salomo die oudstes . . . by koning Salomo in Jerusalem byeen laat kom.” “Daarna het [Jehovah] vir Moses gesê: Klim na [Jehovah] toe op . . .” “[Jehovah] het vir hom gesê: . . . Ek [sal] . . . hulle verlos deur [Jehovah]” (1 Konings 8:1; Exodus 24:1; Hosea 1:6, 7; Sagaria 10:12). Net so deel Genesis 19:24 ons mee dat Jehovah die ongekende swael en vuur van homself, “van die HERE uit die hemel” laat neerreën het. ln plaas daarvan dat hierdie vers ’n geforseerde steun vir die onskriftuurlike Drie-eenheidsleerstelling is, onderstreep dit die gedagte wat in Psalm 83:19 gestel word: “Sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.”—Vgl. “King James Version.”
Ons kan net terloops meld dat nog ’n aspek van hierdie verhaal deur vurige voorstanders van die Drie-eenheid gebruik word in ’n poging om hulle leerstelling te staaf. Hulle beklemtoon die feit dat drie manne wat God verteenwoordig het aan Abraham verskyn het, en daarom meen hulle dat dit op ’n drie-eenheid sinspeel.
Die feit dat daar drie engele was, is nouliks ’n geldige aanduiding van ’n drie-enige godheid, want niks in hierdie verslag praat van ’n veelvoudige Godheid nie. Duitse geleerde Frans Delitzsch het gesê dat “die gedagte dat die Drie-eenheid deur die drie afgebeeld word, in elke opsig onhoudbaar is”.
Waarom het God dan drie hemelse skepsele gestuur om hom te verteenwoordig? Die engele het Abraham kom meedeel dat hy en Sara ’n seun sou hê (Genesis 18:10). God het klaarblyklik gemeen dat dit gepas is dat hierdie profetiese boodskap deur drie getuies oorgedra word, net soos die Wet dan ook later gesê het: “Op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ’n saak van krag wees” of bevestig word (Deuteronomium 19:15; 1 Timotheüs 5:19). Abraham sou rede hê om te twyfel dat hy en Sara, weens hulle ouderdom en fisiese toestand, ’n seun kon hê (Hebreërs 11:11, 12). Maar die getuienis van drie engele sou beslis oortuigend wees.