VRAE van LESERS
• Watter reg het ons om te sê dat God ’n organisasie het of om van God se organisasie te praat aangesien die woord “organisasie” nie in die Bybel voorkom nie, nie eers in die oorspronklike tale nie?
’n Hedendaagse Hebreeuse woord vir “organisasie” is die selfstandige naamwoord ir·gun’. Dit kom van die Hebreeuse werkwoord e·rag’, wat beteken “om in ’n reguit lyn te rangskik”, asook “om te volg”. ’n Organisasie is dienooreenkomstig ’n rangskikking. (Vir ’n voorbeeld hiervan, kan ’n mens kyk wat “Dinge waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg”, hoofstuk 17, paragraaf 28, in die Hebreeuse uitgawe sê.)
Hebreeus het nog ’n woord vir “organisasie”, naamlik histadruth’. Hierdie woord is gebaseer op ’n woord wat in die oorspronklike Hebreeuse Skrifte aangetref word. Die basiese letters in die woord histadruth’ is s en d en r. Met hierdie drie konsonante word die Hebreeuse werkwoord sadar’ gemaak, en dit beteken basies “om te rangskik”, ’n daad wat ’n rangskikking tot gevolg het. Die refleksief van die werkwoord sadar’ dien as grondslag vir die selfstandige naam woord histadruth’, wat “organisasie” beteken.
Hoewel ons nie hierdie woord in die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte aantref nie, vind ons wel die verwante Hebreeuse selfstandige naamwoord seder in Job 10:22. Hierdie selfstandige naamwoord se meervoudsvorm word daar gebruik en s’darim’ gespel. Die English Revised Version gee Job 10:22 soos volg weer: “’n Land van stikdonkerte, soos donkerheid self; ’n land van doodskaduwee, sonder enige orde [s’darim’], en waar die lig soos donkerte is.” (Kyk ook Authorized Version; Young’s Literal Translation.) Die Afrikaanse Bybel se hier: “’n Land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde [lo s’darim’], en dit gee ’n skynsel—soos middernag!” (Ook Rotherham se The Emphasised Bible.) Wanorde, ’n afwesigheid van enige orde, sou hier ’n gebrek aan rangskikking beteken, ’n deurmekaar toestand.
Die Jode gebruik tot vandag toe die woord seder. ’n Seder is deel van die Joodse Misjna. Onder die woord “Misjna” sê M’Clintock en Strong se Cyclopœdia: “Die Misjna word verdeel in ses dele (“. . . , Sedarim, rangskikkings) wat 62 verhandelinge . . . en 514 hoofstukke bevat . . . Laasgenoemde is weer in genommerde seksies verdeel.”
Die woord vir “orde” of “rangskikking” word dus in die oorspronklike Hebreeuse Bybel aangetref. Om die nodigheid vir orde in die Christengemeente te beklemtoon, het die apostel Paulus aan die Christene in Korinthe geskryf: “Want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges. Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan [Hebreeuse vertalings: s’darim’ ’n’khonim’ (1 Kor. 14:33, 40; kyk ook English Revised Version; Authorized Version.) Hierdie apostoliese raad van die eerste eeu geld net soveel vandag vir al die gemeentes van die Christengetuies van Jehovah. Die apostel Paulus het in die alledaagse Grieks van daardie tyd geskryf, en die Griekse woord vir “organisasie” is or·gan’o·sis. Die wortel van hierdie woord is er’gon, ’n woord wat “werk” beteken en wat herhaaldelik in die Christelike Griekse Skrifte aangetref word.
As alles in die lig van die Skrif in ag geneem word, is dit haarklowery om te redeneer dat God geen organisasie het nie omdat die oorspronklike woorde vir “organisasie” in antieke tale nie in die geïnspireerde Hebreeuse en Griekse Skrifte voorkom nie. God toon in alles dat hy die vermoë het om te organiseer. Wat sou gebeur as hy nie sy gehoorsame skepsele georganiseer het nie? ’n Organisasie is ’n liggaam intelligente persone wat saamgebring is en so geplaas is dat hulle vreedsaam en harmonies saam kan werk om ’n gemeenskaplike doel, die doel van die organiseerder, te bereik.
In ooreenstemming hiermee word God herhaaldelik “die HERE [Jehovah] van die leërskare” genoem. ’n Leër is ’n georganiseerde liggaam troepe. Ter stawing van die feit dat God ’n organisasie het, lees ons dus die volgende aansporing wat tot sy organisasie gerig is: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy!” (Ps. 103:20-22). Jehovah het ’n organisasie hemelse geesskepsele gehad nog voordat hy ons aarde geskape en die mens daarop geplaas het.
God maak in verskeie omstandighede van beeldspraak gebruik om na sy organisasie te verwys. Die eerste geval hiervan is in Genesis 3:15, waar God van sy hemelse geestelike organisasie as “die vrou” praat wat gekant is teen “die slang”, ’n figuurlike uitdrukking wat op Satan die Duiwel slaan. (Vergelyk Genesis 3:14; Openbaring 12:9.) Hierdie rebel teen God het hom nageboots en ’n organisasie opgebou wat gekant is teen God se organisasie, God se figuurlike “vrou”.