Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yp2 bl. 6-10
  • Waar kan ek die beste raad kry?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar kan ek die beste raad kry?
  • Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
yp2 bl. 6-10

Voorwoord

Waar kan ek die beste raad kry?

Vir meisies

Jy kan net nie ophou dink aan die oulike nuwe ou in die klas nie. ‘Hy weet nie eers dat ek bestaan nie’, sê jy by jouself, ‘watter skade kan dit dan doen om ’n bietjie te droom?’ Dis buitendien nie net jy nie. Hierdie ou is enige meisie se droom. Jy weet dit omdat jy die ander meisies die hele tyd oor hom hoor praat.

Skielik kyk hy in jou rigting. Hy vang jou onkant met sy aantreklike glimlag. Jy glimlag terug. Hy kom nader.

“Hallo”, sê hy skamerig.

“Hallo”, antwoord jy.

“My naam is Brett.”

“Jy’s nuut hier”, sê jy impulsief.

“Ons het ’n paar weke gelede hierheen getrek.”

Jy kan nog steeds nie glo dat Brett regtig met jou praat nie!

“Daar is vandag ná skool ’n partytjie by my huis”, gaan Brett voort. “Wil jy kom?”

Dan leun hy oor na jou toe en knipoog.

“Wees gewaarsku”, sê hy. “My ouers is nie by die huis nie, en die drankkabinet is nie gesluit nie. Hoe klink dit vir jou?”

Brett wag vir jou antwoord. Enige ander meisie in jou skool sou onmiddellik ja sê!

Wat sal jy sê?

Vir seuns

Twee van jou skoolmaats kom na jou toe aangestap. Jy kry ’n knop op jou maag, want hulle het jou dié week al twee keer probeer kry om te rook. Dit sal hulle derde probeerslag wees.

Die eerste seun sê: “Is jy al weer alleen? Kom ek stel jou aan ’n vriend voor.” Hy beklemtoon die woord “vriend” deur te knipoog terwyl hy iets uit sy hempsak haal en sy hand na jou toe uitsteek.

Tussen sy duim en wysvinger sien jy iets wat soos ’n sigaret lyk. Jy weet presies wat dit is, en die knop op jou maag raak erger.

“Jammer”, sê jy. “Ek het mos vir julle gesê dat ek nie . . . ”

Die tweede seun val jou in die rede: “Dis daai godsdiens van jou, nè? Jy mag ook niks doen wat lekker is nie!”

“Of is jy net bang?” spot die eerste seun.

Jy skraap al jou moed bymekaar en sê: “Nee, ek is nie bang nie!”

Dan sit die tweede seun sy arm om jou skouers. “Vat dit net, man”, sê hy saggies.

Die eerste seun beweeg die wit voorwerp nader aan jou gesig en fluister: “Ons sal vir niemand sê nie. Niemand sal ooit weet nie.”

Wat sal jy doen?

SOORTGELYKE tonele speel elke dag feitlik regoor die wêreld af. Maar party jongmense is beter voorbereid as ander om sulke situasies te hanteer. As ’n seun onder druk geplaas word om te rook, dink hy dalk: ‘Ek wil nie ingee nie, maar ek kan die druk eenvoudig nie meer hanteer nie. Hoekom kan ek nie vir my skoolmaats wys dat ek “normaal” kan wees nie?’ Of as iemand ’n meisie vra om met hom uit te gaan, sê sy dalk by haarself: ‘Hy’s baie ordentlik. Hoekom kan ek nie een keer—net dié keer—ja sê nie?’

Aan die ander kant is baie jongmense geleer om ferm standpunt in te neem vir wat hulle glo. Gevolglik voel hulle—vreemd genoeg—minder druk om te doen wat verkeerd is. Is dit die soort jongmens wat jy wil wees? Die goeie nuus is dat jy daardie soort jongmens kan wees! Hoe?

Die Bybel kan jou help om die uitdagings waarvoor jongmense te staan kom, moedig die hoof te bied. Dit bevat die allerbeste raad omdat dit die geïnspireerde Woord van God is (2 Timoteus 3:16, 17). Met watter soort uitdagings kan die Bybel jou help? Kyk na die lys hieronder, en maak ’n ✔ langs die onderwerpe wat vir jou die interessantste is.

□ Verhoudings met die teenoorgestelde geslag

□ Hoe om vrede te maak met my liggaam

□ Hoe om vriende te maak

□ Hoe om druk op skool te hanteer

□ Hoe om met my geld te werk

□ Hoe om met my ouers oor die weg te kom

□ Hoe om my gevoelens te beheers

□ My keuses van ontspanning

□ Hoe om my geestelikheid te verbeter

Soos jy op bladsye 4 en 5 sal sien, kom die onderwerpe hierbo ooreen met die nege dele van hierdie boek. Watter het jy gemerk? Jy sal daardie dele dalk eerste wil lees. Bybelbeginsels kan jou op elkeen van hierdie gebiede in die lewe help. Die boek wat jy nou lees, sal jou wys hoe dit moontlik is.a

Hierdie boek sal jou die geleentheid gee om jou gedagtes uit te druk. Byvoorbeeld, naby die einde van elke hoofstuk is daar ’n venster met die opskrif “Aksieplan!” Daar sal jy gevra word om neer te skryf wat jy dink jy kan doen om toe te pas wat jy gelees het. Werkblaaie—soos die “Portuurdrukplan” op bladsye 132 en 133—sal jou help om na te dink oor die uitdagings waarmee jy te kampe het en praktiese oplossings te vind. Daarbenewens sluit elke deel van hierdie boek af met ’n bladsy getiteld “My dagboek”, waar jy kan skryf hoe ’n sekere aspek van die materiaal op jou lewe van toepassing is. Jy sal ook op nege plekke in die boek ’n bladsy vind met die opskrif “Rolmodel”. Dit vestig die aandag op verskillende Bybelkarakters wat as voorbeelde voorgehou word.

Die Bybel spoor jou aan: “Verwerf wysheid, verwerf begrip” (Spreuke 4:5). Die woorde “wysheid” en “begrip” impliseer meer as om net te weet wat die verskil tussen reg en verkeerd is. Jy moet die hele prentjie sien. Byvoorbeeld, as jy weet wat die gevolge is van ’n verkeerde weg sowel as wat die belonings is as ’n mens doen wat reg is, sal dit jou help om portuurdruk met selfvertroue en moed die hoof te bied.

Wees verseker hiervan: Jou probleme—al lyk dit hoe oorweldigend—is nie uniek nie. Ander het voor dieselfde uitdagings as jy te staan gekom en kon dit te bowe kom. Jy kan ook! Maak goeie gebruik van Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2. Dit sal jou daarvan oortuig dat die Bybel die allerbeste raad bevat!

[Voetnoot]

a ’n Groot deel van hierdie boek is saamgestel uit artikels wat verskyn het in die reeks “Jongmense vra”, ’n gereelde rubriek in die tydskrif Ontwaak!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel