Kan hierdie boek jou help om sukses te behaal?
NIEMAND op aarde kan seker wees hoeveel boeke al deur die mens se geskiedenis heen geskryf is nie. ’n Wyse man het inderdaad eenkeer gesê: “Aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees” (Pred. 12:12). Hoe waar tog!
Maar daar is een boek wat van alle ander verskil. Algemene weergawes daarvan bestaan uit 66 indiwiduele boeke. Dit het 1 189 hoofstukke. En in baie vertalings is daar 31 102 verse.
As jy elke dag net een van hierdie verse sou lees en bepeins, sou dit 85 jaar duur om hierdie boek deur te lees. Dit is langer as die vermoedelike lewensduur vandag. Trouens, die einste boek waarvan ons praat, sê van mense: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet, want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”—Ps. 90:10.
Hierdie boek is die Bybel. En meer as ’n gewone menslike leeftyd is nodig om dit behoorlik te bestudeer.
DIT WORD HOOG AANGESKRYF
Abraham Lincoln, die 16de president van die Verenigde State, het eenkeer gesê: “Myns insiens is die Bybel die beste gawe wat God nog ooit aan die mens gegee het.” Die Bybel word inderdaad deur miljoene hoog aangeskryf. Skrywer Henry van Dyke het byvoorbeeld gesê:
“Die Bybel, wat in die Ooste gebore is en in Oosterse vorm en beeldspraak geklee is, bewandel die weë van die hele wêreld met bekende voete en gaan land na land binne om oral sy aanhangers te vind. Hy het geleer om in honderde tale tot die hart van die mens te spreek. Kinders luister met verwondering en genot na sy verhale, en wyse manne bepeins hulle as gelykenisse van die lewe. Die goddelose en die trotse mense bewe by die aanhoor van sy waarskuwings, maar vir die gewondes en berouvolles het dit ’n moederstem. Dit het deel geword van ons dierbaarste drome; sodat Liefde, Vriendskap, Simpatie, Toewyding, Geheue en Hoop pragtig geklee is in sy mees gekoesterde woorde. Niemand wat hierdie skat sy eie gemaak het, is arm of verlate nie.”
As gevolg van hulle godsdiensopvattings word party persone beweeg om pragtige verklarings oor die Bybel te maak. Dit lyk vir hulle asof dit ‘die regte ding is om te doen’ om iets goeds daaroor te sê. Baie het dit egter hulle erns gemaak om kennis van die Heilige Skrif te verkry. John Quincy Adams het byvoorbeeld gesê: “Dit is nou al baie jare lank my gebruik om een maal elke jaar deur die Bybel te lees.”
Wat sou gebeur as jy die Bybel een maal elke jaar deurlees? Gestel jy het dit nie haastig gedoen nie, maar jouself tyd gegun om te peins. Sou die gehalte van jou lewe verbeter? Jy sou so kon dink as Britse staatsman W. E. Gladstone reg gehad het. Hy het gesê: “Die Bybel het onmiskenbaar ’n Verhewe Oorsprong, en dit verskil hemelsbreed van alle mededingers.”
Jy het dus wesenlik die reg om te vra: Sal breër Bybelkennis my werklik tot voordeel strek? Kan ek verwag dat hierdie boek, wat gewoonlik met die Christelike godsdiens geassosieer word, my sal help om sukses in die lewe te behaal?