Psalms
Ondraaglike benoudheid as gevolg van lasterlike tonge
HEILSAME woorde kan opbou en bemoedig. ’n Geïnspireerde spreuk sê: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spr. 16:24). Heuning smaak lekker en bied vinnige verkwikking aan ’n honger persoon. Vriendelike woorde kan net so verkwikkend vir die liggaam wees, want hulle kan ’n mens in ’n gelukkige gemoedstoestand plaas. Wanneer ’n persoon opgewek en opgeruimd is, is hy gewoonlik fierder en lewendiger.
Wanneer ’n indiwidu egter die onderwerp van lasterlike praatjies word, kan dit vir hom ondraaglike benoudheid veroorsaak. Dit was die ervaring van die psalmis. Hy het gebid dat hy verlos moet word van ondergang weens die leuenagtige tonge wat hom beswadder. In Psalm 120:1, 2 lees ons: “Ek roep die HERE aan in my benoudheid, en Hy verhoor my. o HERE, red my siel van die valse lippe, van die bedrieglike tong!”
Die leuens van die lasteraars was soos pyle uit ’n kryger se boog. Soos gloeiende kole het hierdie leuens die vuur van twis en tweedrag warmer gemaak. Maar sou sulke skadelike praatjies onbepaald voortduur? Nee, die psalmis het met vertroue uitgesien na ’n dag van afrekening en gesê: “Wat sal Hy jou gee of wat vir jou daaraan toevoeg, o bedrieglike tong? Skerp pyle van ’n held saam met gloeiende kole van besembosse” (Ps. 120:3, 4). Aangesien die psalmis hom op Jehovah beroep het, sou die Allerhoogste die een wees wat die lasterlike tonge van die goddelose stil maak. Die lasterlike tong sal homself onheil op die hals haal. Dit sal die swye opgelê word deur ’n kryger se pyle en deur God se vurige oordeel wat vergelyk kan word met die kole van besem-boshout wat groot hitte afgee wanneer dit brand.
Intussen was die psalmis steeds terdeë bewus van die benoudheid wat ervaar word wanneer ’n mens tussen haatlike mense lewe, en hy het dit vergelyk met ’n vreemdeling tussen die barbare van Meseg en die wrede, swerwende tentbewoners van Kedar. “Wee my”, het hy uitgeroep, “dat ek as vreemdeling vertoef in Meseg, dat ek by die tente van Kedar woon!”—Ps. 120:5.
Omdat hy reeds te lank vertoef het onder mense wat vrede haat, het die psalmis na rus gesmag. Maar die goddelose sou hom eenvoudig nie toelaat om dit te geniet nie. Hulle was altyd gereed om met hom skoor te soek. Die psalmis sê voorts: “Te lank al woon my siel by die wat die vrede haat. Ek is vredeliewend; maar as ek spreek, is hulle op oorlog uit.”—Ps. 120:6, 7.
Indien ons, soos die psalmis, vredeliewend is, moet ons ons tonge in toom hou en nie vir ander benoudheid veroorsaak deur snedige, ondermynende dinge te sê nie. Die Bybel se raad is: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Ef. 4:29). Hoewel ons vir lief moet neem met die smaad en leuens van ander, kan ons troos put uit die feit dat Jehovah God sake mettertyd sal regstel.