Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 7/15 bl. 3-5
  • Waarom doen wat reg is?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom doen wat reg is?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Wat moet ons doen om gered te word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Geloof en werke kan tot regverdigheid lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Geloof
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 7/15 bl. 3-5

Waarom doen wat reg is?

‘WATTER voordeel hou dit vir my in?’ Hoe dikwels het jy iemand al daardie vraag hoor stel voordat hy iets aanpak? Jy het waarskynlik al opgemerk dat mense hulle selde inspan indien hulle nie van ’n beloning verseker is nie. ’n Mens tref hierdie gesindheid veral by kinders aan. Hulle weier baiemaal om hulle te gedra tensy hulle met ’n beloning “omgekoop” word.

Die Bybel vestig die aandag op die grondoorsaak van hierdie probleem wanneer dit sê: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Omdat hulle sonde geërf het, het mense ’n natuurlike neiging om verkeerde dinge te doen. Dit verg groot inspanning om te doen wat reg is.

Kan hierdie gesindheid aanbidding van God beïnvloed? Ja. Die Skepper wil hê dat sy knegte moet doen wat reg is. Die standaard vir regte gedrag word in die Heilige Bybel uiteengesit. Ons leer ook uit daardie bron dat God die “beloner is van die wat Hom soek” (Hebr. 11:6). Maar indien hulle nie oppas nie, kan mense maklik die fout begaan om dade van aanbidding en toewyding aan God te beskou as ’n manier om sy guns te verdien.

Dit het inderdaad met die eertydse Jode gebeur. Hulle het later gehoorsaamheid aan die Mosaïese wet beskou as ’n manier om “verdienste” by God te verkry wat toekomstige seëninge sal verseker. Die Misjna haal een rabbi soos volg aan: “Die Heilige, mag hy geseënd wees, het dit goedgedink om verdienste aan Israel te skenk; gevolglik het hy die Wet en gebooie vir hulle vermenigvuldig.” Volgens hierdie beskouing het die feit dat God se wet uit talle gebooie bestaan het Israel soveel meer geleenthede gebied om verdienste te verkry deur hulle te gehoorsaam. Dit help ons om ’n vraag wat ’n sekere ryk jong man aan Jesus gestel het, beter te verstaan: “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (Luk. 18:18). Die man het geglo dat ’n mens die ewige lewe kan verdien deur goeie dade te verrig.

Christene is nie soos die eertydse Jode onder die Mosaïese wet nie. Die Bybel spoor Christene nietemin aan om hulle besig te hou met “heilige gedrag en dade van godvrugtige toewyding” (2 Pet. 3:11, NW). Dit sluit in dat ’n persoon tyd moet uitkoop om Bybelwaarhede aan sy naaste te verkondig, sy lewenswyse na Skriftuurlike rigsnoere moet skik en gereeld met medechristene moet vergader om die Bybel te bespreek.—Matt. 24:14; 28:19, 20; Kol. 3:5-10; Hebr. 10:23-25.

Maar wat moet tot sulke godvrugtige gedrag aanleiding gee? Dit moet veral vaste geloof wees—geloof wat die Christen beweeg om ‘die doel (ewige lewe) na te jaag’ (Filip. 3:13, 14; 2 Tim. 4:7, 8). Sulke geloof word weerspieël deur heelhartige diens aan ons God, nie deur blote vormdiens of die nakoming van reëls en regulasies soos in die geval van die Jode nie. Paulus het geskryf: “Ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie” (Gal. 2:16). Niemand kan gevolglik God se guns en seën deur formele dade van aanbidding of liefdadigheid verdien nie, ongeag die aard en die omvang daarvan. ’n Regverdige naam by God word “alleen deur die geloof in Jesus Christus” verkry.

Die Seun van God self het goeie raad oor Christelike gedrag gegee. Hy het byvoorbeeld gesê: “Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie. Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.”—Matt. 5:42-44.

Maar wat het Jesus as die regte beweegrede gemeld waarom mense hulle op hierdie wyse moet inspan? Jesus het bygevoeg: “Sodat hulle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:45). Hoewel ons kan ‘uitsien na die beloning’, moet die groter dryfkrag agter Christelike diens en gedrag die begeerte wees om God as die Weldoener van die hele mensdom na te volg.—Hebr. 11:26; 1 Kor. 11:1, 3.

’n Goeie aansporing hiervoor ontstaan wanneer ’n mens nadink oor wat God reeds ten behoewe van die mensdom gedoen het. Die volgende is onder die bekendste verse in die hele Bybel: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:16, 36). God het sy Seun, Jesus Christus, gestuur om die duur losprys te betaal om die mens van sonde en die dood los te koop (Matt. 20:28). Jesus het dit gedoen deur ’n offerdood aan ’n folterpaal te sterf. Die apostel Petrus skryf: “[Hy] wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe” (1 Pet. 2:24). Dit het vir mense die geleentheid gebied om die “ewige lewe” te verkry—maar nie as ’n beloning wat deur goeie gedrag verdien word nie. Die Bybel beskryf ewige lewe as “die genadegawe van God”.—Rom. 6:23.

Indien ’n persoon werklik aan daardie wonderlike gawe glo, sal sy geloof nietemin blyk uit sy openbare belydenis aan ander oor sy hoop en uit sy voorbeeldige Christelike gedrag (Rom. 10:8-10). Dit kan nie anders wees nie. Dit word deur die Bybelskrywer Jakobus verduidelik wat sê: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? . . . geloof, as dit geen werke het nie, [is] in sigself dood. Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”—Jak. 2:14-17, 26.

Wat bedoel Jakobus met “werke”? Dit is nie dade wat verrig word om iets in die toekoms te kry nie. Dit is eerder dade wat verrig word as ’n blyk van geloof en uit waardering vir iets wat reeds besit word, naamlik ’n goeie naam by God as gevolg van geloof in Jesus Christus.

Waarom moet persone wat God liefhet hom dan dien en doen wat reg is? Die beweegrede moet nie ’n selfsugtige wees, naamlik omdat ‘dit vir hulle voordeel inhou’ nie. Christene dien God omdat hulle bewus is van die belangstelling wat God in die mensdom toon en weens sy vrygewige aanbod van die ewige lewe as ’n gawe. Hierdie blyk van liefde deur God beweeg sy aanbidders om hom na te volg. Dit is soos die apostel Johannes gesê het: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.”—1 Joh. 4:9-11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel