Spiritistiese kommunikasie—waarom nie?
“JY! MET die Bybel by my deur! Ek kan my oë nie glo nie. . . . my Mae-de-Santo [Brasiliaanse towerpriesteres] sowaar nou een van Jehovah se Getuies!”
Dit is hoe ’n Christengetuie van Jehovah in Rio de Janeiro begroet is tydens haar deur-tot-deurpredikingswerk. Sy was voorheen een van duisende Brasiliaanse Katolieke wat die een of ander vorm van spiritisme beoefen. Sy het egter beide Katolisisme en spiritisme die rug toegekeer om een van Jehovah se Getuies te word. Waarom? Was sy onvergenoegd met haar werk as ’n towerpriesteres? Het spiritistiese kommunikasie haar nie genot verskaf nie? Dit was die vrae wat geopper is deur die huisbewoner tydens die interessante gesprek wat na hulle ontmoeting gevolg het.
Daar word geraam dat ongeveer 70 persent van die persone in Brasilië wat bely dat hulle Katolieke is ook die een of ander vorm van spiritisme beoefen. Hulle meen klaarblyklik dat daar iets in hulle Katolieke geloof ontbreek, en dit laat hulle elders soek. Maar wat omtrent spiritisme maak hulle belangstelling gaande? Vir talle is dit die aantrekkingskrag van die mistisisme tydens spiritistiese sessies. Vir ander is die aantrekkingskrag die hoop om met ’n afgestorwe dierbare te kommunikeer of om navraag te doen oor die ongeoorloofde liefdeslewe van hulle man of vrou.
Maar in die geval wat so pas gemeld is, was dit ’n soeke na die waarheid wat hierdie vrou ondersoek na spiritisme laat instel het toe sy 22 jaar oud was. Sy het vinnig vordering gemaak en eerlank was sy die hoof van ’n towersentrum. Sy het daardie posisie 24 jaar lank beklee. In talle gevalle het haar kontak met die geesteryk oppervlakkig iets goeds vir haar kliënte meegebring, hetsy geldelik, maatskaplik of liggaamlik. Maar, soos sy self erken, het haar werk as ’n medium baiemaal verdeelde gesinne en ontrouheid tot gevolg gehad.
Waarom nie spiritistiese kommunikasie beoefen indien dit iets “goeds” bevat nie? Is dit gepas vir ’n Christen om betrokke te raak by sulke bedrywighede, selfs al is dit met ’n “goeie” doel?
VOORDELIGE KOMMUNIKASIE MET DIE GEESTERYK
As ons na die Skrif gaan vir voorligting, vind ons dat die mens vroeg in sy geskiedenis met die onsigbare ryk gekommunikeer het. In verband met die eerste mensepaar lees ons: “Hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie” (Gen. 3:8). Gedurende daardie kommunikasieperiode het die eerste man baie geleer wat hom tot voordeel gestrek het. Indien hy op sulke raad ag geslaan het, sou hy veel lyding en selfs die dood gespaar gebly het.
Gedurende die tydperk van die Hebreeuse aartsvaders was daar ook regstreekse kommunikasie tussen God se knegte en die onsigbare ryk. Noag het van ’n onsigbare bron instruksies ontvang om ’n reuse-ark te bou vir oorlewing tydens ’n Vloed wat sou kom. Gehoorsaamheid aan sy onsigbare Raadgewer was baie voordelig vir Noag en sy gesin—en vir ons almal. Indien Noag nie ag geslaan het op die instruksies wat aan hom gegee is nie, sou ons nie hier gewees het om na enige stemme te luister nie, hetsy vanuit onsigbare of sigbare bronne.—Gen. 6:9-22.
Nadat daar op soortgelyke wyse met die aartsvader Abraham gekommunikeer is, het hy en sy gesin na ’n ander land verhuis (Gen. 12:1-4). Later het God hierdie man op die proef gestel deur vir hom te sê dat hy sy seun Isak as ’n offerande moes bring. Hy het daardie instruksie nougeset uitgevoer, selfs tot die punt waar hy die mes opgelig het om sy seun dood te maak. Abraham is egter gekeer deur ’n stem uit die onsigbare hemele (Gen. 22:1-18). Soortgelyke regstreekse kommunikasie met God het bestaan tydens die lang tydperk van Israel se rigters en is later geniet deur diegene wat deur God gekies is om as sy profete vir daardie nasie te dien. Gehoorsaamheid aan sulke mededelings uit ’n bomenslike bron het vir al die betrokkenes veel goeds ingehou.
KONING SAUL VEROORDEEL WEENS SPIRITISTIESE KOMMUNIKASIE
Maar nie alle kommunikasie met die onsigbare ryk bring iets goeds mee nie. Toe Israel se eerste koning, Saul, ’n beslissende oorlog teen die Filistyne moes voer, “het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe”. Saul het ’n behoefte aan hulp gehad, maar Jehovah het nie die ontroue koning geantwoord nie. Saul het toe beveel: “Soek julle vir my ’n vrou wat ’n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg.” Die gevolg? Deur deur die medium te praat het die sogenaamde gees van die afgestorwe profeet Samuel vir die bekommerde koning gesê: “Die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en more sal jy met jou seuns by my wees.”—1 Sam. 28:4-19.
Is hierdie voorspelling bewaarheid? Ja, maar slegs gedeeltelik. Die Israeliete is in die hand van die Filistyne gegee en het ’n verskriklike neerlaag gely. Saul en drie van sy seuns het op die slagveld gesterf. Maar in stryd met die voorspelling het Saul se seun Isboset nie daardie dag gesterf nie. Indien Saul ag geslaan het op die voorspelling en teruggeval het, sou dit vir hom en sy drie seuns “goed” gewees het. Hulle sou ten minste ’n rukkie langer gelewe het. Maar dit sou veel beter gewees het indien Saul nooit die medium by Endor geraadpleeg het nie. Kyk waarom dit die geval is.
Saul het vroeër “die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder” (1 Sam. 28:3). Waarom? Omdat hy geweet het dat God se wet gesê het: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.” Die rede? “Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel” (Deut. 18:10-12). Deur ’n medium te raadpleeg, het die ontroue Saul gevolglik ’n verdere veroordeling van Jehovah ontvang volgens die einste wet wat hy, as koning, moes handhaaf. Aangesien Jehovah God mediums veroordeel het en Saul nooit weens sy vorige oortredings geantwoord het nie, vra jy dalk: Wie het dan die boodskap deur die medium aan Saul gestuur?
DIE BRON VAN SPIRITISTIESE BOODSKAPPE
Die antwoord sal duidelik word as ons die Bybelverslag verder ondersoek. Eeue na Saul se dood het die profeet Jesaja geskryf: “As hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” Dan word daar onomwonde gesê: “Tot die wet en tot die getuienis!” (Jes. 8:19, 20). Dit is dus duidelik dat diegene wat mediums raadpleeg nie die almagtige God, Jehovah, raadpleeg nie. Wat is dus die bron van die boodskappe wat ontvang word deur diegene wat “mompel”?
Dieselfde vraag het dalk opgekom by persone van die eerste eeu G.J. wanneer hulle die voorspellings gehoor het wat deur professionele mediums gemaak is. Beskou byvoorbeeld die geval van “’n slavin” in Filippi. Sy het ’n “gees” gehad en “vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring”. Trouens, sy het die apostel Paulus en sy metgeselle bly volg en uitgeroep: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.” Wel, sy het die waarheid gepraat. Maar het haar woorde van God gekom? Nee, want Paulus het eindelik moeg geword om daardie boodskap te hoor en “vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.” Die geïnspireerde verslag identifiseer daardie “gees” onomwonde as “’n waarsêende demon”.—Hand. 16:16-18, vgl. NW.
Dit was dalk vir party toeskouers moeilik om te bepaal wie daardie meisie nou eintlik gedien het. Maar Paulus het geweet dat sy haar vermoëns nie van God nie, maar van ’n ander bomenslike bron ontvang het. ’n Duiwel was daarvoor verantwoordelik. Dat daar sulke geeste bestaan het wat mense vir okkulte doeleindes gebruik het, blyk uit wat ’n kort rukkie later in Efese gebeur het.
In verband met die apostel Paulus se bedrywighede in daardie stad lees ons: “God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.” Toe sewe seuns van die Joodse owerpriester Skeva probeer het om ’n “bose gees” uit te dryf, het die duiwelbesetene die voornemende duiwelbesweerders aangeval sodat hulle “naak en gewond” moes vlug.—Hand. 19:11-16.
“Dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Efese woon”, sê die geïnspireerde verslag, “en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.” Gevolglik het “baie van die wat gelowig geword het, . . . belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak; en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand”, alhoewel sulke boeke ’n aansienlike bedrag werd was. Daardie indiwidue het geweet dat hulle ontslae moes raak van hulle towergebruike sowel as boeke oor die onderwerp. Hulle het hulle van die goddelose, duiwelse bron van okkulte voorspelling na die ware Bron van lewegewende wysheid, Jehovah God, gewend.—Hand. 19:17-20.
DUI “GOEIE” RESULTATE ALTYD OP ’N GOEIE BRON?
Die okkulte boodskappe wat daardie Efesiërs voorheen ontvang het, was ongetwyfeld nie almal onjuis nie. Soms was daardie boodskappe dalk waar en het dit iets kennelik “goeds” vir sekere indiwidue meegebring, hetsy finansieel of liggaamlik. Sekere Efesiërs is moontlik deur okkulte maniere selfs aangesê wat hulle moes doen om van hulle ernstige kwale of siektes genees te word. Maar het dit die gebruik reg gemaak? By ’n ander geleentheid het die apostel Paulus gewaarsku: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die Iig.” Om onbehoedsames te mislei, kan Satan die Duiwel dus dinge doen wat goed lyk. Paulus het bygevoeg dat Satan se dienaars op dieselfde wyse optree.—2 Kor. 11:14, 15.
Christene is dus verstandig indien hulle wakker bly en kontak met hierdie goddelose “engel van die lig” en sy dienaars vermy. Godvrugtige persone “stel die geeste op die proef of hulle uit God is” en of hulle van sy groot aartsvyand, Satan die Duiwel, kom (1 Joh. 4:1). Daarbenewens het Jesus Christus gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie . . . Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie . . . in u Naam duiwels uitgedrywe . . . nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23). Dit is sterk gestel, maar dit kan selfs van toepassing wees op persone wat meen dat hulle met bose geeste kan kommunikeer of hulle kan uitdryf. Dit is duidelik dat sulke indiwidue maklik mislei kan word om Satan in plaas van die ware God te dien.
WEERSTAAN BOSE GEESMAGTE
Aan Christene in Efese het die apostel Paulus geskryf: “Trek die volle wapenrusting van God aan . . . Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geeste in die lug” (Ef. 6:11, 12). Kan daar gesê word dat ’n Christen sulke magte beveg indien hy hulle deur ’n medium raadpleeg? Hoegenaamd nie. Sal hy nie eerder enige voorwerpe wat met sulke spiritistiese kommunikasie in verband staan, moet vernietig in navolging van die voorbeeld van daardie eerste-eeuse Christene in Efese wat selfs die boeke verbrand het wat oor okkultisme gehandel het nie?
Die gewese towerpriesteres wat vroeër gemeld is, het hierdie weg ingeslaan toe sy Bybelwaarheid geleer het. Sy het al haar okkulte toebehore vernietig deur al haar beelde en die spoggerige klere wat sy eens tydens spiritistiese sessies gedra het, te verbrand. Sy het dit openlik gedoen voor diegene wat daarvan oortuig was dat so iets haar lewe in gevaar gestel het. En sy het voortgegaan om ’n bedrywige lewe te lei en meer as 140 uur per maand te wy aan die verkondiging van die goeie nuus van God se koninkryk. Selfs die verbaasde huisbewoner wat haar gegroet het met die woorde wat vroeër aangehaal is, het haar voorbeeld gevolg en die vermenging van Katolisisme en spiritisme die rug toegekeer! Albei besef nou dat die naam van Jehovah ’n sterk toring is waarheen die regverdige hardloop en beskut word.—Spr. 18:10.
Christene verwag nie om soos Adam, Abraham en ander van vervloë tye regstreekse kommunikasie met God te geniet nie. Hulle besef dat “nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, . . . Hy in hierdie laaste dae . . . gespreek [het] deur die Seun”, Jesus Christus (Hebr. 1:1). Die dinge wat Jehovah deur sy Seun tot ons spreek, word tot ons voordeel in die Heilige Skrif uiteengesit. Christene het dus nie regstreekse, persoonlike kommunikasie van God af nodig nie, en hulle verwag dit ook nie.
Ware Christene vermy dus enige vermetele pogings om met die onsigbare wêreld te kommunikeer. Hulle weerstaan duiwelse pogings om hulle te laat glo dat ’n persoon spiritistiese kommunikasie kan geniet en nog steeds God se guns kan geniet. Hulle slaan eerder ag op Paulus se raad: “Neem die volle [geestelike] wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.”—Ef. 6:13.