Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • lvs hfst. 8 bl. 104-117
  • Jehovah se volk moet skoon en rein wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se volk moet skoon en rein wees
  • Hoe om in God se liefde te bly
  • Lees in ‘God se liefde’
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOEKOM MOET ONS SKOON EN REIN WEES?
  • WAT BETEKEN DIT OM REIN TE WEES?
  • WAT BETEKEN DIT OM SKOON TE WEES?
  • RAAK ONTSLAE VAN ONREIN GEWOONTES
  • God se knegte moet rein wees
    Wat vereis God van ons?
  • “Hou julle rein”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Hoe kan ons skoon en rein wees in God se oë?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Wees rein van verstand en liggaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Hoe om in God se liefde te bly
lvs hfst. 8 bl. 104-117
’n Ma knoop haar seuntjie se hemp toe

HOOFSTUK 8

Jehovah se volk moet skoon en rein wees

“Vir die een wat rein is, toon u dat u rein is.” – PSALM 18:26.

1-3. (a) Hoekom sorg ’n ma dat haar seuntjie netjies en skoon is? (b) Hoekom wil Jehovah hê dat sy volk skoon en rein moet wees?

STEL jou voor hoe ’n liefdevolle ma haar seuntjie regkry vir skool. Sy maak seker dat hy gebad het en dat sy klere netjies en skoon is. Dit hou hom gesond en wys vir ander dat sy ouers goed na hom omsien.

2 Ons Vader, Jehovah, wil hê dat ons skoon en rein moet wees (Psalm 18:26). Hy weet dat dit tot ons voordeel is. En as ons skoon en rein is, verheerlik dit hom. – Esegiël 36:22; lees 1 Petrus 2:12.

3 Wat beteken dit om skoon en rein te wees? En hoekom is dit goed vir ons? Terwyl ons die antwoord op hierdie vrae bespreek, sal ons dalk agterkom dat ons self ’n paar veranderinge moet maak.

HOEKOM MOET ONS SKOON EN REIN WEES?

4, 5. (a) Hoekom moet ons skoon wees? (b) Wat leer die skepping ons oor Jehovah se beskouing van reinheid?

4 Jehovah leer ons deur sy eie voorbeeld om skoon en rein te wees (Levitikus 11:44, 45). Die belangrikste rede waarom ons skoon moet wees, is omdat ons “navolgers van God” wil wees. – Efesiërs 5:1.

5 Die skepping leer ons baie oor Jehovah se beskouing van reinheid. Jehovah het kringlope in die natuur geskep wat ons lug en water skoon hou (Jeremia 10:12). Dink aan al die maniere waarop die aarde homself skoonmaak, selfs nadat mense dit besoedel het. Jehovah het byvoorbeeld klein organismes geskep wat mikrobes genoem word en wat net met ’n mikroskoop gesien kan word. Mikrobes kan giftige afvalstowwe in onskadelike stowwe verander. Dit is ’n ongelooflike proses. Wetenskaplikes gebruik sulke mikrobes selfs om die gevolge van besoedeling teë te werk. – Romeine 1:20.

6, 7. Hoe het die Wet van Moses gewys dat Jehovah se aanbidders skoon moet wees?

6 Die Wet wat Jehovah deur middel van Moses aan die Israeliete gegee het, leer ons ook hoe belangrik dit is om skoon te wees. Die volk moes skoon wees as hulle wou hê dat hulle aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar moes wees. Op die Versoendag moes die hoëpriester twee keer bad (Levitikus 16:4, 23, 24). En die ander priesters moes hulle hande en voete was voordat hulle offerandes kon offer (Eksodus 30:17-21; 2 Kronieke 4:6). In party gevalle was ongehoorsaamheid aan wette oor reinheid strafbaar met die dood. – Levitikus 15:31; Numeri 19:17-20.

7 Vandag leer ons nog steeds baie oor Jehovah se standaarde uit die wette wat hy aan die Israeliete gegee het (Maleagi 3:6). Dit wys duidelik dat Jehovah se aanbidders skoon moes wees. Jehovah se standaarde het nie verander nie. Vandag verwag hy nog steeds dat sy aanbidders skoon en rein moet wees. – Jakobus 1:27.

WAT BETEKEN DIT OM REIN TE WEES?

8. In watter opsigte moet ons rein wees?

8 Vir Jehovah behels reinheid nie net dat ons ons liggaam, klere en huis moet skoon hou nie. Ons moet rein wees in elke aspek van ons lewe. Dit sluit ons aanbidding, gedrag en gedagtes in. As ons wil hê dat Jehovah ons as rein moet beskou, moet ons in elke aspek van ons lewe skoon en rein wees.

9, 10. Wat moet ons doen as ons wil hê dat ons aanbidding rein moet wees?

9 Rein aanbidding. Ons moet niks met valse godsdiens te doen hê nie. Toe die Israeliete in Babilon gevange was, was hulle omring deur mense wat valse gode aanbid het en onsedelike rituele beoefen het. Jesaja het voorspel dat die Israeliete na hulle land sou terugkeer en ware aanbidding sou herstel. Jehovah het vir hulle gesê: “Gaan daar uit, moet aan niks raak wat onrein is nie! Gaan uit haar uit, bly rein.” Hulle aanbidding van Jehovah moes nie met die leringe, gewoontes of gebruike van die valse godsdiens van Babilon vermeng word nie. – Jesaja 52:11.

10 Vandag vermy ware Christene ook valse godsdiens. (Lees 1 Korintiërs 10:21.) Regoor die wêreld is daar baie tradisies, gebruike en leringe wat op valse godsdiensleerstellings gebaseer is. In baie kulture glo mense byvoorbeeld dat daar iets binne-in ons is wat bly lewe nadat ons sterf, en baie gebruike is op hierdie idee gebaseer (Prediker 9:5, 6, 10). Christene moet sulke gebruike vermy. Familielede sal dalk druk op ons plaas om aan sulke gebruike deel te neem. Maar ons sal nie ingee nie, want ons wil hê dat Jehovah ons as rein moet beskou. – Handelinge 5:29.

11. Wat moet ons doen as ons wil hê dat ons gedrag rein moet wees?

11 Rein gedrag. As ons rein in Jehovah se oë wil wees, moet ons enige vorm van seksuele onsedelikheid vermy. (Lees Efesiërs 5:5.) In die Bybel sê Jehovah vir ons om te “vlug vir seksuele onsedelikheid”. Hy maak dit duidelik dat mense wat onsedelik is en nie berou toon nie, “God se Koninkryk nie [sal] erf nie”. – 1 Korintiërs 6:9, 10, 18; sien Eindnota 22.

12, 13. Hoekom moet ons gedagtes rein wees?

12 Rein gedagtes. Gedagtes lei dikwels tot dade (Matteus 5:28; 15:18, 19). Rein gedagtes sal ons beweeg om ons gedrag rein te hou. Omdat ons onvolmaak is, sal verkeerde gedagtes natuurlik van tyd tot tyd by ons opkom. Wanneer dit gebeur, moet ons dit onmiddellik verwerp. As ons dit nie doen nie, sal ons hart later nie meer rein wees nie. Ons sal dalk die slegte dinge wil doen waaraan ons dink. Ons moet eerder ons gedagtes met rein dinge bly vul. (Lees Filippense 4:8.) Daarom vermy ons dinge soos onsedelike of gewelddadige vermaak. Ons is baie versigtig wanneer dit kom by die dinge wat ons lees, waarna ons kyk en waaroor ons praat. – Psalm 19:8, 9.

13 As ons in God se liefde wil bly, moet ons aanbidding, gedrag en gedagtes rein wees. Maar dit is ook vir Jehovah belangrik dat ons skoon moet wees.

WAT BETEKEN DIT OM SKOON TE WEES?

14. Hoekom is dit belangrik om skoon te wees?

14 As ons ons liggaam en omgewing skoon hou, is dit goed vir ons en die mense om ons. Ons sal goed voel, en ander sal daarvan hou om by ons te wees. Maar die belangrikste rede waarom ons skoon wil wees, is omdat dit Jehovah verheerlik. Dink hieraan: As jy ’n kind sien wat altyd vuil is, sal jy dalk sleg dink van sy ouers. Net so sal mense dalk sleg dink van Jehovah as ons nie netjies en skoon bly nie. Paulus het gesê: “Ons gee niemand enige rede om te struikel nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie. Maar in elke opsig beveel ons onsself as God se bedienaars aan.” – 2 Korintiërs 6:3, 4.

’n Seuntjie was sy hande; ’n vrou was ’n pot

As Jehovah se knegte moet ons onsself en ons omgewing skoon hou

15, 16. Wat kan ons doen om onsself skoon te hou?

15 Ons liggaam en klere. Om onsself skoon te hou, moet deel wees van ons daaglikse roetine. Byvoorbeeld, ons was onsself gereeld, elke dag indien moontlik. Ons was ons hande met seep en water, veral voordat ons kook of eet en definitief nadat ons die toilet gebruik het of aan iets vuils geraak het. Dit lyk dalk na iets kleins om ons hande te was, maar dit is baie belangrik, want dit kan keer dat kieme en siektes versprei. Dit kan selfs lewens red. As daar nie ’n toilet of ’n rioolstelsel is nie, kan ons nog steeds goeie maniere vind om ontlasting te verwyder. In die ou tyd het die Israeliete nie ’n rioolstelsel gehad nie. Daarom het hulle hulle ontlasting in die grond begrawe, ver van mense se huise en waterbronne af. – Deuteronomium 23:12, 13.

16 Ons klere hoef nie duur te wees nie, en ons hoef nie die nuutste modes te dra nie. Maar ons klere moet netjies en skoon wees. (Lees 1 Timoteus 2:9, 10.) Ons wil hê dat ons voorkoms Jehovah altyd moet verheerlik. – Titus 2:10.

17. Hoekom moet ons ons huis en omgewing skoon hou?

17 Ons huis en omgewing. Maak nie saak waar ons woon nie, ons huis moet skoon wees. Ons maak ook seker dat ons kar, motorfiets, fiets of ander vervoermiddel skoon is, veral as ons dit gebruik om na ons vergaderinge toe te gaan of wanneer ons preek. Dit is belangrik, want wanneer ons die predikingswerk doen, vertel ons ander van die lewe op ’n skoon paradysaarde (Lukas 23:43; Openbaring 11:18). Ons huis en omgewing moet wys dat ons nou al voorberei vir die lewe in daardie skoon nuwe wêreld.

18. Hoekom moet ons plek van aanbidding skoon wees?

18 Ons plek van aanbidding. Ons wys dat dit vir ons belangrik is om skoon te wees as ons ons vergaderplek skoon hou, of dit nou die Koninkryksaal is of die plek waar ons byeenkomste hou. Wanneer mense die eerste keer na die Koninkryksaal kom, let hulle gewoonlik op hoe skoon dit is. Dit verheerlik Jehovah. As lede van die gemeente kan ons almal help om ons Koninkryksaal skoon en in ’n goeie toestand te hou. – 2 Kronieke 34:10.

RAAK ONTSLAE VAN ONREIN GEWOONTES

19. Wat moet ons vermy?

19 Die Bybel noem nie elke slegte gewoonte wat ons moet vermy nie, maar dit voorsien wel beginsels wat ons help om te verstaan hoe Jehovah oor slegte gewoontes voel. Hy wil nie hê dat ons moet rook, te veel moet drink of dwelms moet gebruik nie. As ons God se vriende is, sal ons nie hierdie dinge doen nie. Hoekom nie? Omdat ons groot respek het vir die gawe van lewe. Sulke gewoontes kan ons lewe verkort en ons gesondheid sowel as die mense om ons benadeel. Baie mense probeer hierdie slegte gewoontes ter wille van hulle gesondheid opgee. Maar as Jehovah se vriende het ons die beste rede om dit op te gee – ons liefde vir God. ’n Jong vrou het gesê: “Met Jehovah se hulp het ek my lewe verander en verslawende gewoontes opgegee. . . . Ek dink dat dit vir my onmoontlik sou gewees het om dit op my eie te doen.” Kom ons bespreek vyf Bybelbeginsels wat ’n mens kan help om los te breek van skadelike gewoontes.

20, 21. Van watter gewoontes wil Jehovah hê moet ons losbreek?

20 “Aangesien ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons reinig van alles wat liggaam en gees besoedel en daarna streef om met vrees vir God volmaakte heiligheid te bereik” (2 Korintiërs 7:1). Jehovah wil hê dat ons moet losbreek van onrein gewoontes wat skadelik kan wees vir ons verstand en liggaam.

21 In 2 Korintiërs 6:17, 18 vind ons ’n kragtige rede om ons te “reinig van alles wat liggaam en gees besoedel”. Jehovah sê vir ons: “Hou op om te raak aan wat onrein is.” Dan belowe hy: “Ek sal julle inneem. En ek sal vir julle ’n vader word, en julle sal vir my seuns en dogters word.” Ja, as ons alles vermy wat ons in Jehovah se oë onrein kan maak, sal hy vir ons so lief wees soos wat ’n pa vir sy kinders is.

22-25. Watter Bybelbeginsels kan ons help om onrein gewoontes te vermy?

22 “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Dit is die belangrikste gebod wat daar is (Matteus 22:38). Jehovah verdien dat ons hom met ons hele hart, siel en verstand moet liefhê. Hoe kan ons hom so liefhê as ons iets doen wat ons lewe kan verkort of ons brein kan beskadig? Daarom doen ons alles wat ons kan om respek te toon vir die lewe wat hy ons gegee het.

23 “[Jehovah gee] aan alle mense lewe en asem en alles” (Handelinge 17:24, 25). Sal jy ’n spesiale geskenk wat ’n vriend jou gee, weggooi of vernietig? Die lewe is ’n wonderlike geskenk van Jehovah. Ons het groot waardering vir hierdie geskenk. Daarom wil ons ons lewe gebruik op ’n manier wat hom sal verheerlik. – Psalm 36:9.

24 “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Onrein gewoontes is nie net skadelik vir ons nie. Dit is ook skadelik vir mense om ons, en dit is gewoonlik die mense vir wie ons die liefste is. Iemand wat in dieselfde huis as ’n roker woon, kan byvoorbeeld ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel omdat hy die rook inasem. Maar as ons slegte gewoontes opgee, wys ons vir dié om ons dat ons hulle liefhet. – 1 Johannes 4:20, 21.

25 “Hou aan om hulle daaraan te herinner om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede” (Titus 3:1). In baie lande is dit onwettig om sekere dwelms te besit of te gebruik. Omdat Jehovah ons beveel om regerings te respekteer, gehoorsaam ons hierdie wette. – Romeine 13:1.

’n Jong man verwerp die onrein gewoontes om te rook en om dwelms te gebruik

As ons skoon en rein bly, verheerlik ons Jehovah

26. (a) Wat moet ons doen as ons wil hê dat ons aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar moet wees? (b) Hoekom wil ons rein bly in God se oë?

26 As ons Jehovah se vriend wil wees, sal ons dalk besef dat ons ’n paar veranderinge moet maak. Indien wel, moet ons dit dadelik doen. Dit is nie altyd maklik om ’n onrein gewoonte op te gee nie, maar ons kan dit doen! Jehovah belowe dat hy ons sal help. Hy sê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou lei op die weg wat jy moet volg” (Jesaja 48:17). As ons ons bes doen om skoon en rein te bly, kan ons seker wees dat ons ons God verheerlik.

BYBELBEGINSELS

1 JEHOVAH IS HEILIG IN ALLES WAT HY DOEN

“Julle moet heilig wees, want ek is heilig.” – Levitikus 11:45

Wat beteken dit om heilig te wees?

  • 2 Korintiërs 6:3, 4, 17, 18

    Om heilig, of rein, te wees, raak elke aspek van ons lewe. Dit sluit in dat ons ons liggaam, klere en huis skoon moet hou. Dit sluit ook in dat ons ons aanbidding, gedrag en gedagtes rein moet hou.

  • Eksodus 30:17-21; Jeremia 10:12

    Reinheid is vir Jehovah belangrik.

  • Psalm 19:8, 9; Matteus 15:18, 19; Filippense 4:8

    Gedagtes lei tot dade, en daarom moet ons ons bes doen om ons gedagtes rein te hou.

2 ONS AANBIDDING MOET REIN WEES

“Bly rein, julle wat die voorwerpe van Jehovah dra.” – Jesaja 52:11

Hoe hou ons ons aanbidding rein?

  • 1 Korintiërs 10:21; Jakobus 1:27

    Ons vermy tradisies, gebruike en leringe wat te doen het met valse godsdiens.

  • Levitikus 11:44; Maleagi 3:6

    Jehovah het sy volk nog altyd beskerm deur aan hulle wette en beginsels te gee.

3 SLEGTE GEWOONTES BENADEEL ONS VERHOUDING MET JEHOVAH

“Laat ons ons reinig van alles wat liggaam en gees besoedel.” – 2 Korintiërs 7:1

Watter soort gewoontes wil Jehovah hê moet ons vermy?

  • Matteus 22:39; Handelinge 17:25; Titus 3:1

    Vermy dinge wat vir jou liggaam skadelik sal wees of jou lewe sal verkort, soos om te rook, te veel te drink of dwelms te gebruik. Ons vermy sulke gewoontes omdat ons respek het vir ons eie lewe en dié van ander en ook vir die wette van die land waar ons woon.

  • Romeine 7:21-25

    Selfs al sukkel ons om ’n slegte gewoonte op te gee, gee ons nie moed op nie. Met Jehovah se hulp kan ons die stryd wen.

4 ONS KAN LOSBREEK VAN SLEGTE GEWOONTES

“Ek straf my liggaam en lei dit as ’n slaaf.” – 1 Korintiërs 9:27

Wat kan ons help om van ’n slegte gewoonte los te breek?

  • Matteus 6:13

    Bid vir heilige gees om jou te help om ’n verkeerde begeerte te weerstaan.

  • 1 Petrus 4:3, 4

    Vermy mense, flieks of musiek wat dit vir jou moeiliker sal maak om teen slegte gewoontes te stry.

  • Romeine 12:1, 2

    Wees voorbereid om aan ander te verduidelik hoekom jy kies om iets nie te doen nie, byvoorbeeld hoekom jy nie rook nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel