DEEL 24
Paulus skryf aan die gemeentes
Paulus se briewe versterk die Christenorganisasie
DIE pas gestigte Christengemeente sou ’n belangrike rol speel in die vervulling van Jehovah se voorneme. Maar die eerste-eeuse Christene het gou die teiken van teenstand geword. Sou hulle hulle onkreukbaarheid teenoor God handhaaf te midde van vervolging van buite die gemeente en ander subtieler gevare daarbinne? Die Christelike Griekse Geskrifte bevat 21 briewe wat die nodige raad en aanmoediging verskaf het.
Veertien van die briewe—van Romeine tot Hebreërs—is deur die apostel Paulus geskryf. Hierdie briewe is vernoem na diegene aan wie dit gerig is—hetsy ’n individu of die lede van ’n spesifieke gemeente. Kyk na ’n paar van die onderwerpe wat in Paulus se briewe gedek word.
Vermanings oor sedes en gedrag. Diegene wat hoerery, egbreuk en ander growwe sondes beoefen, ‘sal God se koninkryk nie beërf nie’ (Galasiërs 5:19-21; 1 Korintiërs 6:9-11). Aanbidders van God moet verenig wees ongeag hulle nasionaliteit (Romeine 2:11; Efesiërs 4:1-6). Hulle moet blymoedig van hulleself gee om hulp te verleen aan medegelowiges wat dit nodig het (2 Korintiërs 9:7). “Bid onophoudelik”, sê Paulus. Ja, aanbidders word aangespoor om hulle hart in gebed voor Jehovah uit te stort (1 Tessalonisense 5:17; 2 Tessalonisense 3:1; Filippense 4:6, 7). Gebede moet in geloof gedoen word om deur God verhoor te word.—Hebreërs 11:6.
Wat sal gesinne help om te floreer? Mans moet hulle vrouens liefhê soos hulle eie liggaam. Vrouens moet diep respek vir hulle mans hê. Kinders moet hulle ouers gehoorsaam, want dit behaag God. Ouers moet hulle kinders liefdevol rig en oplei deur goddelike beginsels toe te pas.—Efesiërs 5:22–6:4; Kolossense 3:18-21.
Lig word op God se voorneme gewerp. Baie aspekte van die Mosaïese Wet het tot met die koms van Christus as ’n beskerming en gids vir die Israeliete gedien (Galasiërs 3:24). Christene hoef egter nie daardie Wet te onderhou om God te aanbid nie. Toe Paulus aan die Hebreërs—Christene met ’n Joodse agtergrond—geskryf het, het hy baie lig op die betekenis van die Wet gewerp, asook op hoe God se voorneme in Christus vervul word. Paulus het verduidelik dat verskillende reëlings onder daardie Wet profetiese waarde gehad het. Byvoorbeeld, diereoffers het Jesus se offerdood voorafgeskadu, wat ware vergifnis van sondes sou bewerkstellig (Hebreërs 10:1-4). Deur middel van Jesus se dood het God daardie Wetsverbond opgehef, want dit was nie meer nodig nie.—Kolossense 2:13-17; Hebreërs 8:13.
Riglyne oor behoorlike gemeentelike organisasie. Manne wat bereid is om verantwoordelikhede in die gemeente te aanvaar, moet hoë sedelike standaarde hê en aan geestelike vereistes voldoen (1 Timoteus 3:1-10, 12, 13; Titus 1:5-9). Aanbidders van Jehovah God moet gereeld saam met medegelowiges vergader om mekaar aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Vergaderinge vir aanbidding moet opbouend en leersaam wees.—1 Korintiërs 14:26, 31.
Teen die tyd dat Paulus sy tweede brief aan Timoteus geskryf het, was die apostel weer in Rome; hy was ’n gevangene en het gewag op die voltrekking van sy vonnis. Net ’n paar moedige persone het dit gewaag om hom te besoek. Paulus het geweet dat sy tyd kort is. “Ek het die goeie stryd gestry”, het hy gesê. “Ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar” (2 Timoteus 4:7). Paulus het waarskynlik kort hierna ’n marteldood gesterf. Maar die apostel se briewe voorsien vandag nog leiding aan ware aanbidders van God.
—Gebaseer op Romeine; 1 Korintiërs; 2 Korintiërs; Galasiërs; Efesiërs; Filippense; Kolossense; 1 Tessalonisense; 2 Tessalonisense; 1 Timoteus; 2 Timoteus; Titus; Filemon; Hebreërs.