Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 8/1 bl. 3-5
  • Die lang reeks menseregerings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lang reeks menseregerings
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sal die geskiedenis hom herhaal?
  • Wat kan die verlede ons leer?
    Ontwaak!—2001
  • Is menseregering opgewasse teen die taak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Regering
    Redenering uit die Skrif
  • Deel 10—Oplaas ’n volmaakte regering!
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 8/1 bl. 3-5

Die lang reeks menseregerings

Mense het hulle almal op die proef gestel; nie een het geslaag nie. Watter hoop is daar nog op regverdige regering?

MONARGIEË, keiserryke, demokrasieë, republieke, dlktatorskappe en sosialistiese regerings—alle vorms van menseheerskappy is al herhaalde kere gedurende die afgelope 6 000 jaar op die proef gestel. Almal misluk op die ou end, al word elke nuwe een begroet as die een wat gaan slaag.

Huidige pogings tot menseheerskappy is geen uitsondering nie. Hulle het geen nuwe weë gebaan en geen groot sukses behaal nie. Dit is maar dieselfde regeringstelsels wat op dieselfde wyse misluk het. Die werketiek is besig om te verdwyn, sedes verval en ou waardes maak plek vir egoïstiese filosofieë. Armoede en honger, ongelykheid en spesiale voorregte, verdrukking en verdorwenheid, misdadigheid en terrorisme, magtige nasies wat swakkeres oorheers, wapenwedlope en hebsugtige oorloë—al hierdie euwels is die produkte van hedendaagse menseregerings. As daar een ding is wat hierdie geslag van voriges onderskei, is dit die vooruitgang op die gebied van wetenskaplike kennis, maar dit is misbruik tot die verderf van die nywerheid en vir die vervaardiging van verskriklike oorlogswapens.

Na 6 000 jaar van menslike eksperimentering met allerhande regerings kan daar ook op hierdie terrein gesê word: “Daar is glad niks nuuts onder die son nie” (Prediker 1:9). Ook die oorsake van menseregerings se mislukking is nie nuut nie. Jehovah se woorde deur sy profeet Jeremia is nog steeds waar, naamlik dat dit ‘nie aan ’n man toebehoort om te loop en sy voetstappe te rig nie’ (Jeremia 10:23). Benewens menslike onvolmaaktheid lê “die hele wêreld in die mag van die Bose”. “Die god van hierdie wêreld” het miljoene se “sinne verblind”. Sataniese invloede manipuleer “die konings van die aarde”.—2 Korinthiërs 4:4; 1 Johannes 5:19; Openbaring 16:14.

As ons na die reeks menseregerings kyk. na hulle opkoms en later na hulle agteruitgang en ondergang, lyk dit of almal ’n patroon volg. Dit het geleerdes laat sê dat die geskiedenis hom herhaal. Wêreldmoondhede bereik hulle toppunt deur doelgerigte toewyding en opoffering. Maar nadat hulle hulle ingegrawe het, verslap hulle geleidelik en verval hulle eindelik tot materialistiese onmatigheid en vleeslike onsedelikheid. Wanneer dit eers gebeur het, is die ineenstorting nie ver weg nie.

Geskiedskrywer Will Durant het hierdie patroon van interne verval erken en gesê: “Ons het probeer aantoon dat die wesenlike oorsaak van die Romeinse verowering van Griekeland die verbrokkeling van die Griekse beskawing van binne was. Geen groot nasie word ooit verower voordat dit ditself vernietig het nie” (Deel II van The Story of Civilization, bl. 659). The World Book Encyclopedia (uitgawe van 1978) vestig die aandag op een voorloper van ineenstorting wat vir ons geslag groot rede tot kommer behoort te wees: “Die gesin is die oudste instelling van die mens. In baie opsigte is dit die belangrikste instelling. Dit is die samelewing se mees basiese eenheid. Hele beskawings het, afhangende van die krag of die swakheid van die gesinslewe, bly bestaan of ten gronde gegaan.”—DI. 7, bl. 24.

Sal die geskiedenis hom herhaal?

Geskiedskrywer Arnold J. Toynbee het die volgende gesê van die neiging van die geskiedenis om hom te herhaal: “’n Opmeting van die geskiedkundige landskap in die lig van ons huidige kennis toon dat die geskiedenis hom tot op datum nagenoeg twintig keer herhaal het toe dit samelewings voortgebring het van die soort waaraan ons Westerse samelewing behoort. En dit toon ook dat, met die moontlike uitsondering van ons eie, al hierdie lede van die same-lewingspesie genaamd beskawings reeds dood of sterwend is. Wanneer ons boonop die geskiedenisse van hierdie dooie of sterwende beskawings noukeurig bestudeer en met mekaar vergelyk, vind ons aanduidings van iets wat na ’n repeterende patroon in hulle verbrokkeling, agteruitgang en val lyk. Ons vra ons natuurlik vandag self af of hierdie bepaalde hoofstuk in die geskiedenis dit in ons geval gaan herhaal. Lê daardie patroon van agteruitgang en val vir ons voor, as ’n lot waaraan geen beskawing kan hoop om te ontkom nie?”

Hy beantwoord dan sy eie vraag: “Die skrywer is van mening dat die antwoord op hierdie vraag nadruklik Nee is. . . . Niks verhoed ons Westerse beskawing om, indien dit wil, die geskiedkundige presedent te volg deur maatskaplike selfmoord te pleeg nie. Maar die geskiedenis hoef homself nie te herhaal nie; dit berus by ons om die geskiedenis, deur ons eie pogings, in ons geval ’n nuwe en ongehoorde wending te laat neem. . . . Wat moet ons doen om gered te word? Op politieke gebied moet ons ’n konstitusionele saamwerkende stelsel van wêreldregering tot stand bring. Op ekonomiese gebied moet ons effektiewe vergelyke (wat wissel volgens die praktiese vereistes van verskillende plekke en tye) tussen die vrye onderneming en sosialisme vind. Op die gebied van die geestelike lewe moet ons die sekulêre bowerk weer op ’n godsdienstige fondament plaas. . . . Van die drie take is die godsdienstige natuurlik op die lange duur verreweg die belangrikste.”—Civilization on Trial (1948) ble. 38-40.

Hy is tipies van diegene wat vas glo dat ons beskawing anders kan wees en die herhaling van die geskiedenis van menseregerings kan vryspring. Hy het voormelde woorde 34 jaar gelede geskryf en sy hoop polities op die Verenigde Volke gevestig, ekonomies op ’n vergelyk tussen kapitalisme en Kommunisme, en, van die grootste belang, op ’n terugkeer na godsdiens as die grondslag van ons beskawing. Vandag sien ons mislukking op al drie fronte. Die Verenigde Volke is ondoeltreffend, die kanse op ’n vergelyk tussen kapitalisme en Kommunisme is skraler as ooit, en godsdiens is swakker as ooit.

Dit lyk asof die geskiedenis op die punt staan om hom weer te herhaal. Maar sal dit?

Daar is ’n ander geskiedskrywer wat hom oor menseregering uitgelaat het. Hy het in werklikheid die geskiedenis daarvan vooruit beskryf. Hy het ook vooraf geskryf oor ’n regverdige heerskappy vir die aarde. Die volgende artikel bespreek wat hy oor regering gesê het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel