‘Moenie ander oordeel nie’
Onvolmaakte mense is geneig om hulleself met ander te vergelyk en hul medemens daarvolgens te takseer. Hierdie gevolgtrekkings is dikwels gebaseer op persoonlike voorkeur en smaak of word deur verskillende agtergronde of opleiding beïnvloed.
Ware Christene moet egter oppas dat hulle ander nie in die verkeerde lig beskou nie. Toe die Christenapostel Paulus die eet van voedsel bespreek het, het hy ’n beginsel uiteengesit wat ons kan help om op hierdie belangrike gebied van die lewe gebalanseerd te bly. Hy het geskryf: “Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.”—Rom. 14:3.
Jehovah God neem almal aan wat sy wil probeer doen. Waarom moet enige mens dan op ander neersien of ander oordeel op grond van wat hulle op ’n persoonlike gebied doen? In die onderhawige geval het die een wat vleis met ‘n goeie gewete geëet het dalk neergesien op die een wat dit nie eet nie en hom as oordrewe nougeset, ’n ekstremis, beskou. Die een wat nie eet nie, veroordeel die een wat vleis eet andersyds moontlik as ’n wetsoortreder, ’n sondaar. Die Christen wat op sulke gebiede van die lewe gebalanseerd is—hetsy dit betrekking het op voedsel en drank, vermaak, kleredrag en dies meer—besef dat hy bloot ’n dienskneg of slaaf van God is en as sodanig het hy geen reg om ander op grond van sy eie opinies te takseer nie. Waar dit dus kom by ’n persoonlike keuse of voorkeur, sien hy nie neer op mede-aanbidders of veroordeel hy hulle nie as oortreders nie.