Gewisse hulp uit God se Woord
’N PERSOON het sterk motivering nodig om skadelike emosies te verstaan. Die Bybel bied sulke motivering en help die indiwidu om skuldgevoelens, jaloesie, bekommernis oor hoe om ’n bestaan te maak asook verskeie ander emosionele faktore wat vir die gesondheid nadelig is die hoof te bied.
SKULDGEVOELENS
Skuldgevoelens kan dikwels sekere kwale veroorsaak of vererger. ’n Persoon het hom dalk skuldig gemaak aan gedrag wat sy gewete kwel. Hy het miskien dieselfde ervaring as Dawid, ’n Israelitiese koning wat sowat 3 000 jaar gelede gelewe het. Dawid het die uitwerking van sy skuldgevoelens só beskryf: “My gebeente [het] uitgeteer in my gebrul die hele dag; my murg het verander soos deur somergloed” (Ps. 32:3, 4). Hierdie woorde gee te kenne dat Dawid se pogings om die prikkels van ’n skuldige gewete te onderdruk, hom uitgeput het. Net soos ’n boom wat die nodige vog gedurende ’n droogte of ’n baie warm, droë somer ontneem is, is Dawid se lewenskrag ondermyn. Hoe het hy verligting gekry?
Hy het al sy sondes voor God bely en in geloof goddelike vergifnis aanvaar. Dit is waarom Dawid kon skryf: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie.”—Ps. 32:1, 2.
Die Bybel openbaar dat enigeen wat hom in opregte berou op die grondslag van die soenoffer van Jesus Christus tot God keer, vergifnis vir sy sondes kan ontvang. Die Christenapostel Johannes het geskryf: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. . . . [Jesus Christus] is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van die hele wêreld.”—1 Joh. 1:9; 2:2.
Indien ’n persoon nie glo dat God sy sondes vergewe het nie, sal hy natuurlik steeds die skadelike uitwerkings van ’n kwellende gewete ervaar. Dit is dus noodsaaklik dat die indiwidu sy geloof versterk in God se bereidwilligheid om sondes te vergewe. Hy kan dit doen deur te hersien wat die Bybel sê oor goddelike vergifnis en die persone wie se oortredings vergewe is.
Die Israeliete is byvoorbeeld meegedeel: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes. 1:18). Aangesien die Allerhoogste bereid was om die walglike dade van ontroue Israeliete te vergewe, kan ons daarvan seker wees dat hy dieselfde vergifnis sal skenk aan persone wat vandag opreg berouvol is. Die Bybel deel ons mee: “Ek, die HERE, het nie verander nie.”—Mal. 3:6.
Beskou nog ’n voorbeeld. Koning Manasse “het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg. En Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het” (2 Kon. 21:6, 16). Later is hy as ’n gevangene na Babilon weggevoer. Hierdie bittere ervaring het tot gevolg gehad dat Manasse hom voor God verootmoedig. Die Allerhoogste het die berouvolle koning vergewe en “hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring” (2 Kron. 33:11-13). Min persone het so ’n slegte reputasie van sonde opgebou soos Manasse. Maar omdat hy berouvol was, is hy vergewe. Hoe bemoedigend is dit tog vir persone wat deur skuldgevoelens geteister word!
Nog ’n goeie voorbeeld is dié van die man wat die Christenapostel Paulus geword het. Voor sy bekering was hy “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar” (1 Tim. 1:13). “Maar”, het Paulus geskryf, “daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe” (1 Tim. 1:16). Hoe geloofversterkend is dit tog om na te dink oor wat God, deur Christus, in die geval van Paulus gedoen het! Alhoewel Paulus Christus se volgelinge wreedaardig vervolg het, verwaand teenoor hulle opgetree het en God onwetend gelaster het, is hy vergewe toe hy berou getoon het. Daarna is hy op ’n wonderlike wyse gebruik om ander te help om Christene te word en om medegelowiges te versterk. Daarbenewens het hy die onskatbare voorreg gehad om ’n groter deel van die geïnspireerde Christelike Skrifte te skryf as enige ander man.
Indiwidue meen soms dat hulle hart hulle veroordeel en vrees dat hulle sondes eenvoudig te groot is om vergewe te word. Die woorde van die Bybel bied nietemin ’n vaste grondslag vir geloof in God as die Vergewer van sondes. Dit word kragtig uitgedruk in die volgende verklaring van die apostel Johannes: “Ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1 Joh. 3:19, 20). Watter wonderlike verligting van skuldgevoelens kan vertroue in hierdie geïnspireerde woorde tog vir ons beteken!
WEERSTAAN JALOESIE
Benewens skuldgevoelens kan bittere jaloesie ’n liggaamskwaal veroorsaak of vererger. Jaloesie kan verhoed dat ’n persoon slaap, kan meebring dat sekere spiere gespanne en seer word en kan spysverteringsprobleme of ander gesondheidsprobleme veroorsaak. Net soos die Bybel ’n persoon kan help om ontslae te raak van vernietigende skuldgevoelens, kan dit hom ook help om jaloesie of diepe gegriefdheid die hoof te bied. Die persoon moet egter eerstens besef dat hy ’n probleem het wanneer hy ’n wrok koester.
Volgens die Bybel is liefde nodig om oor jaloesie te seëvier. Die Skrif deel ons mee: “Die liefde is nie jaloers nie” (1 Kor. 13:4). Om gegriefdheid die hoof te bied, moet ons hierdie Bybelwaarheid aanvaar en dienooreenkomstig optree. Ons sal dit nuttig vind om die poging aan te wend om diegene teenoor wie ons ’n wrok koester, beter te leer ken en ons daarop toe te lê om hulle goeie eienskappe raak te sien. Dit is vanselfsprekend dat geen indiwidu alles kan doen nie, en alle persone het foute. Ons is gevolglik verstandig as ons versigtig is om nie ons eie vermoëns te hoog te skat nie en besef dat veel uitgerig kan word wanneer nie net een persoon nie, maar talle bekwame mense van hulle vermoëns en kennis bydra om ’n nuttige werk te doen.
Die Bybel toon duidelik dat ons van ander afhanklik is. Die apostel Paulus het die menseliggaam gebruik as ’n voorbeeld van wat van die Christengemeente waar moet wees en geskryf: “Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het” (1 Kor. 12:14-18). Ooreenkomstig hierdie woorde kan ons gerus nadink oor wat ons kan doen om ander op te bou in plaas daarvan om hulle hulle vermoëns, posisie of prestasies te beny.
Ons het indiwidueel niks om oor te spog nie. Ons het nie die vermoë om sekere talente of vermoëns te ontwikkel aan onsself gegee nie. Die Skrif stel sake in die regte perspektief wanneer dit sê: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor. 4:7). Daarbenewens is dit nie ons vermoëns wat werklik belangrik is nie, maar die soort persone wat ons is. Van watter nut is buitengewone talente indien die besitter daarvan onbeskof, selfsugtig en haatlik is? In plaas daarvan om voor jaloesie te swig, is ons verstandig as ons ag slaan op die Bybel se aansporing om die weg van liefde te bewandel en persone te wees wat bereid en gretig is om in die behoeftes van hulle medemens te voorsien (1 Kor. 14:1). Dit is beslis onverstandig om jaloers te wees en aldus ons fisiese welsyn in gevaar te stel en te versuim om die soort persone te wees wat vir ander ’n bron van krag en bemoediging kan wees.
MOENIE ONTSTELD RAAK OOR ONREGVERDIGHEID NIE
Dit is nie maklik om dit te verduur wanneer jy die slagoffer van onregverdigheid is of om magteloos te wees wanneer jy sien hoedat jou medemens deur verdorwe mense verdruk of uitgebuit word nie. Dit kan skadelike onsteltenis veroorsaak. Ook hier kan die dinge wat die Bybel sê ’n mens help om die innerlike opwelling te vermy wat vir jou gesondheid skadelik kan wees.
Die Skrif toon duidelik dat ons dikwels nie veel daaromtrent kan doen nie. Daar skort so baie met die wêreld dat die mens eenvoudig nie alles kan regstel nie. Die Bybel is baie realisties wanneer dit sê: “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie” (Pred. 1:15). Wanneer ’n persoon ontsteld raak oor die onregverdighede waaraan ander hulle skuldig maak, doen dit niks om die situasie te verander of die probleem vir enigiemand te verlig nie. Indien ons natuurlik die saak van geregtigheid positief kan bevorder, sal dit gewis reg wees om dit te doen. Ons wil nie ons oë ongevoelig vir onnodige menselyding sluit nie.
Maar in die geval van situasies wat bloot aanvaar en verduur moet word, kan ons troos put uit die Bybelbelofte dat Jehovah God alles sal regstel. In verband met ’n toekomstige dag van afrekening deel die Skrif ons mee dat “God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel” (Rom. 2:16). Omdat daar ’n oordeelsdag is, sal geen onreg wat ons in hierdie wêreld aangedoen word permanente skade tot gevolg hê nie. As ons glo dat die Skepper alles sal regstel, bespaar ons onsself baie ernstige ontsteltenis.
BEKOMMERNIS OOR HOE OM ’N BESTAAN TE MAAK
Vir baie mense is die bekommernis oor hoe om ’n bestaan te maak ’n ontsaglike las. Hierdie las kan so groot wees dat dit ernstige gesondheidsprobleme meebring. Watter nuttige raad bied die Bybel in hierdie verband? “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?” het Jesus Christus gesê. “Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor more nie, want more sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”—Matt. 6:31-34.
Geen hoeveelheid angs of kommer sal dit tog vir ons makliker maak om ’n bestaan te maak nie. Elke dag het, soos die Bybel sê, “sy eie kwaad”, sy eie probleme. Elke dag het genoeg probleme sonder dat ons ons hoef te bekommer oor die moeilikhede wat dalk die volgende dag sal opduik. Jehovah God sal nie toelaat dat diegene wat hom liefhet onnodig ly nie, maar hy sal ons versoeke om hulp toestaan. As ons voortgaan om in God te glo as ’n Voorsiener terwyl ons ons deel doen om die lewensbenodigdhede deur middel van eerlike werk te verkry, sal ons die nodige hê. Ons sal ervaar wat Dawid ervaar het. Hy het geskryf: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”—Ps. 37:25.
RAADPLEEG DIE BYBEL
Ongeag met watter soort druk of spanning jy te kampe het, daar is informasie in die Bybel wat jou kan help. Ondersoek dus die Skrif en maak die puik rigsnoere daarvan ’n werkende deel van jou kennis. Deur dan Bybelbeginsels in jou lewe toe te pas, kan jy ’n goeie gewete behou en voorkom dat jy swig voor emosies wat jou gesondheid kan skaad. Maar nog belangriker, jy sal wandel op die weg wat tot ’n ewige toekoms lei. “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Joh. 2:17.