Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 10/15 bl. 4-7
  • Kan die dood oorwin word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die dood oorwin word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JESUS SE BESOEK AAN NAIN
  • ’N VERBASENDE WONDERWERK
  • DIE BELOOFDE WONDERDOENER?
  • Jesus verdryf ’n weduwee se verdriet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Jesus verdryf ’n weduwee se verdriet
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Jesus wek ’n weduwee se seun op
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die Messias het profesieë vervul
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 10/15 bl. 4-7

KAN DIE DOOD OORWIN WORD?

HET jy al ooit nagedink oor die uitwerking wat Jesus Christus op mensegeskiedenis gehad het? Die kalender wat die meeste mense in die Westerse wêreld gebruik, is gebaseer op die jaar wat mense meen hy gebore is. The World Book Encyclopedia sê: “Jaartalle voor daardie jaar word aangegee as v.C., of voor Christus. Jaartalle na daardie jaar word aangegee as n.C., of na Christus”

Waarom is Jesus so beroemd? Een rede is die verbasende wonderwerke wat hy in die distrik van Galilea verrig het. Hierdie gebied lê in die noordelike deel van die hedendaagse Republiek van Israel. Van hierdie gebied het die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus geskryf: Die “grond is oral ryk en vrugbaar, en vol plantasies van allerhande soorte bome . . . Daarbenewens lê die stede hier baie na aan mekaar.” Trouens, hy het beweer dat “daar tweehonderd-en-veertig stede en dorpe in Galilea is”.a

Dit was in en naby hierdie talle stede en dorpe dat Jesus Christus gepreek en sy verbasende wonderwerke gedoen het. Alhoewel die Bybelverslag slegs ’n paar van hierdie stede meld, het Jesus baie van hulle besoek, want die geïnspireerde verslag sê van sy predikingswerk in daardie gebied: “Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.”—Matt. 9:35.

Baie van die Galileërs vir wie Jesus gepreek het, het hom geken, want hy is daar reg tussen hulle grootgemaak—in die dorpie Nasaret, wat in die heuwels sowat 30 kilometer suidwes van die See van Galilea geleë was.

JESUS SE BESOEK AAN NAIN

Dit was in 31 G.J., gedurende die tweede jaar van Jesus se bediening, dat die weduwee se seun in die stad Nain gesterf het. Hierdie stad was slegs agt of nege kilometer suidoos van Nasaret, die dorp waar Jesus gewoon het. Ten tye van die jongman se dood het Jesus in die omgewing van die noordelike kus van die See van Galilea gepreek, waar hy pas tevore sy beroemde Bergpredikasie gehou het.

Die Bybel sê dat Jesus na sy predikasie “in Kapernaum ingegaan” het. Terwyl hy in daardie kusdorp was, het hy die dienskneg van ’n leëroffisier genees. “Die dag daarna was Hy op weg na ’n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en ’n groot menigte het saam met Hom gegaan.”—Luk. 7:1-11.

Hierdie reis in ’n suidwestelike rigting van Kapernaüm na Nain was omtrent 32 kilometer lank, ’n goeie dagreis selfs vir mense wat daaraan gewoond was om te voet te reis. Jesus en sy menigte het die vallei oorgesteek en die poort van hierdie stad genader. Die verslag deel ons mee: “Toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ’n weduwee; en ’n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel.”—Luk. 7:12, 13.

Arthur P. Stanley, wat hierdie plek gedurende die vorige eeu besoek het, het oor hierdie ontmoeting geskryf in sy boek Sinai and Palestine: “Teen die noordelike hang . . . lê die ruïnes van die dorp Nain. . . . Dit kon slegs een poort gehad het, die een wat uitloop op die ruwe heuwelhelling wat na die vlakte afdaal. Dit moes teen hierdie steil helling gewees het dat die draers, wat volgens die Oosterse gewoonte die ‘dooie uitgedra’ het, ‘naby die poort’ van die dorp versoek is om stil te staan. . . . Dit is ’n plek sonder enige opvallende kenmerke om dit by die geheue in te prent; maar as gevolg van die gesag van sy aansprake en die klein gebied waar die roerende voorval hom moes afgespeel het, tel dit onder die interessantste natuurtonele van die Evangelieverslag.”

’n Ander 19de-eeuse besoeker aan hierdie plek, J. W. McGarvey, het in sy boek Lands of the Bible geskryf: “Nain is geleë op ’n lys, met ’n steil helling van sowat [20 meter] wat afloop na die vlakte net noord daarvan. Die pad uit die noorde nader dit deur ’n smal vallei aan die westelike punt, en net ’n entjie verder is daar ’n klompie grafte wat uit klip gekap is. . . . Terwyl Jesus die stadspoort genader het uit die rigting van Kapernaüm waar hy die vorige dag was, was die lykstoet met die seun van die weduwee op pad na die begraafplaas, en het hulle gevolglik ontmoet.”

’N VERBASENDE WONDERWERK

Toe Jesus die wenende skare en die bedroefde vrou teëkom, het hy innig jammer vir haar gevoel. Sy hart is geroer deur haar groot smart. Met teerheid, dog met ’n fermheid wat vertroue inboesem, het hy vir haar gesê: “Moenie ween nie!” Sy houding en optrede het die skare se aandag getrek, sodat ‘die draers gaan staan het toe hy nader gegaan en die baar aangeraak het’. Almal moes gewonder het wat Jesus gaan doen.

Dit is waar dat Jesus meer as ’n jaar tevore in die dorp Kana, ’n paar kilometer na die noorde, by ’n bruilof water in wyn verander het. En dit is ook waar dat Jesus siek persone in ander stede en dorpe nie ver daarvandaan nie wonderdadig genees het, soos party van die rouklaers moontlik gehoor het. Maar wat die geïnspireerde Bybelverslag betref, het Jesus nog nooit iemand uit die dode opgewek nie. Kon hy so iets doen?

Jesus het die lyk aangespreek en beveel: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” En wonder bo wonder! “Die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.”

Hoe merkwaardig! Stel jou voor hoe daardie vrou moes gevoel het. Hoe sou jy gevoel het? Wat sê ’n mens onder sulke omstandighede? ‘Dankie dat u my seun opgewek het’? Woorde is so ontoereikend om dank vir so ’n daad te betuig. Voorwaar ’n wonderwerk!

“En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ’n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judea en in die hele omtrek.” Jesus was klaarblyklik ’n groot profeet van God af.—Luk. 7:13-17.

DIE BELOOFDE WONDERDOENER?

Vyftien eeue tevore het die profeet Moses verbasende wonderwerke met God se krag verrig en selfs die Rooi See verdeel sodat die hele nasie Israel droogvoets kon deurtrek. Maar daar is voorspel dat ’n groter profeet wat wonderwerke sou doen, sou kom. Moses het onder inspirasie van God gesê: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister” (Deut. 18:15). In die eerste eeu was die vraag dus: ‘Is hierdie Jesus van Nasaret die profeet van God wie se koms voorspel is?’

Johannes die Doper het geglo dat Jesus hierdie Een is. Hy het amper twee jaar tevore gesien hoe God se gees op Jesus neergedaal het nadat hy hom in die Jordaanrivier gedoop het (Joh. 1:32-34). Johannes was nou in die gevangenis waar hy omtrent ’n jaar tevore deur Herodes Antipas opgesluit is omdat hy Herodes se owerspelige verhouding met sy broer se vrou aan die kaak gestel het.

Dit was dus daar in die tronk dat ‘die dissipels van Johannes hom van al hierdie dinge berig gebring het’, veral oor die opwekking van die weduwee se seun. Toe Johannes hierdie berig ontvang, het hy “twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”—Luk. 7:18, 19; Matt. 11:2, 3.

Dit was nie asof Johannes daaraan getwyfel het dat Jesus die beloofde profeet is nie. Maar nadat hy hierdie merkwaardige berig oor die opwekking van die weduwee se seun gehoor het, wou hy ’n mondelinge verklaring regstreeks van Jesus oor sy Messiaanse identiteit hê. Johannes het gewonder of daar ’n ander een, as ’t ware ’n opvolger, sou kom wat die res van die dinge sou doen wat daar voorspel is dat God se Messias sou doen.

Die verslag deel ons mee wat gebeur het toe Johannes se twee dissipels Jesus bereik het en Johannes se versoek tot hom gerig het: “In dieselfde uur het [Jesus] baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.”—Luk. 7:20-23.

Hierdie berig moes Johannes beslis bemoedig het. Dit was bewys dat Jesus inderdaad die merkwaardige werke gedoen het wat die profeet wat deur Moses voorspel is, sou kenmerk. Nog nooit tevore het ’n man sulke wonderwerke gedoen nie! Al was Johannes in die tronk, het hy die versekering gehad dat Jesus die een en enigste profeet was wat Moses se voorspelling vervul het.

Dit ly geen twyfel nie. Die dood kan waarlik oorwin word, soos in die geval van die dooie seun van die weduwee van Nain!

[Voetnoot]

a Wars of the Jews, Deel 3, hoofstuk 3, paragraaf 2; Life of Flavius Josephus, paragraaf 45.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel