Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 7/15 bl. 8-11
  • Spanje ‘hoor van Jehovah en sy heerlikheid’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Spanje ‘hoor van Jehovah en sy heerlikheid’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • BESTENDIGE VERMEERDERING IN ’N KATOLIEKE VESTING
  • CHRISTELIKE NEUTRALITEIT WORD GEHANDHAAF
  • GETUIENISWERK IN SKOLE
  • ’N ONTNUGTERDE KATOLIEK VIND DIE WAARHEID
  • DISKO’S EN DWELMMIDDELS IS NIE DIE OPLOSSING NIE
  • “ALTYD OORVLOEDIG IN DIE WERK VAN DIE HERE”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 7/15 bl. 8-11

Spanje ‘hoor van Jehovah en sy heerlikheid’

DIE gewilde beeld van Spanje is dié van sonnige Andalusië in die suide en donkeroog-señoritas met pikswart hare wat dans op die maat van flamenco-musiek wat gemaak word met ghitare en knetterende kastanjette. Maar Spanje is ’n land met fassinerende kontraste. Die ruwe noorde het byvoorbeeld sy groen velde, berge en rotsagtige kuste. Daar maak die taai, geharde mense ’n bestaan uit die grond, die steenkoolmyne, die see of die nywerhede van die Baskiese gebied. En dit is interessant dat jy in die noorde eerder tromme of doedelsakke as ghitare sal hoor.

lets wat natuurlik oral in Spanje aangetref word, is die Rooms-Katolieke geloof. Maar dinge is aan die verander en die Kerk is besig om sy greep op miljoene Spanjaarde te verloor.

’n Nuwe grondwet is in Desember 1978 op grond van die volkstem aangeneem. Dit het onder andere die amptelike bande tussen die Staat en die Katolieke Kerk verbreek. Artikel 16.3 stel dit bondig: “Geen [godsdienstige] belydenis sal staatskarakter hê nie.” Hierdie grondwet waarborg godsdiensvryheid vir almal.

BESTENDIGE VERMEERDERING IN ’N KATOLIEKE VESTING

Watter vordering maak Jehovah se getuies teen hierdie agtergrond in Spanje? Wel, dit is beslis bemoedigend om die hoogtepunt van 31 948 verkondigers van die “goeie nuus” in 1975 te vergelyk met die hoogtepunt van 43 276 in 1980, ’n vermeerdering van meer as 11 000 in net vyf jaar. En hoewel die Getuies in 1975 534 gemeentes in Spanje, Andorra en die Kanariese Eilande gehad het, is daar nou 784.

Die ywer van Jehovah se volk beïndruk steeds baie mense. Een Protestantse skrywer het byvoorbeeld in Página abierta erken:

“Baie mense is verbaas om te hoor dat daar soveel honderde of duisende . . . [Getuies] in hulle stad is. Ek sou sê dat dit nie verbasend is nie, maar eerder logies. Net ’n jaar gelede het hulle al die stede besoek, van huis tot huis gegaan en hulle beroemde boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe verkoop. . . .

“Die volgelinge wat hierdie sekte nou het, is net die logiese vrug van die saaiwerk wat hulle gedoen het.”

Hy het toe van sy medegelowiges gesê: “Dit is hoog tyd dat ons ons geestelike kortsigtigheid verloor en in plaas daarvan om met ons Bybels onder ons arm rond te loop met ’n tas vol Evangelieverslae uit te gaan . . . aangesien ons nie kan verwag dat die Here ons met ’n groot oes moet seën as ons geen saaiwerk gedoen het nie.”

CHRISTELIKE NEUTRALITEIT WORD GEHANDHAAF

As gevolg van sy 40-jarige bondgenootskap met die Franco-bewind het die Katolieke Kerk aansien en geloofwaardigheid in Spanje verloor. Party van die jonger priesters probeer om weg te breek van die tradisionele beeld, met die gevolg dat die geestelikes verdeeld is oor politieke geskille.

Jehovah se Getuies daarenteen bewaar hulself vlekkeloos van politieke betrokkenheid (Joh. 15:19; Jak. 1:27). Getuies is versoek om by stemhokkies diens te doen en het eerbiedig geweier as gevolg van hulle Bybel-opgeleide gewete. Party is gedreig, en ’n Getuie in Logroño is drie dae deur die polisie aangehou omdat sy geweier het om by ’n stemlokaal diens te doen.

Wat die kwessie van militêre diens betref, word jongmanne wat Jehovah se Getuies is en vir krygsdiens geloot is, steeds huis toe gestuur tot nadere kennisgewing. Op die oomblik is daar dus nie een van Jehovah se Getuies in die tronk weens dienspligweiering nie.

GETUIENISWERK IN SKOLE

Party ouers het die inisiatief geneem om met skoolhoofde en onderwysers in aanraking te kom, en dit het ’n goeie getuienis tot gevolg gehad, asook betuigings van waardering vir Wagtoring-publikasies.

In een geval het ’n 11-jarige Getuie-meisie van die Andalusiese provinsie Cádiz die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut saamgeneem skool toe en nege eksemplare onder klasmaats versprei. ’n Onderwyser het die boek deurgekyk en uitgeroep: “Hoe jammer tog dat die Katolieke Kerk nie so ’n goeie boek vir die jongmense uitgee nie!”

’n Ander onderwyser het na die boek se inhoud gekyk en toe vir die jong suster gesê dat sy voor die klas oor ’n Bybelonderwerp moet praat. Sy het haar boek gevat, die hoofstuk “Hoe beskou jy dissipline?” gelees en toe daaroor kommentaar gelewer. Die gevolg was dat sy ’n Bybelstudie begin het met ’n meisie in haar klas, en hierdie meisie en haar moeder het later die Gedenkmaal bygewoon.

’N ONTNUGTERDE KATOLIEK VIND DIE WAARHEID

Nog ’n interessante ondervinding is dié van Gloria, wat in Logroño gebore en in ’n Katolieke gesin grootgemaak is. Sy is op die ouderdom van 19 na ’n klooster, en het in 1952 te Orense met haar novisiaat begin. Na agt jaar in Katolieke sendelingwerk as ’n onderwyseres in Venezuela, is haar vader oorlede en het sy na Spanje teruggekeer om vir haar moeder te sorg. Gloria was nietemin ’n praktiserende Katoliek en het elke oggend sesuur opgestaan om die vroeë Mis by te woon. Twaalf jaar later is haar moeder oorlede en het Gloria na Barcelona verhuis. Intussen het sy nie meer haar godsdienspligte so getrou nagekom nie. Waarom nie? Weens die slegte voorbeeld van party van die priesters met wie sy in aanraking gekom het, veral een wat sy as “baie heilig en verstandig” beskou het maar wat haar met ’n onsedelike voorstel genader het! Sy het dus mettertyd opgehou om kerk toe te gaan.

In 1975 het ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies by haar huis uitgekom en het sy geluister. Sy verduidelik:

“Ons het gesels oor onderwerpe wat my nog altyd gekwel het omdat dit nie regverdig of redelik gelyk het nie—die helse vuur, die vaevuur, Maria-verering, ensovoorts. Hy het my uitgenooi om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon en ek het gegaan . . . Ek was baie beïndruk. Alles wat daar gesê is, het met die Bybel ooreengestem, en dit het my behaag. Ek het voortgegaan om die vergaderinge by te woon en die geleentheid gebruik om die Getuies dop te hou. Na twee maande het ek om ’n Bybelstudie gevra. Ek was seker. Ek het eindelik die waarheid gevind!”

DISKO’S EN DWELMMIDDELS IS NIE DIE OPLOSSING NIE

In Spanje is daar vandag ’n mag der menigte disko’s en “kroeë” waar die versoeking bestaan om onsedelik te wees en dwelmmiddels te gebruik. Maar party is bly om met sulke gebruike te breek en Jehovah te begin aanbid.

Een voorbeeld hiervan is Julián, van Torrenueva, Ciudad Real. In 1971 het hy deel van die hippie-wêreld geword en begin om na ’n disko in ’n ongure buurt van Barcelona te gaan. Dit het gelei tot eksperimente met verskeie dwelmmiddels en uitgeloop op “trips” met LSD. Julian het selfs ’n beeld van die kop van sy “held”, ’n gewilde sanger, op die agterkant van sy baadjie laat borduur. Dit het hom 12 000 pesetas (R132) gekos en hy moes ’n maand lank net van brood, water en varkvet lewe om die rekening te vereffen.

Maar met verloop van tyd het Julian besef dat hy nie ware vriendskap of tevredenheid in die lewe gevind het nie. In April 1974 het hy dus besluit om ’n Katolieke priester te besoek. Hy het terselfdertyd voorbereidings getref om by sy nooi in te trek. Maar daardie week het sy mede-werkers met mekaar gestry of Maria werklik ’n maagd was toe sy Jesus ontvang het. Alhoewel die meerderheid Katolieke was, het hulle nie Maria se maagdelikheid aanvaar nie, behalwe een man wat dit verdedig het. Julian het agterna met hom gepraat en uitgevind dat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer. Julian het dus begin om dit ook te doen.

Dit is onnodig om te sê dat hy nie die priester daardie naweek gaan spreek het of by sy nooi ingetrek het nie. Nadat Julián die Bybel twee weke bestudeer het, het hy sy hippie-klere, onder meer sy duur baadjie, vernietig. Waarom? “Ek moes alle bande met die verlede breek om van nuuts af te begin.”

Kort daarna het Julián na die Pirenese prinsdom Andorra verhuis om van sy voormalige metgeselle af weg te kom. Hy is in Oktober 1974 as ’n toegewyde Getuie van Jehovah gedoop, en het later begin om as ’n gewone pionier te dien. In Junie 1978 is hy ingeroep om by die Bethel in Barcelona, die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Spanje, te kom dien.

“ALTYD OORVLOEDIG IN DIE WERK VAN DIE HERE”

Omdat daar nog baie werk is om te doen, word uitbreiding beplan. Die Bethelgesin in Spanje bestaan nou uit meer as 50 lede. Maar in die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Barcelona is daar geen ruimte vir uitbreiding nie. Vroeg verlede jaar is daar dus ’n mooi kompleks aan die buitewyke van Madrid gevind wat omgeskep kan word in ’n lieflike hoofkwartier vir Jehovah se Getuies in Spanje. Maar sou die Spaanse broers die nodige geld kon voorsien om die gebou te koop? Die reaksie was waarlik oorweldigend. Dit was veral roerend om te sien hoedat susters hulle kosbare ringe, borsspelde en ander juweliersware skenk.—Vergelyk Exodus 35:20-24.

Ja, in Spanje is daar nog steeds baie te doen “in die werk van die Here”, en Jehovah se Getuies is bewus van hierdie voorreg (1 Kor. 15:58). Die boodskap van die waarheid verenig mense van allerhande gelowe en agtergronde—Kataloniërs, Andalusiërs, Galiciërs, Asturiërs, Kastiliane, Sigeuners en Baske—om net ’n paar te noem. Spanjaarde hoor die tyding oor Jehovah se koninkryk, en baie vertel vir ander van sy heerlikheid.—Jes. 66:19.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel