VRAE van LESERS
• Kan Debora, in die lig van Rigters 4:4, saam met Simson, Gideon en ander beskou word as een van die rigters van Israel?
Die Bybelverslag in Rigters 4:4 lui: “En Debora, ’n profetes, die vrou van Lappidot, het in dié tyd Israel gerig.” Die verslag in Rigters 2:16 het vroeër gesê: “[Dan] verwek die HERE rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers.” Die vernaamste werk van ’n rigter was dus om Israel van hulle vyande te verlos. Dit blyk dus dat die uitdrukking in Rigters 4:4 wat sê dat Debora ‘Israel in die tyd gerig het’, nie beteken dat Debora haar die plek van ’n man wederregtelik toegeëien het en dat sy al die pligte van ’n rigter in Israel nagekom het nie. Anders as in die geval van Samuel, Gideon en ander rigters, was sy nie die rigter van die hele Israel nie en het sy nie as hulle “verlosser” opgetree nie. Trouens, in Nehemia 9:27 word die uitdrukking “verlossers” eerder as “rigters” gebruik.—Vergelyk Rigters 3:9, 15.
Omdat Debora ’n profetes was, het sy vir Barak vertel wat Jehovah se wil in die saak was. Sy is deur Jehovah gebruik om Barak te roep om as rigter te dien sodat die vyand verslaan kon word. Barak was die “verlosser” wat deur Jehovah voorsien is, nie Debora nie, al het Barak versoek dat Debora hom moes vergesel. Dit is dus onwaarskynlik dat Debora al die pligte nagekom het wat gewoonlik verbonde was aan die amp van ’n rigter in Israel, onder meer die vernaamste plig om die stamme in oorlogvoering teen Jehovah se vyande aan te voer.
Hoewel Debora dus tereg as ’n profetes beskryf kan word, is dit slegs in ’n algemene sin dat sy ’n bietjie rigterswerk in Israel gedoen het; sy het nie die volle plek van ’n manlike rigter in Israel ingeneem nie. Rigters 4:5 sê: “En sy het gesit onder die palm van Debora, tussen Rama en Betel, op die gebergte van Efraim: en die kinders van Israel het na haar opgegaan vir regspraak.” Sy kon wel vir die Israeliete Jehovah se oplossing vir moeilike probleme wat opgeduik het, vertel, want Jehovah se gees het op haar gerus.
In teenstelling hiermee was dit beslis Barak wat die Israeliete verlos het. Die redelike gevolgtrekking is dat Barak ’n rigter in die volle sin van die woord was, en dit stem ooreen met Hebreërs 11:32, waar hy onder die rigters van eertydse Israel gereken word. Debora word dus nie ingesluit in die lys rigters van Israel op bladsy 980 van die boek Aid to Bible Understanding nie.
• Is die versuim van Christelike vergaderinge op sigself ’n onvergeeflike sonde, aangesien die apostel Paulus in Hebreërs 10:24-29 van hierdie sonde praat onmiddellik nadat hy die belangrikheid van vergaderinge bespreek het?
Versuim om ag te slaan op die bevel om Christelike vergaderinge by te woon, is ernstig en kan vir ’n kneg van Jehovah rampspoedige gevolge hê. Maar die onvergeeflike sonde behels meer.
As ’n mens die hele tiende hoofstuk van Hebreërs lees, sal dit jou help om die saak te verstaan. Die apostel wys eerstens daarop dat offerandes onder die Wet geen vergifnis vir sondes bewerkstellig het nie, maar ’n skadu was van goeie dinge wat sou kom, onder meer die offerande van Jesus Christus. Jehovah het Jesus Christus voorsien as die volmaakte offerande om sonde weg te neem. Dit is ’n spesifieke voorsiening van die “nuwe verbond”. Die apostel spoor ons aan om “die belydenis van die hoop onwankelbaar vas [te] hou” (Hebr. 10:23). Hoe kan dit gedoen word? Hy wys op die noodsaaklikheid daarvan om gereeld met ander te vergader om tot goeie werke aan te spoor en nie te verval in die gewoonte van party om Christelike vergaderinge te versmaai nie. Ons moet eerder sulke vergaderinge bywoon “des te meer namate julle die dag sien nader kom”.—V. 25.
Dit is in hierdie verband dat die apostel voorts sê: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag . . . het?”—Hebr. 10:26-29.
Die voegwoord “want” waarmee vers 26 begin, is dus nie ’n verbinding met die aansporing om Christelike vergaderinge by te woon nie, maar hou verband met alles wat vroeër gesê is. ’n Mens moet God se weg van redding deur Christus aanvaar en voortgaan om hierdie voorsiening te waardeer terwyl jy in gedagte hou dat die bywoning van vergaderinge een van die maniere is wat Jehovah voorsien het om ons sterk in die geloof en met goeie werke besig te hou. Dat dit die geval is, word verder bevestig deur wat die apostel in vers 29 sê, waar hy toon wat die straf is vir iemand wat “die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag” het.
Ons moet dus nie Hebreërs 10:24, 25 uit sy verband bespreek en te kenne gee dat die gewoonte om vergaderinge gereeld te versuim op sigself die ding is waaroor die apostel praat wanneer hy diegene bespreek wat die onvergeeflike sonde pleeg nie. Wanneer ’n persoon natuurlik “die gewoonte” het om vergaderinge te versuim, werk hy sy eie geestelike belange teë en verkeer hy in ernstige gevaar om swak te word in die geloof en onbedrywig te word in Christelike werke. Dit kan weer daartoe lei dat ’n persoon Jesus Christus se losprysoffer loën of nie ernstig opneem nie en aldus die ewige lewe verbeur.
Die sonde in Hebreërs 10:26-29 slaan nie op een waaroor die sondaar in opregte smart berou kan hê en God deur Christus om goddelike genade kan smeek nie. Die sondaar het inderdaad die Seun van God as sy redder verwerp en sy offerande beskou as iets wat geen koopwaarde het nie.—Vergelyk Hebreërs 6:4-6.
So ’n persoon sondig teen juiste kennis en die werking van God se heilige gees, en daar bestaan geen moontlikheid dat hy berouvol kan wees en God se voorsiening vir redding deur Christus kan benut nie. God het geen ander manier beskikbaar gestel waarop so ’n moedswillige sondaar gered kan word nie.
• Het Paulus in 1 Korinthiërs 2:9 uit ’n apokriewe boek aangehaal?
Nee, daar bestaan geen rede om dit te glo nie.
Hierdie teks lui: “Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Dit wil voorkom of Paulus uit Jesaja 64:4 aangehaal het. Maar sy woorde kom nie presies ooreen met die in Jesaja 64:4 in die Hebreeuse teks of die Griekse Septuaginta nie. Party kommentators meen dus dat Paulus uit apokriewe boeke (wat nie deel van die Bybel se kanon is nie), naamlik “Die openbaring van Elias” en “Die hemelvaart en gesig van Jesaja”, aangehaal het, want albei bevat dieselfde verklaring as wat in 1 Korinthiërs 2:9 aangetref word. Verskeie argumente kan egter hierteen ingebring word.
Nie een van die skrywers van die Christelike Griekse Skrifte (Nuwe Testament) het ooit uit sulke werke aangehaal en gesê “Soos geskrywe is” nie. Daarbenewens kan daar nie vasgestel word wanneer hierdie twee apokriewe boeke geskryf is nie. Selfs al is hulle heel vroeg geskryf, kon Paulus se woorde later bygelas gewees het, net soos ander apokriewe werke later gedokter is.