Dowes hoor die waarheid
’N DAME in Rio de Janeiro het ingeteken op “Die Wagtoring”, maar dit was eintlik haar seun, ’n doofstomme, wat die tydskrifte gelees het. Kort daarna het die jongman begin om Christenvergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon. ’n Getuie wat langs hom gesit het, het die hoofgedagtes van die openbare toespraak vir hom neergeskryf. Die jongman se moeder het egter eerlank begin beswaar maak en daarop aangedring dat hy verskeie kerke besoek. Hy het dit twee maande lank gedoen, maar nie van die atmosfeer gehou nie. Hy het niks verstaan nie en daarbenewens het niemand aandag aan hom geskenk nadat hulle uitgevind het dat hy nie kon praat nie. Hoe het hy tog die belangstelling en hartlikheid wat hy by die Koninkryksaal ondervind het, gemis!
Hy het dus teruggekeer. Hierdie keer het ’n ander Getuie begin om die Bybel saam met hom te bestudeer deur te lees en te skryf, maar dit was nie baie geslaagd nie. ’n Ander Getuie het die plan gekry om stadig te praat sodat die jongman kon liplees. Hoewel dit baie tyd geverg het, het sy waardering toegeneem en het Bybelwaarheid sy hart begin bereik.
Die jongman het sy moeder, broer, bejaarde vader en twee susters na sy Bybelstudie genooi. Een van sy susters het ’n hippie-vriend saamgebring wat ook doofstom was. Toe die jongman se vader sterf, kon hy sy moeder met die Bybel se opstandingshoop troos (Joh. 5:28, 29). Intussen het hy die belangstelling gewek van ’n man wat saam met hom gewerk het en wie se gehoor en spraak gedeeltelik belemmer was. Hulle het gestadig gevorder. Nou is die jongman se moeder, twee susters, die voormalige hippie en sy kollega gedoopte Christene.
Die ywer van hierdie mense was so groot dat daar mettertyd ’n groep gevorm is wat Christenvergaderinge met behulp van vingertaal gehou het, en die gemiddelde bywoning het tot 30 toegeneem. By hierdie vergaderinge word vrae in vingertaal gestel en beantwoord. Omdat hulle bewus is van die opdrag om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig, neem hierdie Christene deel aan die huis-tot-huispredikingswerk van Jehovah se Getuies (Matt. 24:14; 28:19, 20). Hulle vergesel ander Getuies in hierdie werk deur vir die huisbewoners Bybeltekste te wys en Bybellektuur aan te bied. Wanneer ander Koninkryksverkondigers ’n doofstomme ontmoet, gee hulle sy naam en adres vir hierdie groep sodat hierdie Getuies die persoon kan besoek. Sodoende is verskeie doofstommes in staat gestel om die waarheid te “hoor”.