Bied tydskrifte by elke geleentheid aan
1 Die Wagtoring verdedig al meer as honderd jaar lank die saak van Koninkrykswaarheid. Dit gebruik God se Woord doeltreffend as ’n swaard om onjuisthede oop te kloof en valse godsdiensleerstellinge aan die kaak te stel. Sy medetydskrif Ontwaak! verdedig ook die saak van die waarheid. Dit sal dalk regskape mense se belangstelling in die skriftuurlike materiaal wek wat in ander publikasies van die Genootskap gevind word. Wat kan ons doen om hierdie tydskrifte in die hande van meer mense te kry?
2 Die eerste stap is om die inhoud van die tydskrifte te ken. Dit beteken dat ons hulle lees sodra ons hulle ontvang het en dan met ander in die gemeente oor die artikels praat. Dit sal ons help om die tydskrifte ywerig by ander aan te bied en om ’n positiewe gesindheid oor hulle waarde te behou.
3 Die volgende stap is om elke week tyd opsy te sit om die tydskrifte by ander aan te bied. Maak dit ’n deel van jou gereelde rooster van bedrywigheid. Is jy wakker vir ander geleenthede om tydskrifte te versprei?
PRAAT MET MENSE
4 Terwyl jy van huis tot huis tydskrifwerk doen, vind jy dalk dat talle mense nie tuis is nie. Maar jy kan met mense praat waar jy hulle ook al vind. Nader mense wanneer hulle in die straat loop. Praat met diegene wat in motors sit, in die tuin werk, op openbare vervoer wag en so meer. Vestig hulle aandag op ’n spesifieke artikel en ’n interessante gedagte. Gebruik die uitstekende foto’s en illustrasies om hulle belangstelling te prikkel. Wees hartlik, vriendelik en positief wanneer jy met mense praat en wees opreg wanneer jy spesifieke gedagtes vir hulle wys wat jy in die tydskrifte gesien het toe jy dit gelees het.
ANDER GELEENTHEDE
5 Hierdie wenke kan ook nuttig wees wanneer jy in sakegebied werk. Benut geleenthede wanneer die sakemense nie met klante besig is nie. Talle verkondigers vind dit makliker om tydskrifte in sakegebied te versprei as in die gereelde werk van huis tot huis.
6 Het jy probeer om ’n tydskrifroete te begin? Wanneer jy tydskrifte by huise of by sakeondernemings laat, moet jy vir mense sê dat jy graag oor twee weke met die volgende nommers sal wil terugkeer. Jy sal dalk verbaas wees om te vind hoeveel mense van hierdie reëling vir persoonlike aflewering van hulle tydskrifte sal hou. Onthou ook dat jy ’n herbesoek kan rapporteer elke keer wanneer jy teruggaan en met die persoon praat of lektuur by daardie persoon laat.
7 Jy kan ander geleenthede soek om tydskrifte aan te bied, soos aandgetuieniswerk, gesprekke met familielede, herbesoeke of wanneer jy reis of inkopies doen. As jy al hierdie wenke toepas, kan dit dalk die middele wees waardeur baie mense gehelp word om gereelde lesers van ons Bybelpublikasies en uiteindelik lowers van Jehovah te word.