VRAE VIR DIÉ WAT GEDOOP WIL WORD
Slotbespreking met doopkandidate
Mense word gewoonlik by byeenkomste van Jehovah se Getuies gedoop. Aan die einde van die dooptoespraak vra die spreker die doopkandidate om te staan en die volgende twee vrae met ’n harde stem te antwoord:
1. Het jy berou oor jou sondes, jou aan Jehovah toegewy en Jesus Christus as Sy middel tot redding aanvaar?
2. Verstaan jy dat jou doop jou as een van Jehovah se Getuies identifiseer en dat dit jou deel maak van Jehovah se organisasie?
Wanneer die doopkandidate “ja” antwoord op hierdie vrae, ‘maak hulle in die openbaar bekend’ dat hulle geloof in die losprys het en dat hulle hulle sonder enige voorwaardes aan Jehovah toegewy het (Rom. 10:9, 10). Doopkandidate sal vooraf biddend oor hierdie vrae wil nadink sodat hulle in ooreenstemming met hulle persoonlike oortuiging kan antwoord.
Het jy jouself aan Jehovah in gebed toegewy en belowe om hom alleen te aanbid en dat dit die belangrikste ding in jou lewe sal wees om sy wil te doen?
Is jy nou heeltemal daarvan oortuig dat jy by die eerste moontlike geleentheid gedoop moet word?
Wat is gepaste klere om in gedoop te word? (1 Tim. 2:9, 10; Joh. 15:19; Fil. 1:10).
Ons moet “beskeidenheid en gesonde verstand” hê wanneer ons ons klere kies, want dit wys dat ons “aan God toegewyd is”. Daarom sal mense wat gedoop word, nie swemklere dra wat te veel wys of klere dra met sêgoed of woorde daarop nie. Hulle moet op ’n manier aantrek wat netjies, skoon en in goeie smaak is. Dit moet ook pas by die geleentheid.
Hoe moet ’n persoon hom gedra wanneer hy gedoop word? (Luk. 3:21, 22).
Jesus se doop het die voorbeeld vir Christelike doop in ons dag gestel. Hy het besef dat doop ’n ernstige stap is, en dit kon in sy gesindheid en dade gesien word. Wanneer ’n mens gedoop word, sal dit nie gepas wees om grappe te maak, te swem of enigiets anders te doen wat die aandag aftrek van hoe ernstig die geleentheid is nie. En ’n nuwe Christen sal hom ook nie gedra asof hy ’n groot prys gewen het nie. Hoewel doop ’n gelukkige geleentheid is, moet hierdie geluk op ’n waardige manier gewys word.
Hoe sal dit jou help om jou toewyding aan Jehovah uit te leef as jy gereeld vergaderinge bywoon en met die gemeente assosieer?
Hoekom sal dit selfs ná jou doop vir jou belangrik wees om ’n goeie rooster vir persoonlike studie te volg en gereeld velddiens te doen?
INSTRUKSIES VIR GEMEENTELIKE OUERMANNE
Wanneer ’n ongedoopte verkondiger vir die ouermanne sê dat hy gedoop wil word, moet hy aangemoedig word om die “Vrae vir dié wat gedoop wil word”, op bladsy 187-209 in hierdie boek, deeglik deur te gaan. Sy aandag moet gevestig word op “’n Boodskap aan die ongedoopte verkondiger”, wat op bladsy 184 begin en wat verduidelik hoe hy vir die besprekings met die ouermanne kan voorberei. Soos daar genoem word, mag die doopkandidaat sy persoonlike notas gebruik en mag hy hierdie boek oophou gedurende die besprekings. Maar dit is nie nodig dat iemand die vrae met hom moet deurgaan voordat hy met die ouermanne bymekaarkom nie.
Iemand wat gedoop wil word, moet dit vir die koördineerder van die liggaam van ouermanne sê. Nadat die persoon tyd gehad het om deur die “Vrae vir dié wat gedoop wil word” te gaan, sal die koördineerder van die liggaam van ouermanne die persoon vra of hy ’n persoonlike toewyding in gebed tot Jehovah gemaak het om Sy wil te doen. As die persoon homself toegewy het, moet die koördineerder van die liggaam van ouermanne reël dat twee ouermanne die “Vrae vir dié wat gedoop wil word” met die persoon bespreek. Elke deel moet deur ’n ander ouerman bespreek word. Dit is nie nodig om te wag totdat ’n byeenkoms aangekondig word om hierdie besprekings te hê nie.
Die twee dele kan gewoonlik in twee sessies van omtrent een uur elk bespreek word, maar meer tyd kan gebruik word as dit nodig is. Elke sessie moet met gebed geopen en gesluit word. Nie die kandidaat of die ouermanne moet deur die bespreking van die vrae jaag nie. Die ouermanne wat gevra word om hierdie besprekings te hou, moet dit so gou as moontlik doen.
Dit is gewoonlik beter om die vrae met elke doopkandidaat op sy eie deur te gaan eerder as in ’n groep. Wanneer elke kandidaat elke vraag beantwoord, sal die ouermanne presies kan sien hoe goed hy Bybelwaarheid verstaan. Dan sal daar geen twyfel wees dat hy gereed is om gedoop te word of nie. Verder sal die een wat vra om gedoop te word, moontlik meer geneig wees om te sê hoe hy voel in so ’n situasie. ’n Getroude paartjie wat gedoop wil word, kan saam wees wanneer so ’n bespreking gehou word.
Wanneer die doopkandidaat ’n suster is, moet die besprekings gehou word waar ander hulle duidelik kan sien maar nie kan hoor nie. As dit nodig is om nog iemand saam te neem, moet hy ’n ouerman of ’n bedieningskneg wees, afhangende van die deel wat bespreek word, soos in die volgende paragraaf verduidelik word.
In gemeentes met baie min ouermanne kan bekwame bedieningsknegte wat goeie oordeel en insig het, die doopvrae in “Deel 1: Christelike oortuigings” met persone bespreek. Net ouermanne moet “Deel 2: Die Christelike lewenswyse” met persone deurgaan. As daar nie genoeg bekwame broers in die gemeente is nie, kan die kringopsiener gekontak word om vas te stel of ’n gemeente wat daar naby is, kan help.
As die doopkandidaat minderjarig is, moet sy gelowige ouer(s) by wees vir die besprekings. As die ouer(s) nie by kan wees nie, moet twee ouermanne (of ’n ouerman en ’n bedieningskneg, afhangende van die deel wat bespreek word) betrokke wees by elke bespreking.
Die ouermanne sal seker maak dat iemand wat gedoop wil word, ’n redelike begrip van basiese Bybelleerstellings verkry het. Hulle sal ook wil uitvind of hy diep waardering vir die waarheid en gepaste respek vir Jehovah se organisasie het. As die persoon nie basiese Bybelleringe verstaan nie, sal die ouermanne reël dat hy persoonlike hulp kry sodat hy kan kwalifiseer om by ’n latere geleentheid gedoop te word. Ander het dalk meer tyd nodig om te wys dat hulle verstaan hoe belangrik velddiens en gehoorsaamheid aan die organisasie se reëlings is. In die uur of so wat aan elke sessie spandeer word, moet die ouerman seker maak dat die vrae goed gebruik word om uit te vind of die persoon gereed is om gedoop te word. Hoewel meer tyd moontlik vir sekere vrae gebruik sal word en minder vir ander, moet al die vrae deurgegaan word.
Die ouermanne wat aangewys is om die vrae met iemand deur te gaan, sal ná die tweede sessie bymekaarkom en besluit of die persoon vir doop aanvaar moet word of nie. Ouermanne moet elke kandidaat se agtergrond, vermoë en ander omstandighede in ag neem. Ouermanne stel belang in mense wat Jehovah heelhartig wil dien en wat basiese Bybelwaarhede verstaan. Met julle liefdevolle hulp sal dié wat gedoop word, goed voorbereid wees om hulle belangrike toewysing as bedienaars van die goeie nuus uit te voer.
Daarna moet een of albei ouermanne wat die vrae met die persoon deurgegaan het, die persoon besoek en hom laat weet of hy kwalifiseer om gedoop te word of nie. As die persoon kwalifiseer, moet die ouermanne die “Slotbespreking met doopkandidate”, op bladsy 208-209, met hom hersien. As die kandidaat nog nie sy studie van die boek Geniet die lewe vir ewig! voltooi het nie, moet die ouermanne hom aanmoedig om dit te doen nadat hy gedoop is. Sê vir die kandidaat dat sy doopdatum by die Gemeente se verkondigerverslag onder sy naam gevoeg sal word. Laat hom weet dat die ouermanne hierdie persoonlike inligting oor hom bymekaarmaak sodat die organisasie kan aanhou om vir die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies wêreldwyd te sorg. Dit maak dit ook vir hom moontlik om aan geestelike bedrywighede deel te neem en geestelike ondersteuning te kry. Die ouermanne kan die nuwe verkondiger ook daaraan herinner dat enige privaat inligting gebruik word in ooreenstemming met die Privaatheidsbeleid van Jehovah se Getuies wat op jw.org gevind kan word. Hierdie bespreking hoef nie langer as tien minute te wees nie.
Een jaar nadat die verkondiger gedoop is, moet twee ouermanne hom besoek om hom aan te moedig en praktiese voorstelle te gee. Een van die ouermanne moet die persoon se groepopsiener wees. As die nuweling minderjarig is, moet sy gelowige ouer(s) by wees. Die atmosfeer tydens die besoek moet warm en aanmoedigend wees. Die ouermanne moet sy geestelike vordering bespreek en hom praktiese wenke gee oor hoe hy kan aanhou met ’n goeie roetine van persoonlike studie, daaglikse Bybellees, weeklikse gesinsaanbidding, getroue vergaderingbywoning en -deelname asook weeklikse velddiensbedrywighede (Ef. 5:15, 16). As hy nog nie sy studie van die boek Geniet die lewe vir ewig! voltooi het nie, moet die ouermanne reël dat iemand hom help om dit te doen. Die ouermanne moet hom liefdevol en vryelik prys. Raad en wenke oor een of twee punte is gewoonlik genoeg.