Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/15 bl. 19-23
  • ‘Vrolikheid in die oestyd’ in die Filippyne

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Vrolikheid in die oestyd’ in die Filippyne
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • HOE DIE WAARHEID GEPLANT IS
  • STAMLEDE AANVAAR DIE WAARHEID
  • ONDER DIE REBELLE
  • BEVRY VAN BEHEER DEUR DIE DUIWELS
  • DIE OES DUUR VOORT!
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/15 bl. 19-23

‘Vrolikheid in die oestyd’ in die Filippyne

SONNIGE strande, warm, tropiese seë, woudbedekte berge, vrugbare vlaktes—ja, dit is die Filippyne! Hier is ’n land wat uit duisende eilande bestaan, party asemrowend mooi, wat in die seë langs die kuste van Suidoos-Asië versprei is. Maar die Filippyne bestaan nie net uit natuurtonele nie; daar is ook mense—47 000 000 van hulle.

Die lewenswyses van hierdie mense verskil baie—van die primitiewe maar vergenoegde Tasaday-stam in die suidelike reënwoude tot die moderne sakemagnate in die kosmopolitaanse stad Manila. Maar die Filippyners is oor die algemeen ’n landbouvolk. Baie woon in die kenmerkende huise wat op stelte gebou is en maak op die opbrengs van die land staat vir hulle bestaan. Vir sulke mense is die oes ’n besige, vreugdevolle tyd. Dit is ’n genot om die vrug van hulle arbeid van die landerye af in te bring. Met behoorlike besproeiing kan die vreugdevolle oestyd in ’n vrugbare land soos hierdie drie keer per jaar aanbreek.—Jes. 9:2.

Gedurende die afgelope 50 jaar word daar egter ’n ander oes in die Filippyne ingesamel. Dit is ’n goeie oes of insameling van mense wat verkies het om die ware aanbidding van Jehovah God te beoefen en wat nou hulle vertroue in sy koninkryk stel.

HOE DIE WAARHEID GEPLANT IS

Die eerste saadjies van waarheid wat tot hierdie oes aanleiding gegee het, het die Filippyne bereik baie soos saadjies wat deur die wind gedra word. Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, het begin om die ware geloof hier te verkondig toe hy die hoofstad Manila in 1912 besoek het. Tydens die vroeë twintigerjare het ene H. Tinney van Kanada ’n jaar lank hier sendingwerk gedoen. Hy het ’n aktiewe Bybelstudiegroep agtergelaat. Lede van die Amerikaanse weermag of hulle vrouens het gedurende die daaropvolgende jare meer saadjies van waarheid gesaai, en tydens ’n reis rondom die wêreld het ’n Amerikaner van Portugese afkoms, Joseph Dos Santos, in Manila gepreek.

As gevolg van hierdie verskillende uitspruitsels is ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in 1934 in Manila opgerig. Die tweede wêreldoorlog het die land erg ontwrig, maar dit het nie die geestelike oes laat afneem nie. Ondanks vervolging deur die Japannese invallers sowel as die plaaslike Filippynse weerstandsbeweging, het die aantal verkondigers van die “goeie nuus” toegeneem van 373 in 1941 tot meer as 2 000 in 1945. Op die oomblik is daar meer as 60 000 Koninkryksverkondigers wat die “goeie nuus” onder die Filippyners verkondig.

STAMLEDE AANVAAR DIE WAARHEID

Hierdie werk het nou die mees afgeleë dele van die eilande bereik. Om die meer afgeleë gemeenskappe in daardie gebiede te bereik, moet Jehovah se Getuies dikwels dae lank loop en voortdurend teen berge op- of afklim. Maar hulle pogings het vrug gedra, want die aanbidders van Jehovah sluit nou selfs lede van die primitiewer stamme in. In noordelike Luzon is dit die gebruik van sekere stamme om ’n jong vrou te tatoeëer wanneer sy die hubare ouderdom bereik. Dit is dus nie in daardie gebied buitengewoon om vroue teë te kom wat nou Jehovah se Getuies is maar wie se arms vol tatoeëermerke is wat toon dat hulle volgens ander beskouings grootgemaak is nie.

Een jong lid van die Subanon-stam van die vrugbare streke van die suidelike Filippyne, het ’n groot hindernis te bowe gekom toe hy die ware Christelike godsdiens aanvaar het. Hy was maar nog skaars nege toe hy die treurige ondervinding gehad het om te sien hoedat sy twee susters deur rebelle gevang en na die berge weggevoer word. Hy het wraak gesweer en by die leër aangesluit sodra hy oud genoeg was. Sy ouers, wat destyds die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer het, het probeer om hom af te raai en het gesê dat slegs God se koninkryk die ongeregtighede van hierdie wêreld sou regstel. Maar sy wraaksug was te sterk en hy wou nie van sy plan afsien nie. Kort daarna was hy betrokke in ’n skermutseling met ’n groep rebelle net soos die wat jare tevore sy susters ontvoer het. Hier was nou uiteindelik die kans om wraak te neem! Maar tot sy verbasing kon hy nie op die rebelle skiet nie. Die dinge wat sy ouers vir hom oor die ware Christelike godsdiens vertel het, was te sterk in sy hart, en hy het opsetlik in die lug in geskiet. Hy het so gou moontlik uit die leër bedank en begin deelneem aan die werk om sy bure ‘vrede te laat hoor’.—Jes. 52:7.

Nog ’n jongman, die seun van ’n datu, of stamhoof, het ook ’n Getuie geword. Toe hy nege jaar oud was, het hy van die huis af weggeloop weens ’n wrede stiefvader (wat 10 vroue gehad het). ’n Majoor in die Filippynse Polisie het hom uiteindelik oor die seun ontferm. Op skool het die seun die geleentheid gehad om die toorkuns te bestudeer saam met iemand wat die kuns in Indië geleer het. Hy het baie bedrewe in die toorkuns geraak. Later het hy by die leer aangesluit terwyl hy al hoe meer roem as ’n towenaar verwerf het. Na die tweede wêreldoorlog het hy met ’n Katolieke meisie getrou en by daardie kerk aangesluit, terwyl hy steeds met sy towergebruike voortgegaan het. Eindelik het hy saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Nadat hy God se veroordeling van alle towergebruike gelees het, het hy sy toorkunste gestaak en die reine en onbesmette aanbidding van Jehovah begin beoefen.—Deut. 18:10-12.

ONDER DIE REBELLE

Net soos dit vandag die geval in baie lande is, het die Filippyne ook sy aktivistiese rebelle. In afgeleë gebiede maak rowers ook die lewe vir die mense moeilik. Hierdie bedrywighede word oor die algemeen deur die regering in beheer gehou. In woude en afgesonderde gebiede waar daar baie wegkruipplek is, is dit egter moeilik om hulle heeltemal uit te wis.

Party kerke het ’n slegte reputasie verkry omdat hulle die rebellebewegings in die naam van “maatskaplike geregtigheid” gesteun het. Jehovah se Getuies het egter neutraal gebly en dit het ’n goeie getuienis gelewer (Joh. 15:19). Party rebelle het selfs opgehou om te baklei en het hulle vertroue in Jehovah se koninkryk gestel, die enigste oplossing vir die mensdom se moeilike maatskaplike probleme.

Een jong vrou van Mindanao, die tweede-grootste eiland in die Filippynse eilandgroep, is as ’n Katoliek grootgemaak. Sy het as ’n “aspirant” by ’n kweekskool ingeskryf, maar is gou ontnugter en het ’n onderwyseres geword. Eindelik is sy na Manila om vir ’n graad te studeer. Nadat sy gehoor het hoedat ’n Jesuïete-kapelaan verkeerdelik sê dat die apostels en vroeë Christene die eerstes was wat kommunisme beoefen het, het sy haar lot by Kommunistiese organisasies ingewerp en aan studente-optogte deelgeneem, waar sy dikwels skouer aan skouer saam met nonne en priesters geloop het.

Tuis het sy begin om haar nuwe idees aan die kinders te leer. Dit het gelei tot ’n botsing met haar meerderes en ’n kort tronkvonnis. Na haar vrylating is sy gedwing om uit haar pos by die skool te bedank. Sy is toe in die heuwels in waar sy sewe maande lank saam met ’n groep rebelle gelewe het. Nadat sy verraai en gevang is, is sy tien maande lank aangehou, en dit het haar die geleentheid gebied om die Rooms-Katolieke Kerk deegliker te ondersoek. Haar gevolgtrekking: dit is ’n afvallige geloof.

Eindelik het hierdie vrou afgekom op die traktaat Het godsdiens God en die mensdom verraai? wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Die boodskap het na die waarheid geklink, veral in die lig van al haar wedervaringe. Sy het dus met die Getuies in verbinding getree, baie vrae gestel en bevredigende antwoorde gekry. In 1974 het sy eindelik haar Kommunistiese oortuigings laat vaar en is sy as ’n Getuie van Jehovah gedoop. Later het sy die geleentheid gehad om vir party van haar eertydse “kamerade” te preek—tot hulle groot verbasing.

In ’n ander geval is ’n jongman op Mindanao in ’n Protestantse gesin grootgemaak. Omdat godsdiens hom ontnugter het, het hy aangesluit by ’n groep guerrillas wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle koeëlvas is indien hulle sekere Latynse gebede opgesê het. Mettertyd het die regering met hulle leier onderhandel en is hulle gebruik om teen sekere rebelle te veg. Die jongman het hulle gevolglik verlaat en aangesluit by ’n groep “voltydse” rowers. Hulle het geen politieke oortuigings gehad nie, maar het ’n bestaan gemaak deur onskuldige mense te beroof. Hulle spesialiteit was om busse voor te lê en dan die passasiers te beroof.

Eenkeer het hierdie jongman met ’n groot bedrag by sy vader aangekom. Maar sy vader het geweier om die geld te aanvaar en vir hom begin preek. Ja, die vader was nou een van Jehovah se Getuies. Hy het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe vir sy seun gegee, en die jongman het dit saamgeneem na die bende se wegkruipplek. Alhoewel die leier baie belang gestel het, wou hy nie sy winsgewende struikrowery laat vaar nie. Die jongman het egter besef dat hy uiteindelik die waarheid gevind het. Hy het opgehou om weg te kruip, die regering het amnestie aan hom verleen en hy is in 1973 gedoop. Kort daarna het hy ’n voltydse prediker of “pionier” geword.

BEVRY VAN BEHEER DEUR DIE DUIWELS

Die Filippyne is alom bekend as die tuiste van sogenaamde geloofsgenesers. Hulle beweer dat hulle operasies sonder verdowing of instrumente kan uitvoer. Die pasiënt voel geen pyn terwyl die “geneser” dan glo sy kaal hande in die pasiënt se liggaam insteek (sonder om die vel te sny) en ’n operasie op inwendige organe uitvoer nie. Mense kom uit Europa en Amerika om sulke “operasies’’ te hê.

’n Jong vrou in noordelike Luzon het ’n tante gehad wat daarop aanspraak gemaak het dat sy sulke kragte besit en geglo het dat sy in staat is om snye in die liggaam te maak slegs deur haar vingers te gebruik. Die jong vrou was beïndruk en wou baie graag dieselfde kragte hê omdat sy gemeen het dat dit haar soos die vroeë apostels sou maak. Sy het vurig gebid, maar het nie enige kragte ontvang nie.

Omdat sy gemeen het dat sy nie genoeg geloof het nie, het sy by een van Jehovah se Getuies vir hulp kom aanklop. Die Getuie het vir haar die boek Die waarheid wat let tot die ewige lewe gegee. Omdat sy dit nie kon verstaan nie, het die jong vrou ander Getuies genader wat toe die Bybel saam met haar bestudeer het. Sy het gevind dat haar Bybelkennis toeneem. Maar sy wou so graag die gawe hê om te genees dat sy steeds met haar tante geassosieer het. Sy het ook tot Jehovah gebid om hierdie gawe aan haar te gee.

Een aand het die hele saak vir haar duidelik geword. Terwyl haar tante probeer het om mense te genees, het die jong vrou buitentoe gegaan om tot Jehovah te bid. Toe het ’n stem uit die huis gesê dat daar ’n sterk mag buitekant is wat hulle verhoed om te genees. Die jong vrou het besef dat haar tante bloot die hulp van geeste ingeroep het om haar te help en dat Jehovah baie sterker as hulle is. Sy het dus al haar bande met die “geloofsgenesers’’ verbreek en begin om Jehovah te dien, nie met die gawe om te genees nie, maar deur kennis te versprei oor die baie kosbaarder geestelike genesingskrag van God se Woord.—Spr. 4:20-22.

’n Ander vrou op Mindanao was deeglik onder die beheer van die demone. Sy het gemeen dat terwyl sy snags geslaap het sy die vermoë het om haar liggaam te verlaat en as ’n heks deur die lug te vlieg. Tydens hierdie “ritte” het sy gedink dat sy met ander hekse omgaan en selfs mensevleis eet.

Hierdie drome het haar ontstel, maar sy kon niks doen om hulle te verhoed nie. Sy het selfs selfmoord oorweeg. Eenkeer het ’n Adventis aanbeveel dat sy die Bybel lees. Maar aangesien sy nie verstaan het wat sy gelees het nie, het selfs dit haar nie gehelp nie. Eindelik het sy met een van Jehovah se Getuies gepraat. Die Getuie het vir haar verduidelik dat Jehovah sterker is as enige demon. ’n Gratis tuis-Bybelstudie is met haar begin en sy is geleer om tot Jehovah te bid vir hulp. Watter wonderlike verligting! Die demonaanvalle het opgehou.

Hierdie vrou het eenkeer besluit om Jehovah op die proef te stel. Daardie nag het sy nie soos gewoonlik haar Bybel bestudeer nie en het sy nie gebid voordat sy gaan slaap het nie. En jou waarlik, die duidelike, afskuwelike drome het teruggekeer. Sy het tot Jehovah gebid om haar te vergewe omdat sy hom op die verkeerde manier op die proef gestel het. Sedertdien bestaan daar by haar geen twyfel oor Jehovah God se krag om haar te verlos wanneer die demone haar lastig val nie.

DIE OES DUUR VOORT!

Ja, met Jehovah se ryke seën is daar gedurende die afgelope halfeeu ’n groot geestelike oeswerk in hierdie tropiese republiek gedoen. In party gebiede is ’n groot persentasie van die bevolking nou Jehovah se Getuies.

Jehovah se volk hier is vasbeslote om die tyd wat God nog gaan toelaat voordat die “groot verdrukking” kom te gebruik om ander te help om die wonderlike voorreg te geniet om hulle Skepper te dien. God se knegte in die Filippyne gaan inderdaad voort om ‘vrolik te wees in die oestyd’.—Jes. 9:2; Matt. 24:21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel