Insig in die nuus
Het Paulus geweld voorgestaan?
• Volgens die koerant “Saarbrückener Zeitung”, in die Bondsrepubliek van Duitsland, het 84-jarige geestelike “Vader” Bertoni, ’n getuie tydens die verhoor van Korsikaanse terroriste, gesê: “Ek is ten gunste van geweld indien dit nodig is.” Die geestelike het probeer om sy standpunt oor terrorisme te staaf deur aangaande die apostel Paulus te sê: “Paulus het gesê: ‘Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.’” Maar die staatsprokureur het geantwoord: “Ek is verbaas om te hoor dat Paulus raad insake terrorisme gegee het.”
Die bloed waarvan Paulus gepraat het, was die bloed van Christus, en dit het niks met die ondersteuning van gewelddadigheid te doen gehad nie (Hebr. 9:22). Daarbenewens kon Paulus nie geweld steun nie, want hy het gesê: ‘Ek is rein van die bloed van almal’ (Hand. 20:26). Hy was ook ’n ywerige volgeling van Jesus, wat vir Petrus gesê het: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Matt. 26:52). En Paulus het vermaan: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; . . . leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom. 12:17-19). Paulus het dus strenge neutraliteit gehandhaaf ten opsigte van die politieke botsings van sy dag.—Joh. 17:16; Jak. 1:27.
Waarskuwing oor helse vuur
• Die Vatikaan het onlangs die opvatting dat onberouvolle sondaars na hulle dood na ’n brandende hel gaan, herbevestig. In ’n brief aan biskoppe namens pous Johannes Paulus II, het die Vatikaan gesê dat die geloof in hel ’n sleutelleerstelling van Rooms-Katolisisme is en gewaarsku teen die verspreiding van twyfel daaromtrent.
God se geïnspireerde Woord sê egter die volgende aangaande mense wat op een tydstip hulle kinders in vlamme aan valse gode geoffer het: “Hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie” (Jer. 7:31). God sê inderdaad dat so iets “in [sy] hart nie opgekom het nie”. Moet hy dan daarvan beskuldig word dat hy mense vir ewig folter?
God se Woord toon dat die dood (nie-bestaan), nie ewige foltering nie, die straf vir sonde is. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4). Die Bybel sê duidelik: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . . want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [“hel”, Katolieke “Douay” vertaling] waar jy heengaan nie” (Pred. 9:5, 10). Die Bybel spoor ons ook aan om die “hoop op God [te hê], . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges”.—Hand. 24:15.