’n Woordjie aan ouers
Om deur adolessensie te gaan, kan vir jongmense wees soos om op ’n gespande koord hoog bo die grond te loop. Elke tree voel dalk onseker—selfs angswekkend. As ’n ouer wens jy dalk soms dat jy jou kinders hierteen kan beskerm. Jy kan dit natuurlik nie doen nie, maar jy kan hulle balanseerstok wees. Jy is in ’n unieke posisie om jou kinders te help om op koers te bly en uiteindelik verantwoordelike volwassenes te word.
Makliker gesê as gedaan? Beslis. Dit voel dalk soos gister dat jou seun ’n energieke kleuter was wat nie kon ophou babbel nie; nou is hy ’n teruggetrokke tiener wat nie ’n woord wil sê nie. Net die anderdag nog wou jou dogtertjie oral saam met jou gaan; nou is sy selfs te skaam om in die openbaar saam met haar ouers gesien te word!
Maar jy hoef nie te voel dat jy onbekwaam is wanneer hierdie veranderinge plaasvind nie. Jy het toegang tot ’n bron van wysheid wat jou en jou kind betroubare leiding kan gee. Daardie bron van wysheid is God se Woord, die Bybel.
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, is saamgestel om aan jou kind gegronde redenasies uit die Skrif te bied. ’n Kykie na die inhoudsopgawe op bladsye 4 en 5 sal jou ’n idee gee van die verskeidenheid onderwerpe wat bespreek word. Maar hierdie publikasie gee meer as net die feite. Kyk na die volgende:
(1) Die boek is interaktief. Jou kind sal op baie plekke gevra word om sy of haar reaksie op verskillende vrae en stellings neer te skryf. Byvoorbeeld, die “Portuurdrukplan” op bladsye 132 en 133 sal jou kind help om te dink aan spesifieke uitdagings waarvoor hy of sy te staan kom en aan maniere om daarop te reageer. Daarbenewens sluit elkeen van die nege dele in hierdie boek af met ’n bladsy getiteld “My dagboek”, waar jou kind persoonlike gedagtes en gevoelens kan neerskryf oor die materiaal in daardie deel.
(2) Die boek moedig kommunikasie aan. Byvoorbeeld, op bladsye 63 en 64 is die venster “Hoe kan ek met my pa of ma oor seks praat?” Aan die einde van elke hoofstuk is daar ook ’n venster met die opskrif “Wat dink jy?” Hierdie venster is nie net vir hersiening nie, maar kan ook gebruik word as ’n grondslag vir gesinsbesprekings. Verder is daar in elke hoofstuk ’n “Aksieplan!” waarvan die laaste gedeelte die jong persoon vra om hierdie sin te voltooi: “Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra . . . ” Dit sal jongmense aanspoor om op hulle ouers staat te maak vir gebalanseerde raad terwyl hulle deur die moeilike adolessensiejare gaan.
’n Woordjie van waarskuwing: Om jou tieners aan te moedig om in hulle boek neer te skryf hoe hulle werklik voel, moet jy hulle ’n mate van privaatheid gee. Later sal hulle jou heel moontlik vertel wat hulle geskryf het.
Kry vir jouself ’n eksemplaar van dié boek en raak goed vertroud daarmee. Terwyl jy lees, probeer dink aan die drama, verwarring en angstigheid van jou eie adolessensie. Wanneer dit gepas is, vertel jou seun of dogter van jou ondervindinge. Dit sal jou kinders aanmoedig om jou in hulle vertroue te neem. Luister wanneer hulle praat! Moenie tou opgooi as dit lyk of jou pogings om te kommunikeer tevergeefs is nie. Al probeer kinders ook hoe hard om dit anders te laat lyk, hulle heg dikwels meer waarde aan die raad van hulle ouers as aan dié van hulle portuurs.
Dit verskaf aan ons groot vreugde om hierdie Bybelse hulpmiddel aan jou en jou kinders te voorsien, en ons bid dat dit ’n seën vir jou gesin sal wees.
Die uitgewers