Hoofstuk 33
Wat moet ek weet omtrent rook?
Kyk na die volgende opsies, en maak ’n ✔ in die blokkie langs elke beskrywing wat jy dink by jou pas.
□ Ek is nuuskierig
□ Ek het baie stres
□ Ek wil inpas
□ Ek is bang ek sit gewig aan
AS JY enige van die blokkies op bladsy 237 gemerk het, het jy iets in gemeen met ander jongmense wat rook of dit al oorweeg het om te rook.a Byvoorbeeld:
Om nuuskierigheid te bevredig. “Ek het gewonder hoe dit voel om te rook, en daarom het ek ’n sigaret by ’n meisie by die skool geneem en toe uitgeglip om dit te rook.”—Tracy.
Om stres te hanteer en in te pas. “Kinders by die skool sê dikwels: ‘Nou het ek ’n sigaret nodig’, en daarna sê hulle: ‘Sjoe, nou kan ek weer aangaan!’ Wanneer ek gestres was, wou ek ook iets hê om die stres te verlig.”—Nikki.
Om gewig te verloor. “Party meisies rook om maer te bly—dis soveel makliker as ’n dieet!”—Samantha.
Maar voordat jy jou eerste—of jou volgende—sigaret aansteek, moet jy ’n bietjie nadink. Moenie soos ’n vis wees wat aan die aas byt nie. Die vis kry dalk wel ’n klein beloning, maar dink aan die prys wat hy betaal! Volg eerder die Bybel se raad en gebruik jou “helder denkvermoëns” (2 Petrus 3:1). Beantwoord die volgende vrae.
Wat weet jy werklik omtrent rook?
Dui aan of die volgende stellings waar of onwaar is.
a. Rook sal my stres verminder.
□ Waar □ Onwaar
b. Ek sal byna al die rook uitblaas.
□ Waar □ Onwaar
c. Rook sal eers in latere jare my gesondheid benadeel.
□ Waar □ Onwaar
d. Rook sal my aantrekliker maak vir die teenoorgestelde geslag.
□ Waar □ Onwaar
e. As ek rook, gaan niemand ly behalwe ek nie.
□ Waar □ Onwaar
f. Dit maak nie vir God saak of ek rook of nie.
□ Waar □ Onwaar
Antwoorde
a. Onwaar. Rook verlig wel tydelik die stres van onttrekkingsimptome, maar wetenskaplikes het gevind dat nikotien in werklikheid jou streshormoonvlakke verhoog.
b. Onwaar. Party studies toon dat meer as 80 persent van die sigaretrookdeeltjies wat jy inasem, in jou liggaam agterbly.
c. Onwaar. Hoewel die gesondheidsrisiko’s toeneem met elke sigaret wat jy rook, is daar ’n paar onmiddellike gevolge. Party mense raak verslaaf ná net een sigaret. Jou longkapasiteit sal verminder, en jy sal waarskynlik ’n rokershoes ontwikkel. Jy sal op ’n jonger ouderdom plooie begin kry en jy sal ook meer plooie kry. Rook verhoog die risiko van seksuele disfunksie, angsaanvalle en depressie.
d. Onwaar. Die navorser Lloyd Johnston het gevind dat tieners wat rook, “vir die oorgrote meerderheid van die teenoorgestelde geslag minder aantreklik” is.
e. Onwaar. Elke jaar sterf duisende mense weens tweedehandse rook; dit sal jou gesin, jou vriende en selfs jou troeteldiere benadeel.
f. Onwaar. Diegene wat God se goedkeuring wil geniet, moet hulle “van elke verontreiniging van die vlees” reinig (2 Korintiërs 7:1). Daar bestaan geen twyfel dat rook die liggaam verontreinig nie. As jy besluit om onrein te wees en om jouself en ander te benadeel deur tabak te gebruik, kan jy nie ’n vriend van God wees nie.—Matteus 22:39; Galasiërs 5:19-21.
Hoe om die versoeking te weerstaan
Wat sal jy doen as iemand vir jou ’n sigaret aanbied? ’n Eenvoudige maar ferm antwoord, soos: “Nee dankie, ek rook nie”, sal dikwels genoeg wees. As die persoon aanhou of jou selfs spot, moet jy onthou dat dit jou keuse is. Jy kan sê:
● “Ek het uitgevind hoe skadelik sigarette is, en ek het besluit dat dit nie vir my is nie.”
● “Ek het belangrike toekomsplanne waarvoor ek my longe gaan nodig hê.”
● “Het ek dan nie die reg om self te besluit nie?”
Maar soos die jongmense wat vroeër in hierdie hoofstuk aangehaal is, vind jy dalk dat die meeste druk van jou af kom. As dit die geval is, moet jy hierdie ‘innerlike stem’ antwoord deur te redeneer oor vrae soos die volgende:
● ‘Sal ek regtig daarby baat vind om te rook? Byvoorbeeld, sal ek werklik inpas by mense met wie ek baie min in gemeen het, net omdat ek rook? Wil ek werklik inpas by mense wat nie sal omgee as ek my gesondheid benadeel nie?’
● ‘Hoeveel sal rook my kos in terme van geld, gesondheidsprobleme en ander se respek?’
● ‘Is ek bereid om my vriendskap met God te verruil vir ’n sigaret?’
Maar sê nou jy is reeds verslaaf? Wat kan jy doen om op te hou rook?
Hoe om op te hou rook
1. Oortuig jouself. Skryf die redes neer waarom jy wil ophou rook, en hersien hierdie lys gereeld. ’n Begeerte om in God se oë rein te wees, kan ’n kragtige beweegrede wees.—Romeine 12:1; Efesiërs 4:17-19.
2. Kry hulp. As jy in die geheim rook, is dit nou die tyd om met die waarheid uit te kom. Sê vir diegene vir wie jy jou rookgewoonte weggesteek het, dat jy gaan ophou, en vra hulle om jou te ondersteun. As jy God wil dien, moet jy vir sy hulp bid.—1 Johannes 5:14.
3. Kies ’n opgeedatum. Kies ’n dag binne die volgende twee weke waarop jy vasbeslote is om op te hou rook, en merk dit op jou kalender. Sê vir jou familie en vriende dat jy op daardie dag gaan ophou.
4. Soek en vernietig. Deursoek jou kamer, motor en klere vir sigarette voordat jou opgeedatum aanbreek. Vernietig dit. Raak ontslae van sigaretaanstekers, vuurhoutjies en asbakkies.
5. Bied onttrekkingsimptome die hoof. Drink genoeg vrugtesap of water, en kry meer slaap. Hou in gedagte dat die ongerief tydelik is, maar dat die voordele permanent is!
6. Vermy versoekings. Bly weg van plekke en situasies wat jou in die versoeking kan bring om te rook. Jy sal dalk ook moet ophou om te assosieer met vriende wat rook.—Spreuke 13:20.
Moenie mislei word nie
Elke jaar bestee tabakmaatskappye miljarde dollars aan advertensies. Wie is hulle vernaamste teiken? ’n Interne dokument van een tabakmaatskappy sê: “Vandag se tieners kan môre se gereelde klante wees.”
Moenie toelaat dat tabakmaatskappye jou geld vat nie. Waarom soos ’n vis aan die aas byt? Nie hulle of jou maats wat rook, dra jou belange op die hart nie. Moenie na hulle luister nie; luister eerder na die raad in die Bybel en leer “om jouself te bevoordeel”.—Jesaja 48:17.
Plaas jou vriende druk op jou om alkohol te drink? Kyk waarom jy jou perke moet ken.
[Voetnoot]
a Hoewel hierdie artikel handel oor diegene wat sigarette rook, is die probleme en gevare wat hierin bespreek word, ook van toepassing op diegene wat tabak kou.
SLEUTELTEKSTE
“Laat ons wegbly van enigiets wat ons liggaam . . . onrein maak.”—2 Korintiërs 7:1, Contemporary English Version.
WENK
Moenie rasionaliseer deur byvoorbeeld vir jouself te sê: ‘Ek sal net een trek vat’ nie. Dié wat dit doen, begin dikwels weer rook.—Jeremia 17:9.
HET JY GEWEET . . . ?
Rooklose tabak—soos pruimtabak—kan meer nikotien vrystel as sigarette en bevat sowat 25 kankerverwekkende gifstowwe wat die gebruiker se risiko vergroot om keel- en mondkanker te ontwikkel.
AKSIEPLAN!
As ’n skoolmaat druk op my plaas om te rook, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom sal dit dalk vir jou ’n versoeking wees om te rook, al weet jy wat die gevare is?
● Wat het jou oortuig dat dit ’n slegte idee is om te rook?
[Lokteks op bladsy 240]
Wanneer iemand my ’n sigaret aanbied, glimlag ek net en sê ek: ‘Nee dankie, ek wil nie kanker kry nie.’’’—Alana
[Venster/Prent op bladsy 241]
is dagga werklik so sleg vir jou?
“Party mense sê dat dagga jou help om probleme te ontvlug”, sê Ellen, wat in Ierland woon, “en dat dit geen ernstige newe-effekte het nie.” Het jy al soortgelyke dinge omtrent dagga gehoor? Vergelyk ’n paar algemene mites met die feite.
Mite. Dagga is nie skadelik nie.
Feit. Dagga het die volgende bekende of vermeende gevolge: ’n beskadigde geheue, verswakte leervermoë en ’n onderdrukte immuunstelsel, asook seksuele disfunksie onder mans sowel as vroue. Dit kan tot paniekaanvalle, geestesiektes en paranoia aanleiding gee. Kinders wat gebore word vir moeders wat dagga rook, loop ’n groter gevaar om gedragsprobleme en konsentrasieprobleme te hê en vind dit moeiliker om besluite te maak.
Mite. Die rook wat dagga afgee, is minder skadelik as dié van sigarette.
Feit. In vergelyking met sigaretrook kan die rook wat dagga afgee, vier keer meer teer in jou lugweë laat aanpak en vyf keer meer giftige koolstofmonoksied in jou bloed laat beland. Net vyf daggasigarette kan jou liggaam met dieselfde hoeveelheid kankerverwekkende gifstowwe besoedel as ’n pakkie sigarette.
Mite. Dagga is nie verslawend nie.
Feit. Tieners met verstandelike of emosionele probleme kan maklik aan dagga verslaaf raak. Ander kan verslaaf raak nadat hulle dit ’n tyd lank gebruik het. Daarbenewens toon studies dat tieners wat dagga rook, ’n baie groter gevaar loop om ander verslawende dwelms, soos kokaïen, te gebruik.
[Venster/Prente op bladsye 244, 245]
wat tabak aan jou liggaam doen
Kyk na die gesonde mense wat jy in sigaretadvertensies sien; vergelyk dit dan met wat rook in werklikheid aan jou liggaam doen.
Mond en keel Kan kanker veroorsaak
[Prent]
Tong met kanker
Hart Verhard en vernou die slagare, verhoed dat die hart genoeg suurstof kry en vergroot die risiko van hartsiekte met tot vier keer
[Prent]
Verstopte slagaar
Longe Vernietig lugsakkies, veroorsaak ontsteking van die lugweë en vergroot die gevaar om longkanker te kry met tot 23 keer
[Prent]
Roker se long
Brein Vergroot die risiko van ’n beroerte met tot vier keer
Vel Kan voortydige veroudering veroorsaak
Tande Veroorsaak verkleuring
Maag Veroorsaak kanker
Pankreas Veroorsaak kanker
Blaas Veroorsaak kanker
Niere Veroorsaak kanker
[Prent op bladsy 239]
Soos ’n vis wat aan aas byt, kry ’n roker ’n beloning, maar hy betaal ’n verskriklike prys