Gerubs in Israel se aanbidding—Waarom nie afgodediens nie?
DIE Tien Gebooie is vir Israel gegee teen ’n ontsagwekkende agtergrond van God se krag en heerlikheid toe God “in ’n vuur daarop [die berg Sinai] neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe”. By daardie geleentheid het God gesê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God.” Soos Moses verduidelik het, het die ware God met sulke heerlikheid gekom “dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie”—Ex. 19:18; 20:4, 5, 20.
Omdat hierdie wet teen afgodediens so sterk vir hulle beklemtoon is, kan party vra waarom Israel dan ook beveel is om twee goue gerubs te maak wat bo-op die deksel van die verbondsark binne-in die Allerheiligste van die tabernakel aangebring moes word. Daarbenewens is die hele raamwerk van die gebou met linnedoeke bedek waarop die binnekant met kleurryke figure van gerubs geborduur is.—Ex. 25:18; 26:1.
Toe hierdie tabernakel later deur Salomo se tempel vervang is, het hy “aan al die mure van [die tempel] rondom . . . figure van gerubs . . . laat uitsny” en “het hy in die binneste vertrek [die Allerheiligste] twee gerubs gemaak van oliewenhout, tien el hoog”. Die deure van die tempel en die kante van die koperwaentjies wat in die tempel gebruik is, was ook met gerubs en ander figure versier.—1 Kon. 6:29, 32, 23; 7:27-29.
Het die maak van gerubs en ander gesnede beelde vir die tempel nie op afgodediens neergekom nie?
Nie alle beelde is afgode nie
’n Afgod is ’n beeld, ’n voorstelling van enigiets of ’n simbool wat vereer word, hetsy stoflik of denkbeeldig. Afgodediens met die gebruik van beelde en simbole kom algemeen voor. Selfs in die 10-stammeryk van Israel is twee goue kalwers vir afgodiese aanbidding opgerig, en tydens die bewind van een van die latere konings is Baälaanbidding ingevoer, en is ’n altaar en ’n heilige boomstam opgerig.—1 Kon. 12:28; 16:29, 31-33.
God se verbod op beelde het egter nie die maak van alle voorstellings en standbeelde uitgeskakel nie. Soos reeds gemeld, is figure van gerubs gebruik om die tabernakel in die woestyn en Salomo se tempel in Jerusalem te versier. Volgens antieke Joodse tradisie het hierdie gerubs ’n menslike vorm gehad. Hulle het engeleskepsele voorgestel. Die op die deksel van die verbondsark is beskryf as “gerubs van die heerlikheid” (Hebr. 9:5). Hulle is tot in die fynste besonderhede gemaak “volgens . . . die voorbeeld” wat Moses van Jehovah ontvang het.—Ex. 25:9.
Hierdie gerubs het die koninklike teenwoordigheid van Jehovah aangedui, en Hy het gesê: “Daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gerubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê” (Ex. 25:22). Daar kon dus gesê word dat Jehovah, op ’n verteenwoordigende wyse, “op die gerubs troon” (1 Sam. 4:4; 2 Kon. 19:15). Jehovah het dit aldus by die dienende hoëpriester van die nasie, wat alleen toegelaat is om die Allerheiligste een keer per jaar binne te gaan, ingeskerp dat Hy as God die Heerser in Israel was.—Hebr. 9:7; Jes. 33:22.
Die ander voorstellings van gerubs, in die tabernakel en die binnekant van die tempel, is ook deur die dienende onderpriesters gesien. Hulle is dus ook diep deur Jehovah se heilige teenwoordigheid beïndruk.
Soos ons gesien het, was hierdie voorstellings van gerubs nie die versinsel van mense nie. Jehovah self het beveel dat hulle in die tempel aangebring word om die priesterdom ten volle van sy teenwoordigheid bewus te maak. Hulle kon ook nie deur die volk aanbid word nie, want die volk oor die algemeen het nie die gerubs gesien nie en het dus geen aanleiding gehad om hulle te aanbid nie (Num. 4:4-6, 17-20). In plaas daarvan om afgodediens te bevorder het hierdie voorstellings van gerubs Israel se priesterdom voortdurend herinner aan hulle verhouding met die Allerhoogste, die heersende Koning in Israel, die Een wat uitsluitlike toewyding geverg het.—Deut. 6:13-15.
Die mens se eerste ontmoeting met ware gerubs het buitekant die tuin van Eden plaasgevind nadat Adam en Eva gesondig het en Jehovah God hulle uit die tuin verdryf het en “gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon [het], met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak”. Die mens het God se posisie as Soewereine Heerser uitgedaag, en as verdedigers van die troon van Jehovah het die gerubs die weg tot ’n intieme verhouding met Jehovah in die aardse paradys versper.—Gen. 3:23, 24.
Maar die gerubs wat later die versoendeksel van die Ark oorskadu het, het getoon dat Jehovah weer in die midde van sy volk Israel was. God het op die gerubs getroon, wat aangedui het dat hy die weg tot ’n behoorlike verhouding met hom geopen het.
Die priesters in Israel het die grootste verantwoordelikheid gehad om die volk in ’n behoorlike verhouding met Jehovah te hou, “want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek” (Mal. 2:7). Hulle leer moes die “vrees van die HERE”, as die “beginsel van die kennis” en “die beginsel van die wysheid”, insluit (Spr. 1:7; 9:10). Hulle diens in die tabernakel, en later in die tempel, het hulle voortdurend herinner aan die teenwoordigheid van Jehovah en ’n behoorlike vrees vir Jehovah by hulle harte ingeskerp sodat hulle weer hierdie vrees by die volk kon inskerp.
Wat het egter in die profeet Esegiël se dae gebeur? Helaas, onder die leiding van hulle oudstes het die volk van die land Jehovah se teenwoordigheid die rug toegekeer. In ’n gesig is Esegiël na die voorhof van die tempel gebring om te sien hoedat 70 manne van die oudstes van die huis van Israel afgodediens in een van die binnevertrekke van die tempel bedryf. Hulle het gesê: “Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat” (Eseg. 8:9-12). Dit het reg in die tempel gebeur sonder dat die priesters dit probeer verhoed het. As gevolg van hierdie afgodediens het God Jerusalem en sy tempel, tesame met sy gerubynse versierings, in die jaar 607 v.G.J. vernietig. Die vernietiging was nie die gevolg van afgodediens in verband met die gerubynse versiersels nie, maar omdat Israel juis vergeet het van dit waaraan die gerubs hulle moes herinner, naamlik die teenwoordigheid van Jehovah as die God wat uitsluitlike toewyding verg.
As Christene in hierdie tyd moet ons dus ’n vaste greep op ons geloof behou en “die koms van die dag van God verwag en verhaas”. Laat ons in geloof handel soos persone wat die Onsienlike, Jehovah, sien.—Hebr. 11:27; 2 Pet. 3:12.