Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kr hfst. 16 bl. 170-181
  • Vergaderinge vir aanbidding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vergaderinge vir aanbidding
  • God se Koninkryk regeer!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom moet ons bymekaarkom?
  • Weeklikse vergaderinge wat ons aanspoor tot “liefde en goeie werke”
  • Die allerbelangrikste vergadering van die jaar
  • Wat ons gesindheid openbaar
  • Vergaderinge wat ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Vergaderinge—vir aanbidding, onderrigting en aanmoediging
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Jy word hartlik uitgenooi
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe kan die vergaderinge van Jehovah se Getuies jou help?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
God se Koninkryk regeer!
kr hfst. 16 bl. 170-181

HOOFSTUK 16

Vergaderinge vir aanbidding

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Die ontwikkeling en belangrikheid van ons vergaderinge

1. Watter hulp het die dissipels ontvang toe hulle bymekaargekom het, en waarom het hulle dit nodig gehad?

KORT ná Jesus se opstanding het die dissipels bymekaargekom om mekaar aan te moedig. Hulle het egter die deure gesluit uit vrees vir hulle vyande. Maar hulle vrees het sekerlik gou verdwyn toe Jesus in hulle midde verskyn het en gesê het: “Ontvang heilige gees”! (Lees Johannes 20:19-22.) Later het die dissipels weer bymekaargekom, en Jehovah het heilige gees oor hulle uitgestort. Watter krag het hulle tog ontvang vir die predikingswerk wat voorgelê het!—Hand. 2:1-7.

2. (a) Hoe gee Jehovah ons krag, en waarom het ons dit nodig? (b) Waarom is die reëling vir Gesinsaanbidding so belangrik? (Sien die voetnoot en die venster “Gesinsaanbidding.”)

2 Ons kom voor soortgelyke uitdagings te staan as ons eerste-eeuse broers (1 Pet. 5:9). Soms ervaar party van ons dalk mensevrees. En ons het die krag nodig wat Jehovah gee as ons in die predikingswerk wil volhard (Ef. 6:10). Jehovah voorsien baie van hierdie krag deur middel van ons vergaderinge. Ons het tans die geleentheid om twee leersame vergaderinge elke week by te woon—die Openbare Toespraak en Wagtoring-studie en die vergadering in die week, wat Ons Christelike Lewe en Bediening-vergadering genoem word.a Ons geniet ook vier jaarlikse geleenthede—’n streekbyeenkoms, twee kringbyeenkomste en die Herdenking van Christus se dood. Waarom is dit noodsaaklik dat ons al hierdie vergaderinge bywoon? Hoe het ons hedendaagse vergaderinge ontwikkel? En wat openbaar ons gesindheid teenoor vergaderinge oor ons?

Waarom moet ons bymekaarkom?

3, 4. Wat vereis Jehovah van sy volk? Gee voorbeelde.

3 Jehovah vereis al lank dat sy volk bymekaarkom om hom te aanbid. Byvoorbeeld, in 1513 VHJ het Jehovah sy Wet aan die nasie Israel gegee, en hierdie Wet het ’n weeklikse Sabbat ingesluit sodat elke gesin hom kon aanbid en in die Wet onderrig kon word (Deut. 5:12; 6:4-9). Wanneer die Israeliete hierdie gebod gehoorsaam het, is gesinne versterk en het die nasie as ’n geheel geestelik rein en sterk gebly. Wanneer die nasie die Wet verontagsaam het en versuim het om vereistes na te kom soos om gereeld vir die aanbidding van Jehovah te vergader, het hulle God se guns verloor.—Lev. 10:11; 26:31-35; 2 Kron. 36:20, 21.

4 Dink ook aan die voorbeeld wat Jesus gestel het. Dit was sy gebruik om elke week op die Sabbat na die sinagoge te gaan (Luk. 4:16). Ná Jesus se dood en opstanding het sy dissipels die gebruik voortgesit om gereeld bymekaar te kom al was hulle nie meer onder die Sabbatswet nie (Hand. 1:6, 12-14; 2:1-4; Rom. 14:5; Kol. 2:13, 14). By hierdie vergaderinge het eerste-eeuse Christene nie net onderrigting en aanmoediging ontvang nie, maar ook lofoffers aan God gebring deur middel van hulle gebede, kommentare en liedere.—Kol. 3:16; Heb. 13:15.

Ná sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels in ’n kamer waar hulle bymekaargekom het

Jesus se dissipels het bymekaargekom om mekaar te versterk en aan te moedig

5. Waarom woon ons weeklikse vergaderinge en jaarlikse byeenkomste by? (Sien ook die venster “Jaarlikse samekomste wat God se volk verenig.”)

5 Wanneer ons ons weeklikse vergaderinge en jaarlikse byeenkomste bywoon, toon ons eweneens dat ons God se Koninkryk ondersteun, ontvang ons krag deur heilige gees en moedig ons ander aan deur ons woorde van geloof. Nog belangriker, ons het die geleentheid om Jehovah deur middel van ons gebede, kommentare en liedere te aanbid. Die samestelling van ons vergaderinge verskil miskien van dié wat deur die Israeliete en die eerste-eeuse Christene bygewoon is, maar ons vergaderinge is net so belangrik. Hoe het ons hedendaagse vergaderinge ontwikkel?

Weeklikse vergaderinge wat ons aanspoor tot “liefde en goeie werke”

6, 7. (a) Wat is die doel van ons vergaderinge? (b) Hoe het vergaderinge van een groep tot die ander verskil?

6 Toe broer Charles Taze Russell na die waarheid van God se Woord begin soek het, het hy besef dat dit belangrik is om bymekaar te kom met ander wat dieselfde doelwit het. In 1879 het Russell geskryf: “Ek, tesame met ander in Pittsburgh, het ’n Bybelklas gereël om die Skrif te bestudeer. Ons kom elke Sondag bymekaar.” Lesers van Zion’s Watch Tower is aangespoor om bymekaar te kom, en teen 1881 is vergaderinge elke Sondag en Woensdag in Pittsburgh, Pennsilvanië, gehou. Die Watch Tower van November 1895 het gesê dat die doel van hierdie vergaderinge is om “Christelike assosiasie, liefde en samesyn” te bevorder en dié wat dit bywoon, die geleentheid te gee om mekaar aan te moedig.—Lees Hebreërs 10:24, 25.

7 Die samestelling en gereeldheid van die vergaderinge het jare lank van een groep Bybelstudente tot die ander verskil. Byvoorbeeld, ’n brief van ’n groep in die Verenigde State wat in 1911 gepubliseer is, het gesê: “Ons hou elke week ten minste vyf vergaderinge.” Hulle het hierdie vergaderinge elke Maandag, Woensdag, Vrydag en twee keer op Sondag gehou. Nog ’n brief, van ’n groep in Afrika, wat in 1914 gepubliseer is, het gesê: “Ons hou twee keer per maand vergaderinge, wat van Vrydag tot Sondag duur.” Maar die huidige samestelling van ons vergaderinge het mettertyd ontwikkel. Kyk kortliks na die geskiedenis van elke vergadering.

8. Wat was party van die onderwerpe van vroeë openbare lesings?

8 Openbare Vergadering. In 1880, die jaar nadat broer Russell Zion’s Watch Tower begin publiseer het, het hy Jesus se voorbeeld gevolg en ’n predikingsreis onderneem (Luk. 4:43). In die proses het broer Russell ’n patroon ingestel vir wat nou ons Openbare Vergadering is. Die Watch Tower het die reis aangekondig en gesê dat Russell “bly sal wees om by openbare vergaderinge te praat oor ‘Dinge aangaande die koninkryk van God’”. In 1911, nadat klasse, of gemeentes, in ’n aantal lande gevorm is, is elke klas aangespoor om geskikte sprekers na omliggende gebiede te stuur om ’n reeks van ses lesings te hou oor onderwerpe soos die oordeel en die losprys. Aan die einde van elke toespraak is die naam van die spreker en die onderwerp van die toespraak vir die volgende week aangekondig.

9. Hoe het die Openbare Vergadering oor die jare verander, en hoe kan jy hierdie vergadering ondersteun?

9 In 1945 het Die Wagtoring die begin van ’n aardwye kampanje van Openbare Vergaderinge aangekondig wat ’n reeks van agt Bybellesings oor “dringende probleme van die tye” sou insluit. Toegewese sprekers het dekades lank nie net onderwerpe gebruik wat deur die getroue slaaf voorsien is nie, maar ook toesprake gehou wat hulle self uitgedink het. Maar in 1981 is alle sprekers aangesê om hulle toesprake te baseer op die sketse wat aan die gemeentes voorsien word.b Tot 1990 het party sketse vir openbare toesprake gehoordeelname of demonstrasies ingesluit; maar in daardie jaar is die instruksies gewysig, en van toe af word openbare toesprake net in die vorm van ’n toespraak gelewer. Nog ’n aanpassing is in Januarie 2008 aangebring toe openbare toesprake van 45 tot 30 minute verkort is. Al is die formaat verander, bou goed voorbereide openbare toesprake nog steeds geloof op in God se Woord en onderrig dit ons oor verskeie aspekte van die Koninkryk van God (1 Tim. 4:13, 16). Nooi jy jou herbesoeke en ander wat nie Getuies is nie, ywerig om na hierdie belangrike Bybeltoesprake te kom luister?

10-12. (a) Watter veranderinge het die Wagtoring-studie ondergaan? (b) Watter vrae kan jy jou gerus afvra?

10 Wagtoring-studie. In 1922 het broers wat bekend gestaan het as pelgrims—bedienaars wat deur die Wagtoringgenootskap gestuur is om toesprake in die gemeentes te hou en die leiding in die predikingswerk te neem—aanbeveel dat ’n gereelde vergadering aan ’n studie van Die Wagtoring gewy word. Hierdie voorstel is aanvaar, en aanvanklik is Wagtoring-studies in die middel van die week of op Sondag gehou.

’n Vergadering van die Bybelstudente in Ghana in 1931

Wagtoring-studie, Ghana, 1931

11 The Watch Tower van 15 Junie 1932 het verdere riglyne voorsien oor hoe hierdie vergadering gehou moet word. Die artikel het die studie wat by die Bethelhuis gehou is, as ’n model voorgehou en gesê dat ’n broer die leiding by die vergadering moet neem. Drie broers kon voor in die vergaderplek sit en beurte maak om die paragrawe te lees. Artikels het destyds nie gedrukte vrae ingesluit nie, en daarom moes die studiehouer die gehoor vra om vrae oor die materiaal onder bespreking te opper. Daarna moes hy mense in die gehoor vra om hierdie vrae te beantwoord. As iets nog onduidelik was, moes die studiehouer ’n “kort en bondige” verduideliking gee.

12 Aanvanklik is elke gemeente toegelaat om die nommer van die tydskrif te kies wat die meerderheid wou studeer. Maar The Watch Tower van 15 April 1933 het voorgestel dat alle gemeentes die jongste nommer gebruik. In 1937 is daar gesê dat die studie op Sondag gehou moet word. Verdere verfynings wat die vergaderinge verander het tot wat ons vandag ken, is in The Watchtower van 1 Oktober 1942 gepubliseer. Die tydskrif het eers aangekondig dat vrae onderaan elke bladsy van die studieartikels sou verskyn en dat hierdie vrae gebruik moet word. Toe het dit gesê dat die vergadering ’n uur lank moet wees. Dit het diegene wat antwoord, ook aangespoor om “in hulle eie woorde” kommentaar te lewer en nie ’n hele stuk van die paragraaf te lees nie. Die Wagtoring-studie is nog steeds die vernaamste vergadering wat die getroue slaaf gebruik om geestelike voedsel op die regte tyd te voorsien (Matt. 24:45). Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Berei ek elke week vir die Wagtoring-studie voor? En probeer ek antwoord as ek kan?’

13, 14. Wat is die geskiedenis van die Gemeentelike Bybelstudie, en wat geniet jy omtrent hierdie vergadering?

13 Gemeentelike Bybelstudie. In die middel-1890’s, nadat ’n aantal dele van Millennial Dawn vrygestel is, het broer H.N. Rahn, ’n Bybelstudent wat in die stad Baltimore, Maryland, VSA, gewoon het, voorgestel dat “Dawn Circles” vir Bybelstudie gehou word. Aanvanklik was hierdie vergaderinge, wat dikwels in iemand se huis gehou is, ’n eksperiment. Maar teen September 1895 is “Dawn Circles” met welslae in tientalle stede in die Verenigde State gehou. Die Watch Tower van daardie maand het dus voorgestel dat alle studente van die waarheid hierdie vergaderinge hou. Dit het gesê dat die studiehouer ’n goeie leser moes wees. Hy moes ’n sin lees en dan wag vir die gehoor om kommentaar te lewer. Nadat elke sin in ’n paragraaf gelees en bespreek is, moes hy die teksverwysings naslaan en lees. Aan die einde van ’n hoofstuk moes elkeen in die gehoor die materiaal kortliks opsom.

14 Die naam van hierdie vergadering het etlike kere verander. Later is dit “Berean Circles for Bible Study” genoem, ’n verwysing na die eerste-eeuse Bereane wat die Skrif sorgvuldig ondersoek het (Hand. 17:11). Toe is die naam na Gemeentelike Boekstudie verander. Nou word dit die Gemeentelike Bybelstudie genoem, en die hele gemeente kom by die Koninkryksaal bymekaar eerder as in groepe in huise. Oor die dekades heen is verskillende boeke, brosjures en selfs Wagtoring-artikels gebruik as ’n grondslag vir die studie. Vanaf die vroeë dae is almal in die gehoor aangespoor om aan die vergadering deel te neem. Hierdie vergadering het grootliks daartoe bygedra om ons kennis van die Bybel te vergroot. Berei jy gereeld vir hierdie vergadering voor en neem jy na die beste van jou vermoë daaraan deel?

Ouers en hulle twee dogtertjies geniet gesinsaanbidding saam

Is vooraf gereëlde gesinsaanbidding deel van julle weeklikse rooster?

GESINSAANBIDDING

NAMATE die laaste dae gevorder het, het Jehovah se organisasie al hoe meer aandag geskenk aan die belangrikheid daarvan dat elke gesin sy eie Bybelstudieprogram moet hê (2 Tim. 3:1). Die boekie Home and Happiness, wat in 1932 gepubliseer is, het byvoorbeeld reguit gesê: “Elke gesin moet onmiddellik begin met ’n studie van die Bybel by die huis.” En Die Wagtoring van 1 Augustus 1956 het alle Christengesinne aangespoor om “’n gereelde Bybelstudie binne-in die huis self te hê vir die nut van die hele gesin”. Toe het dit gevra: “Studeer u gesin een of ander aand voor die vergadering saam Die Wagtoring?”

In 2009 het die organisasie die belangrikheid van gesinstudie beklemtoon deur die rooster vir vergaderinge in die middel van die week aan te pas; van toe af word die Gemeentelike Bybelstudie op dieselfde aand as die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering gehou. “Een rede vir hierdie aanpassing”, het Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2011 gesê, “was om gesinne die geleentheid te bied om hulle geestelikheid te versterk deur ’n spesifieke aand elke week vir gesinsaanbidding opsy te sit.” Toe het dit elke gesin aangespoor “om hierdie tyd te gebruik vir rustige Bybelbesprekings en ’n studie wat by die behoeftes van die gesin aangepas is”.c

Waarom is die reëling vir Gesinsaanbidding so belangrik—iets wat nie oorgeslaan moet word nie? Omdat dit nie net ’n uitwerking op die geestelikheid van die gesin het nie, maar ook op dié van die gemeente. Ter toeligting: Die gemeente kan met ’n baksteenhuis vergelyk word. (Lees Hebreërs 3:4-6.)d Hoe sterk ’n goed ontwerpte baksteenhuis is, word deur twee belangrike faktore bepaal—die gehalte van die fondasie en die duursaamheid van elke baksteen. As die fondasie swak is, sal die huis inmekaarstort. Maar selfs ’n huis met ’n stewige fondasie sal struktureel swak word as die bakstene verbrokkel. Die Christengemeente is op die sterkste fondament gebou, die leringe van Christus. (Lees 1 Korintiërs 3:10-15.)e Individue en gesinne in ’n gemeente is soos die bakstene. Sessies vir Gesinsaanbidding bied elke individu en elke gesin ’n unieke geleentheid om sterk, vuurvaste geloof op te bou en te behou. En sterk individue en sterk gesinne het sterk gemeentes tot gevolg. Is vooraf gereëlde gesinsaanbidding deel van julle weeklikse rooster?

c ’n Paar wenke vir materiaal wat gedurende gesinsaanbidding gebruik kan word, kan in Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2011 gevind word.

d Paulus se woorde is aan dié met ’n “hemelse roeping” gerig (Heb. 3:1). Maar sy raad is in beginsel op alle Christene van toepassing.

e Vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie Bybelgedeelte, sien Die Wagtoring van 15 Julie 1999, bladsye 12-14, paragrawe 15-20. Lees gerus hierdie materiaal en peins oor hoe dit op julle sessies vir Gesinsaanbidding van toepassing is.

15. Wat was die doel van die Teokratiese Bedieningskool?

15 Teokratiese Bedieningskool. “Op Maandagaand 16 Februarie 1942 is alle manlike lede van die Brooklynse Bethelgesin genooi om aan te sluit by wat later as die Teokratiese Bedieningskool bekend gestaan het”, het Carey Barber vertel, wat destyds by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, gedien het. Broer Barber, wat jare later ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, het die skool beskryf as “’n mylpaal in Jehovah se handelinge met sy volk in hedendaagse tye”. Die kursus het die broers in so ’n mate gehelp om hulle onderrigtings- en predikingsvaardighede te verbeter dat die boekie Course in Theocratic Ministry vanaf 1943 geleidelik aan gemeentes regoor die wêreld beskikbaar gestel is. Die Wagtoring van 15 Oktober 1943 het gesê dat die Teokratiese Bedieningskool bedoel is om God se volk te help om “hulleself [op te lei] om beter getuies te wees in die aankondiging van die Koninkryk”.—2 Tim. 2:15.

16, 17. Het die Teokratiese Bedieningskool ons net tegniese vaardighede geleer? Verduidelik.

16 Aanvanklik was dit vir talle ’n ontsaglike uitdaging om voor ’n groot gehoor te praat. Clayton Woodworth jr., wie se pa in 1918 saam met broer Rutherford en ander ten onregte opgesluit is, het vertel hoe hy gevoel het toe hy in 1943 by die skool aangesluit het. “Dit was vir my baie moeilik om toesprake te hou”, het broer Woodworth gesê. “Dit het gevoel asof my tong al hoe langer word, my mond het heeltemal droog geword en my stem het gewissel tussen ’n gebrul en ’n gepiep.” Maar toe Clayton se vaardighede verbeter het, het hy baie voorregte as ’n openbare spreker ontvang. Die skool het hom baie meer as net tegniese vaardighede geleer. Dit het hom die waarde van nederigheid en die belangrikheid van vertroue op Jehovah geleer. “Ek het besef dat die spreker nie belangrik is nie”, het hy gesê. “Maar wanneer hy goed voorberei en ten volle op Jehovah vertrou, sal die gehoor dit geniet om na hom te luister en sal hulle iets leer.”

17 In 1959 is susters genooi om by die skool aan te sluit. Suster Edna Bauer onthou dat sy die aankondiging gehoor het by ’n byeenkoms wat sy bygewoon het. “Ek onthou hoe opgewonde die susters was”, het sy gesê. “Nou het hulle meer geleenthede gehad.” Deur die jare heen het baie broers en susters die geleentheid aangegryp om by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit en deur Jehovah onderrig te word. Vandag ontvang ons steeds sulke opleiding by ons Lewe en Bediening-vergadering.—Lees Jesaja 54:13.

18, 19. (a) Hoe ontvang ons nou praktiese leiding om die predikingswerk te doen? (b) Waarom sing ons by ons vergaderinge? (Sien die venster “Die waarheid word gesing”.)

18 Diensvergadering. Reeds in 1919 is vergaderinge gehou om velddiens te organiseer. Destyds het nie almal in die gemeente hierdie vergaderinge bygewoon nie—slegs diegene wat direk by die verspreiding van lektuur betrokke was. Vir die grootste deel van 1923 is ’n Diensvergadering een keer per maand gehou, en almal in die klas, of gemeente, moes dit bywoon. Teen 1928 is gemeentes aangespoor om die Diensvergadering elke week te hou, en in 1935 het The Watch Tower alle gemeentes aangespoor om die Diensvergadering te baseer op inligting wat in die Director (later die Informant en nog later Ons Koninkryksbediening) gepubliseer is. Hierdie vergadering het kort voor lank ’n gereelde deel van elke gemeente se vergaderingrooster geword.

19 Vandag ontvang ons praktiese leiding by ons Lewe en Bediening-vergadering om die predikingswerk te doen (Matt. 10:5-13). As jy kwalifiseer om ’n persoonlike eksemplaar van die vergaderingwerkboek te ontvang, bestudeer jy dit en pas jy die voorstelle daarin toe wanneer jy aan die bediening deelneem?

Die allerbelangrikste vergadering van die jaar

’n Gemeente van vroeë Christene by die jaarlikse Herdenking van Christus se dood

Christene kom al sedert die eerste eeu HJ elke jaar bymekaar vir die Herdenking van Christus se dood (Sien paragraaf 20)

20-22. (a) Waarom herdenk ons Jesus se dood? (b) Hoe vind jy daarby baat om elke jaar die Gedenkmaal by te woon?

20 Jesus het vir sy volgelinge gesê om sy dood te herdenk totdat hy kom. Soos die Pasgaviering, is die Herdenking van Christus se dood ’n jaarlikse geleentheid (1 Kor. 11:23-26). Hierdie vergadering word elke jaar deur miljoene mense bygewoon. Dit herinner die gesalfdes aan die voorreg wat hulle geniet om mede-erfgename van die Koninkryk te wees (Rom. 8:17). En by die ander skape bevorder dit diep respek vir en lojaliteit aan die Koning van God se Koninkryk.—Joh. 10:16.

21 Broer Russell en sy metgeselle het besef hoe belangrik dit is om die Here se Aandmaal te herdenk en het geweet dat dit slegs een keer per jaar gedoen moet word. Die Watch Tower van April 1880 het gesê: “Dit is al jare lank die gebruik van baie van ons hier in Pittsburgh om . . . die Pasga [Gedenkmaal] te herdenk en die embleme van ons Here se liggaam en bloed te eet.” Byeenkomste is kort voor lank saam met die Gedenkmaal gehou. Die eerste keer dat ’n verslag van so ’n geleentheid gehou is, was in 1889, toe 225 dit bygewoon het en 22 gedoop is.

22 Vandag hou ons nie meer die Gedenkmaal as deel van ’n byeenkomsprogram nie, maar ons nooi wel almal in ons gemeenskap om dit saam met ons by ’n plaaslike Koninkryksaal of gehuurde fasiliteit te herdenk. In 2013 het meer as 19 miljoen mense Jesus se dood herdenk. Wat ’n voorreg is dit tog vir ons om nie net die Gedenkmaal by te woon nie, maar om ook ander aan te spoor om op hierdie allerheiligste aand by ons aan te sluit! Span jy jou elke jaar ywerig in om soveel mense moontlik na die Gedenkmaal te nooi?

Wat ons gesindheid openbaar

23. Hoe beskou jy ons samekomste?

23 Lojale knegte van Jehovah beskou die opdrag om bymekaar te kom, nie as ’n las nie (Heb. 10:24, 25; 1 Joh. 5:3). Dit was byvoorbeeld vir koning Dawid ’n groot genot om na Jehovah se huis te gaan vir aanbidding (Ps. 27:4). Hy het dit veral geniet om aanbidding te verrig saam met ander wat God liefhet (Ps. 35:18). En dink aan Jesus se voorbeeld. Selfs toe hy jonk was, het hy ’n innige begeerte gehad om in sy Vader se huis van aanbidding te wees.—Luk. 2:41-49.

Die diepte van ons begeerte om bymekaar te kom, openbaar presies hoe werklik God se Koninkryk vir ons is

24. Watter geleenthede het ons wanneer ons vergaderinge bywoon?

24 Wanneer ons vergaderinge bywoon, toon ons ons liefde vir Jehovah en ons begeerte om ons medegelowiges op te bou. Ons openbaar ook ons begeerte om te leer hoe om as onderdane van God se Koninkryk te lewe, want ons ontvang hierdie opleiding hoofsaaklik by ons vergaderinge en byeenkomste. Daarbenewens voorsien ons vergaderinge ons van die vaardighede en krag wat ons nodig het om te volhard in een van die belangrikste bedrywighede wat vandag deur God se Koninkryk uitgevoer word—om dissipels van die Koning Jesus Christus te maak en op te lei. (Lees Matteus 28:19, 20.) Die diepte van ons begeerte om bymekaar te kom, openbaar sonder twyfel presies hoe werklik God se Koninkryk vir ons as individue is. Mag ons altyd ons vergaderinge waardeer!

a Elke gesin of individu word aangespoor om, benewens ons weeklikse gemeentelike vergaderinge, tyd vir persoonlike studie of gesinsaanbidding opsy te sit.

b Teen 2013 was daar al meer as 180 sketse vir openbare toesprake.

Hoe werklik is die Koninkryk vir jou?

  • Waarom kom ons bymekaar?

  • Hoe voel jy oor die verskillende vergaderinge?

  • Wat openbaar jou gesindheid teenoor vergaderinge? Verduidelik.

’n Skare byeenkomsgangers met hulle eksemplaar van Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Engels

JAARLIKSE SAMEKOMSTE WAT GOD SE VOLK VERENIG

JEHOVAH het alle Israelitiese mans beveel om drie keer per jaar in Jerusalem bymekaar te kom (Eks. 23:14-17; Lev. 23:34-36). Jesus se pleegvader, Josef, het sy hele gesin by hierdie geleenthede na Jerusalem geneem. Ander Israelitiese mans het dit waarskynlik ook gedoen. God se volk kom vandag eweneens drie keer per jaar vir byeenkomste bymekaar. Party streekbyeenkomste was uitsonderlike mylpale in die ontwikkeling van die aardse deel van God se organisasie gedurende die laaste dae. Kyk na net ’n paar van hierdie byeenkomste en wat dit onvergeetlik gemaak het.

  • 1919: Cedar Point, Ohio, VSA

    Dit was die eerste groot byeenkoms ná die Eerste Wêreldoorlog.

    Die predikingswerk is nuwe lewe gegee.

    Die publisering van die tydskrif The Golden Age (nou Ontwaak!) is aangekondig.

  • 1922: Cedar Point, Ohio

    Die predikingswerk is ’n hupstoot gegee deur die toespraak “Die Koninkryk”. Hierdie toespraak het die besielende aansporing bevat: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy Koninkryk”!

  • 1931: Columbus, Ohio

    Ons het die naam Jehovah se Getuies aangeneem.

  • 1935: Washington, DC

    Ons het vir die eerste keer verstaan dat die “groot menigte” van Openbaring 7:9 vir ewig op die aarde sal lewe.

  • 1942: Nuwe Wêreld- teokratiese byeenkoms, wat in 85 stede regoor die wêreld gehou is

    Die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” het insig gegee in die profesie in Openbaring hoofstuk 17 en getoon dat daar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog ’n geleentheid sou wees om nog baie onderdane van God se Koninkryk te versamel.

  • 1950: Teokrasie se vermeerdering-byeenkoms

    Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte is in Engels vrygestel.

  • 1958: Goddelike wil- internasionale byeenkoms

    Dit was die grootste internasionale byeenkoms wat in een stad gehou is; meer as 250 000 afgevaardigdes uit 123 lande het in New York bymekaargekom.

  • 1961: Verenigde aanbidders-byeenkoms

    Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is in een deel in Engels vrygestel.

  • 1992: “Ligdraers”-byeenkoms

    Dit was die eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie, in St. Petersburg, Rusland.

  • 1993: “Goddelike onderrigting”-byeenkoms, Kiëf, Oekraïne

    Dit was die grootste bekende Christelike doopplegtigheid by een byeenkoms—7 402 nuwe bedienaars is gedoop.

  • 2011: “Laat God se Koninkryk kom!”- byeenkoms

    Ons begrip van die profetiese beeld wat in Daniël hoofstuk 2 gemeld word, is verfyn. Ons verstaan nou dat die voete van yster gemeng met klei die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid voorstel, wat nog oorheersend sal wees wanneer God se Koninkryk die hele simboliese beeld verbrysel.

  • 2014: “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!”-byeenkoms

    Die 100ste herdenking van Christus se Koninkryk in die hemel.

Jesus en sy dissipels sing saam tot lof van God

DIE WAARHEID WORD GESING

JEHOVAH se volk gee graag uiting aan hulle toegewydheid aan hom deur oor hom en vir hom te sing. Byvoorbeeld, toe Jehovah die Israeliete uit die hand van die Egiptenaars by die Rooi See verlos het, het die volk deur middel van ’n hartroerende lied aan hulle dankbaarheid en bewondering uiting gegee (Eks. 15:1-21). Later het sang ’n onafskeidelike deel van die aanbidding van Jehovah by die tempel geword (1 Kron. 23:4, 5; 25:7). In die eerste eeu het Jesus en sy dissipels deur middel van lofliedere uiting gegee aan hulle gevoelens vir Jehovah.—Matt. 26:30; Ef. 5:19.

Sedert broer Russell en sy metgeselle die waarheid begin herontdek het, het ons eweneens talle versamelings van liedere in ons aanbidding van Jehovah gebruik. Die Watch Tower van 15 Februarie 1896 het verduidelik watter belangrike rol sang speel deur te sê: “Om die waarheid te sing, is ’n goeie manier om dit in die verstande en harte van God se knegte te kry.”

Voorblad van die boek Songs of the Bride, 1879

1879

Voorblad van die boek Poems and Hymns of Millennial Dawn, 1890

1890

Bladmusiek met lirieke van die lied The Shining Light, van Zion’s Glad Songs of the Morning, 1896

1896

Voorblad van die boek Zion’s Glad Songs, 1900

1900

Voorblad van die boek Hymns of the Millennial Dawn, 1905

1905

Voorblad van Kingdom Hymns, 1925

1925

Voorblad van die boek Songs of Praise to Jehovah, 1928

1928

Voorblad van die boek Kingdom Service Song Book, 1944

1944

Voorblad van die boek Songs to Jehovah’s Praise, 1950

1950

Voorblad van die boek “Sing en begelei julself met musiek in julle hart”, 1966

1966

Voorblad van die boek Sing lofliedere voor Jehovah, 1984

1984

Voorblad van die boek Sing vir Jehovah

VANDAG

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel