Pogings om die hele Finland met die “goeie nuus” te bereik
DIT verg inspanning om almal met die “goeie nuus” te bereik, en dit is veral waar in Finland. Finland, wat op ’n uithoek van Europa tussen Swede en die Sowjet-Unie geleë is, is een van die noordelikste lande ter wêreld. En dit is koud, maar nie so ysig en besneeu as wat jy dalk dink nie, danksy die warm Golfstroom.
Die meeste van die 4 743 000 bewoners van hierdie “land van ’n duisend mere” praat Fins, hoewel Sweeds die moedertaal van ongeveer 7 persent van die bevolking is. Daar word gemeen dat die Finne oorspronklik êrens uit suidoostelike Rusland hierheen getrek het. Hulle is nou verwant aan die Estlanders en, verlangs, aan die Hongare.
Meer as 92 persent van die mense behoort amptelik aan die amptelike staatsgodsdiens, die Evangeliese Lutherse Kerk van Finland. Maar baie persone beweer dat die Bybel bloot deur mense geskryf is en twyfel sterk aan wat dit sê. Wanneer hulle dit doen, praat hulle die leer van ’n paar vername geestelikes na. Kerkbywoning is ongeveer 3 persent, maar mans gaan net tydens spesiale geleenthede, soos ’n huwelik of ’n begrafnis, kerk toe. Die Finne het natuurlik die “goeie nuus” nodig, en die meer as 13 000 getuies van Jehovah hier wend groot pogings aan om hulle met hierdie verblydende boodskap te bereik. Maar hoe is daar begin om die “goeie nuus” in Finland te verkondig?
VINNIGE GROEI IN ’N VRUGBARE VELD
In 1909 het kolporteurs of voltydse werkers vir die eerste keer uit Swede na Finland gekom en Bybellektuur versprei. Maar die werklike begin was later daardie selfde jaar toe ’n godsdienstige man van Toerkoe op ’n pelgrimstog na Palestina vertrek het, maar in Swede vertraag is. Daar het hy ’n getuienis ontvang en ’n Bybelstudiehulp bekom wat geskryf is deur C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap. Die man het gou besef dat dit die waarheid bevat. Hy het van sy reis afgesien, na Finland teruggekeer en die boek na sy vriend Kaarlo Harteva in Helsinki geneem en hom versoek om dit in Fins te vertaal. Hierdie twee manne is eerlank gedoop en het ywerig begin om die “goeie nuus” dwarsdeur hierdie land te verkondig, die lektuur te vertaal en openbare Bybellesings te hou.
Hulle vlytige pogings het gou resultate opgelewer. Toe C. T. Russell Finland in 1912 besoek het, het bykans 2 000 persone na hom kom luister, en 140 het die byeenkoms wat toe gehou is, bygewoon. Verslae dui aan dat 477 openbare toesprake in 1912 hier gehou is, en dat 17 indiwidue kolporteurwerk gedoen het. J. F. Rutherford het ’n gehoor van 3 000 toegespreek toe hy Finland in 1913 besoek het.
Die goeie evangelisasiegees wat in daardie vroeë dae hier deur God se volk getoon is, duur tot vandag toe voort. En na ’n “blitsige” begin het God se werk gestadig gevorder. Daar is nou 251 gemeentes dwarsoor die land. In 1922 het die “Wet op Godsdiensvryheid” van krag geword. Dit was toe vir indiwidue moontlik om uit die staatskerk te bedank indien dit hulle begeerte was. Die nuwe wet het elkeen ook die reg gewaarborg om sy geloof te beoefen, solank dit nie teen goeie sedes en gewoontes ingedruis het nie. Dit het die weg gebaan vir die amptelike registrasie van die Godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies in 1945. ’n Takkantoor van die Wagtoringgenootskap is egter al in 1911 in Helsinki geopen, en daar is in 1912 begin om die Finse Wagtoring gereeld te druk.
INSPANNING NODIG OM DIE MENSE TE BEREIK
In daardie vroeë dae was dit glad nie maklik om die mense in hierdie groot, ylbevolkte land, waarvan ’n derde noord van die Noordpoolsirkel geleë is, te bereik nie. Uitgestrekte woude bedek ’n derde van die land, en water en moerasse nog ’n tiende. Daar is pragtige mere—nie net 1 000 nie, maar amper 60 000—met meer as dubbel soveel eilande, onder andere sowat 30 000 al langs die kus. Reise om die mense te bereik duur dus lank, en dit was veral waar in daardie vroeë dae. Vandag het paaie en vervoer ontsaglik verbeter, en daar is meer motors, gerieflike treine en busse en ’n puik lugdiens.
Toe Finland in Desember 1917 onafhanklikheid van Rusland verkry het, het dit ’n burgeroorlog afgegee waartydens die mededingende faksies om beheer geveg het. Ten spyte van al die gepaardgaande probleme het ware Christene egter aangehou om die “goeie nuus” te verkondig en is nuwe gemeentes gestig.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Finse getuies van Jehovah te kampe gehad met verbooie op hulle lektuur asook arrestasies en gevangesetting, veral weens hulle Christelike neutraliteit (Joh. 15:19). Maar hulle pogings om die “goeie nuus” te verkondig, is ryklik geseën. In 1944 was daar ’n vermeerdering van 62 per sent in die aantal Koninkryksverkondigers, en teen 1945 het die aantal verkondigers toegeneem tot 1 632 in 267 gemeentes. Vandag is daar een getuie van Jehovah vir elke 373 persone in hierdie land—gewis ’n blyk van Jehovah se seën.
Die Noordpoolklimaat bied natuurlik ’n uitdaging. Maar hierdie draers van die “goeie nuus” trek warm aan en gaan in die koudste weer uit om die mense in hulle huise te besoek. Soms kan die koue ’n hulp wees. Ter toeligting: ’n Sekere man het een wintersdag gesien dat ’n paar Getuies sy huis nader. Omdat hy nie met hulle wou praat nie, het hy in die solder weggekruip met die doel om daar te bly terwyl sy vrou met hulle gepraat het. In die koue, onverhitte solder kon hy hoor hoe die Koninkryksverkondigers in die warm kamer daaronder met sy vrou gesels. Net toe hy gehoop het dat die besoekers sou vertrek, het hy met misnoeë gehoor hoedat sy vrou aanbied om vir hulle koffie te maak. Terwyl hy gesit en bewe het, het hy gehoor hoedat die Getuies aanbied om die Bybel ses maande lank saam met sy vrou te bestudeer. Wel, dit was een te veel! Hy kon nooit ses maande lank in die solder bly nie! Hy het dus afgekom om by die gesprek aan te sluit en warm koffie te kry. ’n Studie is begin, die man het dit bygewoon en vandag is hy een van ons geestelike broers.
DIE GEMEENTES WORD VERSTERK
In 1949 was daar 415 gemeentes met gemiddeld 9 verkondigers in elk. Dit was weens ’n gebrek aan vervoer en die afsondering van die broers in plattelandse gebiede. Maar namate toestande verbeter het, het al hoe meer gemeentes saamgesmelt, en dit het die Finse Christene baie bemoedig en versterk. Nou is daar slegs 251 gemeentes, maar elkeen het middeld 52 Koninkryksverkondigers, sodat dit moontlik is om leersamer en geloofversterkender vergaderinge te hou.
Sedert 1968 is ongeveer 100 nuwe Koninkryksale gebou, en nou vergader amper 200 gemeentes gereeld in hulle eie sale. Die nuwe Bethelhuis wat in 1961 gebou is, was te klein vir die uitbreiding, en tydens die sewentigerjare is twee groot aanbousels bygevoeg. In 1978 is grond in Hämeenlinna gekoop vir ’n kringbyeenkomssaal. Hierdie gerieflike, mooi gebou met sitplek vir 1 300 persone is vroeg in 1979 voltooi. Dit word deur ongeveer 9 000 Getuies in suidelike Finland gebruik.
HOE DIE GETUIES HULLE BY DIE MENSE AANPAS
Wanneer hulle huisbesoek doen, probeer die Getuies om vriendelike gesprekke te voer. Maar dit verg aanpasbaarheid. In die stede lewe die huisbewoners oënskynlik onder groter druk en dus is dit nodig om taamlik gou “ter sake te kom”. Maar in sekere plattelandse gebiede kan die Getuies gewoonlik eers hulle Skriftuurlike onderwerp bespreek nadat hulle vrae beantwoord het soos: “Waar het jy nou weer gesê kom jy vandaan?” en “Is jy getroud?” In sekere dele van Finland is dit taamlik moeilik om gesprekke met huisbewoners aan te knoop. Maar geduldige Koninkryksverkondigers aldaar word dikwels beloon met goeie besprekings. Dit is interessant dat daardie deel van die land die hoogste verhouding Getuies tot bevolking het.
’n Paar jaar gelede het ’n kringopsiener vertel van ’n jong man genaamd Risto. Gemeentelike vergaderinge is in hulle huis gehou. Maar Risto het nie daaraan deelgeneem nie en amper nooit iets gesê nie. Die ander lede van die gesin het gesê dat hy nie belangstel nie. Nadat hulle die hele omliggende gebied gedek het, het die kringopsiener vir Risto gevra om hom en sy vrou te lei na die enigste groep huise wat hulle nog nie besoek het nie.
Toe hy sien dat daar nie baie huise in daardie omgewing was nie, het die kringopsiener vir Risto gevra of hy nie saam met hulle wou kom nie. Die jongman het ingestem en die bure het hulle vriendelik ontvang. Na die eerste paar besoeke het die kringopsiener voorgestel dat dit dalk meer gepas sal wees vir Risto om sy bure uit te nooi na ’n openbare toespraak wat in sy huis gehou gaan word, en hy het dit met graagte gedoen. Later het hy selfs tydskrifte vir die huisbewoners aangebied. Toe die gesin hoor dat Risto met die mense oor die Bybel gesels het, was hulle verbaas. “Ons het nie geweet dat jy belangstel nie!” het hulle uitgeroep. “Hoekom het jy nie vir ons gesê nie?” “Maar julle het nooit gevra nie”, het Risto geantwoord. Daarna het hy mooi gevorder en hy doen nou al etlike jare lank goeie werk as ’n spesiale pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger).
TEENSTAND KEER NIE ONS WERK NIE
Finland het ’n tradisie van vryheid, en amptenare probeer gewoonlik om almal billik te behandel. Maar daar was al pogings om ’n einde aan die getuieniswerk te maak.
’n Paar jaar gelede het die Vereniging van Finse Stede byvoorbeeld ’n stel voorgestelde ordonnansies vir stede en dorpe opgestel, en een van die artikels in hierdie “polisieregulasies” verbied godsdienswerk in die vorm van “pogings om van huis tot huis te gaan”. Hulle argument was dat die lui van voordeurklokkies, veral in woonstelgeboue, die vrede van die huisbewoners verstoor het. Talle stede en dorpe het die nuwe ordonnansies aanvaar.
Omdat hulle besef dat daar baie mense is wat voordeurklokkies in woonstelgeboue lui, en dat die geluid mense in aangrensende woonstelle kan steur, het Jehovah se Getuies probeer om net hier en daar ’n woonstel op ’n slag te besoek, in plaas daarvan om die een woonstel na die ander se voordeurklokkie te lui. Hulle gaan andersins voort om van huis tot huis te preek, ’n werk wat baie mense hoog op prys stel. Jare lank was daar geen probleme nie. Maar eendag het twee pioniers in die klein kusdorpie Loviisa toevallig by die huis van ’n polisieman aangeklop, en hy het beweer dat hulle die wet oortree. Later is hulle in kennis gestel dat hulle ’n boete moet betaal, maar hulle het verkies om die saak hof toe te neem.
HOF ERKEN MENSE SE REG OM BESOEK TE WORD
In hulle saakskrif het die broers gesê dat die lui van ’n persoon se voordeurklokkie op ’n behoorlike wyse weens ’n geoorloofde rede nie logies as ’n versteuring van die huisbewoner se rus beskou kan word nie, want hy het ’n klokkie sodat persone dit kan lui wanneer hulle met hom wil praat. Die saakskrif het getoon dat dit deel van die geloof van Jehovah se Getuies is om die Bybelboodskap van huis tot huis na die mense te neem, en dat die regering hierdie vorm van evangelisasiewerk goedgekeur het toe dit die godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies toegelaat het om ’n handves te hê. Daar is getoon dat talle persone wil hê dat Jehovah se Getuies hulle moet besoek en dat dit ’n beperking van vryheid sal wees indien alle huisbesoeke verbied word net omdat ’n minderheid dit nie wil hê nie.
Die jong pionier het vir die hof vertel dat hy ’n dwelmslaaf was voordat hy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het en dat hy nooit geweet het dat hy hulle vir hulp met sy probleem kon nader nie; hy was dus baie bly dat hulle hom ongenooid besoek het. Hulle het hom gehelp om met die dwelmgewoonte te breek en ’n nuttige burger te word, en hy het gesê dat baie ander hulp sal waardeer, maar nie weet waar om dit te kry nie. Hy het daarop gewys dat dit nodig is om na sulke mense te soek deur by die deure aan te klop.
Nadat hy na die argument geluister het, het die magistraat saamgestem dat die broer nie die ordonnansie oortree het nie, want hy het nie probeer om in die huise in te gaan nie. Op hierdie grondslag is die saak afgewys en die aanklaer het nie appèl teen die beslissing aangeteken nie. Soos die plaaslike koerant dan ook die volgende dag gesê het, is dit wettig om in Loviisa van huis tot huis te gaan om oor godsdiens te praat solank ’n mens nie probeer om in te gaan nie. Sedertdien het baie dorpe en stede die ordonnansie herroep, en party amptenare het gunstige opmerkings gemaak oor die goeie werk wat Jehovah se Getuies doen deur met die Bybel van huis tot huis te gaan.
Finne lei nou al baie jare lank ’n betreklik rustige lewe. Maar namate inflasie, werkloosheid en misdadigheid tot die gevoel van onsekerheid bydra, wil al hoe meer mense weet wat die Bybel oor die toekoms sê. Net soos elders in die valse Christendom is daar in Finland voorwaar ‘’n honger na die woorde van Jehovah’ (Amos 8:11). Maar in hierdie land met sy baie mere, groen woude en wit sneeu, helder someraande en asemrowende noorderligte, is Jehovah se Getuies vasbeslote om voort te gaan met pogings om almal met die hoopinboesemende “goeie nuus” te bereik.