45 PETRUS
“Ek is ’n sondige man”
PETRUS was ’n hardwerkende visserman wat saam met sy familie in hulle familiebesigheid gewerk het. Hy was dapper en moedig. Hy was geneig om te sê net wat hy dink en om te doen wat nodig was. Eendag het sy broer Andreas met opgewondenheid vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind.” Nie lank daarna nie, het Petrus een van Jesus se volgelinge geword.
’n Paar maande later het Jesus na Kapernaum gekom waar Petrus gebly het. Petrus het die hele nag hard gewerk, maar niks vis gevang nie. Jesus het vir hom gesê om dieper te gaan en weer sy nette te laat sak. Petrus was skepties, want om in die middel van die dag vis te vang, was nie ’n goeie idee nie. Hy het gesê: “Ons het die hele nag hard gewerk en niks gevang nie.” Maar hy was gehoorsaam. Skielik was al twee bote so vol vis dat hulle begin sink het! Petrus was bang. Hy het voor Jesus neergeval en gesê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige man.” Petrus het gevoel dat hy nie waardig was om met die Seun van God te wees wat hierdie wonderwerke verrig het nie. Jesus het hom verseker: “Hou op om bang te wees. Van nou af sal jy mense lewend vang.”
Jesus het die goeie in Petrus gesien en hom later een van sy 12 apostels gemaak. Petrus het op baie maniere gewys dat hy moedig is. Wanneer Jesus iets gesê het wat sy dissipels nie verstaan het nie, was Petrus gewoonlik die een wat Jesus gevra het om dit te verduidelik. Toe Jesus op water geloop het, het Petrus die moed gehad om vir Jesus te vra of hy ook op die water kon loop.
Petrus het baie keer gepraat sonder om te dink, daarom het hy moed nodig gehad om raad te aanvaar en nie op te gee nie
Petrus het ook ’n ander soort moed gewys. Wanneer ’n persoon reggehelp word, het hy moed nodig om nederig en eerlik na homself te kyk, sy foute te erken en dan die nodige veranderinge te maak. Petrus het sulke moed keer op keer gewys. Toe Jesus sy eie dood voorspel het, het Petrus hom verkeerdelik probeer reghelp deur te sê: “Wees goed vir uself, Here.” Jesus het vir Petrus streng raad gegee omdat hy gepraat het soos Satan sou gepraat het, teen God se wil. Petrus het nederig die raad aanvaar.
Op die aand voor sy dood wou Jesus sy apostels ’n les oor nederigheid leer, en daarom het hy hulle voete gewas net soos ’n kneg sou doen. Petrus het Jesus probeer keer en het gesê: “Ek sal beslis nooit toelaat dat u my voete was nie.” Jesus het hom ferm reggehelp. Petrus het toe na die ander uiterste gegaan en gevra dat Jesus nie net sy voete moet was nie, maar ook sy hande en kop. Jesus het hom weer reggehelp. Later het Jesus gesê dat al sy apostels hom sou verlaat. Petrus het daarop aangedring dat hy Jesus nooit sou verlaat nie, al sou al die ander dissipels dit doen! Jesus het gesê dat Petrus hom daardie aand drie keer sou ontken.
Net ’n paar uur later was Jesus gearresteer, vasgemaak en weggeneem. Petrus het moedig van ’n afstand bly volg. Hulle het Jesus na die hoëpriester se huis gevat waar hy mishandel en skuldig bevind was vir iets wat hy nie gedoen het nie. Terselfdertyd was Petrus in die binnehof. En party ander wat ook daar was, het Petrus herken as een van Jesus se volgelinge. Petrus het hom drie keer ontken net soos Jesus voorspel het.
Op daardie oomblik het Jesus uit die huis uitgekom en reguit na Petrus gekyk. Petrus was stukkend. “Hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.” Ure later, toe sy geliefde Here wreed doodgemaak was, het Petrus seker erger as ooit tevore gevoel. Maar hy het geweier dat sy fout hom onderkry. Hy was vasbeslote om te volhard. Wat het hy volgende gedoen? Hy het na die ander apostels toe gegaan. Later het hy iets wonderliks gehad om vir hulle te vertel: Jesus het aan hom verskyn! Die Bybel sê nie wat Jesus vir hom gesê het nie, maar Petrus was versterk en vertroos.
Weke later, toe Jesus met sy apostels by die See van Galilea was, het hy vir Petrus ’n liefdevolle geskenk gegee. Net soos Petrus hom drie keer ontken het, het Jesus hom drie geleenthede gegee om te sê dat hy sy Meester liefhet. Omdat Jesus Petrus vertrou het, het hy vir hom ’n belangrike toewysing gegee: “Voed my skapies.” Soos ons in hoofstuk 49 sal sien, het Petrus presies gedoen wat Jesus hom gevra het, met meer moed as ooit tevore.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Petrus gewys dat hy moedig is gedurende hierdie deel van sy lewe?
Soek dieper
1. Wat het Petrus se werk as ’n visserman ingesluit? (it “Jag en visvang” ¶6-7-wcgr) A
Prent A
2. Hoekom het Jesus Simon die naam Sefas (Petrus) gegee? (“Jy is Simon”-studienota vir Joh. 1:42 in die Engelse Studiebybel-wcgr)
3. Wat het Jesus bedoel toe hy Petrus en Andreas genooi het om “vissers van mense” te word? (Matt. 4:18-20; w16.05 10 ¶3-4) B
Prent B
4. Kort voordat Jesus terug hemel toe gegaan het, het hy vir Petrus gevra: “Is jy liewer vir my as vir hulle?” Wat het Jesus se vraag moontlik beteken? (“is jy liewer vir my as vir hulle?”-studienota vir Joh. 21:15 in die Engelse Studiebybel-wcgr)
Dink aan die lesse
Hoe kan Petrus se voorbeeld jou help om Jehovah aan te hou dien, al sukkel jy met ’n swakheid? C
Prent C
Hoe kan dit jou help as jy nadink oor die manier hoe Jehovah en Jesus Petrus vryelik vergewe het?
Hoe kan jy die moed navolg wat Petrus in hierdie verslag gewys het?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat het jy in hierdie verslag oor Petrus geleer wat jou bly maak dat hy gekies was om saam met Jesus in die hemel te regeer?
Leer meer
Hoe kan ouers Petrus se voorbeeld gebruik om hulle kinders oor Jehovah se genade te leer?
Kyk hoe Petrus lojaal gebly het toe baie Jesus verlaat het.