Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 7/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • Is dit normaal om ’n maagd te wees?
    Ontwaak!—1992
  • Wat van maagdelikheidsbeloftes?
    Jongmense vra
  • Waarom moet ek ’n maagd bly?
    Ontwaak!—1992
  • Die ongetroude lewe—’n Deur tot diens sonder om afgelei te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 7/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

• In 1 Korinthiërs 7:36-38 praat die New World Translation van ’n man wat “sy eie maagdelikheid” in die huwelik gee. Die meeste ander vertalings gebruik uitdrukkings soos “sy maagd” of “sy verloofde”. Waarom verskil Bybels so baie in hierdie gedeelte?

Enige Christen wat in die huwelik en/of die ongehude staat belangstel, stel tereg belang in hierdie betekenisvolle verse, wat soos volg in die New World Translation lui:

“Indien iemand egter dink dat hy hom onbehoorlik gedra ten opsigte van sy maagdelikheid, indien dit oor die bloei van die jeug is, en dit die wyse is waarop dit behoort te geskied, laat hom doen wat hy wil: hy sondig nie. Laat hulle trou. Maar indien iemand vasstaan in sy hart, en geen noodsaak het nie, maar gesag oor sy eie wil het en hierdie besluit in sy hart geneem het, om sy sy eie maagdelikheid te bewaar, sal hy goed doen. Gevolglik doen die een wat sy maagdelikheid in die huwelik uitgee goed, maar die een wat dit nie in die huwelik uitgee nie, sal beter doen.”—1 Kor. 7:36-38.

Baie Bybelgeleerdes erken dat dit vir hulle moeilik is om die Griekse teks van hierdie deel te verstaan en behoorlik te vertaal. Volgens dr. A. Marshall se Interlinear Greek-English New Testament begin die letterlike Grieks van vers 36 soos volg: “Maar indien iemand te gedra eerloos teenoor die maagd van hom dink, . . .” Die hoofprobleem staan in verband met die uitdrukking “die maagd van hom”. Wat het die apostel Paulus daarmee bedoel? Bybelkommentare meld dikwels drie moontlikhede, wat in die verskeie vertalings in talle gewilde Bybels weerspieël word. As ons kortliks hierdie drie sienswyses beskou, sal dit ons help om die punt van hierdie gedeelte te verstaan.

Een: Party sê dat hierdie verse verwys na ’n vader of voog se gesag om ’n meisie te laat trou of om haar te verbied om te trou. Om hierdie gedagte oor te dra, voeg sekere vertalings die woord “dogter” by. soos in die geval van die New American Standard Bible. Hierdie beskouing skep egter probleme. Eerstens, die passasie meld nêrens regstreeks ’n dogter, ’n vader of voog nie. Vers 37 toon daarbenewens dat dit ’n man se gesag oor sy eie wil is wat ter sprake is. Waarom moet ons dan die gevolgtrekking maak dat Paulus aanbeveel het dat ’n vrou nie moet trou nie net omdat haar vader nie deur hartstog verteer is nie?

Twee: Ander meen dat Paulus besig was om vir ’n man raad te gee oor die saak of hy met sy verloofde moet trou of nie. Die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms lui dus: “As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word  . . .” Die feit bly egter staan dat hierdie verse in die oorspronklike teks nie ’n ‘verloofde vrou’ of “verloofde” meld nie. Hierdie benadering plaas bowendien al die klem op die man. Maar sou dit met die Christelike godsdiens strook indien Paulus slegs oor die man besorg was en hoegenaamd geen belangstelling getoon het in die behoeftes en gevoelens van die vrou, wat Petrus “die swakkere” noem nie?—1 Pet. 3:7.

Drie: Ander sê weer dat 1 Korinthiërs 7:36-38 handel oor Christenpaartjies wat saamwoon sonder om omgang te hê, wat geslagsomgang weens geestelike redes opgegee het. Moffatt se vertaling lui dus: “Indien enige man meen dat hy nie behoorlik optree teenoor die meisie wat sy geestelike bruid is nie, . . .” En The New English Bible praat van sy “maat in die selibaat”.

So ’n vertolking is egter strydig met die raad wat die apostel vroeër in 1 Korinthiërs hoofstuk sewe gegee het. Paulus het in verse drie tot vyf die moontlikheid gemeld dat ’n egpaar hulle tydelik met wedersydse instemming van geslagsomgang weerhou. Maar hy het gesê dat hulle later bymekaar moet kom sodat hulle nie in versoeking kom nie. En waarom sou Paulus, indien hy na getroude pare verwys het wat nie omgang het nie, dan aanbeveel dat hulle trou indien hartstog dit nodig maak?

Is daar, aangesien hierdie drie beskouings wat in so baie gewilde Bybels aangetref word, nie met Paulus se woorde in die Grieks of met die Christelike geloof strook nie, dan ’n gepaster vertaling wat die regte begrip oordra?

Soos gemeld is, lê die grootste probleem by die uitdrukking “die maagd van hom”. In hierdie verband sê ’n voetnoot in die Emphatic Diaglott: “Parthenos, wat algemeen as maagd vertaal word, is al weergegee sodat dit ook slaan op ’n toestand van maagdelikheid of selibaat.” Dr. G. R. Berry se weergawe van die Grieks-Engelse interliniêre lesing lui soos volg: “gedra onbetaamlik teenoor maagdelikheid syne”. Dit sou beteken dat die “maagd” waarna daar verwys word nie die van ’n ander persoon is nie, maar ’n mens se eie maagdelikheid is. Lank voordat die New World Translation verskyn het, het party Engelse weergawes hierdie begrip oorgedra. J. N. Darby se vertaling lui: “Maar indien iemand meen dat hy hom onbetaamlik teenoor sy maagdelikheid gedra, . . . laat hom doen wat hy wil, hy sondig nie.” (Kyk ook die Bybel deur J. B. Rotherham.) So ’n vertaling pas by die Griekse teks sowel as Paulus se vroeëre woorde wat ongetroude lewe voorstaan.—1 Kor. 7:29-35.

In 1 Korinthiërs 7:36-38 spoor Paulus persone dus aan om hulle eie behoeftes in aanmerking te neem. Is ’n mens oor die tyd wanneer geslagsbelangstelling die eerste keer gebloei het?a Indien dit die geval is en hy of sy steeds meen dat dit beter sou wees om te trou, is dit nie ’n sonde om dit te doen nie. Maar die Christen wat ongetroud kan bly, sal minder dinge hê wat sy aandag aftrek asook meer vryheid om die Here te dien.

[Voetnoot]

a Kyk The Watchtower van 15 November 1974, bl. 703, in verband met die uitdrukking “oor die jeugdige leeftyd”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel