Opsieners—wees goeie voorbeelde vir “die kudde”
“Wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.”—1 Tim. 4:12, NAB.
1. Waarom moet ons verwag dat Christenopsieners ’n goeie voorbeeld sal stel?
DIENS as ’n opsiener in die Christengemeente behels baie. Duisende toegewyde, geestelike manne aan wie hierdie voorreg vandag toevertrou is, besef hierdie feit. Aangesien alle indiwidue in die gemeente Christenbroers en -susters is, weet aangestelde ouere manne dat hulle verantwoordelikheid hulle niks beter as ander aanbidders van Jehovah maak nie (Matt. 23:8-12). Maar in die lig van hulle verantwoordelikhede en die Skriftuurlike vereistes waaraan hulle moet voldoen, word meer van hulle verwag. Dit is net soos Jesus gesê het: “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis” (Luk. 12:48). “Die kudde” word baie beïnvloed deur wat hierdie onderherders sê en doen. Daar word dus verwag dat hierdie manne ’n goeie voorbeeld vir ander sal stel.
2. Op watter bepaalde gebiede het Paulus Timotheüs aangespoor om ’n voorbeeld te word?
2 Die feit dat hulle ’n goeie voorbeeld moet stel, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is een van die regstreekse punte van raad wat in Paulus se eerste brief aan die opsiener Timotheüs gevind word. Paulus het niks as vanselfsprekend aanvaar nie, en hy wou ook nie hê dat Timotheüs dit moes doen nie. Omdat Timotheüs nog ’n jong man was, sou party miskien geneig wees om op hom neer te sien. Dit is ongetwyfeld wat Paulus in gedagte gehad het toe hy geskryf het: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee toe daar profetiese woorde oor jou uitgespreek is en die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het” (1 Tim. 4:12-14, NAB). Ander sou geen gegronde rede hê om op Timotheüs neer te sien indien hy voortgegaan het om ’n voorbeeldige Christelike weg in die lewe te bewandel nie.
3. Wat moet opsieners ondersoek, en waarom?
3 Net soos Timotheüs moet opsieners onder Jehovah se volk vandag hulle eie lewenspatroon ondersoek. Hoewel ons bespreking veral handel oor opsieners, bedieningsknegte en manne wat groter gemeentelike verantwoordelikheid nastreef, moet alle Christene noukeurig ag slaan op wat nodig is om as ’n voorbeeld vir “die kudde” te dien (2 Kor. 13:5). Maar nou vra ons: “Ouere manne, stel julle werklik ’n goeie voorbeeld?” Julle medegelowiges kyk na julle met hierdie woorde van Hebreërs 13:7 in gedagte: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” Ja, ouere manne, julle Christenmetgeselle wil aan Jehovah getrou wees. Om dit te kan doen, het hulle nie alleen Skriftuurlike raad en trooswoorde nodig nie, maar ook julle bemoedigende voorbeeld. Hulle sal julle geloof navolg namate hulle julle gedrag aanskou en sien waartoe dit lei.
4. (a) Hoe beklemtoon 1 Timotheüs 3:1 en Mattheüs 20:26, 27 wat diens as Christenopsieners behels? (b) Wat vereis dit van ’n ouere man om sy verantwoordelikhede na te kom? (c) Vir wie moet die broers volgens 1 Thessalonicense 5:12, 13 agting hê, en hoe moet hulle dit toon?
4 Dit beteken nie dat jy, as ’n aangestelde ouere man, onmisbaar is nie. Glad nie. Maar jy verrig ’n “voortreflike werk” deur jou geestelike broers en susters te dien (1 Tim. 3:1). Jou posisie is nie een van vermeende ‘grootheid’ as gevolg van jou pogings nie (Matt. 20:26, 27). Ja, jy het bykomende voorregte en verantwoordelikhede. Maar om hulle behoorlik na te kom, moet jy Jehovah, Jesus Christus en jou medegelowiges soos ’n slaaf dien (Rom. 12:11; Gal. 5:13; Kol. 3:23, 24). Jy moet inderdaad hard werk, presideer, vermaan en ander dinge vir jou broers en susters in die geloof doen. Hulle besef dat jy ’n aanstelling het; maar dit is die harde werk wat jy doen, tesame met jou voorbeeld, wat hulle beweeg om jou pogings daadwerklik te steun. Sulke agting is behoorlik en in ooreenstemming met die apostel Paulus se woorde: “Ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is [oor julle presideer, NW] en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk.”—1 Thess. 5:12, 13.
’n Goeie voorbeeld “in woord”
5. In watter verskillende omstandighede moet opsieners ’n goeie voorbeeld “in woord” wees, en waarom is dit nodig?
5 Dit ly geen twyfel dat opsieners ’n goeie voorbeeld “in woord” moet stel nie. Dit is beslis iets wat in hulle eie huise die geval moet wees. Dit moet ook duidelik wees wanneer hulle met indiwiduele lede van die gemeente of van die openbare verhoog af praat, asook wanneer hulle van huis tot huis in die gemeenskap getuig. ’n Opsiener se uitlatings kan ander meer beïnvloed as wat hy besef. Sy verklarings moet dus altyd op die beginsels van God se Woord gebaseer wees of daardeur gelei word.
6. Waarom moet ouere manne teen verkeerde gedagtes waak en “goeie dinge praat”?
6 Die hart moet gevul wees met goeie dinge uit God se Woord indien spraak opbouend moet wees. Dan sal die mond “goeie dinge praat” en verklarings maak wat geestelik gepas en opbouend is (Matt. 12:34). ’n Opsiener moet daarteen waak dat verkeerde gedagtes of idees in sy verstand of hart wortelskiet, aangesien dit uiteindelik in sy spraak sal uitkom en vir ander skadelik sal wees. Waar die Bybel toon wat ons moet vermy en watter soort woorde gehoor moet word, vermaan dit: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.”—Ef. 4:29, NAB.
7. Waarom moet Christenopsieners nie hulle persoonlike opinies of idees versprei nie?
7 Om ’n voorbeeld in woord te wees, moet Christelike onderherders nie gaan “bo wat geskrywe is nie” (1 Kor. 4:6). ’n Opsiener moet ‘die woord verkondig’ of dit nou kom by leerstellings, sedes of Christelike organisasie (2 Tim. 4:2). Indien hy met sy persoonlike opinies vorendag kom of idees versprei wat strydig is met die leer wat deur die “getroue en verstandige dienskneg” ontvang is, sal dit verwarring veroorsaak. In plaas daarvan om vermetel vooruit te loop op ’n weg wat tot skande kan lei, kan hy gerus op Jehovah en sy organisasie wag (Spr. 11:2). Daar sal moontlik later ’n verdere verduideliking of opheldering oor die onderwerp wees. Of deur gebed en ywerige studie van God se Woord met behulp van die Wagtoring-publikasies sal die ouere man dalk vind dat hy verkeerd gehad het en bly wees dat hy nie sy verkeerde begrippe versprei het nie.
8. (a) Waarom moet ’n mens nie oor woorde stry of by debatte betrokke raak nie? (2 Tim. 2:14-19) (b) Hoe moet hulp verleen word wanneer ’n persoon ’n vraag stel en geestelike hulp nodig het?
8 Paulus het vir Timotheüs gesê om ander te beveel “dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders”. Die apostel het toe verwys na die nadelige uitwerking van verklarings van manne wat van die waarheid afgedwaal het. ’n Mens kan niks behaal nie en moontlik geestelik veel verloor deur oor woorde te stry of betrokke te raak by debatte met diegene wat die gesonde leer verwerp (2 Tim. 2:14-19; Tit. 1:7-9). Dit beteken nie dat ’n persoon nie opreg ’n vraag kan stel oor ’n saak wat hy nie verstaan nie. Indien daar egter op die een of ander siening aangedring word, kan dit onnodige steuring veroorsaak. Indien party indiwidue natuurlik geestelike hulp nodig het, is daar ’n behoorlike manier om te onderrig, en dit is “in sagmoedigheid”.—2 Tim. 2:23-26.
9. Wat word van opsieners vereis as hulle doeltreffend wil onderrig?
9 Opsieners behoort te “arbei in woord en leer”, nie net om buitestaanders met die waarheid te bereik nie, maar om die gemeente geestelik op te bou (1 Tim. 5:17). Dit verg tyd en inspanning om Bybeltoesprake en vergaderingdele voor te berei wat geestelik verkwikkend, leersaam en prakties is. Deur die Skrif gereeld te bestudeer en die Wagtoringgenootskap se publikasies, toespraaksketse en ander materiaal van die “getroue en verstandige dienskneg” te gebruik, kan sprekers en onderrigters talle goeie punte ontwikkel wat hulle in staat sal stel om die gesonde leer mee te deel. En deur ’n voorbeeld in woord te word, toon opsieners dat hulle hulself reg toelê.
Handhaaf altyd “goeie gedrag”
10, 11. (a) Watter verband bestaan daar tussen gedrag en hemelse wysheid? (b) Wat gebeur wanneer die wysheid van bo aan die dag gelê word, in teenstelling met situasies waar goddelose karaktertrekke te sien is?
10 Gemeentelike opsieners moet ook ’n voorbeeld “in . . . gedrag” wees. Om goeie gedrag te handhaaf, het hulle hemelse wysheid en begrip nodig. Die dissipel Jakobus beklemtoon hierdie gedagte wanneer hy sê: “Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel [gedrag, NW] sy werke in sagmoedige wysheid toon. Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug [twisgierigheid, NW] is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”—Jak. 3:13-16; 1 Pet. 2:12.
11 Verhoudinge met ander ouere manne sowel as met ander gemeentelede word versterk deur goeie gedrag wat van hemelse wysheid getuig (Jak. 3:17, 18). Twisgierigheid, afguns, geroem en ander wêreldse, dierlike en duiwelse karaktertrekke en dade takel andersyds sulke verhoudinge af. Hierdie slegte karaktertrekke het geen plek onder die geledere van God se volk nie. Sulke egosentriese optrede loën enige belydenis van Christelike liefde. Goeie gedrag vereis dus dat ’n mens niks ‘doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar dat die een die ander in nederigheid hoër as homself moet ag’ (Filip. 2:3). Sulke gedrag is waarlik voorbeeldig daar dit ’n gesindheid soos die van Christus Jesus weerspieël.—Filip. 2:5-8.
12. (a) Hoe moet vroulike lede van die gemeente beskou en behandel word? (b) Wat moet opsieners doen omtrent skendings van God se morele standaarde? (c) Watter verantwoordelikheid plaas vertroulikheid op ouere manne in die geval van regterlike sake?
12 Om ’n goeie voorbeeld te stel, moet opsieners en ander verantwoordelike broers hulle altyd omsigtig teenoor die ander geslag gedra. Hulle moet “bejaarde vroue [vermaan] soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” (1 Tim. 5:1, 2). Hulle moet voortdurend waak teen enige ‘verslapping’ waar dit kom by die nalewing van God se hoë morele standaarde. Indien daar bepaalde getuienis is dat party probeer om ander sedelik te verderf, moet opsieners vinnig optree om die organisasie rein te hou daar hulle weet dat Jehovah “’n wreker is oor al hierdie dinge” (1 Thess. 4:3-8). Aangestelde onderherders moet egter nie regterlike sake waar persone God se regverdige beginsels oortree het openlik bespreek nie. Vertroulike sake moet vertroulik bly. Daar kan slegs verwag word dat die gemeente volle vertroue sal hê in ouere manne wat behoorlik toesig hou en wie se persoonlike gedrag altyd onberispelik is.
Voorbeeldig “in liefde”
13. Watter gees is nodig indien opsieners daarin wil slaag om ’n goeie voorbeeld te stel, en waarom?
13 Opsieners kan nie waarlik daarin slaag om “vir die gelowiges ’n voorbeeld” te wees tensy hulle die gees van liefde openbaar nie. Nadat Paulus Timotheüs daaraan herinner het om ‘die genadegawe van God wat in hom is aan te wakker’, het hy gesê: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:6, 7). Ons weet watter heilsame gevolge die feit dat God hierdie liefde aan ons bewys het in ons lewens gehad het. Wanneer opsieners goeie voorbeelde is in die wyse waarop hulle liefde openbaar, toon dit, meer as enigiets anders, hoe hulle oor hulle mede-aanbidders van Jehovah voel. Liefde het ’n aantrekkingskrag en beweeg ons om liefdevolle onderherders vir raad en hulp te nader. Ons waardeer die hartlikheid van hulle belangstelling en hulle opregte begeerte om ons te help om geestelik vordering te maak.
14. Watter geleenthede het getroude opsieners om te toon dat ‘hulle hul eie vroue soos hul eie liggame liefhet’, en wat stel dit hulle vrouens in staat om te doen?
14 Om hulle soos geestelike manne te gedra, streef opsieners daarna om ‘alles by hulle in liefde te laat geskied’ (1 Kor. 16:13, 14). Indien hulle getroud is, moet hierdie manne ‘hul eie vroue liefhê soos hul eie liggame’, wat hulle voed en koester (Ef. 5:28, 29). Opsieners besef dat hulle eie liggame daaglikse sorg dringend nodig het. Net so het hulle vrouens aandag en gereelde geestelike sorg nodig wat hulle in staat sal stel om hulle ondersteunende vroulike rolle te vervul op ’n wyse wat “betaamlik is in die Here” (Kol. 3:18, 19). Die bespreking van die dagteks in die Yearbook of Jehovah’s Witnesses, hersiening van materiaal in die Genootskap se publikasies, voorbereiding vir Christelike vergaderinge en wakkerheid vir geleenthede om saam te bid is almal blyke van sulke liefde. En wanneer die geleentheid hom voordoen, moet ouere manne hulle vrouens ook op ander maniere help. Dit en die behoorlike grootmaak van enige kinders wat die egpaar het, sal bewys lewer dat die man sy eie huis goed regeer en voldoen aan een van die Skriftuurlike vereistes vir opsieners.—1 Tim. 3:4, 5; 5:8.
15. Hoe kan ’n opsiener toon dat hy ‘vir die gemeente van God sorg kan dra’ en dat hy liefde besit?
15 ’n Opsiener wat ’n goeie gesinsreëling bewaar, toon inderdaad dat hy ‘vir die gemeente van God sorg kan dra’ (1 Tim. 3:5). Deur sy gemeentelike verantwoordelikhede na te kom, toon ’n ouere man ’n groot persoonlike belangstelling in die huisgenote van die geloof (Gal. 6:9, 10). Opsieners berei voor vir en neem gemeentelike vergaderinge waar, besoek siekes en ander met behoeftes, en neem gereeld deel aan die openbare verkondiging van die “goeie nuus”. Al hierdie dinge is ’n blyk van liefde vir God, vir die “skape” in hulle sorg en vir diegene aan wie hierdie ouere manne die Koninkryksboodskap verkondig.
16. Wat het Paulus beweeg om in belang van die gemeente in Korinthe op te tree, en word dieselfde gesindheid vandag onder Christenopsieners aangetref?
16 Daar is tye wanneer ouere manne dit nodig vind om raad te gee sonder om doekies om te draai of om tugmaatreëls te tref. Hulle begeerte is om indiwidue te help en die gemeente te beskerm. Hierin volg ouere manne die apostel Paulus na. Uit liefde het die apostel in die belang van die gemeente in Korinthe opgetree, alhoewel dit hom onder groot spanning geplaas het. Hy het geskryf: “Uit groot verdrukking en benoudheid van hart het ek aan julle geskrywe, onder baie trane, nie dat julle bedroef mag word nie, maar dat julle mag weet van die liefde wat ek oorvloedig vir julle het” (2 Kor. 2:4). Hoewel party persone in daardie gemeente nie Paulus se onvermoeide en onselfsugtige pogings ten volle waardeer het nie, was hy bereid om homself selfs verder ter wille van hulle te bestee, want hy het gesê: “Ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin” (2 Kor. 12:15). Net soos Paulus span baie opsieners hulle heelhartig in. Hulle doen dit uit liefde vir hulle broers en stel sodoende ’n prysenswaardige voorbeeld.
17. Watter uitwerking het die goeie voorbeeld van baie opsieners op die organisasie van God se volk gehad, en vir watter gevoelsuiting aan die kant van getroue onderherders bied dit ’n grondslag?
17 Daar is baie opsieners wat hulself jare lank letterlik bestee het om Jehovah te dien en in die behoeftes van hulle geestelike broers en susters te voorsien. Die voorbeeld van hierdie manne het die gees van liefde in die hele organisasie van God se volk bevorder. Ons vertroue is versterk deur die voorbeelde van sulke manne wat “die kudde” tydens hierdie moeilike dae soos herders opgepas het. Omdat hulle “die kudde” waarlik liefhet en daaroor besorg is, het hierdie onderherders rede om hulself uit te spreek soos Paulus, wat gesê het: “Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.”—1 Thess. 3:12, 13.
Voorbeeld van geloof versterk medegelowiges
18. Na watter werke behoort opsieners te kan wys as bewys dat hulle ware geloof besit?
18 Ondanks die feit dat baie vandag luid bely dat hulle godsdienstig is, ‘is geloof nie die deel van almal nie’ (2 Thess. 3:2). Dit moet egter ons deel wees indien ons God wil behaag (Hebr. 11:6). Ook hierin moet Christenopsieners vir almal ’n voorbeeld wees—‘in geloof’. Hulle moet daarbenewens dade of werke hê wat bewys dat hulle ware geloof besit (Jak. 2:14-26). Hierdie werke sluit onder meer dade in soos om siek medegelowiges te vertroos, behoeftiges onder hulle van die nodige te voorsien en om ’n gereelde aandeel aan die verkondiging van die “evangelie van die koninkryk” te hê.—Matt. 24:14; vergelyk Mattheüs 25:34-40.
19. Waarom is geloof onontbeerlik, en wat stel dit baie in staat om te doen?
19 Dit is betekenisvol dat Paulus herhaaldelik die gedagte beklemtoon het dat ‘die regverdige uit die geloof sal lewe’ (Rom. 1:17; Gal. 3:11; Hebr. 10:38). Geloof gee nie alleen vir ons ’n gesig van wat voorlê nie, maar beweeg ons om dinge te doen. Dit verg byvoorbeeld geloof om as hulp- of gewone pioniers in te skryf en dan as voltydse predikers die “evangelie” te verkondig (Mark. 13:10). Ondanks gesinsverantwoordelikhede en ander pligte reël baie opsieners en bedieningsknegte om aan hierdie werk deel te neem. Baie pas hulle sekulêre werk en ander sake aan om meer aandag aan gemeentelike verantwoordelikhede te skenk. En ware geloof is nodig wanneer ’n mens ’n regstreekse aandeel aan die verkondiging van die “evangelie” het, toewysings by Christelike byeenkomste nakom, Koninkryksale bou of verskeie daaglikse teokratiese bedrywighede verrig. Dit verg voorwaar geloof van opsieners en al die lede van Jehovah se volk om volgens God se Woord te glo, te lewe, te werk en te aanbid.
20. (a) Watter rol speel geloof wanneer ‘n ferme standpunt teen die Duiwel ingeneem word? (b) Hoe kan veral opsieners medegelowiges help om beproewings van hulle geloof te verduur?
20 Geloof is ook nodig om moeilikhede die hoof te bied en beproewings van geloof te verduur. Nadat Petrus ouere manne vermaan het om voorbeelde vir “die kudde” te wees, het hy gewaarsku: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Pet. 5:8, 9). Opsieners moet altyd wakker wees vir die Duiwel se taktiek en die listige sette wat hy gebruik om God se knegte van stryk te bring, te verstrik of te verslind. Christene moet nooit toelaat dat hulle oorgerus gemaak word oor hulle situasie nie, en aangestelde onderherders van “die kudde” moet veral waaksaam wees. Die ondervinding in baie lande toon dat wanneer Jehovah se Getuies met moeilikhede en beproewings te kampe het, opsieners aan die voorpunt van die stryd is. Met vertroue op Jehovah hou hierdie ouere manne aan om hulle medegelowiges op verskeie maniere te help, om die Teëstander te weerstaan, om ernstig te bid en om die groot skild van die geloof en ander dele van die geestelike wapenrusting te gebruik.—Ef. 6:10-18.
21. Wat help opsieners “die kudde” om ten opsigte van geloof en hoop te doen wanneer hulle self voorbeelde in geloof is?
21 Opsieners moet “die kudde” help om deur geloof te wandel en hulle te verbly in hulle hoop. Omdat Jehovah God en sy Seun onsigbaar is, kan ons hulle nie in die hemelse ryk sien nie. Hulle handelinge met ons is nietemin wesenlik (Hebr. 11:27). Die dinge wat plaasvind as gevolg van hulle leiding is ’n vervulling van wat die Bybel voorspel het. Opsieners moet hulle geestelike broers en susters gretig help om hierdie feit te besef en om te sien dat die lede van die “groot menigte” in groot aantalle ingesamel word. Jehovah se seën rus op die werk wat gedoen word (Jes. 60:22; Openb. 7:9). Ons ondervind die geestelike veiligheid wat hy beloof het (Ps. 91:1, 2). Die vrug van Jehovah se heilige gees, onder meer geloof, kom vandag volop onder God se volk voor. (Gal. 5:22; vergelyk Romeine 1:8.) Met ons geloofsoog sien ons die komende voltrekking van Jehovah se oordele (Openb. 11:16-18; 16:14, 16). Anderkant die “groot verdrukking” wag daar ’n nuwe orde, en die aarde sal in ’n paradys omskep word (Matt. 24:21; Luk. 23:43, NW; 2 Pet. 3:11-13). Daar gaan ’n opstanding wees (Joh. 5:28, 29; Hand. 24:15). Die mensdom gaan weer vrede met God geniet, en ewige lewe sal die lot wees van diegene wat gedurende die finale toets gehoorsaam is (Openb. 20:7-10). Maar terwyl ons na die toekoms kyk, waardeer ons die tienduisende opsieners wat nou as voorbeelde van geloof dien, lojale onderherders wat so baie doen om “die kudde” te help om hulle in die hoop te verbly.—Rom. 12:12.
Waardige voorbeelde “in reinheid”
22. (a) Hoe kan die oordenking van Filippense 4:8 en Jakobus 3:17 opsieners help om voorbeelde in reinheid te wees? (b) Hoe moet opsieners probeer om rein te bly wanneer hulle broers aanbeveel vir verantwoordelikheid in die gemeente?
22 Laastens, opsieners word vermaan: “Wees ’n voorbeeld vir die gelowiges . . . in reinheid”. Dit behels meer as om net rein van verstand en sedelike gedrag te wees. Hulle moet klaarblyklik sorg dat hulle aan rein dinge dink (Filip. 4:8; Jak. 3:17). Maar om rein te bly, moet opsieners ook goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle broers in aanmerking neem vir verantwoordelikheid in die gemeente. Hulle kwalifikasies moet sorgvuldig in die lig van Skriftuurlike vereistes oorweeg word. Vriende en familielede moet nooit voorgetrek word nie. Indien daar twyfel oor ’n persoon se sedelike gedrag bestaan, moet tyd en feite toegelaat word om sulke twyfel uit die weg te ruim. Dit sal in harmonie wees met die gesonde raad in 1 Timotheüs 5:22: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”
23. Wat sal opsieners help om hulle rein te hou wanneer hulle regterlike sake behartig?
23 Opsieners voorkom ook dat hulle met die sondes van ander gemeenskap het deur regterlike sake behoorlik te behartig. Wanneer ’n oortreding begaan is en ouere manne die saak hanteer, moet hulle barmhartig wees wanneer die omstandighede barmhartigheid vereis, maar hulle moet nie sonde vergoelik of ligtelik beskou nie. (Spr. 28:13; Jak. 2:13; vergelyk Judas 3-15, 22, 23.) Aangestelde ouere manne moet oppas dat hulle nie deur partydigheid, sentimentaliteit of gevoel gelei word wanneer hulle luister na die verklarings van oortreders of die getuienis van ander nie. As getroue onderherders toelaat dat Bybelbeginsels hulle besluite in sulke sake lei, sal hulle hulself rein hou.
24. Wanneer kan opsieners sê wat Paulus in 1 Korinthiërs 11:1 gesê het?
24 As hulle op die gemelde maniere voorbeelde word, kan alle getroue Christenopsieners met ’n goeie gewete sê soos Paulus gesê het: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Kor. 11:1). Alhoewel hy bewus was van sy persoonlike swakhede, kon die apostel met vertroue sê dat hy Christus gevolg het. Dieselfde geld vandag van opsieners wat probeer om aan God se vereistes te voldoen.
Gemeente aangespoor om die Woord met vrymoedigheid te spreek
25. Watter resultate kan die navolging van Christenopsieners se goeie voorbeeld in die gemeente hê, danksy God se seën?
25 Watter resultate kan ons verwag wanneer ons die voorbeeld van getroue onderherders van die “kudde van God” volg? Almal in die gemeente sal aangespoor word om aan te hou om die woord van God met vrymoedigheid te spreek terwyl hulle goeie gedrag bewaar! (Hand. 4:29-31; 1 Pet. 2:12). Die vrug van liefde sal die gemeente onmiskenbaar identifiseer as ’n gemeente wat uit Jesus Christus se ware dissipels bestaan, en dit sal ander trek om met God se volk om te gaan (Sag. 8:23; Joh. 13:34, 35). Hulle sal lewende geloof toon deur goeie werke te verrig, onder meer deur die “goeie nuus” te verkondig, dissipels te maak en godvrugtige weë te bewandel (Matt. 24:14, NW; 28:19, 20). As reinheid die lewens oorheers van almal wat God se goedkeuring wil wegdra, sal die hele gemeente rein gehou word. Laat ons Jehovah dus saam getrou dien terwyl ons die seëninge waardeer wat ons as God se volk geniet. En mag ons liefdevolle hemelse Vader voortgaan om ons verenigde pogings te seën terwyl ons saamwerk met Christenopsieners wat goeie voorbeelde vir “die kudde” is.
[Studievrae]