HOE HULLE GESINSGELUK GEVIND HET
’N PAAR jaar gelede het twee van Jehovah se Getuies—’n egpaar wat as spesiale pioniers voltyds gepreek het—’n vriendelike Tsjeggiese gesin ontmoet wat in Switserland gewoon het. Die vrou was ’n onderwyseres en haar man was ’n beroemde sportman in die roeisport. Albei is as ateïste grootgemaak, en wanneer God of die Bybel gemeld is, het hulle geglimlag. Na ’n paar besprekings het die pioniers opgehou om hulle te besoek.
Later het “Die Wagtoring” egter ’n artikel bevat oor ’n Swart man wat ’n goue medalje as ’n naelloper by die Olimpiese Spele in Tokio verower het. Die Getuie (wie se man intussen gesterf het) skryf:
“Ek het die Tsjeggiese egpaar onthou, want die man het ’n silwermedalje by dieselfde Olimpiese Spele verower. Hierdie artikel was dus vir my die teken om weer hierdie gesin te besoek. Ons het aanvanklik oor sport gesels en ek het net geluister. Tydens daaropvolgende besoeke het ek herhaaldelik oor die Bybel gesels. Maar ek is gewoonlik taktvol in die rede geval met die opmerking: ‘Verskoon ons, mev.——. U het vergeet dat ons ateïste is.’ Ek het nietemin aangehou om hierdie vriendelike gesin te besoek. Ek het aangevoel dat iets nie pluis is nie. “Ek het eindelik opgemerk dat hulle gesinsprobleme het. Daar was reeds sprake van ’n egskeiding. Ek het dus vir hulle uit die Bybel gewys hoe om sulke probleme op te los. Die egpaar was baie verbaas oor die praktiese raad in die Skrif en het ingestem tot ’n Bybelstudie. Hulle huwelik het algaande verbeter en hulle is by ’n kringbyeenkoms gedoop.”
Deur onderdompeling of waterdoop het hierdie egpaar hulle toewyding aan God gesimboliseer. Met verwysing na die heilsame geestelike verwikkelinge in hulle lewe, het die man gesê:
“Ek kon dit tevore eenvoudig nie verdra om woorde soos ‘heilig’, ‘engel’ en soortgelyke uitdrukkings te hoor nie. Dit het my gegrief. Ek wou ook niks oor vergaderinge hoor nie. Maar alles het verander. Nou behoort my vrye tyd aan God en my gesin. Ons het ook veranderinge in ons vriendekring aangebring. En ek weet nou hoe belangrik Christenvergaderinge is. Ek het ook geleer om die verantwoordelikheid van ’n vader te aanvaar, en ons het nou ’n gelukkige gesinslewe. Ek wil Jehovah God weer eens bedank dat hy ons toegelaat het om te leer bied en dat hy ons die hand gereik het voordat ons na hom gesoek het.”